Monday 20 February 2017

Soet soos heuning


Image result for honeycomb


My boeta en sussa in Christus, wat is die smaak wat God se woord deesdae in my en jou mond het? Is dit steeds soet soos heuning soos die begin dae van ons wandel saam met die Here, of het dit al só 'n af-smakie soos yogurt of melk wat al sy vervaldatum bereik het?

Eseg 3:2  Toe het ek my mond oopgemaak, en Hy het my dié rol laat eet
Eseg 3:3  en vir my gesê: Mensekind, laat jou buik eet, en vul jou ingewande met hierdie rol wat Ek jou gee. En ek het dit geëet, en dit was in my mond soos heuning so soet.

Toe Jesus deur die duiwel versoek is, op die berg na sy doop, om brood van die klippe te maak sodat Hy in Sy vleeslike behoefte kon voorsien, was Sy onmiddelike antwoord dat die mens nie van brood alleen sal lewe nie, maar van elke woord wat uit God se mond gaan!

Deu 8:3  En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan.

Dit is dus duidelik dat dit my en jou eie verantwoordelikheid is om self die Skrifte te ondersoek dat ons dit mag ken, sodat ons kan staande bly teen die leuens en verleiding van die vyand! Want dan sal ons ook soos Jesus kan antwoord: “Satan, daar staan geskrywe...”

Hand 17:10  Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan.
Hand 17:11  En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.

Satan het geweet dat Eva slegs tweedehandse kennis gehad het oor wat God se opdragte was, want toe God vir Adam opdrag gegee het om nie te eet van die boom wat in die middel van die tuin staan nie, was Eva nog nie uit Adam se rib gevorm nie.  Die vyand kom dus by haar en verlei haar op 'n subtiele wyse en sy gaan met dieselfde leuen na Adam toe en omdat hy nie in outoriteit bly staan deur gehoorsaam te wees aan God se opdrag nie, word die mens en die hele aarde verderf deur die sondeval.

Een van die grootste sondes van die kerk vandag, is dat mense hulle meer steur aan wat ander, sogenaamde geleerde mense, oor die woord van God sê as wat hulle self die Skrifte gaan ondersoek om te sien of dit die waarheid is wat verkondig word.

Deu 6:6  En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees;
Deu 6:7  en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.

Jos 1:8  Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.

So baie kere maak ons die verkeerde besluite of gaan gebuk onder die vyand se aanslae net omdat ons nie die Woord ken nie, of omdat ons nie weet hoé om God se stem te hoor nie. Op een van ons besoeke aan Israel, het vriende van ons 'n boks melk gekoop wat suur geword het, maar omdat hulle nie die Hebreeus op die boks kon lees nie, het hulle bloot gedink dat hulle 'n foutjie gemaak het en per ongeluk “drinking yogurt” gekoop het. Só het hulle dan nou dit maar as yogurt gedrink om dit nie te vermors nie. Toe hulle egter een keer by ons kom koffie drink en sien dat die boks waaruit ons melk gooi, presies lyk soos die een wat hulle gekoop het, het hulle eers hulle ou regte “foutjie” besef.

Dit is presies wat met die kind van God gebeur as jy nie Sy woord bestudeer nie of leer om na Sy stem te luister nie...dan vind jy jou dalk naderhand met 'n suur smaak in die mond, omdat jy nie die heuning van die Woord geneem het nie!

Almal van ons weet en besef dat ons in die laaste dae leef en die Bybel is baie duidelik dat mense vir hulself predikers gaan uitsoek wat hul gehoor sal streel, omdat hulle nie wil hoor dat sonde nogsteeds sonde is by God nie. Die vraag is: wie gaan jy kies om te wees en waarmee gaan jy jouself vul?

2Tim 4:3  want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
2Tim 4:4  en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

Mag die Heilige Gees my en jou 'n nuwe honger gee vir die ware, ongeveinsde woord van ons Here Jesus Christus!

Vrede en seën vir elkeen vir hierdie week!

 (ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys


Wednesday 15 February 2017

Christelike Ideaal

Image result for person praying on knees





Filippense 3:13 -14  “Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.”

'n Ideaal is 'n geestelike begrip van karakter waarna ons verlang om ons lewens te vorm. Dit is die “fresco” wat ons verf op die mure van ons siel, en ons kyk voortdurend daarna in eensame tye; en omdat die hart opgevoed word deur die oog (waarna ons kyk), word ons meer en meer gekoppel aan dit wat ons bewonder.

Ons ideale moet duidelik bo ons uitstaan. Ons moet bereid wees om ons spiere in te span en ons kragte te gebruik, om iets aan te pak wat self diegene wat ons die beste ken, nooit gedink ons ​​in staat sal wees om te bereik nie. Soos Paulus, moet ons die gewone ambisies van die mense as drek sien, moet die dinge wat agter is vergeet en uitstrek na wat voor is.

