Monday 19 February 2018

Waardig aan die roeping


Image result for Efesiers 4:1



Efes 4:1  “Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is,”

Daar is vandag ‘n onbetwisbare behoefte onder Christene om die hoër roeping te herwin wat ons voorvaders gehad het. Dit wat hulle bekragtig het met moed, edelheid en doelgerigte toegewydheid aan Christus en mekaar. Iets meer as gewone geloofs opdragte en diens of emosionele lojaliteite moet ons gedagtes en arbeid lig om díe van ons voorouers te ewenaar.

Ons moet besef dat dit Vader se doel, asook die vurige gebede van die heiliges, is dat ons dit nie net ewenaar nie maar daarop verbeter, groei en verbygaan in geloof, hoop en liefde. Dink daaraan as ‘n voortgaande reis in gevorderde uitnemendheid.

Ons sukses hierin is die bekragtiging van húlle geloof en ‘n gepasde huldeblyk aan hulle getrouheid. Hulle het hulle lewens afgelê om die Evangelie so ver te bring, nou moet ons ook ons deel doen – ons lewens aflê om dit verder te neem.

Gevorderde en toegewyde uitnemendheid is inherent aan God se roeping op ons lewens. Die pad van die regverdige is soos daglig wat al helderder skyn tot die volle dag. Spr 4:18 “Terwyl die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe,” Dit verhelder en verbeter met elke verbygaande oomblik. Dit word meer dinamies en skerper met elke geslag.

Die eerste wonderwerk wat Jesus Christur verrig het was by die bruilof te Kana in Galiléa. Dit is daar waar Hy die water in “wyn” verander het en die hoofdienaar gesê het “U het die beste vir laaste bewaar!” Joh 2:10  “en sê vir hom: Elke mens sit eers die goeie wyn op en, wanneer hulle goed gedrink het, dan die slegste; maar u het die goeie wyn tot nou toe bewaar.” Verseker is hierdie ook van toepassing op die Kerk vandag, op my en jou as ware kinders van God. Die Here het die beste vir laaste gehou. Net soos die profeet Haggai gesê het in Hag 2:9 “Die toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as die vroeëre, sê die HERE van die leërskare; en op hierdie plek sal Ek vrede gee, spreek die HERE van die leërskare.” sal dit wees.

Die beste tyd van ware Christendom is op ons. Ons is die uitgesoekte geslag. Ons moet nie terugkyk na vroëere dae van heerlikheid met ‘n vae verbeelding van hoe wonderlik dit sou wees as ons daar was nie. Ook kan ons nie net na die toekoms kyk en ons self vertroos van hoe salig dit sal wees as die laaste basuin blaas nie.

Vandag is die dag van verlossing! Ons moet die roepstem van God in hierdie tyd, ons tyd, antwoord. Ons moet gereed wees vir die geleentheid wat God bewerk, en die momentum van die Heilige Gees aangryp om Sy doel vir hierdie geslag uit te leef.

Daar sal verseker, in tye wat kom en in gehoorsaamheid, díe wees aan wie ons die fakkel van God se lig moet oordra, en deur wie nog groter eer en heerlikheid aan ons Koning Jesus gegee sal word. MAAR eers moet ons ons wedloop voltooi sodat ons ‘n fakkel hê om oor te gee. Ons moet ons plek kan inneem onder die groep gelowige, standvastiges en ons moet ons deel doen om die evangelie van Jesus Christus op te hou deur daarvolgens te lewe. Ons moet die Geloof behou.

“Here Jesus. Bekragtig my asseblief deur die Heilige Gees om staande te kan bly. Help my om my geloof te behou en om U evangelie te verkondig deur my heilige lewenswandel. In Jesus Naam vra ek. Amen.

(cobus van heerden - cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys



Tuesday 13 February 2018

Waar wandel ons?


Image result for bybel verse oor dankbaarheid



(1 Johannes 1:5-10): “En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.”

Geen mens kan twyfel dat daar geen duisternis in God is nie, want Hy is liefde, Hy is lewe, Hy is lig, Hy is alles wat met lig en lewe te doen het, en nie met duisternis of die dood nie.

“As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.”

Eina! Hierdie vers is darem maar baie duidelik. En tog is daar baie “Christene” daarbuite wat vir almal loop en vertel dat hulle Jesus ken en met Hom in verhouding lewe, en tog getuig hulle lewens net van ‘n “duisternis wandel”, van hoer en rumoer, van rook en van drink, van skel en vloek, van veroordeel en kritiseer, van korrupsie en bedrog, van twis, tweedrag en skinder. En wat sê hierdie vers van daardie mense wat die dinge doen? Hulle lieg en doen nie die waarheid nie.

“Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.”

En net hier word die teenoorgestelde wandel, die “wandel in die lig” aangetoon. As ons in die lig wandel soos God in die lig is, met ander woorde NIE MEER daardie bogemelde dinge van die duisternis doen nie, DAN het ons gemeenskap met mekaar, want Jesus Christus se bloed reinig ons van alle sonde.

“As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.”

Hierdie vers is nogeens so baie duidelik, en tog is daar baie mense wat sê: “Omdat Jesus se bloed ons reinig van alle sonde, soos ons in die vorige vers gesien het, DAAROM het ons nie meer sonde nie!” En wat sê die Bybel van daardie siening? Ons mislei dan onsself en die waarheid is nie in ons nie.

“As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”

 Wat moet ons dus volgens hierdie teksvers doen? Ons moet ERKEN dat ons wel nog sonde het, ja ons moet ons sondes BELY. Die Griekse woord wat hier gebruik word vir “bely”, beteken ook: “to acknowledge, confess and profess”. En wat gebeur in daardie oomblik? Hy vergewe ons daardie sondes en Hy reinig ons van alle ongeregtigheid. Hoekom? Want Jesus Christus se bloed reinig ons van alle sonde.

 “As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.”

Wat meer kan ek sê wat hierdie vers nie reeds duidelik gesê het nie? Is jy bereid om dit te waag om God tot leuenaar te maak?

Gebed:

“Vader, ek kom na U in die Naam van U Seun, Jesus Christus. Here, ek bely nou dat ek nie altyd in die lig gewandel het soos U in die lig is nie. Ek bely dat ek by tye gespreek het dat ek met U gemeenskap het, terwyl ek inderdaad toe in die duisternis gewandel het. Ek bely dat ek gesê het dat ek geen sonde het nie, dat ek myself mislei het en dat die waarheid nie in my is nie. Ek bely ook dat ek gesê het dat ek nie gesondig het nie, en U daardeur tot ‘n leuenaar gemaak het. Ek bely nou al hierdie sondes voor U en ek vra U om my nou te vergewe en van alle ongeregtigheid hieroor te reinig. Dankie Vader ek weet dat U getrou is aan U Woord en dat U my nou so vergewe en nooit weer daaraan dink, volgens Hebreërs 8:12 nie. Ek aanvaar U vergifnis met ‘n dankbare hart. In Jesus Naam.
Amen.”

(tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan




Saturday 3 February 2018

Die vrug van jou lippe


Image result for people talking

Spr 18:20  Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrings van sy lippe.


Een van die grootste struikelblokke in kinders van die Here se lewens vandag, is dit wat by ons monde uitkom! Terwyl ons veronderstel is om die kennis te hê en die voorbeeld te stel, is baie besig om liewer saam met die wêreld te gesels en om die negatiewe woorde van mense te herhaal, eerder as om aan die woord van God vas te hou en dit in ons monde te hê. Spreuke 18: 21 is baie duidelik dat die mag van dood of lewe lê in die woorde wat ons spreek.  Ons kan dus lewe spreek in ons omstandighede in of ons kan dit dood verklaar en die woord van God kragteloos maak in daardie spesifieke situasie.


Spr 18:21  Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.

Die Bybel leer ons dat ons moet anders wees in ons handel en wandel en dat ons nie soos die goddelose mense moet lewe en doen nie.


Rom 12:2  En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.


Ons word duidelik opdrag gegee dat ons vernuwe moet word in ons gemoed en om nie gelykvormig aan die wêreld te wees nie. Dit beteken dus dat ons hele denkwyse en spraak in lyn gebring moet word met dit wat die Woord van God ons leer. Tog kies sóveel om eerder te glo wat die dokters, politici of die ekonome sê en vergeet hulle dat die woord van God magtiger is en dat God aan ons die reg gegee het as Sy kinders, om Sy woord te mag gebruik om die leuens van die vyand te kan teenstaan.


Toe Jesus deur die duiwel versoek is na Sy doop, het Jesus elke keer die woord van God aangehaal om die vyand te weerstaan en die duiwel het van Hom af weggegaan, nie omdat Hy die Seun van God is nie, maar omdat Hy op daardie stadium die seun van die mens was wat die Woord geken en kwoteer het! Die duiwel ken die Bybel beter as enige mens en hy weet dat daar sekere Goddelike beginsels vasgelê is daarin, wat God nooit sal verander nie. Só weet hy ook dat God die outoriteit op hierdie aarde, aan die mens oorgedra het om daaroor te heers. Daarom dat Satan vir Adam en Eva belieg het, sodat Adam die outoriteit aan hom kon afstaan.


