Thursday 23 July 2020

Tweespalt in die Liggaam

Galasiërs 4:28-29:  "Maar ons, broeders, is soos Isak, kinders van die belofte; maar soos destyds hy wat na die vlees gebore is, hom wat na die Gees was, vervolg het, so is dit nou ook."

Wanneer ek so om my heen kyk na die hedendaagse kerkgangers, maak dit my baie hartseer om die groot kloof tussen gelowiges te sien. Omdat ek in ‘n  ateïstiese ouerhuis groot geword het, het ek self belewe dat die Christelike waardes baie aantreklike waardes is en dit het my in staat gestel om te verstaan wat aan die gang is. Maar nie alleen dit nie, dit het my ook help verstaan waaroor die eienaardige tweespalt wat daar tussen ons bestaan eintlik gaan.

Aan die een kant is daar die wat met hart en siel glo dat die Bybel presies bedoel wat dit sê, en daarom glo ons in die bekering van gees, siel en ligaam, d.w.s. ons glo steeds in die genesing van alle siektes, die uitdryf van demone en die verwydering van vloeke in en deur die naam van Jesus Christus en ons Hemelse Vader. Maar daar is ook ’n ander groep wat ’n soort "intellektuele geloof" beoefen waarin hulle getrou is aan ingewikelde teologieë waardeur hulle na ’n heilige uiterlike voorkoms streef, maar hulle verwerp die geestelike pad van heiligmaking, of die gawes van die Heilige Gees, of die bediening van genesing, of bly so ver weg daarvan as moontlik.

Hulle aanvaar enige boek met die titel “Bybel” as die Woord van God en sal selfs soek tot hulle ’n vertaling vind wat by hulle teologie pas om hul punt te staaf. Dit is dan ook vir my ’n hartseer saak om te sien hoe die twee groepe met mekaar vassit en hewig argumenteer totdat hulle selfs begin twyfel aan die ander se bekering. Alhoewel dit op die oog af lyk of die twee groepe vanuit dieselfde oortuigings hulle leefwyses bepaal, is dit egter net in die fisiese die geval.

Net so was Abraham die pa van Ismael en Isak en dus was hulle in die fisiese broers, maar Isak was ’n kind van die belofte en Ismael was ’n kind van die vlees en so is dit ook met die kerkgangers van ons tyd. Party is mense uit die vlees gebore en hulle het ’n intellektuele verhouding met die Evangelie van Jesus Christus en laat hul intellek toe om hul gedrag te beheer op ’n wyse wat so na as moontlik lyk aan dit wat in hul gekose Bybel vertaling aangedui word en pas by hulle sosiale, ekonomiese en politieke oortuiging.

Hierdie is dan ook die oorsaak van hulle twyfel in die gawes van die Heilige Gees, wat insluit die genesings bediening wat geestelik van aard is, en om tekens en wonders en kragtige dade te laat geskied vir die eer van Jesus Christus. Hierteenoor is daar die Isak groep, die kinders van die belofte, bekeer en deur die waterdoop en belyding van die geloof dat Jesus Christus ons Saligmaker en Verlosser is en daarom die geskenk van die Heilige gees onvang het.

Johannes 3:3:  "Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie."

In die praktyk glo beide die bogenoemde groepe heelhartig dat hulle “hemel toe sal gaan” en dit is hier waar die bron van oortuiging belangrik word. Die Ismael groep se vertroue berus op hulle teologieë, doktrines, tradisies en hulle laat hul intellek toe om die oortuiging te bring (ek noem dit sommer “slim praatjies”), en hulle verhoog daardie intellektuele dinge tot die status van die Bybel. Daardie aksie word streng verbied (Openbaring 22:18  Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is) en dit wys ons dan ook dat dit korrek is om hulle as Ismael se volgelinge te beskryf, want hulle wil die dinge van die Gees vanuit die vlees doen, en vervolg die kinders van die belofte wat die dinge van die Gees navolg.

