Saturday 19 December 2015

Wat doen Jesus langs die Jordaan?


Image result for Jesus at the Jordan River

Hy laat Hom doop!

Tyd het ‘n geneigdheid om altyd aan te hou loop, en op 'n dag stap die volwasse Jesus Christus langs die Jordaanrivier op… Hoekom? Kom! Hardloop saam met my daarheen! Kom ons gaan kyk…

“Toe het Jesus van Galiléa na die Jordaan, na Johannes gekom om deur hom GEDOOP te word. Maar Johannes het Hom ernstig teëgegaan en gesê: Ek het nodig om deur U gedoop te word, en kom U na my toe? Maar Jesus het geantwoord en vir hom gesê: Laat dit nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul. Daarna het hy Hom toegelaat.” (Mattheus 3:13-15)

Dis baie interessant om te let dat die EERSTE ding wat die volwasse Jesus kom doen, is om Hom deur Johannes te LAAT DOOP.

As ek dus die pad saam met Jesus stap, bly ek iewers in my geloofsgroei agter as ek my nie ook AS VOLWASSE GELOWIGE laat doop nie. Lees weer wat sê Jesus aan Johannes as hy Hom nie wil doop nie – “Laat dit nou toe, want so – HOE? – JA, DEUR SY GROOT DOOP - moet ons alle geregtigheid vervul.” Maar gou kom die argument vanuit die kerk dat die “kleindoop” of “besprinkelingsdoop” in die plek van die besnydenis gekom het en dat daar geen grond of rede bestaan waarom ek myself sou wou laat “groot doop” nie. Ek het geen probleem met daardie argument nie, behalwe dat die vergelyking tussen myself en Jesus Christus op die pad wat ons nou saam stap, op hierdie spesifieke stadium in Sy (en my) lewe dan vir my 'n groot gaping los. Hoekom? Wel, kom ons kyk – Jesus is besny en ek is klein gedoop, so op daardie stadium as klein babatjies is beide Jesus en myself “gelyk” uit die oogpunt van daardie bogemelde argument, want my kleindoop het mos in die plek van Sy besnydenis gekom. Geen probleem tot hier nie. En dan? Die dag wat Hy as volwasse man die Jordaan binnestap om ook as grootmens gedoop te word, bly ek iewers agter. Hy het, as my ouer broer, as eersgeborene van baie broers, wat jou en my insluit, 'n stap vérder geneem, en ek nie, as ek myself nie deur die Heilige Gees laat oortuig om my ook te laat groot doop nie.

As my persoonlike kleindoop in die plek van Jesus se besnydenis gekom het, wat van my het in die plek van Jesus se grootdoop gekom? Of het my kleindoop in die plek van BEIDE Jesus se besnydenis én Sy grootdoop gekom? Is die “verbondswaarde”, as ek met respek so 'n woord mag gebruik, van my persoonlike kleindoop, - wat 'n menslike instelling was - stérker as die “verbondswaarde” van Jesus se besnydenis? Soos ek reeds voorheen gesê het, is my kleindoop se “verbondswaarde” só groot, só sterk, dat dit selfs ons Koning, Jesus Christus, se persoonlike grootdoop dertig jaar later in Sy lewe, uitkanselleer, of dit dan ook insluit? Indien wel, waar staan dit in die Bybel? Nêrens nie! Nee vriend, wat anders kan my op hierdie pad weer gelyk met Jesus bring, ánders as dat ek myself ook laat grootdoop? – NET SOOS WAT HY DIT GEDOEN HET! In gehoorsaamheid aan God se Woord. 'n Persoonlike vriend van my het die volgende fantastiese openbaring ontvang rondom die verskil tussen die “verbondswaarde” van die besnydenis en die doop: Die besnydenis was 'n verbond wat deur God ingestel was, met ander woorde, dit het van God af gekom, wat dit met die mens aangegaan het. Kyk ons egter na hierdie volgende teksvers oor die doop, sal ons sien dat die doop 'n “bede tot God” is om 'n skoon gewete:

“Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie ‘n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ‘n bede tot God om ‘n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus.” (1 Petrus 3:21)

Baie duidelik dus het die besnydenis opdrag uit die hemel gekom, na die mens toe. Uit hierdie teksvers, merk ons dat die mens, deur sy grootdoop 'n bede tot God doen, dit wil sê, dit kom van die aarde af en word gerig tot die hemel. Daar is dus 'n baie groot verskil tussen die “verbondswaarde” van die besnydenis en die “verbondswaarde” van die doop, aangesien die een van God af kom na die mens toe, terwyl die ander een van die mens af kom, na God toe. Dit kan dus nooit op dieselfde vlak geplaas word, soos wat mense dit nou al reeds vir soveel jare probeer doen het nie. Soos ek later skryf, kan 'n babatjie nie so 'n “bede tot God” uitspreek nie, so hierdie teksvers het eweneens niks met die “kleindoop” te doen nie.

