Tuesday 26 February 2019

Uitverkore geslag



1Petrus 2:9: "Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig..."

Hierdie is 'n wonderlike belofte in die Woord om aan vas te hou. Wanneer ons kinders van God is, dan sien die Here jou en my op 'n spesiale manier. Watter spesiale manier?

Hy sien ons as 'n uitverkore geslag. Hy sien ons as 'n koninklike priesterdom. Hy sien ons as 'n heilige volk. Hy sien ons as Sy eiendom. Is dit nie wonderlik om te weet nie? As kind van God is JY uitverkore, JY is 'n koninklike priester, JY is heilig, JY is Sy eiendom.

En omdat Hy jou en my op daardie spesiale manier sien, het Hy ook baie spesifieke opdragte aan ons.

Wat is Sy opdrag aan ons in hierdie teksvers hierdie week?

Om die deugde te gaan verkondig van Hom wat ons vanuit die duisternis van die wêreld en van sonde geroep het, tot in Sy wonderbare lig! Met ander woorde om andere rondom ons te VERTEL van hierdie wonderlike God wat my en jou uit die duisternis van die wêreld geroep het en daar uitgetrek het, tot in Sy wonderbare lig!

Want as Hy dit vir jou en my kon doen, kan Hy dit ook doen vir elkeen van daardie ander mense wat ons hierdie week mee te doen mag kry, hetsy by die werk, of op die straat, of in ons sportbeoefening. Soek dus die kleinste geleentheid om iemand te vertel van die wonderlike Jesus Christus wat jou ook vrygemaak het van die duisternis en in Sy wonderlike lig ingetrek het.

Sodat hulle ook deel mag wees van daardie uitverkore geslag, daardie koninklike priesterdom, daardie heilige volk, daardie eiensomsvolk...


GEBED: 
"Vader, ek kom na U in die magtige Naam van Jesus Christus. Ek vra dat U my asseblief hierdie week sal help om daardie persone raak te sien aan wie ek U deugde moet verkondig, juis sodat U hulle ook vanuit die duisternis kan trek tot in U wonderbare lig. In Jesus Naam. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

Monday 18 February 2019

Sosiale Media en die Bybel


Ons almal hoor gereeld, en stem tog gewoonlik saam, dat sosiale media vandag ‘n baie baie groot impak op ons lewens het.

Ek wil sê ‘n goeie impak asook ‘n slegte impak, maar ek voel beslis hang die skaal baie swaarder aan die slegter kant daarvan.

Die Woord van God sê in Spreuke 18:21 “Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.”  Maar nou sê jy vir my, ek tik mos op sosiale media met my vingers, ek spreek dit tog nie met my mond nie?!

Ja wel, maar die Woord van God sê ook in Psalm 144:1 “Geloofd sy die Here, my rots, wat my hande leer om te veg, my vingers leer om oorlog te voer”.

So sommer direk uit die Bybel uit, verstaan ons dat God self ons leer om met ons vingers te kommunikeer en in vandag se tyd met sosiale media, word die Woord van God weereens ‘n ware, lewende woord want die "comments" wat deesdae op sosiale media geplaas word, kan niks anders as oorlogvoer geklasifiseer word nie!

Verbeel jouself hoe dit moes wees 1000 jaar gelede in oorlogstyd. Wanneer die manne oor mekaar gestaan het en mekaar gedreig het, gevloek het, bespot het, ens., net voor die geveg begin, was alle woorde nadat dit gespreek was, weg, verby en finaal.

Met sosiale media vandag wanneer ons oorlog voer, en ons vloek, bespot, verneder, laster, ens., is daar altyd bewyse wat agterbly. Of dit nou ‘n kopie foto van die skerm is, ‘n foto geneem, al word dit uitgevee, is die digitale kopie nooit weg nie. Dit bring nou weer ‘n nuwe duiwel uit die kas wat saam met die oorlogsvoering gepaard gaan in vandag se lewe, genaamd onvergifnis.

Mense hou baie makliker bewyse van enige iets en dit gaar op vir ammunisie, waar die Woord van God duidelik vir ons sê in Kolossense 3:13  “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.”


En hoe het Jesus ons vergewe?