Wat egter van groter belang is, is hoe ons onself as kinders van die belofte kan beskryf en wat dan ook vir ons dit duidelik maak dat ons nie aleen “hemel toe” sal gaan nie maar dat ons inderdaad met die wegraping al by Jesus sal wees. Die rede hiervoor is dat ten tye van die waterdoop en ons geloofsbelydenis begin die Here met die vernuwing van ons gees EN gee hy ons die beloofde geskenk van die Heilige Gees en so word ons dan weergebore.

Dit is juis hierdie gebeurtenis wat die volle verduideliking is van die fundamentele verskil tussen die twee groepe en waarom ons sonder moeite kan glo in wonderwerke, genesing van siektes, die uitdryf van demone en die breek van vloeke in ons lewens.

Dit alles verduidelik nog steeds nie waarom die twee groepe dan so met mekaar haaks is nie. Die rede waarom die “Ismael groep” daarin behae vind om die wedergeborenes af te takel is uiteindelik maar dieselfde rede waarom Ismael sy jonger broer so bespot het. Die oorsprong daarvan lê o.a. in die vloeke wat hulle op hulself bring deur die byvoegings tot die Bybel, en die vloeke gee satan plek om in hulle die gees van jaloesie en die gees van godsdiens te vestig, wat dan die bespotting en vervolginge veroorsaak.

Let egter versigtig op waar ons as wedergeborenes in die stryd staan, en die gevaar waaran ons blootgestel word. Die satan hou nie van ons nie en gaan sy uiterste bes doen om ons teen Jesus te draai. Hy doen dit deur gedagtes in ons te plaas dat ons eintlik baie beter is as die Ismael groep en tensy ons elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus (2 Korinthiërs 10:5) kan satan veroorsaak dat ons ook ons saligheid kan verloor.

Is daar dan geen oplossing vir die tweepalt nie?

Galasiërs 4:30:  "Maar wat sê die Skrif? Werp die slavin en haar seun uit, want nooit mag die seun van die slavin saam met die seun van die vrye erwe nie."

Daar is wel ’n oplosing en dit begin by Paulus se woorde in Galasiërs 4:30. Die kinders van die vlees wat ons kan uitken deur wat hierbo beskryf is, soos hul ongeloof in die gawes van die Gees en die bediening van genesing, is nie erfgename en broers en susters van Jesus of van ons nie maar is in werklikheid in ’n swakker plek as die ongelowiges.

Hulle is ook geen werklike bedreiging vir ons nie, net soos Ismael nie werklik ’n bedreiging vir Isak was nie. MAAR, maar hulle het ons broodnodig en dit is ons plig om uit te hou deur die liefde wat aan ons gegee is en ons plig in die uitvoer van ons Groot Kommissie, om hulle ook ware dissipels van Jesus te maak.

Broeders en susters in Jesus, ons kan die dringendheid aanvoel om hulle te lei tot bekering omdat ons terdeë besef dat die wegraping naby is en dit is goed so. Ons moet egter ook onthou dat ons net die instrument van die Heilige Gees aan die ongelowiges is maar dat dit hulle gees is wat die Heilige Gees se oortuiging moet aanvaar of verwerp. Ons opdrag is om hulle die liefde van Jesus in ons te laat sien, terwyl ons onthou dat hulle gespot en beledigings ons niks kan aandoen nie en dat hulle in werklikheid betreurenswaardig is sonder Jesus Christus.

Johannes 13:35: "Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het."

GEBED:

"Hemelse Vader U is die enigste Almagtige, ewige en alomteenwoordige God en ek loof U magtige Naam. Vader ek vra om vergifnis vir al my frustrasies, argumente en trots teenoor die kinders van die vlees. Ek smeek U Vader, reinig my deeglik van al my sonde en ek smeek U vir ’n nuwe invulling van die Heilige Gees en vir gehoorsaamheid aan die opdragte van U Heilige Gees om alle verlore siele te lei na U troon van genade en verlossing. In alle nederiheid vra ek hierdie in die Naam van Jesus Christus my Here en Redder. Amen."