Het jy nie al ooit gewonder of daar dalk méér steek aan die groot doop as wat meeste mense wil erken nie, veral as ons in ag neem dat dit die ENIGSTE plek in die hele Bybel is waar die Heilige Gees in 'n FISIESE vorm (as duif) aan mense sigbaar geword het? Sê dit nie dalk iets oor die belangrikheid van die groot doop dat dit juis dáár is waar die Heilige Gees eenmalig sigbaar geopenbaar word nie? Hoekom het die Heilige Gees dan nie eerder by die berg van verheerliking so sigbaar gemanifesteer nie, want uit 'n menslike oogpunt was dáárdie tog 'n baie meer “hemelse, Goddelike” oomblik as die oomblik in die waters van die Jordaan? Behalwe natuurlik as die grootdoop eintlik 'n baie belangriker en baie dieper betekenis het as wat ons maar nog altyd gedink het, of probeer wegredeneer het met allerhande “slim” menslike argumente …

'n Paar ander teksverse wat dit baie duidelik maak dat, indien ek werklik die pad saam met Jesus wil stap, ek myself ook uiteindelik sal WIL laat groot doop, is die volgende:

“Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het. Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders? En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en LAAT ELKEEN van julle GEDOOP WORD in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” (Handelinge 2:36 – 38)

Kom ons kyk in die eerste plek na die woorde: “…wat JULLE gekruisig het…”. Ons weet almal dat dit nie die heidene was wat Jesus gekruisig het nie, maar die godsdienstige Jode van Israel. Baie duidelik praat Petrus dus hier NIE net met die ongelowiges wat daar rondgestaan het nie, maar ook met godsdienstige mense, wat uit die aard van die saak daardie tyd beslis almal reeds besny (“kleingedoop”) was. En wat sê hy verder vir HULLE, toe die waarheid van die Woord hulle in die hart tref? “Bekeer julle, en LAAT ÉLKÉÉN (ook die godsdienstiges) van julle GEDOOP WORD in die Naam van Jesus Christus.” En waarom sou hulle hulle laat doop? “…tot vergewing van sondes…” Ek hoef nie veel meer te sê oor daardie sinnetjie nie, want alles gaan daaroor dat ek moet seker maak dat ek met berou my sondes bely sodat ek vergifnis daarvan kan ontvang. Baie duidelik weet ons 'n babatjie kan hom nie bekeer nie, aangesien hy nog niks verkeerds gedoen het nie. Hierdie teksvers is beslis op grootmense gerig wat al KEUSES in die lewe kan maak, met die opdrag dat, sodra jy jou bekeer, jy jou moet LÁÁT groot doop. Duidelik sien ons dus hier dat die doopopdrag óók aan godsdienstige mense, kerkmense, gerig word. Maar kyk mooi hoe reageer die “godsdienstige mense” van Jesus se tyd. Vergelyk dit gerus met die “godsdienstige mense” van vandag, wat ook nog nie werklik die harde stofpad van die geloofslewe sáám met Jesus Christus wíl stap nie, se optrede…

“Al die mense, ook die tollenaars, het na hom geluister en was aan die wil van God gehoorsaam…

Hóé was hulle aan die wil van God gehoorsaam?

“Hulle het hulle met die doop van Johannes LAAT DOOP…”

Baie duidelik nê? Daar is vandag ook vele argumente oor wat die “doop van Johannes” in werklikheid was. In die Bybel is dit baie duidelik dat dit niks anders was as dat mense hulle in die Jordaan fisies deur hom LAAT DOOP het nie. Maar hoe tree die “godsdienstige mense” van destyds op?

“Net die Fariseërs en die wetgeleerdes het die bedoeling van God VERWERP en hulle NIE deur Johannes LAAT DOOP NIE.” (Lukas 7:29, 30)

Net so is daar vandag argument op argument van “godsdienstige mense” van verskeie denominasies of kerke, waarom hulle hulleself nie kán, of nie hóéf, of nie mág, groot laat doop nie. As ek die pad saam met Jesus wil stap, sien ek as ek VOLGENS DIE BYBEL aan God se wil gehoorsaam wil wees – let wel, volgens die Bybel en nie volgens enige menslike leerstellings nie – en ek NIE Sy bedoeling wil verwerp NIE, sal ek myself wel een of ander tyd, uitsluitlik as gehoorsaamheidstap aan God se Woord, laat grootdoop. Of ek gedoop is of nie, raak glad nie my saligheid nie, en kan my nie uit die hemel uithou nie, maar dit sal beslis my verhouding met Christus verdiep.

