Wednesday 25 March 2020

Ken die Woord van God!

Waar staan dit?


Dit is nogal ontnugterend, wanneer ek beweeg in geestelike kringe, hoe wedergebore gelowiges omgaan in hul gesprekke met onskriftuurlike teologieë. Vra jy hulle dan, waar dit in die Bybel gevind kan word, kan hulle jou nie soontoe vat nie. En dan word hy briesend vir jou, wanneer jy hom wil reghelp, want HY is mos die geleerde predikant of hoof ouderling. Die krag van tradisie, mag nooit onderskat word nie, geliefdes. [Markus 7:13]

Ons word groot met onwaarhede en volksgodsdiens, wat ons nie vir onsself ondersoek nie. [Handelinge 17:11] Dit op die beurt, het weer ons geloof stelsel geword en bepaal ons lewens. [Spreuke 23:7] Baie gelowiges wat ek ken, doen hoegenaamd nie goed in die lewe nie, want die geestelike 'oortuiging', waarmee hy groot geword het van een generasie na die volgende, BIND hom tot armoede, kroniese krankheid en siekte, rampe en uiteindelik, vroegtydige dood. Die gevolgtrekking - 'Dit was die wil van die Here gewees, dat oom Piet dood is op 52.' Regtig nou?

Hier volg 'n kort 'SATIRIESE' kyk na hoe Christendom die Bybel afgewater en verdraai het, om in te pas by hulle eie oortuigings. [Waak maar gerus teen aanstoot, asb. Hierdie is nie godslastering nie. Volwasse oordeel is nodig. Gaan lees gerus op wat 'Satiries' beteken]

Dinge wat God, Jesus of die Bybel NOOIT gesê het nie, maar wat grootliks deel geword het van die "Christen kultuur" vandag:

1. 'Hierdie gebod gee Ek aan julle, om in die geslagte te onderhou: Begin saamtrek aan 'n oneweredige en romantiese juk saam met 'n ongelowige of 'n Boeddhis en trou met hom met die doel, om hom NÁ julle troue te bekeer na die God van jou vaders toe.' [2 Korinthiërs 6:14]

2. 'As jy glo, laat jou doop; so ongeveer twee jaar na jou oorgawe. Daar is regtig geen haas nie.'

3. 'Julle vra My, hoekom Ek na hierdie wêreld toe gekom het? Kyk, Ek het gekom, om 'n wêreld-vrede te bring deur 'n ekumeniese eenheid, tussen die Katoliek en die Evangelies en ook ander gelowe. Met hierdie geestelike eenheid, kan julle die wêreld oorvat en My Vader se koninkryk vestig.' [Openbaring 18:4]

4. 'Kyk, Ek vertel julle die waarheid; Geen mens sal My Vader sien, alvorens hulle nie 'n bybelvers op hul liggame getatoeëer het nie, want Ek is die Here en Ek het self een op My bo-been.' [Levitikus 19:28 en Openbaring 19:16]

5. 'Ek het gekom, om vir julle 'gold dust' te bring vir julle byeenkomste, en 'gold dust' in oorvloed.' [Johannes 10:10]



6. 'My genade is vir jou genoeg, My kind. Bring jou owerspel gewoonte af vanaf 9 vrouens per week, na net 3 toe en dan weer na 1 per week en uiteindelik oor 'n jaar, sal jy heeltemal vry wees van hierdie gewoonte-sonde. Dit is beter om vergifnis te kry, as om vir toestemming te vra.' [1 Korinthiërs 15:34]

7. 'Noag het na die vloed, heel eerste 'n DUIF vrygelaat uit die ark uit.' [Dit was eintlik eers 'n KRAAI gewees. Genesis 8:6-7]

8. 'My kinders, julle is nie meer onder die wet nie. As vry-mense, kan julle nou doen net wat julle wil, want daar is nou geen veroordeling meer vir die, wat in Christus Jesus is nie. Period.' [Romeine 8:1, sonder die uiters-belangrike voorwaarde in die 1933/53 vertaling]

9. 'Hou aan, om vurig te bid vir vrede en herlewing in julle land en Ek beloof, om spoedig die land te genees. Moet ook nie julleself te veel bekommer oor julle aanhoudende, jaarlikse heidense praktyke soos Kersfees nie, want om die waarheid te sê, dit het nie veel prioriteit vir My nie.' [2 Kronieke 7:14]

10. 'Petrus, het jy My waarlik lief? U weet, ek het U lief, Here. In daardie geval, deel onmiddellik daardie Facebook insetsel of iets baie sleg gaan met jou gebeur.'

11. 'Hierdie is die voorskrifte, wat die Here, jou God ingestel het; Só moet jy dan jou goddelike lewensmaat ontmoet: Suster Rut het daagliks getrou die internet geraadpleeg en per ongeluk afgekom op Boaz se karakter profiel op www.findadude.israel.net. Selah.'