Geskryf deur: sybrand van kwawegen
(sybrand191@gmail.com)

Waarna soek jy?



Mat 6:33  Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

Hierdié is sekerlik een van die mees gekwoteerde skrifgedeeltes uit die Bybel en die klem word meestal op twee dele daarvan geplaas...”soek die koninkryk” en “alle dinge sal bygevoeg word”. Die woordjie “koninkryk” het dan ook vir baie mense 'n verskillende betekenis in lyn met hul afsonderlike openbaring daaroor.

Een ding wat dit verseker nie beteken nie, is dat dit verwys na die hemel, aangesien die Griekse woord wat hier gebruik word, die woord: “basilea” is, wat in eenvoudige taal beteken om te heers soos 'n koning in sy koninkryk. In kort beteken dit vir my dat mens jou identiteit in Christus moet vind, want dan sal jy dinge uit 'n posisie van heerskappy benader!

Dié deel wat egter meestal nie na verwys word nie, is om ook God se geregtigheid te soek en dit verwys daarna dat ons Sy manier van dinge doen, moet navolg...want dit is die tweede vereiste vir alles wat dan sal volg.

Joh 8:32  En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

Wanneer iets vir jou oopbreek en dit 'n openbaring word, dan word dit vir jou waarheid en het dit die potensiaal om jou vry te maak van wat dit ookal is wat jou gebind het. Daarom wanneer jy die waarheid van jou identiteit en outoriteit in Christus besef, dan is daar reeds 'n paar leuengeeste wat die pad vat.

Omdat ons in Christus is en Hy in ons en Hy ook nou aan die regterhand van Abba sit, beteken dit dat ek ook alreeds in hemelse plekke sit en dat my posisie van outoriteit is soos wat dit in die hemel is. Daarom leer Jesus ons ook om te bid dat die koninkryk hiér op aarde moet kom net soos wat dit in die hemel is. Ons is daardié gesante van God wat hiérdie outoriteit op aarde moet laat manifesteer deur die Heilige Gees wat in en deur ons werk!

2Kor 5:17  Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.
2Kor 5:18  En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het,
2Kor 5:19  naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou.
2Kor 5:20  Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.

As ons Mattheus 6 vanaf vers 25 lees, dan sien ons dat om besorgd te wees oor die wêreldse dinge, dat dit die dinge is waarna heidene soek en oor besorgd is. Ons hemelse Pappa weet egter wat ons nodig het en wannéér...en Hy belowe dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie...veral ook in hiérdie onseker tye van Covid-19 waarin ons leef en al die finansiële implikasies wat dit tot gevolg het.

Dié vraag bly dus:...”Waarná is jy op soek in hiérdie laaste dae waarin ons leef?


GEBED:

Hemelse Vader, help ons deur U Heilige Gees om die dinge te soek wat daar bó by U is en om ons identiteit en outoriteit in Christus te besef en te vind, sodat ons in volle heerskappy kan leef en waardige gesante vir U kan wees vir die werk wat U deur ons wil doen om ook U koninkryk hiér op aarde te laat kom...amen!

Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

Saturday 11 July 2020

God se belofte maak lewend

Psalm 119:49-56: "Gedenk die woord aan u kneg, omdat U my laat hoop het. Dit is my troos in my ellende, dat u belofte my lewend maak. Vermeteles het baie met my gespot; van u wet het ek nie afgewyk nie. Ek het gedink, o HERE, aan u oordele van ouds, en ek het my getroos. Toorngloed het my aangegryp vanweë die goddelose wat u wet verlaat. U insettinge was gesange vir my in die huis van my vreemdelingskap. HERE, in die nag het ek gedink aan u Naam, en ek het u wet onderhou. Dit het my deel geword, omdat ek u bevele bewaar het."