Gen 1:26  En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.

Gen 1:27  En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.

Gen 1:28  En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.


Jesus vat ook later die Fariseërs aan en maak dit duidelik dat dit wat uit mens se mond kom, kom direk uit die hart. Dus moet mens baie versigtig wees oor die dinge wat jy toelaat om jou hart te vul, want dit wat jy glo, sal bepaal wat jou optrede gaan wees.


Mat 12:34  Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond.

Mat 12:35  Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn.

Mat 12:36  Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag.

Mat 12:37  Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.

 Daarom dat die Woord ons ook duidelik waarsku om ons harte te bewaak:


Spr 4:23  Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.


Jesus self het ook gesé dat Hy net gedoen het wat Hy die Vader gehoor sê het en wat Hy die Vader gesien doen het. As ons dan navolgers van Christus wil wees, dan beteken dit tog dat ons dieselfde moet doen en dan seker maak dat wat oor ons lippe kom, slegs God se woord en planne moet wees!


Joh 12:49  Want Ek het nie uit Myself gespreek nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ‘n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek.

Joh 12:50  En Ek weet dat sy gebod die ewige lewe is. Wat Ek dan spreek—net soos die Vader vir My gesê het, so spreek Ek.


Tog sukkel menige kinders van die Here om die oorvloedslewe te hê wat Jesus vir ons losgekoop het en sien ons dat dit heel dikwels is as gevolg van die dood en negatiewe spraak wat só maklik oor ons lippe rol. Die negatiewe woorde wat ons spreek, word dan letterlik vir ons 'n struikelblok en maak dit God se Woord oneffektief in ons lewens.


Psa 59:12  Sonde van hulle mond is die woord van hulle lippe; laat hulle dan gevang word in hul trots, en vanweë die vloek en die leuen wat hulle vertel.


Wanneer ons besluit om op die woord van God te staan vir ons oorwinning, moet dit ook dan natuurlik in geloof wees, anders sal dit geen krag hê nie en sal ons ook nie ontvang waarvoor ons gebid het nie. Dus moet die woorde van ons lippe ooreenstem met dit wat ons glo volgens God se woord en waarvoor ons gebid het!


Jak 1:6  Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.

Jak 1:7  Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie—

Jak 1:8  so ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë.


Ek kan onthou dat my ma altyd as kinders vir ons gesê het dat die Here ons twee ore gegee het en net een mond en daarom is dit beter om stil te bly en te luister as om heeldag 'n klomp gemors te babbel. Hierdie waarheid is beslis baie goeie raad vir enige kind van God, want as jy minder tyd spandeer om negatief te spreek, sal jy dalk net Vader se stem beter hoor!


Vul jou hart dus met God se woord en verklaar dit eerder met jou lippe, as om vir jouself 'n gat te grawe met die woorde van die vyand!


Gebed: Vader, plaas asseblief 'n wag voor my mond en 'n deur voor my lippe en help my dat ek slegs U woord in my mond sal hê, sodat ek die leuens van die vyand kan weerlê. Laat die woorde van my mond, voortaan welbehaaglik wees voor U troon...amen!

(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys



Die jaar 2018


Image result for 2018



Joh 9:1 – 14 “En toe Hy verbygaan, sien Hy ‘n man wat blind was van sy geboorte af. En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word. Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie. So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld. En toe Hy dit gesê het, spuug Hy op die grond en maak klei van die spuug en smeer die klei aan die oë van die blinde man en sê vir hom: Gaan was jou in die badwater Silóam, wat vertaal word: Uitgestuur. En hy het gegaan en hom gewas; en hy het siende teruggekom. Die bure dan en die wat hom vroeër gesien het dat hy blind was, sê toe: Is hy nie die een wat gesit en bedel het nie? Ander sê: Dit is hy. Ander weer: Hy lyk na hom. Hy antwoord: Dit is ek. Hulle sê vir hom: Hoe is jou oë geopen? Hy antwoord en sê: Die man wat Jesus genoem word, het klei gemaak en op my oë gesmeer en vir my gesê: Gaan na die badwater Silóam en was jou. En ek het gegaan en my gewas en ek sien. En hulle sê vir hom: Waar is Hy? Hy antwoord: Ek weet nie. Hulle bring hom na die Fariseërs—die man wat vroeër blind was. En dit was sabbat toe Jesus die klei gemaak en sy oë geopen het.”