Onvoorwaarlik! En Hy dink nooit weer daaraan nie! So Jesus hou nie digitale kopies van al die onheil tekse wat gestuur word op sosiale media om dit teen ons eendag te hou nie, nee. As jy Hom aanvaar as jou enigste Redder en jou sondes bely, wat doen Hy?  Hy vergewe en vergeet!
Hoe gaan die ou gesegde … Jy moet dink voor jy doen! Ek vermaan julle broeders en susters om in vandag se tyd te Dink voordat jy tik! Want daar is geen terugkom daarvandaan nie.

Soos God se Woord sê in Filippense 4:8  “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.” 

Doen dieselfde in vandag se tyd met jou oorlogs vingers. As enige iets wat jy op sosiale media wil plaas nie gelys in die bogenoemde teks vers nie, moet dit nie plaas nie!

Satan gebruik sosiale media vandag soos nog nooit tevore om mense teen mekaar op te hits, veral Christen teen Christen

‘n Waarskuwing wat ek wil uitspreek aan jou is dat God in sy Woord sê in Matthéűs 12:36 “Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag”, en ek reken dat selfs die oorlog wat gevoer was met ons vingers, oor rekenskap gegee sal word voor God as ons nie gered is en ons sondes bely het nie.

Gebed:

Almagtige Here, ek bely dat ek wel in my lewe tog op ‘n stadium oorlog gevoer het met my vingers d.m.v. sosiale media en dat ek nie altyd die beste wense in gedagte gehad het daarmee nie.

Ek vra asseblief U vergifnis vir my deelname daaraan. Ek dank U, Vader, dat ek ook weet dat U Woord sê as ek dit in onkunde gedoen het, U die tye van onkunde oorsien en my vergewe.

Ek ontvang U vergifnis en dank U daarvoor in die Naam van Jesus Christus van Nasaret.

Amen.


Geskryf deur: hein henning
(heinh@sunlightfs.co.za)

Saturday 16 February 2019

Gehoorsaam jy die Koninklike Wet?



Die liefde is ‘n Koninklike Wet. “As julle ewenwel die Koninklike Wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8

            Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.” Matt 5:17


1 Pet. 2:5 – “en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis,”met  Liefde die sement


Hoe het Jesus toe die Wet vervul?

Net voor Sy vertrek na die Hemel, vra die dissipels Hom: “Meester, wat is die groot gebod in die wet?

“En Jesus antwoord hom: Jy moet die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.

“Dit is die eerste en groot gebod.

“En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

En dan sê Jesus: “Aan hierdie twee gebooie hang die HELE wet en die profete.” Matt 22:36-40

Hoe so? Want as jy waarlik liefhet, dan sal jy nooit enige wet oortree nie.

Die Skrif verwys telkemale daarna dat ons ander moet liefhê soos onsself.

As jy jou vrou mishandel, hoe lief het jy jouself?As jy die predikant en ander gemeentelede beskinder... hoe lief het jy jouself?

Is dit moontlik om onsself lief te hê?

            Hierdie kan as ‘n meetinstrument beskou word: Hoe lief ek myself het, bepaal hoe lief ek ander het.

            Dit bepaald ook my geestelike stand in Christus.

Liv 19:18 “Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.

            Liv 19:34 “Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos 'n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself...”

            Matt 19:19 “Eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

            Matt 22:39 “En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

            Wat ons ook hieruit leer is dat dit belangrik vir ons is om te weet in watter mate ons onsself lief het.

            Jy moet jouself liefhê. Ontlok hierdie woorde ‘n negatiewe reaksie by jou? Klink dit nie selfsugtig en egoïsties nie?

            Om jouself lief te hê beteken nie om selfgesentreerd of opgeblase  te wees nie. Dit beteken om respek vir jouself te hê, om jouself te beskerm, vir jouself om te gee.

            Kyk weer na Liv 19:18: “Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.” Moet dus nooit ‘n wrok teenoor iemand hê nie, maar “hê jou naaste lief soos jouself.” Of het jy ‘n wrok teen jouself, of teen iemand anders?

            En moet nou nie in ‘n geredekawel vasval van “Wie is my naaste” nie. Jy weet tog dis jou huisgenote en diegene in jou daaglikse omgang.

