Sunday 26 April 2020

Is ons regtig veilig?


Rom 1:17  Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.

Gal 3:11  En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe.

Heb 10:38  Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie.

Hab 2:4  Kyk, sy siel is opgeblase in hom en nie reg nie. Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.

As ons na die bogenoemde teksverse kyk behoort die eerste ding te wees dat ons besef dat Ons God nie gebind is aan enige wereldse faktore of gebeure nie. So ons moet seker maak dat ons op hierdie belofte kan staan.

Die REGVERDIGE sal uit die geloof lewe.
(Equitable, innocent, holy, lawful)

1.       Die regverdige hou vas aan sy weg (Job 17:9)
2.       Die regverdige word getoets deur God (Ps 11:5)
3.       Die regverdige verkondig wysheid (Ps 37:30)
4.       Die regverdige leer (Sp 9:9)
5.       Die regverdige spreek lewe (Sp 10:11)
6.       Die regverdige haat leuens (Sp 13:5)
7.       Gehoorsaamheid (Rom 5:19)

Ons regverdigheid kom uit Jesus Christus van Nasaret. Hy is Geregtigheid. Hy is Regverdig en omdat Hy in ons is en ons in Hom is ons regverdiges. Ons moet egter die karaktertrekke van die regverdige leef. Ons moet billik  wees, onskuldig wees, heilig wees, en wette onderhou uit gehoorsaamheid en nie uit vrees.

Die regverdige SAL uit die geloof lewe. (obligation)

As jy ‘n regverdige is, sal God verantwoordelikheid vir jou vat.

Die regverdige sal uit die GELOOF lewe.
(firmness, security, fidelity, stability, persuasion, conviction, reliance, constancy, assurance)

1.       Geloof moet gesien word (Matt 9:2, Mark 2:5)
2.       Geloof sal jou red (Matt 9:20, Mark 5:34)
3.       Ons moet staan in ons geloof (1 Kor 16:13)
4.       Ons moet ons geloof ondersoek (2 Kor 13:5)
5.       Jy is kind van God deur geloof (Gal 3:26)
6.       Glo is sien (Heb 11:1)

Hierdie onwrikbare geloof in Christus is nie iets wat jy sommer net het nie. Dit kom uit ‘n ware ontmoeting met Hom. Dit kom deur tye wat jy niks anders gehad het as om Sy beloftes te glo en op Sy uitkoms in jou situasie staat te maak nie en Hy jou nie teleurgestel het nie. Geloof groei uit  ‘n lewende verhouding met Jesus. Jy moet jou geloof beoefen sodat dit elke dag sterker word en jy kan weet jou geloof in God is sterk genoeg om op te staan wanneer dit goed of sleg gaan.

Die regverdige sal uit die geloof LEWE
(live, nourish, recover, restore, repair, revive, be whole)

1.       Ek leef nie meer nie (Gal 2:20)
2.       Onderhou God se reels. Wees gehoorsaam.(Spr 7:2)
3.       Lewe tot God se eer want jou lewe behoort aan Hom (Rom 14:8)
4.       Ons lewe is in Jesus van nou af tot in ewigheid (1 Joh 5;11-13)

Om te lewe beteken om versorg, gesond, gevoed te wees.

Daar is ook ‘n direkte opdrag aan elkeen van ons in die Woord. In die Nuwe Testament word die opdrag om die evangelie te verkondig 56 keer herhaal. Daar staan ook baie duidelik wie die evangelie moet verkondig, aan wie ons die evangelie moet verkondig en watter evangelie ons moet verkondig. Daar is dus geen onduidelikheid daaroor nie en het nie een van ons enige verskoning nie. Ook daarin is vir ons beloftes.

1 Kor 9:14  So het die Here ook vir die wat die evangelie verkondig, bepaal dat hulle van die evangelie moet lewe.
Luk 10:7  Bly dan in daardie selfde huis en eet en drink wat hulle het, want die arbeider is sy loon werd.
1Tim 5:18  Die arbeider is sy loon werd.

Dit gee ons dus nog meer beloftes en meer versterking. Kom ons verstaan vandag dat ons geen bekommernis of vrees hoef te he as ons Jesus regtig ken en aanbid vir wie Hy is nie. Hy is ons alles en alles wat ons het en is, kom van Hom af.
Kom ons wees elke dag bly en juig in ons Here. Die blydskap van die Here is ons beskerming .