Ons moet as mikpunt ‘n ideaal kies wat binne ons bereik en vermoë is, in ons eie oordeel of in dié van ander. Dit is 'n fout om ‘n mikpunt daar te stel wat geheel en al uit lyn is met die samestelling van ons natuur (menswees). Daarom moet ons leer om saam met die apostel te sê: "Ek sal die riglyne volg wat Jesus Christus vir my lewe neergelê het." Weet  verseker dat God jou geskep het vir 'n definitiewe doel. Vind daardie doel, en stel jouself aan om dit te bereik.

Ons ideale moet eenheid en lewe bring. Gelukkig is die mens wat in staat is om sy ideale te vervul in elke uur van bewussyn en wie kan sê: "Hierdie is wat ek doen en is my mikpunt!" Sulke mense is die wat uitstaan. Diegene wat hul onderwerp deeglik ken, en wat al hul energie aanwend in die vervulling van die doel en mikpunt voor oë. Die soeke na 'n heilige karakter kan altyd en oral uitgeleef word. Om in elke daad en gedagte meer soos Christus te word.

Die Christus ideaal is die hoogste ideaal. "Om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word." Maar so 'n ideaal sal slegs realiseer as die prys van selfverloëning betaal word. Jy moet jou eie self regverdiging opsy sit om Sy geregtigheid te bekom; jy moet bereid wees om alles op te gee; om die beherende eise van die ‘eie ek’ ignoreer. Dan sal jy gereed wees vir 'n uur wanneer jou”vernederde’ liggaam omskep word tot die gestalte van die verheerlike liggaam van Christus. Sy werk is in jou guns; in jou en vir jou. Hy sal alles aan Homself onderwerp.

GEBED

“Here Jesus. U is alles wat ek wil hê. Mag U genade met my wees sodat ek  ook in tye van genoeg, kan leef om elke goeie werk kan uitvoer. AMEN”

(cobus van heerden - cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys


Friday 10 February 2017

Stilte in die stryd


Image result for Egiptenare in Bybel



Hierdie week lees ek weer die verhaal in Eksodus oor die uittog uit Egipte en ‘n splinternuwe ding tref my in die volgende verse:

(Exo 14:4)

En Ek sal Farao se hart verhard, dat hy hulle agtervolg; en Ek wil My aan Farao en sy hele leërmag verheerlik, en die Egiptenaars sal weet dat Ek die HERE is. En hulle het so gedoen.

Ons weet almal dat God alles weet, maar wat my opval is dat Moses nie onvoorbereid was op die agtervolging van die Egiptenare nie. God sê hier vir hom dat hulle die Israeliete gáán agtervolg. Hy wil Homself as God ten toonstel en verheerlik voor die vyand. En Israel was bang.

Net so wil Hy dit vandag nog doen in ons lewens. Hy weet van alles wat met ons gaan gebeur. Soms waarsku Hy ons sodat ons voorkomend kan bid, of ons paaie verander. Ander kere sien ons moeilikheid kom en ons weet dit kan ons enige oomblik tref. En dit is waar ons keuse inkom. Gaan ons op God vertrou en fokus en toekyk hoe Hy Homself verheerlik of gaan ons dat vrees ons oorval en begin skarrel vir planne of sommer net oorgee dat die omstandighede ons maar oorrompel?

God wil hê dat ons op Hom moet vertrou en net soos die Israeliete kan ons ook elkeen terugkyk oor ons lewens en sien hoeveel keer God ons wel uitgered het. Ons het genoeg rede om Hom te vertrou. Ons kan net uitroep na Hom.

Die volgende gedeelte het my nog meer gemoedsrus gegee.

(Exo 14:13)

Maar Moses het aan die volk gesê: Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie.

(Exo 14:14)

Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees.

As ons in situasies kom waar ons net mooi niks kan doen om teëspoed te verhoed nie, en ons is in God se wil en plan kan ons ook net toekyk hoe Hy dinge gaan bewerk. Hy vra net van ons om nie bevrees te wees nie en om stil te wees. My eerste vraag is: Vader, hoe kan ek stil wees in ‘n worstelstryd? Want ek besef dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie maar teen die bose geeste in die lug.

(Eph 6:12)

Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

 En Vader kom verduidelik so mooi vir my weer die wapenrusting van God, en Hy staan ‘n oomblik stil by die swaard van die Woord. Ek moet die Woord bestudeer en hardop begin spreek, en sodoende my swaard opneem om daarmee te veg. As ek dit doen kan ek ontspan en stil wees want sien God is die Woord en dus my swaard en as ek die Woord leer en lees en spreek, stel ek my swaard wat God Homself is, in aksie in die worstelstryd. Hy sal dan vir my veg en ek kan Sy oorwinning in my lewe aanskou.