            As jy dus nie vir jouself lief is nie, dan sal jy wraakgierig of haatdraend teenoor ander wees. Dit mag nie so wees nie, dan is daar fout met hoe lief jy jouself het. Is jy wraakgierig en haatdraend met jouself? Sommige mense is. Dit is al bewys dat as mens iemand haat, jy, en nie die ander persoon nie, die eintlike lydende party is.

            Daar was die vrou wat gebel het en gevra het ons moet haar besoek want sy verlang gebed omdat sy leukemie het. Op pad na die adres het die Heilige Gees reeds  deur die gawe van onderskeiding, dit duidelik gemaak dat haat die oorsaak van die vrou se ernstige siekte is.

            Met ons aankoms daar het ons dit so aan haar meegedeel. Sy het bevestig dat sy iemand verskriklik haat, maar het sy bygevoeg: “Darem nie meer so erg nie.”

Ons het aan haar gesê dat die haat nog steeds so verterend is, maar dat die bloedkanker intussen sulke ernstige afmetings begin aanneem het, dat haar gedagtes nou meer bevange is met haarself en die dreigende dood, as met die haat.

            Ons het haar ook meegedeel dat die haat die oorsaak van haar ernstige siekte is. Sy wou nog skerm, toe ons sê: “Nou goed, as daar nou ‘n geklop aan die voordeur is en jy maak oop en daar staan die mense wat jy so haat, sal jy bv vriendelik sê: ‘Goeie naand, lank laas van julle gehoor. Kom in, maak julle tuis. Wat drink julle, tee of koffie?’

            En sy het geantwoord: “Nee, darem nie so nie.”

            Die vrou het nie haarself liefgehad nie. Sy het toegelaat dat die verterende haat haar liggaam vernietig.

            Alhoewel sy versoek het dat ons vir haar moet bid vir genesing, was 1 Tim 5:22 van toepassing: “Moenie haastig iemand die hande oplê nie, en moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.”

            As ons summier vir haar die hande opgelê het, het ons gemeenskap met haar sondes gehad, dan was ons onrein.

            Na berading het ons vir haar gebid – sonder handoplegging – en gevra dat God haar asseblief moet genees, maar op voorwaarde dat sy die haat los en vrede met die ander mense maak.

            Ons het haar drie jaar later in ‘n supermark raakgeloop. Sy het oorgeloop van vreugde en blydskap, sy was volkome bevry en genees.

            Mens weerspieël ook jou liefde vir jouself wanneer jy jou vader en moeder eer. Matt 19:19

            Moet mens die ongereddes ook liefhê? Natuurlik! Mark 12:30 “Jy moet die HERE jou God liefhê (Hoe?) uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod. Lees dit weer want dis nogal ‘n gewigte saak.

            En strofe 31: “En die tweede, hieraan gelyk, is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as dié nie.”

            “Hieraan gelyk” beteken “dieselfde”. As ek God moet liefhê met my hele hart, my hele siel, my hele verstand, my hele krag, dan moet ek my naaste ook so liefhê. Die liefde vir God staan gelyk aan die liefde vir myself en my liefde vir ander. Hoekom? Omdat God vir jou en die ander persoon ewe lief is.

            In die lig hiervan, vra weer: Hoe lief het ek myself?

            “En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.” Kol 3:14. Let op: “Beklee julle met die liefde.” Dis ‘n proses. Hoe lank die proses neem, is hoe lank jy neem om jouself met die liefde te beklee.

            Ongereddes is op pad na die ewige verdoemenis. As iemand nie vir jou en vir my liefgehad het nie, dan was ons ook nog op die verkeerde pad.

            “Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat 'n ander liefhet, het die (Koninklike) wet vervul.” Rom 13:8

            “Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Rom 13:9

            As jy jouself liefhet, respek het vir jouself, vir jouself omgee voor God en die mens, dan sal jy nie egbreek, doodslaan en dergelike dinge doen nie.

            En weer ‘n keer: “Want die hele (Koninklike) wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Gal 5:14

            Het jy jouself lief? Hoeveel het jy jouself lief, ‘n bietjie of met jou hele hart? Kyk na die waarskuwing: “Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie.” Gal. 5:15

            As jy ‘n probleem met jouself het, soek hulp en gou ook.