Ps 118:24  Dit is die dag wat die HERE gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.

Neh 8:10  Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE—dit is julle beskutting.

Dit laat my net weer dink aan Paulus wat deur so baie vervolging gegaan het en toe hy op die slegste plek ooit was, in die tronk, in isolasie het hy en Silas geweet dat die blydskap in die Here hulle beskutting is, en kon hulle selfs in daardie omstandighede lofgesange sing. Hulle het geweet hulle het niks om op te roem uit hulleself nie omdat hulle uit die geloof lewe. Hulle het geweet watter loon wag vir hulle. Hulle oe was op Jesus en nie op hulle omstandighede nie en toe hulle weer sien, is die tronkdeure oop en die boeie van hulle voete af.

Kom ons leer ons Jesus ook so ken soos hulle.
 
 Geskryf deur: rene short
(grs@oicb.co.za)

Thursday 16 April 2020

Gees van vrees vs Corona

Melaatsheid


Die huidige impak van die Corona-virus wat die hele mensdom paniekbevange rondjaag oor die hele aarde, het ook nou sy kloue in ons land kom inslaan. Orals is mense deur vrees gebind en hardloop rond om hulle kaste op te vul en die nodige maskers en handreinigers by die liters aan te skaf, om te probeer verseker dat hulle en hul gesinne “okay” gaan wees gedurende die tydperk van hierdie aanslag op die mensdom.

Baie kinders van die Here is ook in vrees vasgevang en is die betekenis van die naam, “Corona”, in Hebreeus dan ook: “crown of fear”. Tog leer die Bybel dat ons met eer en heerlikheid gekroon is en nie met vrees nie en dat ons nie 'n gees van vreesagtigheid ontvang het nie!

Psa 8:4  wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?
Psa 8:5  U het hom ‘n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon.
Psa 8:6  U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel:

2Tim 1:7  Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.

So waarom het hiérdie pessiekte dit reggekry om soos melaatsheid van ouds, die hele mensdom in rep en roer te hê, terwyl die sterftesyfer rondom 3% is en terwyl ander siektes baie meer mense doodmaak? Het ons in Suid-Afrika maar net te gewoond geraak daaraan dat peste, hongersnode en droogtes net in ander dele van die wêreld gebeur? Tog het ons land gebuk gegaan onder die ergste droogte in dekades en is sommige dele steeds gebind deur droogte. En só wrintiewaar...daar daag Corona ook op en staan ons voor die deur van 'n Nasionale -”lock down”.

Baie sou graag die duiwel hiervoor wil blameer, maar wat daarvan as ons dalk net besig is om te beleef hoé die Bybel en Jesus se voorspellings, in ons geslag aan die uitspeel is? Is hiérdie dalk die skudding wat in Hebreërs van gepraat word?

Heb 12:25  Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ‘n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek.
Heb 12:26  Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe.

Ek is vas van oortuiging dat dit nou die tyd is, meer as ooit tevore, dat die wêreld die kinders van die Here nodig het en dat ons dít wat ons glo, ook kragtig moet begin lewe! En ons kan sommer begin om op te hou vrees en vir ander 'n struikelblok te wees met ons negatiewe en vreesbevange gesprekke. As hiérdie 'n saak van God is, sal NIEMAND dit in elkgeval ontvlug nie...vraag is: wat gaan die impak wees en hoe gaan ons dit hanteer?

Nog 'n vraag is: Hoé staan ons saak met die lewende God, Jesus Christus van Nasaret en wat gaan ons hê om te toon as ons voor Sy troon staan? Gaan ons in hiérdie tyd te lig bevind word as ons geweeg word, omdat ons te veel met die wêreld besig is, soos Paulus dit gestel het?

2Tim 3:1  Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.
2Tim 3:2  Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig,
2Tim 3:3  sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie,
2Tim 3:4  verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God;
2Tim 3:5  mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.

Mense, hiérdie mag dalk na 'n baie harde woord klink vir hiérdie tyd waarin ons is, maar dalk net het Vader 'n “lock down” gereël, sodat ons 'n slag ons lewens en in die besonder ons verhouding met Jesus, in oënskou kan neem, sodat ons kan terugkeer na ons Eerste liefde voordat dit te laat is...en ons as “lou” bevind word en uitgespoeg word!

