Tuesday 20 June 2017

"PLAY IT AS IT LIES"


Image result for Golf player looking at the ball before hitting it


“US Golf Association Rule nr. 13: Ball played as it lies
The rule prohibits moving the lie, the area intended for the swing, the line of  play or the area in which the ball is to be dropped. In general the golf  ball should be played where it lands without any change to the overall situation”

Na aanleiding van ’n gesprek wat ek en ’n vriend gehad het en ook uit ervaring van my eie egskeiding en die pad van herstel daarna, het die volgende Woord by my gekom….


Nou voordat ek verder gaan, wil ek dit net eers duidelik maak, dat my kennis van golf net genoeg is om ’n gevaar vir myself en ander in te hou, só ek gee my nie uit as ’n “pro” op die gebied nie, maar is dit slegs ter illustrasie van dit wat die Here in my gees gelê het.



Só dikwels neem ons besluite of doen ons dinge wat reuse, traumatiese ervarings tot gevolg het vir ons huwelike, kinders, vriende, loopbane, ens. Agterna is ons bitter spyt en wens dan só dat dit nie gebeur het nie of dat jy kan teruggaan en dit gaan regmaak. Sommige tye is dit moontlik en ander kere nie! Die lewe gaan egter voort en kan ons nie bly stilstaan by hierdie daad of gebeurlikheid nie en dan moet ons deel met die omstandighede net soos dit is. Dit is dan hier waar die bogenoemde golf-term te pas kom.


Moses het ook op ’n stadium in sy lewe gekom waar hy moes vlug nadat hy iemand doodgeslaan het in Egipte en toe die Here met hom spreek uit die brandende bos, was hy vol verskonings oor hoekom hy nie die Here se opdrag kon uitvoer nie. Die Here het egter ’n ander plan met sy lewe gehad en net só met elke een van ons vandag. Die Here vra vir Moses wat hy in sy hand het en leer hom om dit te gebruik.


Eks 4:2  Daarop vra die HERE vir hom: Wat is daar in jou hand? En hy antwoord: ‘n Staf.

Jy sien, net soos in die geval van Moses se sonde, kyk die Here nie vas in ons sonde nie, maar weet Hy wat Hy vir ons beplan het.


Jer 29:11  Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.


Dit is egter ons en ander mense wat nie die son wil sien skyn oor ander nie, wat vashou aan die sondige daad of dan verlede. Heel dikwels is dit die partye wat betrokke is en wat die “seerste” gekry het, wat die moeilikste laat los. Dit is te verstane, aangesien daar ’n emosionele sy aan elke mens is (die sielsdimensie) wat afgeknou word en wat tyd nodig het om te herstel. Die Bybel is egter baie duidelik dat ons nie moet vashou aan die verlede nie, omdat Vader weet dat dit die vyand se manier is om ons te bind en te verhoed om uit te kom by wat Vader vir ons bestem het.


Jes 43:18  Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie.


Die Woord is dan ook duidelik uit Jer. 29: 11 hierbo, dat Jesus vir ons ’n hoopvolle toekoms beplan vol van Sy vrede. Sy vrede is nie die tipe kunsmatige vrede wat die wêreld vir ons voorhou nie, maar Sy vrede is’n innerlike vrede wat alle verstand te bowe gaan m.a.w. dit is nie iets wat ’n mens sou kon verklaar nie. Die wêreld se vrede is baie keer die van onderdruk, ignoreer en ontkenning en wanneer jy dit begin doen, dan is jy soos ’n wond wat binne-toe bloei en nie uitbloei dat al die gif kan uitkom, sodat herstel kan plaasvind, nie.



Joh 14:27  Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.


As jy hierdie vrede gevind het, sal jy nie meer die toekoms vrees nie en sal die verlede ook nie meer saak maak nie. Dit is op daardie punt wat jy dan die seer van die verlede agter jou sal kan sit. Let wel, ek sê nie dat die verlede dan uitgewis sal wees asof niks gebeur het nie!…néé!, ons besluite en keuses het gevolge, maar dit sal dan nie meer soos ’n swaar las op ons skouers rus nie, omdat ons dit vir Jesus gegee het. Téreg sê die Woord dan ook dat ons ons bekommernisse op Jesus moet werp! En om iets weg te werp van jou af, beteken om dit weg te slinger!