Ons sien verder in Handelinge 10 dat Petrus ook aan die heidene, (in teenstelling met die godsdienstiges waarvan ek hierbo gepraat het), - daardie mense wat nie deur die Jode erken was as goed genoeg om God te ken nie - die Woord verkondig en dat hulle self ook die Heilige Gees ontvang ná sy prediking. Dan kom hierdie baie duidelike woorde van Petrus aan hulle:

“Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak. Toe het Petrus begin spreek: Niemand kan tog die water weer, dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, nie GEDOOP word nie? En hy het beveel dat hulle gedoop moet word in die Naam van die Here.” (Handelinge 10:46-48)

Wat sien ons is die eerste ding wat Petrus BEVEEL gedoen moet word nadat hulle die Woord gehoor het, hulleself bekeer het en die Heilige Gees ontvang het? Dat hulle gedóóp moet word! Onthou, hierdie was heidene, so hulle was NIE besny nie. Daar was dus nie vir hulle 'n “kleindoop” nie. Uiteraard is dit dieselfde as met ongelowiges wat hulle harte vir die eerste keer vir Jesus Christus gee, hulle moet as grootmense gedoop word as gehoorsaamheidstap aan Christus en Sy evangelie. Ons hoef gelukkig nie in lang argumente in te gaan rondom besprinkeling of onderdompeling nie. Ons weet almal dat in Jesus se tyd, “doop” beteken het om fisies en totaal “onderdompel” te word. As ek en jy vandag koffie en beskuit eet, en ons “doop” die beskuit in die koffie, druk ons immers nie ons vingers in die koffie en spat die koffie oor die stuk beskuit voordat ons dit eet nie!

Maar kom ons los nou eerder die “godsdienstiges”, die ongelowiges, en die heidene uit hierdie argument en ons fokus op diegene wat hulleself gelowiges noem, wat WERKLIK die pad saam met Jesus Christus wil stap en dalk nog wonder wáárom hulle hulle op 'n dag sal wíl laat groot doop. Kom ons kyk na een van die grootste en mees prominente Fariseërs van sy tyd, Saulus van Tarsis, wat as “verbondskind” uit die aard van die saak óók besny was. En kyk net wat gebeur met hóm enkele dae nadat hy die persoonlike ontmoeting met Jesus Christus op pad Damaskus toe gehad het, waarná hy Paulus genoem is:

“En ‘n sekere Ananías, ‘n vroom man volgens die wet, wat ‘n goeie naam gehad het by al die Jode wat daar woon, het na my gekom en by my gaan staan en vir my gesê: Saul, broeder, word siende! En op dieselfde oomblik het ek hom aangekyk. En hy het gesê: Die God van ons vaders het jou voorbeskik om sy wil te ken en die Regverdige te sien en die stem uit sy mond te hoor; want jy sal vir Hom by al die mense ‘n getuie wees van wat jy gesien en gehoor het. En nou, WAAROM VERSUIM JY? Staan op, LAAT JOU DOOP en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.”  (Handelinge 22:12-16)

As ek dus myself nou op die “geloofspad” met Paulus moet vergelyk, lyk dit as volg: Paulus as Joodse gelowige is besny, ek is kleingedoop. Ons is hier gelyk. Net soos ek en Jesus soos ek dit vroeër verduidelik het. Maar dan staan hierdie groot geloofsheld, wat twee derdes van die Nuwe Testament geskryf het, óók op en LÁÁT hóm – SONDER VERDERE VERSUIM - groot doop! En weer is daar 'n gaping tussen my en Paulus, soos tussen my en Jesus Christus, as ek my nie ook laat groot doop nie. As my persoonlike kleindoop in die plek van Paulus se besnydenis gekom het, wat van my het in die plek van Paulus se grootdoop gekom? Wat vir my verder interessant is, is dat hierdie bogemelde teksverse onder andere ook verwys na elke gelowige wat die pad met Jesus begin loop, aangesien dieselfde “voorbeskikking” wat op Paulus van toepassing was, ook op elkeen van ons van toepassing is. God sê in amper soveel woorde in Jesaja 49:1, Jeremia 1:4,5 en Mattheus 28:19 vir ons presies dieselfde as wat Hy vir Paulus gesê het, met ander woorde: “Die God van ons vaders het JOU (ja, jy en ek ook) voorbeskik om sy wil te ken en die Regverdige te sien en die stem uit sy mond te hoor; want JY (jy en ek ook) sal vir Hom by al die mense ‘n getuie wees van wat JY (jy en ek ook) gesien en gehoor het.”  Hoe kan ek sê hierdie teksvers sê amper dieselfde as daardie ander drie? Kom ons lees ook die ander drie teksverse waarna ek verwys, en dan vergelyk ons.