            Liefde is en bly die Groot Gebod. Wandel in die ware liefde en daar sal nooit probleme wees nie. Die liefde, is ‘n Koninklike Wet: “As julle ewenwel die Koninklike wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8

            As ons nie onsself lief het nie, kan ons nie ons naaste liefhê nie, nie mekaar liefhê nie, dan doen ons nie goed nie.

Waar is die begin van hierdie uitsonderlike liefde? Wanneer ons met die werklikheid vrede gemaak het van hoe lief Jesus ons had en steeds het en wanneer daardie liefde wederkerig is. Dis die begin.

Jy is gered vanweë Sy liefde vir jou. Jy kan ook elke dag op Sy liefde staatmaak.

            Mense wat iewers in die lewe seergekry het, sien soms net die  veroordelende taal in die Bybel raak. Hulle besluit dan verkeerdelik dat dit God se wil is dat hulle sonder eerbied en liefde in die lewe behandel is.

            Die euwel van ons tyd is persepsies en wanpersepsies, pleks van feite. Met die korrekte lering verstaan hulle heelwat later in die lewe dat God vir hulle lief is, dat hulle daarom vir God moet liefhê en ook hulself moet liefhê. Dan begryp hulle eers dat die nare ondervindinge van die verlede nie van God af gekom het nie.

            Daar is Christene wat onder die waan verkeer dat alhoewel ons ander mense moet liefhê, dit verkeerd is om jouself lief te hê. Hulle besef nie die een liefde gaan hand aan hand met die ander liefde, dat dit juis dieselfde liefde is nie.

            Die Bybel leer dat ons nederig moet wees, maar om onsself te verkleineer is verkeerd.

            Die wanbalans het in menige ouerhuis ontstaan. As ‘n kind grootword in ‘n omgewing van kritiek, van verbale mishandeling, van haat, van skande, dan sal so ‘n kind net so in sy volwasse lewe optree. Die rede daarvoor is dat die kind in vrees lewe, vrees dat hy of sy weer en weer kan seerkry. Hulle lewensstyl is een van voortdurende selfbeskerming.

            Jy voel bedreig deur diegene wat jou juis opreg liefhet en opreg vir jou omgee, selfs onder jou huisgenote, vir jou is dit te goed om waar te wees. Jy vertrou nie die vrede nie.

            Tog vind jy dit vreemd dat elke keer wanneer jy sulke opregte mense ‘n koue skouer gegee het, hulle selfs afgejak het, lelike dinge vir hulle gesê het, dan loop jy dae aaneen en worstel, want diep hier binne jou weet jy, jy het nie reg opgetree nie, maar o wee, om verskoning te maak, te sê jy is jammer, is ‘n byna onoorkombare struikelblok.

            Om te sê jy is jammer is nie genoeg nie. Vra ook vir vergifnis.

Sommige mense beleef ‘n misverstand oor wat berou is. Berou is nie perfeksie nie, maar ‘n verandering van rigting. Die verlore seun het gedink hy doen reg. Sy berou het beteken dat hy van rigting moes verander. Dit het beteken ‘n verandering van gedagte, ‘n verandering van hart en ‘n verandering van rigting.

Wanneer ‘n mens omdraai, dan is daar geen verwyte nie, geen oordele nie, net trane en blydskap.

“En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel [liefde van vanuit die Vader se hart gestraal vir sy seun] en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen. En die seun sê vir hom: Vader, ek het gesondig teen die Hemel en voor u en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie. Maar die vader sê vir sy diensknegte: Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee 'n ring vir sy hand en skoene vir sy voete.  En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees. (Hoekom?) Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind. En hulle het begin vrolik word.” Hulle het ‘n fees gehou.”

Maar alles is nie verlore nie. Daar is steeds tyd om in wasdom te groei en te genees.

Andrew Wommack verduidelik dit so: “Sommige mag dink, wel, toe ek die eerste keer aan God geglo het, toe het ek geglo dat ek geheel en al vergewe was en gereinig is en alles was goed, maar sedertdien het ek gesondig, ek het God weer gefaal.

“As jy gefaal het, het jy gefaal in jou verstandelike en emosionele deel, maar jou gees het nie gesondig nie.

