Wednesday 29 August 2018

Saai en jy sal maai.


Image result for woord van god


Die Totale Aanslag


Wêreldwyd is daar ‘n totale aanslag op die Christendom, pleks van die omgekeerde.

            “So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die Engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.” Luk 15:10

Hoe kan enige Gelowige dit nie begeer om deel van so ‘n Hemelse blydskap te wees nie!

            Ons kan, as ons die volgende doen: “Sing tot eer van die HERE, loof sy Naam, verkondig sy Heil van dag tot dag.  Vertel onder die nasies sy eer, onder al die volke sy wonders.” Ps 96:3

            By Sjibbolet is ons ‘n paar mense wat saamwerk om die Goeie Nuus selfs oor die grense van die land uit te dra. Ons versprei die Woord meesal in gedrukte vorm, maar sommige predik ook voor groepe.

            Ons ontvang briefies en e-posse van Gelowiges wat vra: “Wat is daar wat ek vir die HERE kan dien?” Ander sê: “Ek wil ook graag iets vir die HERE doen.”

Die oes is baie groot en gereed om in te bring. Die arbeiders is min.  Dit alles kos egter geld.  As jy nog nie weet hoe die HERE jou wil gebruik in die oesveld nie, begin dan en help  ten minste vir ons en ander om die werk te kan doen en leer van ons.

VOORDELE VAN DIE GEDRUKTE WOORD

*  Dit bereik mense op die mees afgelëe plekke;

*  Dit bring die Woord aan skole, universiteite, gevangenisse, hospitale. Daar gaan meer mense deur die hospitale en gevangenisse van die wêreld as deur die kerke.

*  Dit beweeg oor taalgrense heen en is nooit bevooroordeeld nie;

*  Dit reis baie goedkoop en het nie ‘n paspoort of visum nodig nie;

*  Dit bring aan ryk en arm, bekend en onbekend, presies dieselfde boodskap;

*  Dit spreek vir so lank  as wat dit mag bestaan en herhaal sy boodskap oor en oor;

*  Dit word nooit mismoedig nie, werk 24 uur per dag, 365 dae per jaar;

*  Dit keer nooit leeg terug nie, want dit bly die Lewende Woord.

            Jare gelede het ons traktaatjies op sypaadjies en op straathoeke verspei. Mense wil dit nie langer so aanvaar nie. Versprei die boodskappe per e-pos, of maak fofostate en versprei dit in posbusse, in tydskryfte in spreekkamers, glip dit in iemand se sak of inkopies.

            Daar is plek in die Hemel vir boemelaars ook. Wanneer jy vir hulle ‘n geldjie of kos gee, gee sommer ‘n boodskap saam.

            Hou altyd boodskappe in jou motor aan, daar is baie mense langs die pad vir wie jy dit kan gee. Bid daaroor en dank die HERE dat sy Woord nooit leeg terugkeer nie.

            Moet dit nooit in motors se ruitveërs plaas nie. Ruitveërs is die sensitiefste deel van ‘n voertuig en speel ‘n belangrike rol,. Mens durf dit nie beskadig nie.

            Ons beplan  groter uitbreidings. Ons vra nooit geld nie. Mense gee soos wat die Gees van die HERE hulle lei

Ons versprei ook kos, klere, skoene en Bybels.

            Onthou: Jesus heel die gebroke Harte. “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in Ewigheid woon -- Heilig is Sy naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek, maar Ek woon ook by die verbryselde en nederige van gees -- waarom?

            “Om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” -- Jes. 57:15.  –  Sjibbolet.buro@gmail.com  of belindapaar@gmail.com

Sou u 'n donasie wil maak t.o.v Evangelisasie kontak ons vir bankbesonderhede.

Jesus sëen elkeen in Sy Heilige Naam




Tuesday 28 August 2018

Weet jy dat jy gered is?


Image result for person praying to god

(Romeine 10:9,10) – “Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig: As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.”