“Hoor na My, eilande, en luister, volke wat ver is! Die HERE het My geroep van die moederskoot af, van my geboorte af het Hy my naam genoem.” (Jesaja 49:1)

“Die woord van die HERE het dan tot my gekom en gesê: VOORDAT Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou GEKEN; en VOORDAT jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou GEHEILIG; Ek het jou tot ‘n PROFEET vir die NASIES gemaak.” (Jeremia 1:4, 5)

“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

Dit is dus duidelik vanuit hierdie teksverse dat die Here ons almal van VOOR ons geboorte af self geken het, geroep het, ons name genoem het, en ons so “voorbeskik” het om uit te gaan en te getuig, en om die nasies te leer, hulle na God toe te lei, en hulle te DOOP. Maar om hulle te kán doop, moet ek self ophou versuim, opstaan en mý láát doop sodat my sondes wat ek gepleeg het sedert ek klein was, afgewas kan word, terwyl ek ook die Naam van die Here aanroep.

“Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding.” (Romeine 6:3 – 5)

“Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie ‘n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ‘n bede tot God om ‘n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus.” (1 Petrus 3:21)

Hier sien ons duidelik nog eens dat die doop nie iets is wat die vuilheid van my fisiese liggaam wegneem nie, maar 'n bede tot God om ons gewete skoon te maak van die verkeerde dinge wat ons gedoen het. Sonder enige twyfel weet almal ook dat 'n babatjie nie enige “…bede tot God (het) om 'n skoon gewete…” nie, want 'n babatjie het nog niks verkeerd gedoen nie. Wéér eens 'n duidelike teksvers dat die doop waarna die Bybel verwys, met grootmense te doen het en nie met babatjies nie. Ja, daar is die argument dat ons “in sonde ontvang en gebore is”, maar dit beteken bloot dat ons in 'n sondige wêreld ontvang is en in 'n sondige wêreld gebore is. Dit beteken nie dat ek as babatjie alreeds gesondig het nie. Hoe kan ek dit sê? Kyk gerus weer na Jeremia 1:4, 5:

“Die woord van die HERE het dan tot my gekom en gesê: VOORDAT Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou GEKEN; en VOORDAT jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou GEHEILIG; Ek het jou tot ‘n PROFEET vir die NASIES gemaak.”

Daardie woorde rig God tot élke baba wat gebore word. Vóórdat daardie baba in sy of haar moederskoot gevórm was, het God hom of haar reeds geken en voordat hy of sy gebóre is, het God hulle reeds GEHEILIG. Waar kom die sonde van daardie babatjie in? Daardie babatjie kán nog geen sonde pleeg nie. Hy is dan deur God Homself geheilig! Daarom gaan so 'n babatjie REGUIT HEMEL TOE as hy sterf voordat hy self besluite in die lewe kon begin neem.

Let wel, of ek groot gedoop is of nie, raak vir geen enkele oomblik my saligheid nie, maar soos ek vroeër gesê het, gaan dit my beslis in 'n dieper verhouding met Jesus intrek. Ek probeer hier ook niemand oortuig hieroor nie, want dit is nie my werk nie. Daardie deel doen slegs die Heilige Gees in mense se lewens. Al wat ek wel gevind het die afgelope aantal jare wat ek self die pad saam met Jesus stap, is dat dit beslis 'n gehoorsaamheidstap is aan die sagte stem van die Heilige Gees. Want so te sê elkeen van die - letterlik honderde - mense wat ek op hierdie pad ontmoet het, het iewers op daardie pad wat hulle saam met Jesus Christus van Nasaret begin stap het, self ook daardie gehoorsaamheidstap geneem. Ek het ook al die wonderlikste getuienisse gehoor van mense se gewaarwordinge die oomblik wat hulle uit daardie doopwater opgekom het. So kan ek by my persoonlike doop die geroep van 'n voëltjie baie duidelik onthou toe ek uit die water opkom en die goue sonstrale die rivier waarin ek gedoop is, soos die nuwe Jerusalem se goud laat glinster het. In daardie oomblikke het ek presies geweet wat beteken die woorde van Filippense 4:7 oor die “…vrede van God wat alle verstand te bowe gaan…”

Nog 'n paar bevestigings dat gelowiges hulle moet LAAT doop as hulle gehoorsaam wil wees aan God se Woord – en NIE aan menslike leerstellings nie, want God se Woord is immers baie belangriker as menslike leerstellings - vind ons in die volgende teksverse:

“Hy wat GLO en hom LAAT DOOP, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.” (Markus 16:16)

Jesus Homself rig hierdie opdrag dus baie duidelik aan grootmense wat kan glo en hulle kan LAAT doop.

