Monday 26 November 2018

Hoe moet ek vertrou?

Met ons hele hart!

Image result for vertrou op god images

(Spreuke 3:5,6): “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.”

Ons is baie kere geneig om te sê ons vertrou op die Here. Maar doen ons dit werklik met ons hele hart? Want baie kere is dit makliker om eerder op ons eie insig staat te maak. Ons bid so een of twee maal oor ‘n saak, en as ek nie gou genoeg ‘n antwoord van die Here af kry nie, dan maak ek maar my eie plannetjies.

Tog sê vers 6 dat ons Hom moet ken in AL ons weë. Hoekom? Juis sodat Hy ons paaie kan gelykmaak. En wat is AL jou weë? ALLES wat ons kan doen. Maak van vandag af ‘n punt daarvan om ons Hemelse Vader te ken in ALLES wat jy doen, insluitende hoe jy optree teenoor jou huweliksmaat, hoe jy optree teenoor jou ouers of kinders, wat jy moet doen by die werk en moet optree teenoor werkskollegas, hoe jy jou finansies moet aanwend in elke area van jou lewe, ensomeer.

In Lukas 6:46 vra Jesus vir ons waarom noem ons Hom Here, here, maar ons DOEN NIE wat Hy sê nie? As Hy dus vir ons sê om op Hom te vertrou met ons hele hart en om Hom te ken in AL ons weë, dan is dit immers wat ons moet DOEN indien ons die die resultate wil sien wat die Bybel ons leer, naamlik dat Hy dan ons paaie sal gelykmaak. Baie kere is ons paaie maar vol heuwels en gate en blokkasies, bloot omdat ons Hom nie met ons HELE hart vetrou nie en Hom ook nie ken in AL ons weë nie.

Mag Hy jou in hierdie week lei en leer om Hom te vertrou met jou HELE hart en om Hom te ken in AL jou weë.

Gebed:

Hemelse Vader, ek kom na U in die Naam van U Seun, Jesus Christus. Here, ek bely vandag dat ek U nie altyd vertrou het met my hele hart nie, en U ook nie geken het in al my weë nie, en ek bid dat U my asseblief daarvoor sal vergewe. Dankie Here dat ek weet U vergewe my daarvoor, en nou vra ek dat U my asseblief van vandag af sal leer om U werklik te vertrou met my hele hart en om U te ken in al my weë. En dankie dat ek weet dat U dan my paaie sal gelykmaak, want U is altyd getrou aan U Woord. In Jesus Naam. Amen.

 (tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys



Saturday 24 November 2018

Bid of vergaan! - Gratis e.boek

 Wekroep!


Wetenskaplikes het die Oordeelsdag Horlosie nader gedraai aan middernag

soos wat toestande in die wêreld verder versleg het. Ook in SA gaan dit nie

goed nie. Gelowiges kan egter enige situasie omkeer deur vurige gebed. Die

e-boekie “Bid of Vergaan” kan op aanvraag verkry word, en verder versprei

word. Dit handel oor die krag van gebed en hoe om die situasie in Suid-Afrika

deur gebed om te keer.


As u die gratis e-boekie wil bekom kontak my by belindapaar@gmail.com.

Monday 19 November 2018

Wat as more nie kom nie?


As ons rondom ons kyk in hierdie tyd waarin ons leef, kan ons duidelik sien hoé Jesus se eie woorde aangaande die eindtye in vervulling gaan...dat dit sal wees soos in die dae van Noag of dan soos Paulus dit stel aan Timotheüs in sy twee briewe:

1Tim 4:1  Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang

1Tim 4:2  deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete,

2Tim 3:1  Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.

2Tim 3:2  Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig,

2Ti m3:3  sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie,

2Ti m3:4  verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God;

2Ti m3:5  mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.

Baie mense...en menige kinders van die Here ook...lewe asof daar nog 'n dag van môre sal wees. Daar is ook dan groot verdeeldheid onder die kinders van die Here oor wanneer Jesus weer gaan kom...sommige meen dat daar 'n “wegraping” sal wees, ander meen dat die ongelowiges weggeneem sal word en dat die heiliges hier op aarde gaan bly en ander meen weer dat die wederkoms nog baie vér in die toekoms is.

Afgesien van watter een van die gebeurlikhede jy voorstaan, wat van as die dag van môre vir jou nie aanbreek nie? Is jy gereed om jou Skepper te ontmoet? Ek het menige kinders van God in die laaste jaar bedien wie gemeen het dat hulle gereed is en daar was selfs een of twee wat só gely het as gevolg van pyn, dat hulle gebid en begeer het om dood te gaan. Uit gesprekke met hulle het ek afgelei dat daar egter nog onvergifnis en of bitterheid in hul harte was oor mense wie hul nie wil vergeef nie, omdat hulle só seergekry het.