12. 'Dit was net Noag se geloof, wat hulle gered het van die vloed - nie sy gehoorsaamheid en harde werk nie.'

13. 'Kyk, hierdie gebod gee Ek aan julle: Vier My verjaarsdag op die dag en seisoen, waarop Ek nie eers gebore was nie. Doen hierdie getrou met 'n groot blydskap, saam met al die leuens, wat julle jaarliks vir julle kinders vertel van die oorgewig, bebaarde oom in 'n rooi pak en die denneboom met al sy 'bells and whistles', want Ek is die Here jou God en Ek voel, Ek kan hierdie bietjie afgodery oorsien, ten minste een keer 'n jaar.' [Jeremia 10-1-5]

14. 'Ek neem vandag die hemele en die aarde as getuies teen julle; die lewe en pro-choice het Ek jou voorgehou - Ja, die seën en die genade. Kies dan abortering, sodat jy 'n ongesteurde lewe kan geniet, jy en geen nageslag.' [Deuteronomium 30:19]

15. 'Wees baie waaksaam en onderskeidend, wanneer jy 'n Buddha beeldjie in jou huis inbring. Jy kan dit aanhou en salf, maar jy mag nie buig en dit aanbid nie.'

16. 'Hierdie insetting moet julle onderhou, sê die Here van die leërskare: Onderhou jaarliks die gelofte, wat jou oupa-grootjie gemaak het aan 'n Rolls-Royce motorhandelaar, toe hy die heel duurste motor gekoop het en daarna, al sy nasate finansieël verantwoordelik gemaak het vir die maandelikse paaiemente daarvan. 'n Belofte, bly 'n belofte, jy weet.' [Die 16 Desember Geloftedag-leuen]

17. 'Wees getroos, My geliefdes, wanneer julle kinders traumaties doodgaan. Kyk, Ek gee en Ek neem, soos dit My behaag. My tuin in die hemel het blomme nodig en Ek is uit voorraad uit.' [Dit was 'n baie misleide Job se woorde in Job 1:21 - Nie God nie]

18. 'Moenie verbaas wees, wanneer julle vroue-engele onthaal nie. Hierdie is God se dienende geeste, wat jou wil ondersteun en ook die geheimenisse van onse Vader wil leer.' [God het net mans-engele]

19. 'En Paulus sê toe aan sy geestelike seun: Timmy, jy het nou wel die verrese en lewende Christus in jou, maar jy't nog nie genoeg salwing vir jou dienswerk in die koninkryk nie, jongman. Vind jou weg Noord en gaan lê uitgestrek op ons oorlede vader Abraham se grafsteen, om dan sy onopgebruikte salwing te gaan OPSUIG vir jouself. ['Gravesucking' by Bethel Church, Redding]

20. 'As jy My liefhet, wees gehoorsaam aan My voorstelle.' [Johannes 14:15]

Kind van God, begin jou Bybel sorgvuldig bestudeer en ondersoek alles in die lig van SY waarheid - nie net 'N waarheid nie.

GEBED:
"Vader, leer my U waarhede, asb. Gee my weer 'n liefde vir U waarheid en maak my 'n getroue student van U Woord. In Christus se Naam. Amen."


 Geskryf deur: hennie van der westhuizen
(info@paragonlife.co.za)

Monday 16 March 2020

Bewaar Sy Woord


Psalm 119:17-24: "Doen goed aan u kneg, sodat ek kan lewe; dan wil ek u woord bewaar. Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet. Ek is ‘n vreemdeling op die aarde; verberg u gebooie nie vir my nie. My siel vergaan van verlange na u verordeninge altyddeur.  U dreig die vermeteles as gevloektes wat van u gebooie afdwaal. Wentel smaad en veragting van my af, want u getuienisse het ek bewaar. Al sit vorste en beraadslaag teen my—u kneg oordink u insettinge. Ja, u getuienisse is my verlustiging, my raadsmanne."

Ons sien hierdie week in Dawid se woorde die versoek dat die Here aan ons goed sal doen sodat ons kan lewe, wat dan daartoe lei dat ons Sy Woord wil bewaar. Natuurlik is dieselfde versoek ook in elkeen van ons as God se kinders se harte. Maar ongelukkig is daar nie vreeslik baie mense wat meer God se Woord wil bewaar nie, want hulle wil Hom dien slegs op hulle eie voorwaardes.

Die punt is egter dat slegs die Here ons oë kan open om die wonders uit Sy wet raak te sien. Daarom moet ons daagliks die Here vra om Sy gebooie aan ons te openbaar deur Sy Heilige Gees, sodat dit nie vir ons verborge sal bly nie.

En elke kind van die Here wat in 'n intieme persoonlike verhouding met Jesus Christus is weet ook wat dit beteken dat ons siele "vergaan van verlange" na ons God se verordeninge want ons liefde vir Hom veroorsaak dat ons graag gehoorsaam wil lewe daaraan.


