Wednesday 30 December 2015

Wat beteken dit REGTIG om te WAG ?


Image result for person waiting




Ek praat gereeld met mense wat hulle harte vir die Here gegee het, maar telkens sommer gou weer wil moed opgee. Hoekom doen hulle dit? Want dinge gebeur nie met hulle soos en wanneer húlle gedink het dit gaan gebeur nie. Nie op húlle tyd nie en nie soos húlle graag wil hê dit met hulle moet gebeur nie. God, daarenteen, wil hê dat ons sal leer om op Hom te wag, sodat Hy op SY TYD, SY WIL vir ons lewens aan ons kan uitwys. Kom ons kyk in hierdie verband na Jesaja 30:18:

 "En daarom sal die Here met ongeduld daarop wag om julle genadig te wees, en daarom sal Hy Hom verhef om Hom oor julle te ontferm; want die Here is 'n God van die gerig.  Welgeluksalig almal wat op Hom wag!"

 Dit is dus baie duidelik dat ons moet leer om op God te WAG. Ons wil altyd hê dinge moet op óns tyd (so gou as moontlik) met ons gebeur. Ons wil mos heeltyd vir God sê: "Lord I want some patience and I want it NOW!" Dit is egter nie hoe dit met God werk nie. Hy wil hê ons moet leer om te volhard, Hy wil hê ons moet leer om geduldig te wees, Hy wil hê ons moet leer om op Hom te vertrou in stede van op ons eie vermoëns.  En wat sê die Bybelteks wat ons nou net gelees het? God wag met ONGEDULD daarop om ons genadig te wees en ons is "welgeluksalig" (= geseënd!) as ons op Hom wag.  Met ander woorde, Hy WAG op ons om op HOM te leer wag! En wanneer ons leer om so op Hom te wag, is ons geseënd! Weet jy, die Bybel is vol van die refrein: "Wag op God, wag vir God, wag, wag, wag..." Die Hebreeuse woord vir "wag" is: "qavah", wat beteken "to collect" of "to expect" of "om ineengestrengel te wees in". Met ander woorde, ons moet God op so 'n wyse in ons lewens verwag, en inderdaad opneem, dat ons totaal in en met Hom ineengestrengel sal wees. Slegs dan sal ons werklik gehoorsaam kán wees en wíl wees aan Sy opdragte.

 So het die profeet Miga dit uitgeroep in Miga 7:7:

 "Maar ek sal uitsien na die Here, ek wil wag op die God van my heil, my God sal my hoor."

 Moet dit nie wonderlik wees om so "ineengestrengel" te wees in die lewende, waaragtige, Almagtige God nie? Dink net wat wil Hy graag alles vir ons leer terwyl ons so ineengestrengel is met Hom! Maar dan moet ons GEHOORSAAM wees aan Sy Woord. Ons moet Sy Woord letterlik begin opneem en begin DOEN wat Hy vir ons in Sy Woord sê hieroor. Ons moet leer om te wag sodat Hy vir ons kan wys wat Sy doel met ons lewens is, nie wat ONS wil hê vir ons lewens nie.

 Maar wat doen die "vader van die leuen", satan, met die wêreld, as ons net om ons rondkyk? ALLES, word net al hoe vinniger - die lewe, die tegnologie, ons lewenstyl, ons werksprogramme, ensomeer. Alles word ontwikkel en daarop ingestel om dinge VINNIGER te laat gebeur. En ek sê glad nie dis 'n slegte ding nie, inteendeel. Die probleem lê egter daarin dat, soos wat ons gewoond raak aan alles wat so vinnig gebeur óm ons, verleer ons wat dit is om te WAG. Ons raak gefrustreerd as ons in 'n ry moet staan, so dis vinniger as ek my inkopies via die internet doen. Ons raak gefrustreerd as die rooi lig nie vinnig genoeg groen slaan nie, en daarom is daar so baie ongelukke by robotte, waar motors die lig "spring". Ons raak gefrustreerd as die predikant dit waag om 'n minuut langer as sy "toegelate" een uur te preek. (Terwyl ons vergeet dat Jesus by geleenthede dae lank gepreek het sonder dat enigiemand gekla het! Ja, maar Tiaan dit was in Jesus se tyd, die mense het nie so baie gehad om te doen soos ons deesdae nie. Inderdaad, liewe vriend, maar hulle het iets baie bétér gehad - 'n persoonlike verhouding met die lewende Jesus Christus! En dit is ook vir ons beskore. As ons net wil ophou kyk na die struktuur, na die kerk, na die program, na die tydskedule, en slegs na HOM begin dors!)

 En wat sê God? Hy wil sedert die begin van tyd stééds hê ons moet leer om te wag, om te volhard. En ons weet nie meer hoe nie. Daarom raak ek ook vinnig gefrustreerd met God omdat Hy nie die dinge om ons laat gebeur so gou as wat EK wil hê Hy dit moet doen nie. En NET DAAR lê satan se wapen, wat hy gebruik om die verhouding tussen my en God te skaad.

 Nee, my liewe mens, ons moet weer leer om REGTIG op God te wag, soos Hy dit van ons verwag. Slegs dan kan Hy begin om ons te seën soos Hy ons wil seën. Maar sien, ons is ons eie grootste vyand en ons seëninge se eie beperking.

 tiaan gildenhuys
  (tg@oicb.co.za)

Geplaas met toestemming

2 comments:

  1. Maar wat doen die "vader van die leuen", satan, met die wêreld, as ons net om ons rondkyk?
    Fashion Pakistan!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Jy is meer as welkom om die skrywer direk te kontak.
      tiaan gildenhuys
      (tg@oicb.co.za)
      Wees geseend

      Delete

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...