1Pet 5:6  Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.
1Pet 5:7  Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.

So is ons dan ook tans hier in die Suid-Kaap, in 'n situasie waar verwoestende brande baie groot skade aangerig het aan die natuur en menige huise en geboue is totaal vernietig. Daar is baie mense wat absoluut verslae en moedeloos is en sommige dalk sonder hoop. Meeste mense het alles verloor en ander het dalk 'n neseiertjie wat die toekoms nie só donker laat lyk nie. Hoé dit ookal sy, dít wat gebeur het, kan nie omgekeer word nie en moet ons die toekoms in die oë kyk met wat ons voorhande het. Om verbitterd te wees, aantuigings rond te slinger en vals gerugte te versprei, gaan niks verander nie en dalk net tot gevolg hê dat mense met onvergewinsgesindheid rondloop.

Daar was absoluut geen aanneming van die persoon met hierdie verwoestende ramp nie...ryk of arm, wit, bruin of swart...almal het deurgeloop! Tog is daar menige getuienisse wat gelewer word oor kinders van die Here wat nie deur vrees verlam was nie, maar op hul knieë gegaan het en gebid het en hul huise het ongedeerd daarvan afgekom. Die waarheid is dat God getrou is aan Sy woord en dat Hy altyd hoor as ons Hom aanroep en ook belowe dat dinge ten goede sal meewerk.

Rom 8:26  En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.
Rom 8:27  En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.
Rom 8:28  En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.

Dit is die troos wat ons het, dat as ons op 'n punt is waar ons só plat geslaan is deur die vyand dat ons nie eers kan bid nie, dan tree die Gees vir ons in en bring die seer in ons harte , voor God se troon. Vader belowe dan om ons te vertroos en te help om weer op te staan, sodat ons die toekoms in die oë kan kyk. Ons het dus 'n keuse om te bly vaskyk in dit wat gebeur het, of om ons Vader se hand te vat en toe te laat dat Hy ons vorentoe lei.

GEBED: Pappa God, U ken ons diepste seer en weet dat dit vir ons moeilik is om die dinge van die verlede te vergeet, omdat dit só seer gemaak het. Tog is U die God wie ons genees as ons U toelaat en daarom vra ek dat U sal kom en ons harte ondersoek, sodat alles aan die lig kan kom wat nog in duisternis gehou word. Kom genees dan ook asseblief daardie wonde in Jesus naam. Vader en net so vra ek ook dat U sal hoop gee vir hulle wat in die Suid-Kaap deur hierdie verwoesting platgeslaan is. Hef weer swak hande op en maak hulle sterk en versterk ook weer verlamde knieë, sodat mense weer hul hoop op U sal plaas vir die pad vorentoe...amen!

(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys


Sunday 18 June 2017

Gelukkige Vadersdag

Image result for vadersdag boodskappe

Baie geluk aan elke aardse Vader, of jy nou ‘n stiefpa, ‘n biologiese pa, of ‘n geestelike pa is, mag God jou sëen uit die skatkamers van Sy Troonkamers.


PSALMS 103:13  Soos 'n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees.


PSALMS 127:3  Kyk, seuns(en dogters) is 'n erfdeel van die HERE; die vrug van die moederskoot is 'n beloning.

Friday 9 June 2017

Laat hulle die HERE loof…


Image result for walvis

Ek droom vier keer in een nag presies dieselfde droom… elke keer die verhaal van Jona, behalwe
hierdie keer byt die groot vis hom dood en verslind hom. Net dit, maar wat sou dit beteken?