My gebed vir elkeen van ons, is dat ons in Sy vrede sal gaan rus en Sy woord in ons hart en mond sal vasmaak, terwyl ons werklik weer sal terugkeer na Jesus met ons hele hart, krag en verstand, sodat ons kan staande bly in die tye wat nog oor hierdie aarde sal kom...amen!

Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

Thursday 9 April 2020

Lewend gemaak na Sy Woord

Psalm 119:25-32: "My siel kleef aan die stof; maak my lewend na u woord. My weë het ek vertel, en U het my verhoor; leer my u insettinge! Laat my die weg van u bevele verstaan, dat ek u wonders kan oordink. My siel drup weg van kommer; rig my op na u woord. Verwyder van my die weg van leuens, en verleen my genadiglik u wet. Ek het die weg van waarheid verkies; u verordeninge het ek voor my gestel. Ek kleef u getuienisse aan; o HERE, maak my nie beskaamd nie! Ek sal op die weg van u gebooie wandel, want U verruim my hart."

In die lig van die huidige "lockdown" dwarsoor die wêreld, is dit vir my net weer interessant om op te let hoe ewiglik bly God se Woord waar. Want hierdie woorde wat Dawid ongeveer 3000 jaar gelede geskryf het, is vandag steeds van toepassing in hierdie baie unieke tyd waarin ons ons bevind.

As ons kyk na baie van die boodskappe en videos wat tans rondgestuur word, kan ons sien dat baie mense se siele kleef ook aan die stof, want hulle is vreesagtig en verward oor die dinge wat besig is om rondom ons te gebeur. Maar wat moet ons doen om oorwinning daaroor te kry?

Ons moet lewend begin raak na God se Woord! Dis NOU die tyd om die Woord van God te bestudeer, in te neem, met Hom in gesprek in te gaan by wyse van gebed, en wat sal gebeur? Die Here sal luister na ons gebed en Hy sal ons Sy insettinge leer om aan vas te hou in hierdie tye.

Want baie mense se siele "drup weg van kommer" oor wat besig is om in die wêreld te gebeur. En dit is ook niks snaaks nie, want Jesus self het in Lukas 21:26
gesê dit is presies wat sal gebeur net voor Sy tweede koms.

Maar wat is die oplossing? Ons moet die Here vra om ons op te rig na Sy Woord, dat ons Sy Woord sal begin verstaan, ook rondom die tye waarin ons leef, sodat ons ons kan gereedmaak vir Jesus Christus se koms!


Ons moet die Here ook vra om die weg van die leuens van ons te verwyder, en Sy wet aan ons te leer in hierdie tyd. Want daar is vandag soveel "fake news" en leuens wat ook versprei word, dat baie mense naderhand nie meer wat wat om te glo, en wat nie. Daarom moet ons Hom ook vra om ons meer onderskeiding te gee rondom wat is waarheid, en wat is leuens.

Ons het die vrye wilskeuse om ook soos die Psalmdigter die weg van waarheid te kies en God se Woord en Sy opdragte en Sy verordeninge voor ons te stel, m.a.w. dit aktief in te neem, te leef en te bestudeer. En as ons Sy getuienisse in Sy Woord werklik ons eie maak, en dit aankleef, sal ons ook nie beskaamd staan nie, sal ons nie in dieselfde verwarring gevang word as waarin die wêreld tans vasgevang word nie.

En wat sal die uiteinde ook dan vir ons wees? Dat ons op God se weg sal wandel en dit sal ook ons harte opvrolik, ongeag wat besig is om rondom ons te gebeur.

Mag ons dus elkeen in hierdie week kies om werklik tyd met God en Sy Woord te spandeer, Sy Woord te bestudeer en dit te deel met ons mense rondom ons, want een ding is verseker, ons Koning Jesus is op pad terug, en ons moet gereedmaak!