“Jou gees is geseël soos wat ‘n vrou konfyt in ‘n fles plaas, kerswas oorgooi om dit lugdig te maak om alle onsuiwerhede uit te hou en draai dit dan styf toe. God het jou verseël en sonde kan nie jou gees binnedring nie.

“Jy het ‘n nuwe identiteit.

“Vir jou om ‘n verhouding met God te hê, moet jy met Hom verkeer en Hom aanbid, juis gebaseer op wie jy is in jou gees en nie jou vlees nie. Dit is in werklikheid die groot transformasie in die Christelike lewe, dat ‘n persoon se identiteit moet verander.

“Ons moet aan God verwant wees, nie gebaseer net op wat ons in die fisiese  doen nie, ook nie met wat in ons gedagtes aangaan nie, maar juis met wie jy in jou gees is op grond van wat Hy vir jou gedoen het. Dit is ‘n voltooide werk, en iets wat nooit verander nie, nooit fluktueer nie.

“Jy is geskape in geregtigheid en ware heiligmaking. Dit is die geestelike deel van jou. Jy moet gemeenskap met God hê in gees en in waarheid. Jy moet vasstaan in hierdie identiteit van wie jy in Christus is.”

            Kyk na die teenoorgestelde: As ‘n kind grootword in ‘n omgewing van lof en bemoediging, dan sal so ‘n kind leer om te waardeer en selfvertroue opbou.

            As ‘n kind grootword in ‘n omgewing van verstandhouding, uitdruklike voorwaardes en waardes, wedersydse begrip, dan sal ‘n kind leer om geduldig te wees.

            As ‘n kind in ‘n regverdige omgewing grootword, dan sal hy ook regverdig wees. En as ‘n kind in ‘n veilige liefdevolle omgewing grootword dan sal hy glo en vertrou.

           So lei ‘n lewe van goedkeuring tot die ontwikkeling van selfwaardering. Aanvaarding en vriendskap lei tot liefde vir ander.

As mens nie so grootgeword het nie, dan kan jy soms ‘n buffel wees, ongenaakbaar, wreed, maar jy is en bly die een wat daaronder ly. Jy het jou eie grootste vyand geword. Jy is nie lief vir jouself nie en nou kan jy nie lief wees vir ander nie.

            As ons onsself liefhet en ons skep ‘n omgewing van lof, bemoediging, wedersydse begrip, veiligheid, goedkeuring, ondersteuning, aanvaarding, vriendskap en liefde, dan bereik ons wasdom as man en as vrou. Dan word so ‘n man en vrou mense van waardering, van oortuiging, van vertroue, van billikheid, dat sal hulle van goeie inbors wees en  liefdevol teenoor diegene om hulle.

            Om ander lief te kan hê, moet ons onsself liefhê.

·       Onthou: Die liefde, is ‘n Koninklike Wet: “As julle ewenwel die Koninklike wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8

            As jy nie die Koninklike wet volbring nie, dan doen jy nie goed nie. As mens nie die Koninklike wet kan volbring nie, dan moet mens met selfondersoek begin. Jy durf nie so voortlewe nie.

            Wanneer mens begin om jouself te respekteer, wanneer mens vir jouself grense van behoorlikheid stel (soos dat jy nie vuil grappe sal vertel of die Bybel of die Hemel sal bespot, of jouself dronk drink nie, of iets neem wat nie aan jou behoort nie), wanneer jy die skoon dinge in die lewe ontdek, daardie dinge waarvan jy hou, dan word jou lewe klaar veel verdraagsamer, dan kan jy ander begin liefkry.

            God het ‘n plan om my en jou te laat floreer, maar dan moet ons, ons gebrek aan ware liefde erken, dit bely en vergifnis verkry. Die waarheid maak ons vry. As ‘n vreemdeling met jou ‘n gesprek gevoer het en van jou af weggaan, moet dit vir hom of haar voel asof hulle in die teenwoordigheid van Jesus self was.

            Mens wonder oor die baie egskeidings, gebroke huise. Is dit dan nie mense wat een mooi dag hul liefde (nog al voor God) aan mekaar verklaar het nie, wat belowe het om saam te staan tot die dood hulle skei nie, wat trou aan mekaar belowe het nie?