Soos ons die pad saam met die Here loop, leer ons om God se beloftes in die Woord ons eie te maak. En wanneer mens werklik begin raaklees wat daardie beloftes is, en wat dit in ons lewens beteken, dan gee dit ons hoop in die slegste van tye, ongeag wat rondom ons gebeur. En wanneer ons werklik sien wat daardie beloftes vir ons beteken, gee dit ons sommer nuwe lewe en nuwe hoop vir wat ons alles moet doen in ons omstandighede.

Maar, soos ons herhaaldelik in die Skrif lees, sien ons ook hier dat Dawid bevestig dat wanneer jy wel so vasklou aan God se Woord en Sy beloftes, mense rondom jou jou sal begin spot oor jou geloof, of oor jou vashou aan God se Woord. En dan het ons die keuse of ons gaan toelaat dat daardie tipe vervolginge wat ons verduur, ons gaan wegtrek van die Here af, en of ons steeds gaan vasstaan op God se Woord en ons troos daardeur gaan ontvang.

En ons sien dat Dawid sê hy het kwaad geword vir die goddeloses rondom hom wat God se wet verlaat het, en nie wou doen wat die Woord sê nie. Net so word ons ook maar van tyd tot tyd kwaad vir die spotters en goddeloses rondom ons wat nie wil hoor nie, of wat ons spot omdat ons vasklou aan God en Sy Woord, maar ons het steeds die keuse om anders op te tree in sulke omstandighede.

As ek werklik lief is vir God en Sy Woord, sal dit ook soos "gesange" wees vir my gees, wat my persoonlik opbou, en krag en vrede gee, al voel ek soms soos 'n "vreemdeling" tussen diegene rondom my.

En hoe meer ek Sy Woord en Sy beloftes en opdragte bedink, in die dag en selfs in die nag as ek op my bed lê, hoe makliker word dit om die Here se bevele te onderhou. God se Woord en Sy insettinge en bevele word dan ook deel van my lewe, dit word onlosmaaklik deel van my en wil en gaan ek dit begin toepas in elke klein area van my lewe, hetsy in my huis, my huwelik, my verhoudig met my kinders, tussen my kollegas, ens.

Mag God se beloftes in hierdie week al hoe meer jou deel word, en mag jy na die mate wat jy Sy Woord en Sy bevele oordink, al hoe meer lewend gemaak word na Sy Woord, sodat jy ook troos kan ontvang, ongeag jou daaglikse fisiese omstandighede.

GEBED: 

"Vader, dankie vir die beloftes in U Woord wat my troos en my lewend maak. Leer my om dit elke dag al hoe meer deel te maak van my lewe, sodat ek nie moeg of moedeloos woord wanneer mense rondom my my sou spot of nie wil luister as ek met hulle praat oor U Woord nie. In Jesus Naam. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

Berei die weg

'Elke dal moet opgevul word en elke berg en heuwel moet wegsak; en die krom draaie, sal 'n reguit pad word en die skurwe plekke, gelyke weë. En alle vlees sal die heil van God sien.'
[Lukas 3:5-6]

Naas die tien maagde-gelykenis, raak hierdie gedeelte van die evangelie-dokter, my nog die meeste. Hy skryf oor Johannes die doper, wat bedien en die saligheids weg 'marineer' vir die koms van die Messias. Hy was Jesus se VOORLOPER. Dit was sy grootste mandaat. Ongelukkig moes sy kop rôl daarvoor, maar sy verbasende toewyding, was een vir die boeke.

Johannes was 'n voorloper vir die eerste koms van die Messias. Vandag is EK en JY, Johannes-voorlopers vir Sy tweede koms. Ons moet ook daagliks profeteer: 'Berei die weg van die Here voor en maak Sy paaie gelyk. Hy is oppad!'