            Jona is die vyfde van die 12 profete. Die 12 is: Hosea, Joel, Amos, Obadja, Jona, Mica, Nahum,
Habakkuk, Sefanja, Haggai, Sagaria, en Maleagi. Die 12 volg die geskrifte van die vier ouer
profete: Jesaja, Jeremia, Esegiël en Daniël. (16 profete = 4 x 4)
            Jona was die ongehoorsame een en sy storie is goed bekend.

            Nou wil die droom daarop dui dat dit die einde is van ongehoorsame profete. Laas was Jona
ongehoorsaam, maar hy is vergewe toe hy berou had.
           Hierdie keer sterf Jona. Die groot vis red hom nie, hy verslind hom. Dis die einde van ‘n seisoen. Die
mense wat so vals profeteer in en om  gemeentes se dag van afrekening het gekom. Niemand sal
langer toegelaat word om die Volk te mislei nie. Dit sluit predikante en lidmate in.
           Ons is in die Eindtyd en die Bruid moet haar gereed kry en sy kan dit nie doen te midde van valsheid
nie.
           Daar is vier seisoene. In die Hebreeus beteken die seisoene “Divine appointed times”. Vandaar ook
die vier Heilige Feeste van aanbidding.
           Die syfer vier lyk interessant. Hoekom sou mens vier keer presies dieselfdroom oor droom en dit in
een nag?Die enigste plek in die Bybel waar presies dieselfde woorde vier keer herhaal word, is Ps
107:8-15-21-31
           “8 Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
want Hy het die dorstige siel versadig en die hongerige siel met die goeie vervul.” Ps
           “15 Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
want Hy het koperdeure verbreek en ystergrendels stukkend geslaan.
           “21 Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
en laat hulle lofoffers bring en met gejubel sy werke vertel.
           “31 Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders,
en laat hulle Hom verhoog in die vergadering van die volk en Hom roem in die kring van die oudstes.
           Eers dui die droom aan die einde van die vals profete en hulle tyd van profesie. Dan word aangedui
waarmee die valsheid vervang gaan word: Ps 107:8-15-21-23.
Amen.

Tuesday 6 June 2017

'n Mooi gebed


Hemel Vader, aan U o God, al die eer vir die groot werke wat U doen.
Here, ons staan in verwondering oor U guns en grootheid in ons lewens.
U verstom ons elke keer met U Nabyheid en liefde, U sorg vir ons, U dra
ons, U praat met ons, U beskerm ons en lei ons deur U Gees. Hoe goed
is U vir ons. U vorm en maak ons, U hou ons styf vas in die holte van U Hand. U Here, vernuwe ons denke deur U Woord en U Gees. U Here bou
ons karakter en innerlike gees. U leer en lei ons in al U Waarheid. Hoe bevoorreg Here is ons nie. Ons monde loop oor om lof en eer aan U te
bring, daar is niemand soos U nie. U is 'n liefdevolle Vader vir almal wat in U glo. Help ons dat ons niks doen wat U Naam oneer aandoen nie.
Leer ons om U reg te aanbid volgens U Woord. Ek bid dat die hele wêreld
U as Koning sal erken en volgens U wil sal begin leef. Ek vertrou op U vir
alle liggaamlike en geestelike voorsiening Help ons om staande te bly teen die versoeking van die bose. Abba Vader, vanaand  kom verklaar ek
U bo- natuurlike vrede oor elkeen op hierdie groepie en hulle gesinne. Ek verklaar U voorsiening en goedheid en guns. Ek verklaar dat U die Lig
sal wees in ons lewe en dat donkerte moet wyk. Ek verklaar dat Jesus
se liefdesband nou om elke gesin gespan word, en dat verhoudings nou herstel word. Ek verklaar U Genesing oor elke krankheid en dat U Liefde
nou in elke hart warm brand. Ek verklaar dat ons trotse ligdraers van U sal wees en dat ons aan U en slegs U gehoorsaam sal wees. Ek loof en dank U en het U lief.
In Jesusse kosbare Naam bid ek dit.
Amen!
Skrywer onbekend

Ken God jou?