            Een van die twee, of beide, had nie hulself lief nie en daarom kon hulle nie mekaar liefhê nie. Berading bring die probleem gou na vore. Die vraag moet selfs gevra word of hulle God liefgehad het met hul hele hart, hele verstand, hele siel en al hulle krag, toe hulle getrou het.

            Lees aandagtig hoe lees Efes. 5:28-29 “So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief. (hoekom moet ‘n man sy eie liggaam liefhê?) want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die HERE die gemeente.” Let op die vergelyking.

            ‘n Man moet sy eie vrou liefhê (Hoe moet hy haar liefhê?) soos wat hy sy eie liggaam liefhet. En, as hy sy eie liggaam liefhet, dan sal hy altyd sorg dat sy liggaam skoon is, dat hy sy liggaam voed en koester sodat hy altyd vir sy vrou lieflik en aanvaarbaar sal wees. Hy sal dit doen net soos wat die HERE sy gemeente liefhet en voed en koester.

            Strofe 31 lees dat die man sy ouers sal verlaat en sy vrou sal aankleef en liefhê omdat hulle “een vlees” is.  ‘n Man moet dus sy vrou liefhê soos wat hy sy eie liggaam liefhet. Hy moet haar sien as sy vlees, want hulle is een vlees.

            Ons moet die Koninklike wet gehoorsaam. Ons moet ander liefhê soos wat ons onsself liefhet. Vraag is: Hoe lief het ons onsself?

In ‘n mate is jy lief vir jouself. Jy trek altyd netjies aan. Jou hare is altyd netjies gekam, jy is glad geskeer, jou naels kort en skoon, jou skoene blink, jou werkplek is netjies, jou motor blink, jy is stiptelik, getrou. Die fondament is daar, bou net voort daarop!

            Paulus sê ons moet bo die omstandighede leef en nie daaronder nie. Jy moet aan die voorpunt wees, nie aan die stertkant nie. Wees lief vir jouself, beskerm jouself... en, doen dieselfde vir andere. Wat jy vir jouself gun, gun dit ook vir ander.

            Onthou jy die gelykenis van die talente. As jy jou talente gebruik gee Hy vir jou meer. So lief soos wat jy jouself het, wees ook net so lief vir ander!

            Om jouself lief te hê beteken nie om ‘n trotsaard vol wêreldse liefde en selfverheerliking en arrogant te wees nie. Wees dankbaar vir die mens wat God jou geskape het.

            Die bagasie wat bindinge in jou gees opbou weens self-verwerping, self-haat, onwilligheid om jouself te vergewe, is soos selfmoord. Wat beteken dit?

            Self-verwerping, om nie jouself te aanvaar soos wat God jou gemaak het nie en jouself daaroor te kasty, vreet soos ‘n vernietigende kanker aan jou lewe. Gen 1:27 lees dat God ons na SY beeld geskape het. Jy is nie ‘n sommerjy nie, jy is ‘n Godgeskape skepsel. Na die Wedergeboorte word jy boonop ‘n nuwe skepsel.

Dis presies dieselfde as wanneer jy jouself haat, wanneer jy ‘n smartvraat is, jouself blameer vir baie dinge, foute uit jou verlede teen jouself te hou, onvergewensgesind wees, met bitterheid rondloop oor wat ander aan jou gedoen het. So vernietig jy jouself geestelik, fisies en emosioneel.

            Jy sien jouself as waardeloos en wil bewys dat dit nie so is nie, daarom druk jy jouself in onredelike prestasies in sodat jy goed kan voel. Jy wil jouself gereeld bewys terwyl jy eintlik niemand beïndruk nie.

            Baie mense is nie tevrede met hul eie gesigte en liggame nie. Hulle beskou hulself as dom, lelik, onnosel, lomp, nikswerd... en dit terwyl hulle in die beeld van God geskape is. As jy fout met jouself vind, vind jy fout met God se handewerk. Gen 1:26

Ons moet dankbaar wees. Ons moet sê soos Dawid “Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is U werke! En my siel weet dit alte goed.” Ps 139:14. Ek en jy is ook “vreeslik wonderbaar!”

            Dawid het nie gespog nie, maar hy het sy dankbaarheid teenoor God betuig.

