Monday 24 September 2018

My gebed slaan teen die plafon vas!


Ek is seker dat menige kind van God al gevoel het dat sy of haar gebed, nie verder as die plafon strek nie. In sulke gevalle raak mens dan ook soms mismoedig en het dan nie meer lus om te bid nie, want ons voel ons kry geen antwoorde of deurbrake in ons situasies nie.

Die vraag is of dit dan enigsins moontlik is dat my gebed teen die plafon kan vasslaan?

Kom ons ondersoek die Skrifte!

Gal 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof (in) van die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Rom 8:26  En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.

Rom 8:27  En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.

Op grond van hierdie twee verse, is dit alreeds duidelik dat dit onmoontlik is dat ek as wedergebore kind van God, teen die plafon kan vas bid!

Hoekom gebeur dit dan dat daar nie antwoorde kom op gebede wat met 'n opregte hart gebid word nie. Daar kan verskeie redes wees waarom gebede nie beantwoord word nie en sommige daarvan is, sonde en ongehoorsaamheid aan God se woord, of omdat dit gebede is vir dinge wat in die welluste van die vlees moet voorsien, of dit is bloot omdat daar bose magte is wie die antwoord op ons gebede verhinder.

Ons kry baie duidelike voorbeelde hiervan in die boek van Daniël in hoofstukke 9 en 10 toe die engel aan Daniël berig gebring het dat God reeds geantwoord het by die begin van Daniël se smekinge. In hoofstuk 10 lees ons dan ook dat die engel vir 21 dae verhinder is deur die vorse van Perse voordat hy verlos is en die antwoord aan Daniël kon bring.

Die Bybel is duidelik dat daar 'n stryd teen bose magte is wie daarop uit is om ons lewens te verderf.

Ef 6:12  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

Kom ons kyk ook wat sê die Bybel oor gebed”

Mat 7:8  Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.

Luk 11:9  En Ek sê vir julle: Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.

Ps 91:15  Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee.

Ps 50:15  en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.

Ps 5:2  Gee ag op die stem van my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek.

Ps 5:3  In die môre, HERE, sal U my stem hoor; in die môre sal ek dit aan U voorlê en afwag.

1Pet 4:7  En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid.

Bogenoemde verse is slegs 'n paar skrifgedeeltes wat daarop wys dat dit uiters belangrik is om te volhard in gebed. Toe Jesus in die tuin van Getsemané in 'n swaar stryd was oor die dinge wat Hy sou deurmaak wanneer Hy oorgelewer word aan die Romeine, het Hy net met nog meer inspanning gebid. Dit is dan ook vir ons tot voorbeeld dat ons nie moet moed verloor nie, maar net nog meer moet volhard in gebed.

Luk 22:43  En ‘n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk.

Luk 22:44  En toe Hy in ‘n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val.

Geliefdes, as daar dinge is wat tussen jou en God staan en wat ook daartoe mag bydra dat jou gebede verhinder word, kry dit uit die pad uit, sodat jou gebede nie verhinder word deur jou eie toedoen nie!

En manne, let asseblief noukeurig op die volgende vers en slaan ag daarop!!!

1Pet 3:7  Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is—sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.

GEBED:  Hemelse Vader, versterk ons asseblief soos U vir Jesus versterk het in die tuin van Getsemané en gee ons die krag om nie moedeloos te word nie, maar dat ons sal volhard in gebed...in Jesus se naam – amen!

 (ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

Friday 21 September 2018

Wie luister na ons?


(1 Johannes 4:6-8): “Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling. Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.”

Het jy as kind van God dalk al gewonder waarom luister sommige mense nie na jou nie, selfs al gee jy hulle goeie raad? Want die Bybel sê die wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Maar die wat self ook uit God is, luister wel na ons, want hulle gees getuig dadelik saam met my en jou gees oor die waarheid. En juis hierdeur onderskei ons die Gees van die waarheid of die gees van die dwaling.

Tog hoor ek God se uitroep in die woorde dat ons mekaar moet liefhê, want die liefde is uit God en elkeen wat liefhet is uit God gebore en ken God. Daarom wil Hy hê dat ons mekaar moet liefhê, juis omdat liefde uit Hom uit is. En as ons uit Hom is, sal ons ook na mekaar luister en by mekaar kan leer rondom die waarheid van God se Woord.