(Joh 1:1)

In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.

As ons dit kan doen beskerm God ons verder deur ‘n wolk / skadu tussen ons en die vyand te stel sodat ons onsigbaar is vir die vyand in die situasie en hy weet dat hy dan direk met God in ‘n worstelstryd is. Hoe wonderlik is dit nie dat God ons so omvou en Homself verheerlik in wat vir ons soms hopeloos lyk nie.

(Exo 14:19)

En die Engel van God wat voor die leër van Israel uit getrek het, het daar weggegaan en agter hulle aan getrek. En die wolkkolom het ook voor hulle weggetrek en agter hulle gaan staan;

(Exo 14:20)

so het dit dan tussen die leër van die Egiptenaars en die leër van Israel in gekom. En die wolk was daar met die duisternis, en dit het die nag verlig, sodat die een nie naby die ander gekom het die hele nag deur nie.

Verder is dit net so wonderlik dat God ‘n gewone man met die naam Moses ‘n eenvoudige opdrag gee om die situasie sigbaar te maak vir die volk. Hy sê dat Moses net sy hande moet uitsteek en die see sal oopkloof. Soms gee God vir ons opdragte. Nie omdat Hy ons hulp nodig het in die situasie nie, maar omdat Hy ons gehoorsaamheid wil toets. Hy gee opdragte binne ons vermoë. Kom ons wees net gehoorsaam aan God se Woord en opdragte en kyk hoe Hy Homself verheerlik. Dan sal ons die vyand nooit weer so sien soos in die situasie nie.

As ons dit self uitspartel en planne maak, sal die situasie himself weer en weer herhaal, al kry ons tydelike oplossings. Dit sal dit net uitstel en die vyand ‘n paar tree terugskuif. Maar as God vir ons stry, is dit permanent omdat Hy die vyand reeds oorwin het en kan ons rus in die wete dat ons meer as oorwinnaars is in Hom wat ons liefhet.

Dankie Here vir U uitkoms in elke situasie en dat U Uself verheerlik teenoor die vyand. U kom toe al die eer. In Jesus Naam. Amen

 (rene short - grs@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys



Saturday 4 February 2017

Hoekom skree jy?


Image result for 2 people screaming at each other


'n Stukkie waarheid wat ek raakgelees het......


Die professor was besig om die studente te leer oor Spreuke 15: 1.
Hy vra sy studente, “Hoekom skreeu ons in woede ? Waarom skreeu mense vir mekaar wanneer hulle kwaad is vir mekaar?”

Die studente het vir so wyle oor die vraag gedink en een van hulle waag ’n antwoord, omdat ons nie meer kalm en bedaard is nie en ons skreeu om uiting aan ons frustrasie te gee.

“Maar waarom skreeu as die ander persoon dan reg langs jou staan?” vra die professor.
“Is dit nie moontlik om met hom of haar te spreek in ’n sagte stem nie? Hoekom skreeu jy op ’n persoon wanneer jy kwaad is vir hom of haar?”

Die studente het verskeie verduideliking probeer gee maar nie een daarvan het die professor tevrede gestel nie.

Uiteindelik verduidelik hy aan hulle:

“Wanneer twee mense vir mekaar kwaad is, dan skei hul harte geestelik van hul besitters. Om die verwyderde afstand te oorbrug, moet hulle skreeu om mekaar te hoor. Hoe hewiger die kwaad vir mekaar is, hoe harder sal hulle skreeu om mekaar te hoor oor die groot afstand. Die professor vra toe, “Wat gebeur wanneer twee mense verlief raak? Hulle skreeu nie op mekaar, nie maar praat saggies met mekaar, hoekom?

Omdat hulle harte geestelik baie na aan mekaar is. Die afstand tussen hulle harte is baie klein. Die professor gaan voort,
“Wanneer hulle mekaar nog meer innig lief het, wat gebeur? Hulle praat nie, maar fluister net en hulle beweeg nog nader in mekaar se liefde.
Uiteindelik het hulle nie eens nodig om te fluister nie, hulle kyk net na mekaar en dis al wat nodig is ...

So volgende keer wanneer jy op ’n geliefde skreeu, weet dat jy besig is om afstand te skep tussen jou hart en die ander persoon se hart. Kom ons probeer nader aan mekaar beweeg, verskille te oorkom en in liefde en vrede met mekaar saam te leef.'

Skrywer onbekend 

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...