My liewe vriend en vriendin. Ons het reeds die eerste paar weke van die jaar 2018 agter die rug. Ons het die jaar begin met nuwe voornemens en nuwe hoop. Baie van ons het hierdie voornemens reeds verbreek en opsy gesit en ons gaan aan op ons manier.


Ek het Joh 9:14 vir ‘n vriend van my gekry “En dit was sabbat toe Jesus die klei gemaak en sy oë geopen het.” Dit het nie vir my sin gemaak totdat ek die voorafgaande stuk ook gelees het nie. Ek wil hierdie gedeelte ook vir jou gee want ek weet dat dit Vader se “nuwejaars voorneme” vir my en jou is.


Toe Jesus en Sy dissipels by die blinde man verbygaan vra hulle: “Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?” Jesus antwoord onmiddelik: “Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.” Ons kyk soveel keer in moeilike situasies na ons self of ons ouers om ‘n antwoord te probeer vind vir wat gebeur! Vir my persoonlik wat 2017 glad nie ‘n maklike jaar nie en ek weet dat vir baie ander was dit ook so. As ek kyk na 2018 uit ‘n wêreldse oogpunt gaan dit ook nie ‘n beter jaar wees nie. Die Bybel sê ook dat dit moeiliker gaan word hoe nader ons aan die einde kom. Jesus sê egter dat die werke van God in die blinde man geopenbaar moet word. Só moet die werke van God ook in my en jou openbaar word.


Hierdie man was egter blind en kon nie sien nie, ook nie die rigtings wat vir hom uitgelê was nie. Ons sien ook nie die rigting aanwysers voor ons nie omdat ons ook blind is. Soos Jesus die man se blindheid raakgesien het sien Hy ook ons blindheid raak. Hy spuug op die grond en maak klei wat Hy aan die blinde se oë smeer. Nadat Jesus dit gedoen het was die man steeds blind. Ons vra hoeveel keer vir ‘n aanraking vanaf God maar bly steeds blind en sien nie die rigting nie. Nadat Jesus die klei aangesmeer het gee Hy ‘n opdrag: “Gaan was jou in die badwater Silóam.” Hierdie blinde man moes gehoorsaam wees. Hy is blind daar weg op pad na Silóam. Hy het seker op pad ‘n paar keer geval en moes gesukkel het om daar te kom. Eers nadat hy hom gewas het, het die deurbraak in sy situasie gekom – hy kon sien!! Ons vra God se aanraking en verwag dat die deurbraak dadelik moet kom. Ons is baie keer ongehoorsaam en gaan nie na ons “Silóam” nie. Ons bly rondval met die klei op ons oë.


Kyk ook wat “Silóam” beteken – UITGESTUUR. As iemand uitgestuur word beteken dit dat daar ‘n aksie moet wees. Hy moet iewers heen gaan en kan nie op dieselfde plek bly staan nie.


Dan kom ons by vers 14: “En dit was sabbat toe Jesus die klei gemaak en sy oë geopen het.” Dit was Sabbat, die laaste dag van die week, die sewende dag. Op die sewende dag het die blinde sy sig gekry, sy visie om God se rigting te kon sien. Kyk ook na Gen 2:2 & 3 “En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.” Op die sewende dag is die werk van God in Sy skepping voltooi. Alles was gereed om te begin werk vanaf die agtste dag, die eerste dag van die nuwe week.


Die vorige jaar het op die syfer sewe geëindig. Hierdie jaar eindig op die syfer agt. As ek na die bogenoemde tekse kyk ervaar ek dat Jesus die klei aan ons oë gesmeer het en ons die opdrag gegee het om ons by Silóam te gaan was sodat Hy ons kan UITSTUUR. Die keuse is by ons of ons gehoorsaam gaan wees en dit doen. Indien nie, gaan ons bly sukkel en voortploeter soos ‘n blinde. Indien ons egter kies om gehoorsaam te wees sal ons Sy rigtig sien en gereed wees om uitgestuur te word sodat die werke van God in ons openbaar kan word.


Die keuse bly joune.

 “Vader, dankie vir die aanraking van Jesus.  In die Naam van Jesus kies ek vandag om gehoorsaam te wees en my te was soos die blinde man. Dankie dat U Heilige Gees my lei tot by die water en dat U my sig herstel. Ek verklaar my bereid om uitgestuur te word sodat U werke in my openbaar kan word. Vervul my opnuut met U Gees. Amen.”

(cobus van heerden - cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys


Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...