Maar, as ek nie liefhet nie, kan ek nie aanspraak maak daarop dat ek God ken nie, want God is liefde. En tog is so baie van ons geneig om te verklaar dat ons uit God is, maar tog wil ons nie na mekaar luister nie, en sukkel ons om liefde te betoon, selfs teenoor die mense die naaste aan ons. Kom ons vra die Here om ons te leer om Sy liefde te betoon aan ‘n stukkende wêreld rondom ons, sodat die wêreld kan sien dat God en die gees van die waarheid in ons is.

Gebed:

“Vader, ek kom na U in die Naam van U Seun, Jesus Christus. Ek bely vandag dat ek nie aan die wêreld gewys het dat God in my is nie, omdat ek nie U liefde aan almal rondom my betoon het nie. Ek vra dat U my asseblief sal vergewe, en my sal leer om U liefde te betoon aan ‘n stukkende wêreld rondom my, maar veral ook diegene die naaste aan my. Gee dat hulle wat uit God uit is na my sal luister, en dat ek ook sal luister na diegene wat uit God uit is sodat die wêreld kan sien dat God in ons is. In Jesus Naam. Amen.”

 (tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

Monday 10 September 2018

Praktiese Christenskap


Image result for Jakobus 2:26


Jakobus 2:26 “Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.”

Jakobus word is Gal 1:19 beskryf: “en ek het niemand anders van die apostels gesien nie, behalwe Jakobus, die broer van die Here.” Sy bynaam was “Die Regverdige” en hy het, uit sy heilige lewenswandel, respek afgedwing, baie wyer as die grense van die Christelike kerk. Terwyl Paulus met doktrines en lering gedeel het, was Jakobus besorg oor die praktiese toepassing. Paulus verduidelik die wonderlike betekenis van die dood en opstanding van Jesus Christus, Jakobus die betekenis van die lerings van Jesus en spesifiek die Bergpredikasie. Terwyl Paulus hamer op geloof as pad na geregtigheid voor God, lê Jakobus klem op die werke wat uit geloof moet vloei.

Dit lyk asof Jakobus die briewe van Paulus gelees het want hy maak gebruik van dieselfde frases en voorbeelde, en het homself opgestel om díe wat die leringe van Paulus verdraai, tee te staan. (Maar hierdie is deur die Heilige Gees aan hom openbaar aangesien sy skrywe lank voor die briewe van Paulus geskryf is.) Daar was in hierdie tyd baie wat aan Christus geglo het en geroem het in die tradisie en akkuraatheid van hulle geloof, maar Jakobus handhaaf die siening dat dit nie genoeg is om die siel te red nie.

So vêr as glo gaan kan geen geloof meer absoluut godsdienstig wees as die geloof van bose geeste nie. Herhaaldelik, gedurende die lewe van Jesus Christus, het hulle erken dat Hy die Heilige van God is, maar dit het geen invloed op hulle karakter gehad nie. Inteendeel het dit hulle gevul met vrees en siddering. Jak 2:19 “Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.”

“Geloof sonder werke is dood.” Dit is goed om onsself te toets. Ons moet toesien dat ons harte suiwer is en ons weë absoluut deursigtig. In ons interaksies met diegene rondom ons moet ons altyd daarna streef om die hoogste vlakke van liefde en pligsbesef te realiseer. Selfs wanneer ons pogings van welwillendheid en omgee nie dadelik vrug af werp nie, moet ons nie die hoë vlakke van ons werke verlaag nie, maar moet ons gefokus bly op die lewe van Jesus in Nasaret. Wees genadeloos teenoor jouself maar barmhartig teenoor ander, dra die laste van díe om jou en pas jou aan by die pas van die swak en weerlose. Selfs Ragab was geregverdig deur ‘n geloof wat bewerk is in pragtige en onselfsugtige aksies.

Jak 2:25 “En is Ragab, die hoer, nie ook net so geregverdig uit die werke toe sy die boodskappers ontvang en met ‘n ander pad weggestuur het nie?” en in

Heb 11:31 “Deur die geloof het Ragab, die hoer, nie saam met die ongehoorsames omgekom nie, omdat sy die spioene in vrede ontvang het.”