            Ons moet onsself vergewe! (hoekom?) Want God het ons vergewe. “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” Ps 103:12

            Noord en suid is sowat 19 200 km van mekaar af, maar die afstand tussen oos en wes, is onmeetbaar.

            Is jy nou in die moeilikheid by die HERE? Stellig nie. “Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is.” Dit is die sleutel: “Welgeluksalig is die man aan wie die HERE die sonde nie toereken nie.” Rom 4:7-8

            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.” Hebr 12:12-13 – Wekroep

Vertroue en selfvergifnis




Jesus sê Hy vergewe ons al ons sondes en foute wanneer ons dit berouvol by Hom bely.

Hy voeg by Hy verwyder dit van ons so ver soos wat die ooste van die weste af is.

Noord en suid is 21 000km uitmekaar, oos en wes is onmeetbaar.

Ons glo Hom (want sonder geloof kan niemand God behaag nie) juis daarom dat ons bely het.

Nou moet ek ek myself daarin
verheug dat ek die voorrreg het om so 'n wonder God te mag aanbid.

So vergewe ek dan ook myself deur te belowe om nie weer daardie foute te herhaal nie.

Maskas, Jesus het my vergewe, Hy het my vrygemaak. Hy dink nie eers weer daaraan nie...

Op grond waarvan dink ek steeds daaraan?

Dan beledig ek moes vir Jesus. Gaan beley dan weer dat jy dit ooit kon waag om dit nie te vergeet nie.

Kortom: As jy dit nie kan vergeet nie, vertrou jy nie die HERE nie.

Tuesday 5 February 2019

Wandel deur die Gees



Galasiers 5:16: "Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie."

Hierdie is 'n baie belangrike les wat Paulus ons hier wil leer. As ons kan leer om op 'n daaglikse basis onder leiding van die Heilige Gees van God te wandel, dan sal ons nooit die begeerlikhede van die vlees, van die wêreld en van satan se versoekinge navolg of volbring nie.

Die probleem is dat ons oor die algemeen nooit geleer het om "in die Gees" te lewe of te wandel nie. En dit juis omdat ons nie weet van die geestedimensie waarvan die Bybel praat, óf hoe dit ons alledaagse lewens impakteer nie, beide na die positiewe of na die negatiewe kant toe nie.

Die belofte in hierdie teksvers is egter dat indien ons moeite doen om uit te vind hoe dit wel in ons lewens werk, en hoe om werklik in 'n intieme verhouding met die Heilige Gees te wandel, dan sal Hy ons op die regte paaie lei en sekermaak dat ons nooit die vlees se begeerlikhede sal navolg nie.


Ons lees baie duidelik in Romeine 8:14 die volgende:

"Want almal wat deur die Gees van God gelei word, die is kinders van God."

Kan jy sien waarom ons in die Gees sou WIL wandel? Want almal wat deur die Gees van God gelei word, kan aanspraak maak op die "titel" van kind van God! Onmiddellik is die implikasie immers dat indien ons NIE deur die Gees van God gelei word nie, ons nie kinders van God is nie.

Ongelukkig is daar baie mense wat nie deur die Gees van God gelei word nie, of want glad nie wandel in die Gees nie, wat die begeerlikhede van die vlees op 'n daaglikse basis navolg, maar wat steeds wil aanspraak maak daarop dat hulle kinders van God sou wees.

En dit is na húlle wat die wêreld kyk en sê: "Maar as dit 'n Christen is, dan wil ek nie 'n Christen wees nie!"

Kom ek en jy kies om hierdie week WERKLIK te wandel in die Gees en onder leiding van die Heilige Gees, sodat ons nie die begeerlikhede van die vlees sal volbring nie, maar belangriker nog, dat die mense rondom ons na ons sal kyk en sê: "Ek wil graag soos hy/sy wees, want ek kan sien Jesus is in hom/haar!"


GEBED: 


"Vader, ek kom na U in die magtige Naam van Jesus Christus. Ek vra dat U asseblief deur U Woord en deur U Heilige Gees my sal leer HOE om hierdie week en vir die res van my lewe werklik te wandel in die Gees, en onder leiding van U Heilige Gees, tot eer van U Naam en sodat U in my lewe verheerlik kan word. In Jesus Naam vra ek dit. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...