Thursday 19 November 2020

Hy het ernstig versoek: ‘Moenie my hart oorplant nie, ek het dit vir Jesus gegee’

 Sowat drie jaar gelede het die bekende Christelike Berader, Belinda Paar, vir Johan Strydom telefonies ontmoet deur ‘n gebedsversoek. Hy was in ‘n Pretoriase hospitaal vir ‘n moontlike hartoorplanting. Dit het baie sleg met hom gegaan en sy moes vir hom bid. Voordat sy kon bid het sy hom gevra of hy glo dat Jesus hom kan genees, waarop hy ja geantwoord het, sy het gevra of hy Jesus al aangeneem het, waarop sy antwoord was...ja jare gelede in ‘n kerkdiens, maar ek wil graag weer. Ek het hom gelei  en hy het Jesus aangeneem.

            Belinda vertel: Hy is toe later oorgeplaas na Groote Schuur in Kaapstad. Hy het sy plaas verkoop om die mediese onkoste te dek. Hy had sy 4e hartoperasie daar... nie oorplanting nie...dit is 'n lang storie... maar nie die punt wat ek wil bereik nie.

Groote Schuur waar die 4e hartoperasie op Strydom uitgevoer is.


Hy het daarna geestelik ontplof! Hy is regtig 'n pragtige mens vandat hy Jesus ontmoet het.

            Die 4e hartoperasie was  suksesvol, maar later in die dag toe gaan staan sy niere, en sy bloeddruk val na 71/41 en geen medikasie werk nie, en dokters kom op punt wat hul laat weet die familie moet kom groet, want hy is baie swak en geen verdere operasie kan help nie.

            Sy vriend Herman was in trane... snik soos hy huil… Johan het hom gevra om na sy kinders te kyk, ook gesê sy gees is sterk maar sy liggaam is moeg, gesê hy gaan na beter plek en Herman moenie huil nie.

            Herman was ontsettend hartseer, gesê hy verstaan dat Johan na ‘n beter plek gaan maar hy het so geglo dat Johan gaan gesond word en sy droom uitleef om vir die HERE te werk... ek het net geluister hoe Herman snik en aangaan en die volgende oomblik toe se ek kom ons bid! Daar is asem... so daar is lewe... en ons bid vir genesing... die einde is nog nie hier nie!

            Die Heilige Gees vat my deur daai gebed, dat ek so ‘n salwing kry dat ek nie eens wil ophou bid nie! Terwyl ek bid besef ek dat Herman baie kalm is aan die anderkant. Na die gebed, sê hy Amen, ek staan in geloof! God verander sake.

 Johan Strydom, slaghuiseienaar op Tzaneen. Sy slaghuis is ook verkoop.

Hierdie was ongeveer so 8uur in die aand, teen ongeveer 9.30 kom die boodskap, Johan se bloeddruk het gestyg, dit gaan  beter met hom.

Die volgende dag hoor ons niks, nie tot so 7uur die aand. Johan laat weet dit gaan goed met hom hy voel 'n nuwe mens, hy prys Jesus daarvoor!

         Hoe groot is die HERE se genade nie vir ons nie, weereens besef mens die krag van gebed! Ons is so vinnig om na ander te luister! Wie weet as ons nie gebid het nie was sy kinders dalk vaderloos! 

        Hulle wou hartoorplanting op hom gedoen het. Johan het vir die dr gevra, as dit enigsins moontlik is om sy hart te hou, wil hy graag want dit is die hart wat hy vir Jesus gegee het! Hoe mooi is dit? Hy haf ook geen vrees vir die dood nie. Wat ‘n heerlike plek om te wees!

Ons is so dankbaar teenoor Jesus! Al die lof en glorie aan Hom, mag Johan 100% genees en 'n getuienis vir Jesus wees!

Johan Strydom en sy vrou Mariëtte. Hulle woon deesdae in Brackenfell waar hy weer ‘n slaghuis het. 

Dit gaan baie,baie goed met hom en sy gesin. Mens kan eintlik sê, dat toe hy ‘n hartoorplanting moes kry, het die HERE dit self gedoen.

          Bid vir mekaar en dra mekaar se laste. – Wekroep

Friday 6 November 2020

Rus in vrede


Die bogenoemde opskrif, is iets wat ons baie kere op grafstene geskrywe vind, asof dit moet impliseer dat almal na ons afsterwe, in vrede sal wees. Tog is die Bybel baie duidelik dat daar geen vrede vir die goddelose sal wees nie en dat die vuur in die hel nooit sal geblus word nie:

Jes48:22  Geen vrede, sê die HERE, vir die goddelose nie!