Onthou die woorde van Jesus Christus in Mat 7:20 & 21: “so sal julle hulle dan aan hul vrugte ken. Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.”

GEBED

“Here Jesus, help my asseblief. Voeg by my geloof die broederlike liefde, vergewe my elke harde woord en ongeduldige reaksie, elke harde en selfsugtige daad, die nalating om vriendelike hulp te verleen waar ek die geleentheid gehad het. Bekragtig my om sô te leef sodat ek daagliks iets kan doen om die behoeftes en pyn van mense te verlig en om tot die vreugde van die om my, by te voeg. AMEN.”

(cobus van heerden - cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys



Monday 3 September 2018

Wie is die mens?


Image result for Psalm 8:4



Psa 8:4 wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?

Psa 8:5 U het hom ‘n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon.

Dit is vir my opvallend hoéveel mense ek die laaste tyd bedien het en wie feitlik almal met dieselfde binding gestoei het..en dit is die feit dat hulle nie hulself kon of wou vryspreek en vergewe vir die dinge van die verlede nie. Meeste van hulle het ook nie geweet dat hulle hulself ook moes vryspreek om waarlik vry te kom van die bagasie van die verlede nie en só sleep hulle die goed saam jaar in en jaar uit en hou aan “repent”, maar sonder dat deurbrake plaasvind.

Tog is die woord van God baie duidelik:

1Joh 1:9  As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Heb 8:12  Want Ek sal barmhartig wees oor hulle ongeregtighede en aan hulle sondes en hulle oortredinge nooit meer dink nie.

As God dan sê dat Hy nooit weer aan daardie sondes dink nadat dit opreg bely is nie, hoekom aanvaar ons dan nie Sy vergifnis nie en laat ons toe dat die Satan ons aanhou herinner aan die verlede? Die Bybel is tog duidelik dat ons die dinge van die verlede moet aflê en vergeet en ons oog hou op die toekoms in Christus.

Isa 43:18  Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie.

Luk 9:62  En Jesus antwoord hom: Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.

In meeste van die gevalle het ek gevind dat die mense wie ek bedien het, nie kon aanvaar dat hulle nou nuwe skepsels in Christus is nie en dat hulle meer ingestel is op wat mense van hul sê en dink, as wat God van hul dink. Hulle kyk elke slag in die spieël vas na die ou mens wie hul was, instede van om die nuwe mens te sien wie skoongewas is deur die bloed van Christus!

2Kor 5:17  Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

1Kor 6:10  Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.

1Kor 6:11  En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.

Die vyand het dit egter reg gekry om mense deur middel van godsdiens só vas te maak aan leringe en leerstellings van mense en instansies, dat baie kinders van God sukkel met minderwaardigheid en dat hulle dink dat hulle nie goed genoeg sal wees om eendag die poorte van die hemel te mag binnegaan nie. Hulle verwerp dus inderwaarheid dit wat Christus gedoen het en dink dat daar altyd nog iets is wat hulle moet doen, anders as om net heilgmaking na te jaag.

Kom ons lees egter wat sê die woord van God:

Psa 103:8  Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid.

Psa 103:9  Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie.

Psa 103:10  Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie.

Psa 103:11  Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees.

Psa 103:12  So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.

Psa 103:13  Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees.

Psa 103:14  Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.

Liewe leser, as jy dalk ook nog sukkel om jouself te vergeef vir die verlede, dan is my woord aan jou vandag:...aanvaar dit wat Jesus vir jou gedoen het en aanvaar Sy vergifnis, want jy kan niks daaraan toevoeg nie. Haal jouself nou van jou rug af en spreek jouself vry, sodat jy die oorvloed lewe kan geniet wat Jesus met Sy bloed vir JOU losgekoop het!!

GEBED:  Heilige Gees, ek vra dat U nou by elkeen sal gaan stilstaan wie nog sukkel om hulself te vergeef vir die verlede en hul te oortuig van die groot genade en liefde wat daar in Jesus Christus vir hulle is. Versterk hulle dan ook nou om hulself finaal te kan vryspreek en vergewe soos wat Abba reeds gedoen het...amen!

(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...