Ek verstaan egter van die woord van God, dat as jy nog onvergifnis teenoor enige persoon het, jy die poorte van die hemel nie sal binnegaan nie. Toe ek dit met hulle deel, was almal van hulle eweskielik baie lus vir lewe en ook bereid om die ander partye vry te spreek. My oortuiging is na aanleiding van die volgende Skrifte:

1Joh 3:15  Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.

Mat 6:14  Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.

Mat 6:15  Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.

Afgesien van die heiliges wie nog nie heeltemal gereed is vir die poorte van die hemel nie, is daar 'n menigte mense rondom ons en in ons eie huise wie nog nie gered is nie! Jesus self het dit ook voorspel dat daar verdeeldheid in 'n mens se eie huis sal wees...man en vrou wat nie in dieselfde kamp is nie, kinders wat opstandig is, familie en vriende wat 'n bespotting maak van die gelowiges, ens.

Die vraag is of ons werklik genoegsaam vrug dra sodat die ander kan jaloers raak op dit wat ons het? 'n Vriend het my gister vertel van 'n kollega van hom wie hom onlangs gevra het hoé 'n mens kan word soos hy is. Tereg het my vriend ook dan gesê dat hierdie kollega natuurlik glad nie gereed was vir die antwoord nie en ook nog nie op 'n punt is waar hy bereid is om sy lewe vir Jesus te gee nie.

Tog sê die skrif duidelik:

Heb 4:6  Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie,

Heb 4:7  bepaal Hy weer ‘n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie.

Die realiteit is dat daar nog geleentheid is vir mense om te bekeer en tot inkeer te kom, solank dit nog vandag is. Môre is vir niemand gewaarborg nie!

Daar is slegs een manier om in die hemel te kom en dit is om Jesus Christus van Nasaret aan te neem as Redder, Verlosser en Saligmaker en om weg te draai van die sondige weë!

Ek en jy het nog geleentheid om ander na Jesus te trek deur die wyse waarop ons optree en lewe en ook om ons eie lewens reg te kry, sodat ons die poorte van die hemel kan ingaan.

1Tim 3:5  Maar as iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra?

1Tim 3:7  Maar hy moet ook goeie getuienis hê van die buitestaanders, sodat hy nie in veragting en in die strik van die duiwel val nie.

Gebed:

Hemelse Vader, gee ons 'n dringendheid in ons hart om volkome oor te gee aan U en met 'n wederkoms verwagting, elke dag, heilig te lewe. Gee aan ons ook U liefde vir ander mense, sodat ons ook sal omgee vir hul redding en dat ons waardige getuies vir U sal wees in ons handel en wandel...amen

(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys.

Monday 5 November 2018

Jy sal nooit honger wees nie!

Iets so eenvoudig soos brood

Image result for nagmaal brood  

Hoe gemaklik het ons nie geword in vandag se alles onmiddelik beskikbare lewe nie. Brood is op elke hoek van die straat, in amper elke winkel, aanlyn, in skole, in kerke, 24 uur van die dag beskikbaar.

Tog is daar mense wat selfs nie eers ‘n brood het om te eet nie, al is dit so maklik verkrygbaar.
Party mense wil nie eers brood hê, al is dit verniet nie.

Hierdie geld presies net so ook in die geestelike realm, soos in die fisiese hier op aarde.

Jesus sê in Joh 6:35 Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom sal nooit honger kry nie;…

Die brood van die lewe, Jesus Christus, is vrylik, orals en altyd beskikbaar vir enige iemand (en almal) wat dit WIL eet. Brood word nooit in ons kele af geforseer nie, beide in die fisiese en geestelike wereld. Dis ‘n vrye wils keuse.

As ons in ons huise nie brood het om tee et nie, ry ons sommer gou en gaan koop brood. Ons hoef egter nie eers iewers heen te ry om die brood van die

Lewe VERNIET te kry nie. Lees net Sy Woord.

Kind van God, wanneer ons die brood van die Lewe proe, brand daar ‘n honger in ons harte vir meer en meer, nog en nog, sonder ophou. Dit is Jesus, die brood van die Lewe.

Hy is ons voorbeeld selfs met iets so eenvoudig soos brood.

Hy is ons daaglikse brood:

Matt 6:11  gee ons vandag ons daaglikse brood

Luk 11:3  gee ons elke dag ons daaglikse brood

Sy liggaam is ons ewige brood:

Matt 26:26 en Mark 14:22    En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.

