Friday 27 September 2019

Almal het einas



Hoé maklik is dit nie om iemand anders te oordeel oor sy of haar optrede of verkeerde keuses nie, terwyl onsself met sóveel dinge in ons eie lewens sukkel!

Die realiteit is dat almal einas het en dat dit baie keer die wortel is van die kwaad in mense se lewens of wat hul optrede bepaal in sekere situasies.

Jesus waarsku ons egter baie pertinent hieroor:

Mat 7:3  En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?
Mat 7:4  Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk!
Mat 7:5  Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.

As ons dan nou kinders is van die lewende Jesus, hoekom is daar só min liefde in ons teenoor ons naaste? Is dit miskien om ons eie seer te verberg?

Tydens beradingsessies, kom Heilige Gees en Hy openbaar hierdie einas en laat mense ook verstaan hoé 'n groot impak dit op hul lewens het. Wat kinders van die Here egter moet besef, is dat God ons nie veroordeel vir ons optrede as gevolg van hiérdie dinge nie.


Jesus gee ons dan ook die perfekte voorbeeld in die hantering daarvan in liefde:

Joh 8:10  En toe Jesus Hom oprig en niemand sien behalwe die vrou nie, sê Hy vir haar: Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie?
Joh 8:11  En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.

Ons moet altyd onthou dat dieselfde genade wat ons ontvang, is ook vir die ander persoon en moet ons baie waak dat ons nie te vinnig 'n oordeel vél nie.

Mat 7:1  Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.
Mat 7:2  Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.

Ek wil dit sommer ook duidelik stel dat genade nie 'n “get out of jail free”- kaartjie is nie. Mens kan dit nie gebruik as 'n verskoning vir sonde nie.

Laat ons dus ophou om mense te oordeel terwyl ons nie hul einas ken nie en veral ook nie as jy nog nie in hulle skoene gestaan het nie!


GEBED:

"Vader, baie dankie vir U genade aan my bewys...help my dat ek dieselfde aan ander sal gee deur hul lief te hê net soos wat ek myself liefhet...in Jesus se Naam, amen!"


Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

Wednesday 18 September 2019

God gee my krag



Jesaja 40:28,29 & Filippense 4:13: "Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? 'n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie. Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie... Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee."

Hierdie teksverse leer ons 'n paar baie belangrike punte. In die eerste plek natuurlik, dat ons Here 'n EWIGE God is, dat Hy die Skeppergod is, dat Hy nie moeg of mat word nie, en dat ons nooit Sy verstand kan "deurgrond" nie, m.a.w ons kan nooit met ons nietige verstandjies Sy gedagtes of verstand begryp nie.

Maar dan die wonderlike belofte dat Hy sterkte vermenigvuldig vir ons as ons vermoeid raak en geen kragte meer het nie!

En daardie belofte word herhaal in Filippense 4:13 dat ek wel tot ALLES in my lewe in staat is, juis OMDAT Christus vir my die krag gee.

Kom ons maak hierdie week 'n punt daarvan om daardie paar belangrike punte in ons lewens, te bedink en bietjie daaroor te mediteer.

M.a.w glo jy dat die Here in jou lewe daardie enigste en ewige Skeppergod is, dat Hy nooit moeg of mat word nie en dus ook altyd daar is vir JOU?

En is jy bewus daarvan dat Hy ALTYD vir jou krag gee om enigiets wat jy moet hanteer, te kan hanteer in jou lewe op 'n daaglikse basis? Dit beteken dus niks anders as dat daar NIKS is wat jy en ek hierdie week moet hanteer, waarvoor ons NIE krag by die Here voor kan kry nie.

Mag ons ewige Skeppergod jou in hierdie week Sy krag gee as jy vermoeid en kragteloos voel.


GEBED:

"Vader, baie dankie dat ek mag weet ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee. Ek vra U, gee my asseblief elke oomblik van elke dag U krag om enige omstandighede in my persoonlike lewe te kan hanteer. In Jesus Naam vra ek dit. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

Tuesday 10 September 2019

Bemoedig mekaar


 In hierdie dae waarin ons leef, trek baie kinders van die Here, baie swaar op verskeie gebiede en is baie van hulle vasgevang in vrees. Daar is baie bekommernisse oor die dag van môre en gryp hulle na elke strooihalmpie wat uitgegooi word om te sê dat dit sal beter word.