GEBED: 

"Vader, leer my asseblief deur U Heilige Gees om nie bevrees en bevange te raak oor die dinge wat oor die aarde kom nie. Maar dat ek werklik 'n nuwe honger sal kry vir U en U Woord, en dat dit dan ook my hart sal verruim en opgewek en vrolik maak, ongeag die dinge wat besig is om rondom my te gebeur. Leer my om te alle tye my vertroue slegs in U te plaas. In Jesus Naam. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

Thursday 2 April 2020

Wêreldwye Nagmaalfees op 10 April 2020



Meer as twee biljoen Christene wêreldwyd sal op Goeie Vrydag 10 April 2020 saam die Nagmaal vier. In die meeste gevalle sal almal nog ingeperk wees en gesinne sal in afsondering die grootste Nagmaalfees in die geskiedenis van die mensdom vier.

            Een van die organiseerders, die bekende prediker Jimmy Evans, sê: “Ek glo dit kan die katalisator wees  om die COVID-19 te vernietig wanneer miljoene Gelowiges wêreldwyd eendragtig by die Nagmaal aansit en die Nuwe Verbond deur dier liggaam en bloed van Jesus te gedenk.

Die intiemheid van die Nagmaal

“En Hy het 'n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Matt 26:39

Asook strofe 42: “Weer het Hy vir die tweede maal gaan bid en gesê: My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat U wil geskied.”

Watter beker het Jesus na verwys?

Neem in ag dat Jesus ‘n Jood is wat volgens Joodse tradisies en kultuur grootgeword het.

Die Joodse tradisie destyds by ‘n Joodse troue, was dat die vader van die verloofde seun vir die bruid betaal en die huwelikskontrak (Ketuban) opstel. Hand 20:28; 1 Kor 6:19-20; 1 Kor 11:25; Efes 5:25-27

By die verlowing word die huwelikskontrak gelees. Die verloofde drink dan wyn uit ‘n kelkie  en dit word aan sy verloofde gegee om ook te drink. As sy sou weier, was daar geen huwelik nie. As sy die wel wyn drink het sy die kontrak en huweliksaanbod aanvaar en is die verlowing ‘n verbond wat nie verbreek mag word nie.

Die verloofde gee dan aan sy toekomstige bruid geskenke en keer terug na sy vader se huis en  bou ‘n woonplek aan by sy vader se huis vir hom en sy toekomstige bruid. Joh 6:62; Joh 14:2; Hand 1:9-11

Die toekomstige bruidegom sal na sy verloofde terugkeer wanneer hy hulle woonplek voltooi het en wanner sy vader sê hy kan haar gaan haal. Sy het geweet hy kom terug, maar nooit geweet wanneer nie. Dit kon ‘n jaar na twee jaar duur. Matt 24:36

Wanneer sy vader gesê het hy moet die verloofde gaan haal, het niemand geweet die bruidegom is op pad nie. Sy aankoms was aangekondig met ‘n wekroep en die blaas van die shofar (ramshoring). Joh 14:3; 1 Thes  4:13-18

Die bruid wis nie wanneer die bruidegom sou kom nie, maar sy had haar lamp en klere gereed. Haar diensmeisie had ook hulle lampe en olie gereed.

Die bruid moes ‘n reinigingsritueel ondergaan. 1 Kor. 3:12-15; Openb 19:7-8. Dan vind die huweliksbevestiging plaas. Openb 19:7

By die huwelik het die bruidegom weer wyn uit ‘n kelkie gedrink en die bruid moes die res drink. Na die kelkie geledig is, het die bruidegom dit op die vloer aan flenters getrap.

Die Jode sê vandag nog dat met die stukkend trap van die kelkie gedenk hulle die verwoesting van die Tweede Tempel.

Vir ons beteken dit eerder die verguising van die Messias se bebloede liggaam, want Jesus het vooraf gesê die tempel sal afgebreek word en oor drie dae herbou word. Dit laat mens wonder of Christene nie ook soos die Jode moet trou nie, juis vanweë die sterk simboliek.

Daarna volg die Bruilof. Matt 22:1-14; Matt 25:1-13; Luk 12:36. Sommige hou die Bruilof elke aand sewe dae lank. By die huwelik word ook sewe keer rondom die bruidegom geloop, onder meer om die sewe seëninge van die huwelik te gedenk.

Die Huwelikskontrak word, nadat dit gelees is, aan die Bruid oorhandig vir bewaring (In ons geval is die Bybel ons kontrak). Sy mag dit wegbêre, of sy mag dit raam en in die huis vertoon.