Image result for 1 Cor 8:3


"Maar as iemand God liefhet, dié word deur Hom geken." (1 Korinthiers 8:3)

In opvolging van die artikel wat Ernest geskryf het vir verlede week se Weeklikse Woord boodskap, het ek net ervaar om hierdie week ‘n bietjie verder daarop uit te brei. Hy het verlede week gevra of ons besig is met God, of met Goddelike dinge? Want ons is baie kere so besig met die “dinge van die Here”, dat ons “die Here van die dinge” vergeet of nie intieme tyd met Hom spandeer nie.

Daarom vra ek hierdie week die vraag of die Here JOU ken, jy wat jouself as Christen verklaar en elke Sondag in die kerk sit? Want baie mense sê vir my dat hulle God kén! Net so het ek gehoor dat mense sê hulle ken my, maar ek het hulle nog nooit persoonlik ontmoet nie, hulle het bloot een van my DVD’s gekyk of een van my boeke gelees, en dan beweer hulle dat hulle my ken.

Dieselfde gebeur baie keer met mense wat hulleself Christene noem, en die Here Jesus. Hulle sê hulle ken Hom, maar intussen het hulle maar bloot na ‘n paar preke geluister of na ‘n paar DVD’s of YouTube videos gekyk. Hulle het nog nooit self in ‘n intieme persoonlike verhouding met Jesus ingegaan, of self intieme tyd met Sy Woord spandeer op ‘n daaglikse basis nie.

En hulle loop die gevaar om een dag dalk die volgende skrikwekkende woorde te hoor:

“En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit. Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop! Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek KEN JULLE NIE.” (Mattheus 25:10-12)


Nou wie word dan deur die Here geken? Ons kry die antwoord in die teksvers waarmee ek hierdie artikel begin het. As iemand GOD LIEFHET, DAN word so ‘n persoon deur God GEKEN. En wanneer jy iemand liefhet, spandeer jy nie net een uur per week in daardie persoon se teenwoordigheid nie, jy is heeldag besig met daardie persoon, hetsy in jou gedagtes, of oor die foon, of met liefdesbriewe aan mekaar, of in sy of haar teenwoordigheid.

Het jy die Here al so lief? Dat jy nie genoeg van Hom kan kry nie? Dat jy nie kan wag om in die oggend wakker te word, net sodat jy kan sê: “More Here, ek is so lief vir U!” Dat jy nie genoeg kan kry van Sy liefdesbriewe aan ons, Sy Woord nie. Dat jy nie anders kan as om deurlopend in die dag aan Hom en Sy Woord te dink, en te dink hoe en waar jy Hom kan behaag en plesier gee deur gehoorsaam te wees aan die opdragte in Sy Woord nie, ens. Dat jy skoon hartseer is as jy vir oomblikke iets anders moet gaan doen wat jou vir ‘n wyle so besig hou dat jy nie tyd het om daar spesifiek met Hom te kan kommunikeer of Sy Woord te bepeins nie.

As jy nog nie God so liefhet nie, dan is dit tyd om jouself die vraag af te vra: “Ken God my dan?” En indien dan nie, is dit tyd om uit te kom uit jou dooie godsdiensbeoefening, en in ‘n intieme verhouding met Jesus Christus in te gaan deur die daaglikse inneem van Sy Woord, deur Sy Woord te bepeins, en deur daaglikse gesprekke met Hom te begin hê in gebed. Dan sal Hy jou deur Sy Heilige Gees lei en leer om Sy kind te wees volgens Romeine 8:14.


Gebed:

“Vader, vergewe my waar ek so besig was met “godsdiens” dat ek U gemis het, dat ek so besig was met dooie rituele dat ek ‘n lewende verhouding met U gemis het. Ek wil vandag vra dat U in hierdie oomblikke my lewe en my hart sal aanraak en omkeer, en my van hier af op ‘n nuwe pad van intieme persoonlike verhouding met U sal begin neem, sodat ek van nou af met vrymoedigheid elke dag kan uitroep met vreugde en die ware wete in my hart: “Vader, ek het U waarlik lief!” Amen.”

  (tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys


Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...