Monday 30 January 2023

Melaatsheid



My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons Bybels wel die God geïnspireerde Woord is nie.

Alles in God se Woord het ‘n baie dieper geestelike betekenis en kan ons alles in die Woord ook vandag in ons moderne tyd gebruik, want ons lees in 2 Tim. 3:16,17:  "Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus." 

Tydens Bybelse tye was die siekte van melaatsheid ‘n baie bekende siekte maar dit was ook ‘n baie gevreesde siekte aangesien daar geen medikasie was wat lyers van die siekte kon genees nie. Deesdae is daar medikasie wat hierdie siekte volkome kan genees en is hierdie siekte geen bedreiging meer vir die mens nie.

Ons het talle voorbeelde in die Bybel van gevalle waar mense melaats was en die boek van Levitikus hoofstuk 13 handel spesifiek net oor melaatsheid - terloops is dit die langste hoofstuk in die boek van Levitikus met 59 verse. Indien dit vir God so belangrik was om soveel tyd te spandeer aan hierdie spesifieke onderwerp, moet daar ook ‘n baie dieper en belangrike geestelike betekenis  wees vir ons as Sy kinders in ons moderne tyd,  want die fisiese siekte van melaatsheid bestaan amper nie meer nie.

Nog ‘n feit wat dui dat daar ook ‘n geestelike betekenis is, is die opdrag dat lyers van die siekte nie bloot net genees moes word daarvan soos ander siektes nie, maar gereinig moes word en daardie reiniging moes bepaal word deur die priesters van daardie tyd. Volgens navorsing het hierdie siekte sy ontstaan gehad in Egipte en van daar versprei, aangesien dit ‘n uiters aansteeklike siekte was. Toe Moses voor Farao verskyn het om die volk te laat trek was dit een van die wonderwerke wat hy gedoen het deur sy hand in sy bokleed te druk en uit te trek, oortrek met melaatsheid en dit dan weer te herhaal en toe was sy hand genees. Dit was omdat dit ‘n baie bekende siekte was en Farao en sy towenaars was bekend daarmee.

Die geestelike betekenis van die siekte van melaatsheid wys presies heen na wat sonde in ‘n mens se liggaam doen. Melaatsheid het altyd begin met ‘n klein uitslag op die vel. Lyers moes dan na priesters toe gaan om te bepaal of dit wel melaatsheid is of nie. Indien hul onseker was is die persoon vir 7 dae weggestuur en moes hy of sy hul daarna weer gaan vertoon aan die priester.

Soms na aanwending van geneesmiddels het die aanvanklike uitslag in remissie gegaan en tydelik verdwyn net om na 'n tyd weer met volle geweld uit te breek. Die siekte het egter ‘n oorsprong wat van diep binne in die liggaam begin en dan uiteindelik op die vel uitslaan. Sodra die priester kon sien die persoon se letsel is dieper as die vel is hy of sy melaats verklaar en moes hul in afsondering, weg van die mense af gaan bly. Dit was ook die gebruik dat ‘n lyer hardop moes uitroep “onrein, onrein “ indien iemand hul sou nader.

Stelselmatig neem die melaatsheid die hele liggaam oor.  Die siekte tas dan ook later die senuwee stelsel aan en die lyer verloor sy gevoel. Wanneer vingers of tone en selfs neuse afval gaan dit nie gepaard met pyn nie  Die uiteinde van die lyers van melaatsheid was 'n lang, uitgerekte lyding tot die dood. Om dus in daardie dae die tyding te kry mens is melaats, was dit soos ‘n doodsvonnis.

Dieselfde geld vir sonde in 'n mens se liggaam. Dit begin aanvanklik klein met die Satan wat gedagtes in ons koppe plant deur ‘n wit leuentjie wat vertel word of te dink dit is darem nie te erg nie. Die Satan sal nooit ‘n groot sonde soos moord byvoorbeeld gebruik om mee te begin nie, want hy weet dit sal weerstaan word. Dus begin hy klein en subtiel. Klein sondetjies wat ons begin koester maar net soos melaatsheid dan groter word en versprei en later die hele liggaam oordek, is dit dieselfde met sondes.

Terwyl die sondaar hierdie “klein” sondetjies akkomodeer maak dit stadig maar seker die weg oop vir groter en erger sondes.  Die leuen bring vrees in en dit veroorsaak onvergifnis en lei tot bitterheid en rebellie. Netso kom sonde vanuit die hart volgens die Bybel soos melaatsheid wat van diep binne die liggaam begin, volgens Matt.15:19:  "Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal."

In volgende stadiums van melaatsheid val hare, tande en naels uit en raak meeste lyers blind. Die sondaar raak mettertyd ook blind vir sy sondes en die gevolge daarvan en pla dit glad nie meer die gewete van so persoon nie. Melaats-lyers moes uit die samelewing uitgewerp word en moes op 'n afstand wegbly. 'n Persoon wat vasgevang is in sy sonde raak ook uiteindelik in baie gevalle geïsoleerd en word deur die gesin of familie uitgewerp.

Die uiteinde van die sondaar is soos melaatsheid ook die dood, die ewige dood sonder Jesus Christus. Volgens Rom 6:23:  "Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here." Sonde word in die Bybel beskryf as die oortreding van God se wet (1 Joh. 3:4) Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid.  en rebelsheid teenoor God (Deut. 9:7; Josua 1:18). 

Dit is ook interressant dat n melaatslyer van sy siekte gereinig moes word en nie genees moes word nie. Dieselfde geld vir sonde waar die sondaar van sy sondes gereinig word deur die bloed van Jesus Christus. Ps.51:4:  "Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde". Met die verskyning van Jesus Christus as die Messias op die toneel het dit vir melaatslyers moontlik geword om genees te word. Wanneer die sondaar besef hy of sy is verlore en die hand uitsteek na Jesus Christus is dit die beginpunt van sy of haar bekering en van reiniging.

Jesus Christus was die eerste persoon wat bereid was om mense met melaatsheid, fisies aan te raak. Matt.8:3: "Daarop steek Jesus die hand uit en raak hom aan en sê: Ek wil; word gereinig! En dadelik is hy van sy melaatsheid gereinig."   Ook so met die sondaar wat fisies deur die Here Jesus Christus aangeraak word. 1 Joh 1:9: "As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig."

My broer en suster dit maak nie saak hoe groot of erg jou sondes is nie, en terwyl daar nog tyd is draai na Jesus Christus, want ons lees  in  Jes.1:18:  "Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol."

Gebed:

Hemelse Vader, dankie vir U Woord wat ons het en dat alles in U Woord ook vir ons as U kinders ‘n persoonlike geestelike betekenis het. Dankie vir U Seun Jesus Christus en dat ons ook kan uitroep na Hom soos die melaatses van ouds, was my, reining my van my sondes. Ons bid dit in die naam van Jesus Christus ons Verlosser en Saligmaker. Amen!

Geskryf deur: errol muller (ekm@oicb.co.za)

Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...