Wanneer 'n koning in die bybelse tyd, 'n sekere landstreek of 'n stad besoek het, dan het hy 'n voorloper met sy span voor hom uitgestuur, om die paaie, wat lei na die beplande bestemming toe, te gaan skoonmaak en te beveilig vir die koning se veilige aankoms. Die weg moes voorberei word. Niks moes in die pad gekom het, wat die koning se besoek sou belemmer nie.

Johannes gebruik hiér in Lukas, dieselfde parallel, sodat die mense hulle harte moet voorberei en oopmaak vir die lang-verwagte Verlosser en Sy boodskap. Die Messias-Koning is oppad vir Sy besoek en bediening op aarde en die doper spreek vier teikengroepe aan in vers 5. Hy bevestig eers die Ou Testamentiese skadubeeld van Jesaja 40:3-4, om sy aflewering net 'n bietjie meer 'wettig' te maak vir sy bystaande fariseër-gehoor. [Die addergeslag mos.]

Dieselfde opdrag van Johannes is egter nog steeds toepaslik vir elke siel vandag nog.

1. Lukas 3:5.. 'Elke dal moet opgevul word..'

Hier praat Johannes met dié, wat as gevolg van hul sonde-las, nie WAARDIG genoeg voel, om deur 'n Koning of Sy boodskap ontvang te word nie. Onwaardigheid of minderwaardigheid is egter nog steeds 'n vorm van hoogmoed en sonde, aangesien jy nog steeds 'n intense fokus op jouself het en nie die kosbare waarde omhels, waarmee Christus jou ten duurste, aan die kruis gekoop het nie. Dit was 'n duur transaksie, geliefdes.

Gun my ook om te sé, dat daar nie 'introverte' bestaan in die koninkryk van God nie. Daardie dal van 'not-worthy-enough', moet opgevul en gelyk gemaak word met 'n oorwinnings-en waarde identiteit in Christus, sodat jy die Messias kan ontmoet, wanneer Hy weer kom. Lig jou hoopvolle verwagting in Hom, BO jou aardse hindernisse van onwaardigheid.

2. Lukas 3:5.. 'en elke berg en heuwel moet wegsak..'

Hiér spreek Johannes die wetgeleerdes en fariseërs van sy dag aan, wat nou weer op hulle beurt, openlik MEERDERWAARDIG gevoel het bo hulle naaste met die gereëlde op-die-neus-afkyk, Skrif geleerdheid en subtiele beheer.

'Geestelike hoogmoed' is die groot boosheid, wat sommer vinnig 'n Vrystaat heuweltjie of 'n Kaapstad berg kan word in jou hart. Altwee is ewe gevaarlik. Met hierdie hindernis in jou hart, gaan jy nooit die ware Messias kan raaksien of ontmoet, wanneer Hy hier is nie. MAAK DAARDIE HOOGMOED GELYK, is die opdrag. Opregte bekering met belydenis van meerderwaardigheid en hoogmoed, is natuurlik 'n goeie begin vir jou tot oorwinning; en dra dan die vrug, wat by jou bekering pas. [Lukas 3:8]

Dit sluit ook eie-geregtigheid in, geliefde. Kom ek spel hom vir jou uit: Eie-geregtigheid is wanneer jy heeltemal op jou eie insigte, vermoëns, kragte en hulpbronne staat maak en nie Christus jou ENIGSTE toevlug en vertroue maak nie. Hy sny bitter fyn. Ondersoek maar gerus jou hart.


3. Lukas 3:5.. 'en die krom draaie, sal 'n reguit pad word..'

Johannes sonder ook nie die tollenaars van sy dag uit nie. Hy spreek hulle sterk aan en maak dit duidelik, dat hierdie wit kraag skelms, hulle 'krom draaie' van korrupsie, diefstal en oneerlikheid moet laat staan en hulle paaie gelyk maak, as hulle wil hê, die Messias moet hulle ontvang. Volg gerus ons eie Matthéüs se radikale voorbeeld. Hy was mos ook 'n tollenaar. Dit is baie kommerwekkend vir my, hoe sekere kinders van God nog steeds skelm kan bly en nie wegdraai van hulle wêreldse weë nie!