“En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en LAAT ELKEEN van julle GEDOOP WORD in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” (Handelinge 2:38)

Petrus praat hier sonder twyfel met grootmense, maar sekerlik ook met kinders wat al self keuses in die lewe kan maak. En wat sê hy vir hulle? Om hulle te bekeer, met ander woorde om op te hou met hulle ou manier van lewe, en om hulle te LAAT DOOP. Hoekom? Sodat hulle sondes vergewe kan word en hulle in 'n nuwe verhouding met die Heilige Gees kan ingaan.

“En nou, WAAROM VERSUIM JY? Staan op, LAAT JOU DOOP en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.”  (Handelinge 22:16)

Ananias praat hier met die volwasse Paulus, soos ek reeds vroeër in die hoofstuk daaroor geskryf het. En wat sê hy duidelik vir Paulus? Dat hy hom moet LAAT DOOP. Hoekom? Sodat sy sondes afgewas kan word.

Die laaste interessante deel, is om te let dat Jesus se finale opdrag aan Sy dissipels, wat ons wat Hom wil volg vandag insluit, ook die volgende oor die doop bevat het:

“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en DOOP HULLE in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om ALLES te onderhou wat Ek julle beveel het.” (Mattheus 28:19)

Die Griekse woord wat hier gebruik word vir “doop”, is “baptidzo” wat fisies beteken om onderdompel te word. Jesus se opdrag is om AL DIE NASIES te gaan dissipels maak en onder andere om hulle te DOOP, ja, om hulle te onderdompel. “Al die nasies” sluit my en jou natuurlik ook in. Hoekom moet ons dit doen? Want uit die voorafgaande drie teksverse is dit duidelik sodat daardie nasies se sondes afgewas kan word en hulle ook die Heilige Gees kan ontvang. Het die Heilige Gees jou al oortuig om onderdompel te word? Want as babatjie was jy nie onderdompel nie…

As laaste gedagte, het jy geweet dat Moslems geen probleem het met Jesus Christus nie? Dat hulle selfs beweer dat hulle in Hom glo, alhoewel Hy in hulle oë bloot maar net nog 'n “profeet” is en nie werklik God se seun nie? Maar weet jy wat is baie interessant? Die oomblik wat enige Moslem sy hart vir die Here gee, begin die gevaarseine vir sy of haar familie opgaan. Dit is egter nog steeds nie vir die Moslems 'n onoorkombare probleem nie. Maar die oomblik wat so 'n nuwe Christen Moslem hom of haar LAAT DOOP, is sy of haar familie verplig om daardie persoon fisies dood te maak! Sê dit dalk iets oor die belangrikheid van die grootdoop, gesien in hierdie geval uit die oogpunt van die koninkryk van duisternis? Dink gerus daaroor na, en begin asseblief self met die Heilige Gees in gesprek tree hieroor indien jy nog nie groot gedoop is nie, maak nie saak wie jy is nie…

(Uittreksel uit die boek: “Kom stap die pad saam met Jesus”. – tiaan gildenhuys)

tiaan gildenhuys (tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming.

2 comments:

  1. Ons sien verder in Handelinge 10 dat Petrus ook aan die heidene, (in teenstelling met die godsdienstiges waarvan ek hierbo gepraat het), - daardie mense wat nie deur die Jode erken was as goed genoeg om God te ken nie - die Woord verkondig en dat hulle self ook die Heilige Gees ontvang ná sy prediking.??
    how to get skinny arms

    ReplyDelete
  2. Hulle het die Heilige Gees ontvang in vers 45 en is gedoop in vers 48. Sommige mense vandag nog ontvang die Heilige Gees voor hulle gedoop is, as jy regtig bekeer kan jy die Heilige Gees ontvang voor wedergeboorte, maar nogsteeds sê Jesus dat niemand die Koningkryk van God sal ingaan tensy uit water en gees gebore nie. Hoop dit beantwoord jou vraag?

    ReplyDelete

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...