Die Wedergeborenes se eerste stap na die huwelik met Christus, het reeds plaasgevind. Ons is nou in ‘n verbond met die Messias. Ons gedenk die bloedverbond tussen die Messias en onsself vir sovele kere as ons die Nagmaal gebruik. Nagmaal gaan nie net oor wat op Golgota gebeur het nie, maar wat elke keer gebeur tot by die Hemelse huwelik wanneer ons dit saam met ons Bruidegom sal nuttig.

Toe Hy vertrek het, het hy ons ook die Heilige Gees en al sy gawes (geskenke) gegee.

Sy smeekbede oor die beker in die Tuin van Getsémané, was die prys wat hy moes betaal vir ons, sy Bruid. Dit was ‘n bitter duur prys in die vorm van ‘n bloedverbond.

Na Sy opstanding sê Jesus (Hy het die prys vir sy Bruid betaal) hy gaan nou na sy Vader se huis om vir ons ‘n plek te berei en wanneer hy klaar is, sal die Vader hom stuur om ons, sy Bruid, deur middel van die Wegraping te kom haal.

Jesus se Tweede Koms na die aarde het niks met die verhaal hierbo in gemeen nie. Ons Bruidegom kom ons haal en die Bruilof sal sewe jaar lank in die Hemel duur. Vir die Gelowiges, die Bruid van die Messias, is Jesaja 54 besig om in vervulling te gaan.

            Luister: “En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid.

            “Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal 'n menigte sondes bedek.

            “Wees gasvry jeens mekaar sonder om te murmureer.

            “Namate elkeen 'n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God.

            “As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle Ewigheid. Amen.” 1 Pet 4:7-11 – Wekroep



Wednesday 1 April 2020

Die voetspore wat jy agter laat


Tydens 'n onlangse bedieningsnaweek in Kimberley, het Vader heeltyd met ons gepraat oor die voetspore wat ons sou agterlaat wanneer ons daarvandaan weer sou huistoe keer. Selfs terwyl ons op reis was vanaf Mosselbaai na Kimberley, was ons konstant herinner deur Heilige Gees om bedag te wees op ons optrede, sodat ander Jesus deur ons sou kon sien, al het ons nie 'n woord gespreek nie.

Ef 5:2  en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur.

Terwyl ons nie geweet het wat op ons wag in Kimberley en hoé Vader presies die aflewering gaan doen nie, het Heilige Gees dit heeltyd op ons hart gedruk om net die liefde van Jesus te leef. Ons vergeet só maklik dat ander mense ons met 'n arendsoog dophou om te sien of dit wat ons verkondig, waarheid in ons eie lewens is. Mense het moeg geword vir lippetaal en wil die vrug sien van dit wat ons verkondig.

Mat 7:16  Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!
Mat 7:17  So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte.
Mat 7:18  ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie.
Mat 7:19  Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.
Mat 7:20  So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.

Dit is baie maklik om aan 'n ander die Woord voor te hou of die beginsels van Christenskap te wil leer, maar watter reuk laat ek agter wanneer ek gaan en watter voetspore het ek gelaat dat ander daarin kan wandel wanneer ek nie naby is nie?

Die Bybel sê dat ons dié wat buite is, moet jaloers maak op dit wat ons het en dat ons altyd moet gereed wees om rekenskap te gee oor die hoop wat in ons is!

Rom 10:19  Maar ek vra: Het Israel dit miskien nie verstaan nie? Ten eerste sê Moses: Ek sal julle jaloers maak op dié wat geen volk is nie, en Ek sal julle toorn opwek teen ‘n onverstandige volk.

1Pe 3:15  Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees;

Mag ons werklik elkeen in hiérdie week Christus voluit begin lewe in elke treë van ons handel en wandel, sodat ander werklik jaloers kan wees oor die liefde en opregtheid van 'n lewende Jesus in en deur ons!


GEBED:

"Vader vergewe ons dat ons só baie kere 'n stank agterlaat, omdat ons nie let op die vrug wat ons dra nie. Help ons, Heilige Gees, om werklik U onvoorwaardelike liefde uit te leef en dieselfde genade te gee as wat ons elke oomblik van die dag ontvang...amen!"

Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...