Terwyl ek self glo dat ons veilig in Jesus se hande is en dat Hy getrou is aan Sy woord en ook in elkeen van ons behoeftes sal voorsien, lees ek egter ook in die Bybel dat dinge nog erger gaan word. Ons lees van familie-lede wat teen mekaar gaan opstaan...en kry ek ook daarmee te doen in beradingssessies...en allerhande vorme van verdrukking wat in hierdie laaste dae gaan plaasvind.

Ten spyte van dit alles, skryf Paulus dat dit slegs maar ligte verdrukkinge is en hang die impak daarvan op ons lewens, af van hoé ons daarna kyk en op watter manier ons dit hanteer.

2Kor 4:14  Want ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook deur Jesus sal opwek en saam met julle voor Hom sal stel.
2Kor 4:15  Want dit is alles om julle ontwil, sodat die genade, wat groter geword het deur so baie mense, die danksegging oorvloedig kan maak tot die heerlikheid van God.
2Kor 4:16  Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.
2Kor 4:17  Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid;
2Kor 4:18  omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

Niemand is dus gevrywaar teen die dinge wat nog sal kom nie en glo ek dat die “herlewing” wat almal verkondig en almal só op hoop, dalk op 'n heel ander manier gaan wees as wat baie mense verwag of dink. Dié realiteit is dat ons nie kan bekostig om ons oog NIE op Jesus te rig nie en dat ons baie seker moet maak dat ons leer om na die Heilige Gees se stem te luister.

Terwyl ons dus hierdie dinge rondom ons sien gebeur en sien dat die Bybel in vervulling gaan, dan weet ons dat die einde baie naby is en behoort ons êrens  moeite daarmee te maak om onsself voor te berei.

Terwyl ons dan ook nog die evangelie verkondig aan almal rondom ons deur ons dade en woorde!

Fil 2:12  Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing;
Fil 2:13  want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.
Fil 2:14  Doen alles sonder murmurering en teëspraak,
Fil 2:15  sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld,

Dit is dus uiters belangrik dat ons waaksaam en heilig moet lewe in hiérdie tye en dat ons ook mekaar eerder moet bemoedig as om mekaar met vreespraatjies vas te bind aan hiérdie wêreld!

1Th 5:1  Maar oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie;
1Th 5:2  want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ‘n dief in die nag.
1Th 5:3  Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.
1Th 5:4  Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ‘n dief sou oorval nie.
1Th 5:5  Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie.
1Th 5:6  Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.

1Th 4:17  Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.
1Th 4:18  Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.


GEBED: 
"Here Jesus, dankie dat ons kan weet dat dié dag nader kom dat U weer sal terugkeer soos U belowe het. Dankie dat ons ook kan weet dat U Woord hierdie dinge wat nou aan die gebeur is in hierdie wêreld, reeds vooruit vertel het, sodat ons kan weet om wakker en waaksaam te lewe terwyl ons U koms te wagte is...amen!"



Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

Monday 2 September 2019

Soek God


Jesaja 55:6 & Hosea 10:12: "Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is...want dit is tyd om die HERE te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën."

Hierdie twee teksverse is baie belangriker as wat ons ooit mag dink. Want in die een is daar 'n waarksuwing, en in die tweede een is daar 'n belofte.

Die waarskuwing in die eerste teksvers is dat ek en jy die Here moet soek terwyl Hy nog te vinde is, wat natuurlik die implikasie bring dat daar 'n dag gaan kom wat Hy nie meer te vinde gaan wees vir die wat Hom gaan aanroep nie. Dit beteken ons moet nie uitstel om moeite te doen om God te soek nie.

Hoe soek ons Hom? Deur TYD met Sy Woord te spandeer, en ook deur TYD met Hom persoonlik te spandeer in daaglikse gesprekke (gebed). En verder om ook tyd te spandeer deur soms net stil te sit by Sy voete, en Hom kans te gee om in die stilte diep in ons harte met ons te praat.


En wat is die belofte in die tweede teksvers?

Dat as ons sal aanhou om Hom so te soek, Hy sal kom en geregtigheid oor ons sal laat reën. Daardie geregtigheid verwys na God se manier van dinge doen in ons alledaagse lewens.

As ons dus aanhou om God so te soek, sal Hy kom en Sy manier van dinge doen in ons lewens laat plaasvind, wat beteken Hy sal ons deur Sy Heilige Gees lei om prakties te doen wat Sy Woord ons leer om te doen.

Mag jy in hierdie week 'n daadwerklike keuse maak om GOD TE SOEK in alles wat jy doen!


GEBED:

"Vader, leer my asseblief om U daagliks te soek in alles wat ek doen, deur tyd met U en met U Woord te spandeer, sodat U ook U geregtigheid oor my kan laat reën. In Jesus Naam vra ek dit. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...