Luk 22:19  Daarop neem Hy die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis.

Die Woord bevestig ook dat Jesus die Ware brood van die Lewe is:

Joh 6:33  Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee.

Joh 6:48  Ek is die brood van die lewe.

Joh 6:58  Dít is die brood wat uit die hemel neergedaal het – nie soos julle vaders die manna geëet en gesterwe het nie; wie hierdie brood eet, sal tot in ewigheid lewe.

Wanneer ons van hierdie wonderlike, kosbare, ewige brood eet, word ons een in Christus:

1 Kor 10:17  Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan een brood.

Ek hoop dat jy sal honger na die ware brood van die ewige Lewe wat regtig saak maak.

Gebed:         

Jesus Christus, brood van die Lewe, gee my asb ‘n honger vir meer van U lewensbrood sodat ek daardeur een kan word met U en gevoed kan wees tot in alle ewigheid, amen!


(hein henning - heinh@sunlightfs.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

Thursday 1 November 2018

Ek vertrou op die Here



Hoeveel keer het ek en jy nie al gehoor dat mense sê dat hulle die Here vertrou vir dit of vir dat nie...en baie kere het ons self ook daardie verklaring gemaak, maar wanneer die papaja die “fan” slaan, dan skarrel ons vinnig rond om self planne te maak vir die uitkoms wat ons graag wil sien of hê! Baie kere is hierdie planne dan tot ons nadeel en dompel dit ons soms ook in 'n spul skuld wat moeilik is om af te betaal.

Ek het ook al baie kere gehoor dat mense sê dat die Here vir hulle sekere dinge gesê het om te doen of nie te doen nie, en dan is die uitkoms daarvan ook nie tot hul voordeel nie. Ek het ook die afgelope week gehoor dat iemand sê dat die Here duidelik vir hom gesê het om al sy geld uit een belegging uit te haal en oor te plaas na 'n ander...en toe plaas hy net die helfte oor.

Die vraag in bogenoemde geval, is dus: “is ons werklik oortuig dat ons die Here se stem hoor ..en indien wel, hoekom doen ons dan nie wat Hy sê nie..of is dit 'n geval van die misbruik van die heilige Naam van God?”

Die ander vraag natuurlik, is: “hoekom sal ons eerder kies om te vrees en te kommer as om met geduld en geloof te wag op die Here se uitkoms...as ons dan beweer dat ons op Hom vertrou?”

Die Bybel sê tog duidelik:

Spr 3:5  Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.


Spr 3:6  Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.

Spr 3:7  Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad;

Ps 146:3  Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.

Jer 17:5  So sê die HERE: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk.

Waar staan ek en jy wat hierdie saak betref, want die Bybel sê tog ook duidelik dat ons eers die balk uit ons eie oog moet haal! En dan waarsku die Bybel ook dat as ons ons oor die dag van môre bekommer, dan is ons in werklikheid maar net soos die heidene.

Mat 6:31  Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?

Mat 6:32  Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.

As ons dan beweer dat ons op God vertrou, hoekom sukkel ons dan met die geloof -deel wat daarmee moet saamgaan? Die realiteit is dat die meeste mense só ingestel is op die dinge wat ons kan sien, hoor of aanraak dat dit ons meer laat fokus op die vlees as op die gees. God is egter getrou aan Sy woord en beloftes en sal ons nooit in die steek laat as ons kies om ons geloof en vertroue volkome in Hom te stel nie!

Ps 37:3  Bet. Vertrou op die HERE, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid,

Ps 37:4  en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.

Ps 37:5  Gimel. Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer;

Fil 4:19  En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.

Heb 13:5  Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.

Heb 13:6  Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?

Geloof is egter nie 'n maklike saak nie en dit verg dat jy alles moet neerlê voor God en in totaliteit oorgee aan Hom met die wete dat jou hoop nie beskaam sal word nie. Dit bly egter 'n keuse wat net ek en jy kan maak!

Luk 18:7  Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?

Luk 18:8  Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?


Joh 16:7  Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur;

Joh 16:8  en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel:

Joh 16:9  van sonde, omdat hulle in My nie glo nie;

GEBED:  Vader, vergewe ons kleingelowigheid en die feit dat ons meer op onsself en ander mense vertrou as om te bly hoop op U en te glo dat U 'n Waarmaker van U woord is. Help ons Heilige Gees om geloof te behou en te fokus op U woord instede van dit wat ons kan sien, hoor of voel...amen!

(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys


Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...