Ek ken Christen miljoenêrs, wat geen geheim daarvan maak, dat hy éérs 'n besigheidsman is en dan 'n Christen. Ek sien dit elke dag in my besigheid. Hy praat 'Christianese' baie vlot, tot ons by die besigheid kom. Jy het nog nie eers die transaksie mooi deurgetrap nie, dan het hy al klaar die fynskrif verander, toe jy jou rug draai.

Of meer; dit is net hoegenaamd nie binne hulle vermoë, om 'n belofte te kan hou nie. 'Kom ons hou Christus uit hierdie transaksie uit, broer, want kyk, ons is mos nog IN hierdie wêreld en dit is eintlik die bedryf, wat die status quo bepaal - nie die Bybel nie.' Ek is nogal nuuskierig, oor wát presies jou verweer gaan wees, wanneer jy eendag voor die troon van God moet staan?

4. Lukas 3:5.. 'en die skurwe plekke, gelyke weë.'

Hiér het hy met die Romeinse soldate gepraat, wat gereëld die publiek met rowwe humeure en geweld gehanteer het, met die doelgerigte poging, om gesag af te dwing. En, hulle was nogal suksesvol daarin. Hy sê vir hulle, dat hulle 'skurf' geword het in hul benadering tot die samelewing. Dit is hoegenaamd nie naaste-liefde nie. Jy kan 'n soldaat én 'n Christen wees, sonder om terug te graviteer na die barbaarse-en rowwe taktieke van Rome.

Só is daar vandag nog mans en vrouens, wat dieselfde doen met hul geliefdes en naaste. Narsiste en bullies, noem ons hulle. Die opdrag is baie duidelik, om daardie skurwe humeur te laat vaar; dit gelyk en glad te maak, soos skuurpapier oor 'n growwe stuk hout. Bely daardie woede, as sonde voor God en dra dan die vrug van jou bekering. [Lukas 3:8] En stop dit dan. Dit vernietig mense, broer! En suster. En indien jy nie vinnig daarmee gaan deel nie, gaan jy ook nie die Messias-Koning kan ontmoet nie. As jy nie regkom met oorwinning nie, soek bevryding, asb. Kontak ons gerus.

Lukas 3:6.. 'En alle vlees sal die heil van God sien.'

Johannes bring alles saam in 'n wonderlike belofte. Wanneer jy alle hindernisse hierbo genoem, aangespreek het in jou lewe en die pad gelyk maak vir jou Koning, gaan jy ook binnekort die 'heil van God' sien - jou Bruidegom, Jesus Christus! Maranata!

GEBED:

Vader, openbaar aan my, as daar nog enige hindernisse in my hart is, wat keer dat ek die volheid van wie U is, kan insien, asseblief. En gee my die bevryding, om dit te laat vaar. In die Naam van Christus Jesus van Nasaret. Amen.


 Geskryf deur: hennie van der westhuizen
(info@paragonlife.co.za)

Verantwoordelikheid teenoor skuld

Fakture tyd

Hier is ons in die "lock-down" by nog ‘n maand einde. Dinge was moeilik en ons kon nie almal werk nie. So pluk menige hulle faktuurboeke uit en begin dink wie skuld hulle nog iets, vir wie het hulle iets gedoen of verkoop wat nog nie betaal het nie? Dit is nou ‘n goeie tyd om daardie agterstallige skuld te betaal sodat jy ook jou verpligtinge kan nakom. Dis mos hoe dit werk? Een hand was die ander.

Andere probeer nou ook om alle oortollige goed te verkoop wat darem iets werd is sodat hulle ook ‘n faktuur kan uitskryf. Sien my werk kan my nie betaal nie of my besigheid staan stil, maar iemand moet my net iets skuld sodat ek my begroting kan uitwerk.