Mar 9:44  waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie.

Tog is die Bybel ook baie duidelik dat daar vir ons 'n rus wag waarin ons kan gaan en het ek self ook al baie gewonder oor of dit werklik verwys na die ewige lewe hierná en of dit dalk moontlik is dat ons nou alreeds die rus van God kan binnegaan, soos dit in Hebreërs 4 genoem word.

 Heb 4:1  Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie.

Hiérdie gedeelte verwys dan ook na die Israeliete in die woestyn wié nie God se rus kon ingaan nie, omdat hulle nie wou glo nie. Die deel gaan dan verder en praat van 'n sabbatsrus en ook dat dié wie Sy rus ingaan, ook sal rus van hulle werke. Nou aanvanklik maak dit nie sin dat ons moet rus van ons werke nie, juis omdat ons gered is sodat ons die evangelie kan verkondig en dissipels gaan maak...en dan moet die siekes nog genees word, die dooies opgewek word en die demone uitgedryf word...wel, dit klink vir my na werk! Só, hoé moet ons dan rus?

Heb 4:10  want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne.

 As ons egter na hiérdie deel gaan kyk uit die hoek van die wette versus genade, dan begin dit dalk 'n klein bietjie meer sin maak as daar verwys word na: “rus van sy werke”. Een van die beste maniere om dit dalk meer duidelik te maak, is om terug te gaan na die tabernakel / tempel toe.

Die Hoëpriester was die enigste persoon wie eenmaal per jaar by die Allerheiligste kon ingaan om versoening te doen vir die volk. Hy moes homself behoorlik heilig voordat hy daar kon ingaan en het ook klokkies aan die onderkant van sy kleed gehad, sodat die ander priesters wié net tot in die Heilige deel kon kom, hom kon hoor beweeg. Hy het ook 'n tou aan sy voet gehad sodat hulle hom kon uitsleep as hy dalk om een of ander rede deur God neergevel sou word, terwyl hy die versoeningsoffer bring.

Verder was daar ook geen stoel in die Allerheiligste waarop hy kon gaan sit nie, want sy werk was nooit volkome afgehandel nie. Met Jesus se kruisiging, was daar ook geen “mercy seat” aan Sy kruishout nie en kon Hy ook nooit “rus” van God se werk waarvoor Hy aarde toe gestuur is nie. Dit was eers nadat Hy opgevaar het en gaan sit het aan die regterhand van die Vader, dat Hy kon rus van Sy werke.

Jesus is dan die Hoëpriester wat voor God se troon verskyn het en finaal die mens weer met God versoen het en daarna het Hy gaan sit op Sy troon en aan ons die belofte gegee het dat ons ook nou alreeds deel aan Sy rus kan hê. En daardie rus verkry ons wanneer ons Hom aanneem as Redder en Saligmaker en ons rug keer op die dooie werke wat deur die wette gekom het. 

Heb 4:6  Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie,

Heb 4:7  bepaal Hy weer ‘n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie.

 Heb 4:9  Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God;

Heb 4:10  want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne.

Heb 4:11  Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie.

Dit is egter hartseer dat sóveel kinders van die Here in vandag se tyd, wil terugkeer na die werke van die wet, wat voorgeskryf word deur menigte dwaalleringe wat só 100 persent korrek klink. Terwyl Paulus (deur die Gees) dit baie duidelik stel dat sulkes van die genade verval en hulself losmaak van Christus af.

Gal 5:3  En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou.

Gal 5:4  Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.

Gal 5:5  Want óns verwag deur die Gees uit die geloof die geregtigheid waarop ons hoop.

Rom 3:20  aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde. 

Onthou altyd, dit wat ons uit die geloof vir Jesus doen, is OMDAT ons gered is, en nie SODAT ons daardeur gered kan word nie!

GEBED

Here Jesus, baie dankie dat ek kan weet dat U die werk van Vader op aarde voltooi het en dat U ook nou rus van U werk. Dankie dat U ook aan my deel gegee het aan hiérdie rus en my verlos het van dooie werke deur die wette toe U my aangeneem het as U kind, omdat ek U aangeneem het as my Redder en Saligmaker....amen!

Geskryf deur: ernest phillipson

(ecp@oicb.co.za)

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...