Ons sien ook 'n waarskuwing wat ons leer dat die Here die vermeteles wat van Sy Woord afdwaal, dreig as gevloektes. Hierdie is 'n baie ernstige waarskuwing vir enigiemand wat van Sy Woord afdwaal, en daarom is dit beter om in 'n intieme verhouding met Hom te bly en Sy Woord in ons daaglikse lewens te bewaar.

As ons Sy Woord en Sy gebooie bewaar kan ons Hom ook vra om smaad en veragting van ons af te wentel, m.a.w. enige skandes en disrespek wat die vyand so maklik teen ons gebruik in die wêreld daarbuite. Die volgende deel van die teksvers bevestig dit dat mense geneig is om te sit en planne maak teen ons, hetsy om ons skade aan te doen, of skande in ons lewens te veroorsaak, maar ons moet ons nie daardeur laat afsit nie, ons moet steeds  God se Woord oordink, en Sy getuienisse bewaar.

Want doen ek dit op 'n daaglikse basis, dan begin ek agterkom dat God se Woord en Sy getuienisse effektief my "raadsmanne" word wat my lei op die regte paaie van die lewe. Maar juis daarom moet ek tyd spandeer met God en Sy Woord op 'n daaglikse basis, en luister na Sy "raadsmanne" in Sy Woord, en dan word die Here se Woord en Sy instettinge, getuienisse en opdragte, my verlustiging, iets wat ek daagliks kan begin geniet in my verhouding met Hom.

Mag ons dus elkeen in hierdie week kies om dieselfde dinge te doen as wat Dawid ook geleer het om te doen en vir ons in hierdie teksverse neergepen het.

GEBED: 

"Vader, leer my asseblief ook om soos Dawid U Woord te bewaar, dit te ondersoek en uit te leef tot U eer. Leer my ook om te sien wat U my wil leer Here, ongeag wat ander mense rondom my doen. In Jesus Naam. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

Thursday 12 March 2020

Sing 'n halleluja


Psa 149:1-9  Halleluja! Sing tot eer van die HERE ‘n nuwe lied, sy lof in die vergadering van die gunsgenote!
Laat Israel hom verheug in sy Maker; laat die kinders van Sion juig oor hulle Koning! Laat hulle sy Naam loof in koordans, Hom psalmsing met tamboeryn en siter. Want die HERE het ‘n welbehae in sy volk; Hy versier die ootmoediges met heil. Laat die gunsgenote juig in heerlikheid; laat hulle jubel op hul bedde. Lofverheffinge van God is in hulle keel, en ‘n tweesnydende swaard in hulle hand; om wraak te oefen onder die heidene, strafgerigte onder die volke; om hulle konings met kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie; om ‘n vonnis wat opgeskrywe is, aan hulle te voltrek. ‘n Eer is dit vir al sy gunsgenote! Halleluja!

Een van die sterkste wapens wat ons as kinders van die Here het, is lofprysing in ons hart en in ons mond! As ons dan ook kyk na die bogenoemde Psalm, dan sien ons dat dit soos 'n tweesnydende swaard is waarmee ons strafgerig kan uitoefen teen die konings en edeles van die koninkryk van duisternis. Ons lees in Efesiërs 6 dat ons stryd nie teen die mens is nie, maar teen hierdie magte van duisternis.

Ons lees dan ook dat Paulus aan Timótheüs opdrag gee dat die mense bymekaar moet kom om in eensgesindheid te bid en dan ook hulle hande op te hef in lofprysing aan die Here.

1Ti 2:8  Ek wil dan hê dat die manne op elke plek moet bid en heilige hande ophef sonder toorn en twis.


As ons teruggaan na die uittog uit Egipte en terwyl die Israeliete by Rafidim vertoef het en die Amalakiete teen hulle kom veg het, sien ons dat Moses, Aäron en Hur op die top van die heuwel gaan staan het en die geveg aanskou het. Moses het sy hand met die staf van God omhoog gehou en terwyl sy hande hoog was, het Israel die oorhand gehad, maar sodra sy hande begin sak het, was Amalek die sterkste. Aäron en Hur het naderhand 'n rots onder hom gesit dat hy daarop kon sit en gehelp om sy hande hoog te hou totdat die vyand verslaan was.

Daar het Moses dan ook 'n altaar gebou en dit genoem: “Die Here is my banier.”

Netsó is God vandag steeds ons banier as ons met lofprysing en aanbidding tot Sy troon nader.

Ef 5:19  Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here,
Ef 5:20  terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus,

Kol 3:16  Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.
Kol 3:17  En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

GEBED:
"Here Jesus, U is waardig om geloof en geprys te word, want U alleen is ons beskutting en beskerming, ons banier. Gee dat daar elke dag van ons lewens, 'n lied in ons hart en in ons mond sal wees om aan U eer te bring...amen!"

Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...