Sommige wil selfs tot vir God ‘n faktuur of twee skryf want Sy Woord leer ons mos ‘n paar dinge soos:

Mal 3:10  Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie.

Inskrywing 1 – ek gee gereeld my tiende so U skuld my.......

Gal 6:7 Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.

Inskrywing 2 – ek het in goeie tye goed gesaai so U skuld my ‘n goeie oes...

En so kan ons aangaan met ek het dit gedoen so ek verdien dat. Ons moet vandag een ding besef en dit is dat God ons niks skuld nie. Elke faktuur wat jy vir Hom wil uitskryf is reeds betaal. Dit is volbring.

Hy sou vandag ‘n hele boek fakture vir my kon skryf want ek skuld Hom my lewe. Jesus het duur betaal vir my. Hy het Sy lewe gegee vir my. Tog is daar geen hemelse faktuurboek nie, maar ‘n Bybel vol beloftes van wat alles myne kan wees.

Ek gaan net een psalm neem en uitwys hoeveel Hy vir ons kan en wil doen. Dit vra net een ding. Erken Hom as jou Herder.

Psa 23:1 ‘n Psalm van Dawid. Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie.
·         Die Herder lei sy skape na plekke waar hulle kan eet en drink en rus en veilig is.
Psa 23:2 Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.
·         As jy nie by groen weivelde en waters waar rus is, is nie, is jy nie waar Hy jou gelei het nie.
Psa 23:3 Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
·         Jou siel sal vars gedagtes van vrede kry sodat ook jy ‘n hoopvolle toekoms sal hê.
·         Hy leer ons Sy manier van dinge doen in elke situasie en as ons dit so doen soos Hy leer sal dinge werk want Sy Naam is daarby geteken.
Psa 23:4 Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.
·         Al gaan dinge soms moelik en lyk alles om ons donker en gevaarlik, as ons agter Hom bly en net volg waar Hy lei en Hom vertrou sal Hy die gevaar hanteer, Hy sal ons beskerm en vertroos.
Psa 23:5 U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.
·         Hy gaan ons nie wegneem van die wat teen ons is nie, Hy gaan ons toerus met soveel dat Sy salwing ander ook sal bereik.
Psa 23:6 Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.
·         As ek oor my skouers kyk sal ek net goedheid en guns agter my sien aankom as ek agter Hom is waar Hy lei. As ek in Sy Huis bly is dit soos ‘n Pa wat vir Sy kinders sorg en hulle beskerm. Hy neem die verantwoordelikheid.

Ons probleem is dat ons nie wil wag om te sien waar Hy ons lei nie. Ons wil verby die Herder hardloop en google, ander media en mense vertrou om te sien watter pad en plek en manier die veiligste lyk en ons eie pad soontoe uitwerk met ons faktuurboeke.

Dan vat jy ook jou eie verantwoordelikheid en moet maar op ‘n stadium wakker skrik en sien jy het die groen weivelde en waters waar rus is gemis omdat jy jou eie voetpad gekies het. Jy het nie agter die Herder aangeloop nie want jy het gesien Hy gaan deur moelike plekke loop.

Ons moet besef ons is in hierdie wereld en dus gaan sy probleme gebeur. Ons kan nie verby alles wil gaan nie. Ons moet net agter ons Herder bly dan sal ons veilig daardeur gaan. Soms sal daar dood en trane en gevare wees maar ons sal veilig anderkant uitkom.

Maak toe jou faktuurboek en gee oor. Volg jou goeie Herder.

Exo 14:14 Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees.

Gebed:

"Here Jesus, vergewe my dat ek U verantwoordelik gehou het vir enigiets en gedink het U skuld my iets terwyl ek nie eers is waar U my lei nie. Ek kies van vandag af om rustig agter U aan te loop tree vir tree en U te vertrou vir alles en met alles. Dankie vir U Vrede wat alle verstand te bowe gaan.
In Jesus Naam.
Amen."
 
 Geskryf deur: rene short
(grs@oicb.co.za)

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...