My vraag aan jou vandag is, wéét jy dat jy gered is?

Maak nie saak waar en hoe jy grootgeword het nie, in die kerk, of buite die kerk nie. Want dit is ‘n baie belangrike punt om ‘n antwoord op te hê, aangesien die ewigheid vir ‘n ieder en elkeen van ons wag. En die ewigheid is te lank om ‘n kans te waag dat ek dalk nie die antwoord ken nie.

Kan ons regtig weet dat ons die ewige lewe sal hê? Beslis ja, volgens 1 Johannes 5:13:

“Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.”

Dit is dus NIE waar dat ons “nooit werklik kan wéét” of ons die ewige lewe het, soos sommige mense beweer nie. Maar hoe word ek dus gered? Duidelik dus nie deur te glo dat, omdat ek as babatjie gedoop is is ek gered, of omdat my ouma en my ma Christene was, is ek gered, nie. Wat leer die Bybel ons in die bogemelde teksvers?

1. Ek moet met my mond die Here Jesus BELY, wat beteken ek moet daaroor PRAAT dat ek Jesus as Koning in my lewe het, en

2. Ek moet met my hart glo dat God Jesus uit die dode opgewek het.

Dan SAL ek gered word. Maar daar is ‘n verdere vraag wat ons hier moet by vra, naamlik: HOE het God vir Jesus uit die dood opgewek, fisies, metafories, geestelik of simbolies? Want uit die aard van die saak is dit ook bepalend vir my redding, want oor die eeue is daar al baie teologiese debatte gevoer oor die vraag of Jesus fisies of net geestelik of metafories uit die dood opgestaan het.

Kom ons kry die duidelike antwoord uit die Woord, die aand nadat Jesus uit die dood opgestaan het, in Lukas 24:36-43:

“En terwyl hulle hieroor praat, staan Jesus self in hul midde en sê vir hulle: Vrede vir julle! Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle ‘n gees sien.  En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op? Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie. En terwyl Hy dit sê, wys Hy hulle sy hande en sy voete. En toe hulle van blydskap nog nie kon glo nie en hulle verwonder, sê Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet? Daarop gee hulle Hom ‘n stuk gebraaide vis en ‘n stuk heuningkoek. En Hy het dit geneem en voor hulle oë geëet.”

Hier sien ons dus dat Jesus se dissipels óók gemeen het dat Jesus net geestelik opgestaan het. Maar dan antwoord Jesus die vraag baie duidelik deur vir hulle Sy hande en voete te wys en te sê dat hulle aan Hom moes VOEL, want ‘n gees het nie vlees en bene soos hulle kon sien dat Hy het nie. En verder het Hy vis en heuningkoek geëet, en ons weet dat ‘n gees nie kan eet nie.

Dit beteken dus, dat om werklik gered te word, moet ek die Here Jesus met my mond bely, en ek moet met my hart glo dat God Hom FISIES uit die dood opgewek het. Indien ek DIT nie glo nie, plaas ek inderwaarheid my ewigheid op die spel.

Vriend/vriendin, wéét JY vandag dat JY gered is?

Gebed:

“Vader ek kom bely vandag dat ek ‘n sondaar is en dat ek ‘n Verlosser nodig het, en ek vra U om asseblief al my sondes te vergewe. Here ek bely verder dat ek glo Jesus Christus is self ook God, dat Hy vlees geword het en op aarde kom loop het en aan ‘n kruis gesterf het, ook vir my. Verder weet ek en glo ek vandag dat U vir Jesus fisies uit die dode opgewek het om te kom sit aan U regterhand in die hemele. Daarom bely ek vandag dat ek Jesus Christus aangeneem het, of in hierdie oomblik aanneem as my enigste Koning, Here, Saligmaker en Verlosser. Nou bid ek dat U my sal vervul met U Heilige Gees, en dat U my elke dag op ‘n pad van heiligmaking, geregtigheid en heiligheid sal lei deur U Heilige Gees. Dankie Jesus dat ek U nou ook kan bely met my mond, en U my Koning kan noem, in alle ewigheid. Amen.”

(tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys




Monday 13 August 2018

Wat is in jou hart?


Image result for heart images


1Sam 16:7 Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.

Terwyl ek stil word by die Here gisteraand, ervaar ek duidelik in my gees hierdie vraag: “wat is in jou hart My kind, wat is die gesindheid en dryf in jou hart waarmee jy na My toe kom of waarmee jy leef in hierdie dae?” Onmiddelik word ek toe herinner daaraan dat Abba na ons harte kyk en dat ons by Hom geen skans kan voorhou soos ons by mense kan doen nie!

Só baie mense sien ons aan as “heilige mense” op grond van dit wat ons sê of die dingetjies wat ons doen, wat só Christelik voorkom. Tog is daar baie keer in ons harte ‘n valsheid of by-motief waarom ons sekere dinge doen of sê. Die vraag is: is dit wat ons doen of sê tot eer van die Here of gaan dit oor “me, myself and I – the unholy trinity”? Is ons werklik op soek na Jesus in hierdie dae wat ons leef of is ons maar net besig om ‘n Christelike bestaan te voer?

Dit is só maklik om met die mond te verklaar dat Jesus se koms baie naby is, maar is ons werklik besig om te lewe asof Hy inderdaad vandag dalk kan kom om Sy bruid te kom haal?

Terwyl ek die afgelope maand die klomp vakansiegangers hier in ons dorp, Mosselbaai, dophou, hoé hulle feesvier en plesiertjies najaag, kom die volgende deel uit die Skrif by my op en sien ek hoé dit daagliks voor my oë manifesteer.

2Tim 3:1 Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.

2Tim 3:2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig,

2Tim 3:3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie,

2Tim 3:4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God;

2Tim 3:5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.

Ek sien hoé dit vir jongmense net gaan oor hoé hulle lyk, aantrek (so min as moontlik in meeste gevalle) en watse “brand name gadgets” hulle saamdra. Vir die ouer garde gaan dit oor: wat ek ry, waar ek bly en wat ek in die lewe vermag het. En dan kom dit by my op dat ‘n groot klomp van die meerderheid mense hier, sal bely dat hulle Jesus as Saligmaker aangeneem het, maar as mens kyk na die vrug wat gedra word dan kan jy nie anders as om te wonder nie!

Die realiteit is dat die dinge waarop jy jou gedagtes fokus, is die dinge wat in jou hart sal wees!

 (ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

Tuesday 7 August 2018

Die Skuilplek van die Allerhoogste.


Image result for Psalm 91:1

Psalm 91:1 “Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige.”

As kinders het ons baie speletjies gespeel: Brandbal, Donkie se stert, Simon sê, en vele ander. Een van hulle, Wegkruipertjie, is steeds een van die wêreldwye gunstelinge. Daar is net iets spesiaal daaraan om die perfekte wegkruip plek te vind; ‘n plek waarvandaan jy kan uitkyk maar self nie raakgesien word nie. Die plek waar niemand aan sal dink om te kyk nie. ‘n Plek waar jy altyd as wenner uitstap.

Ons het sô ‘n plek in God.

Dawid sê in Ps 32:7 “U is ‘n skuilplek vir my; U bewaar my vir benoudheid; U omring my met vrolike gesange van bevryding.” Die beeld van hierdie herhalende onderwerp weerspieël in baie van sy skrywes. Op ‘n ander geleentheid sê Dawid, “Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent; Hy verhef my op ‘n rots.” Ps 27:5. Hy gee ‘n bewysde woord van belofte aan almal wat die Here vrees, wat God vertrou voor die oë van ‘n ongelowige wêreld. Ps 31:21 “U verberg hulle in die skuilplek van u aangesig vir die samesweringe van mense; U steek hulle weg in ‘n hut vir die twis van die tonge.” Dit weet hy uit persoonlike ondervinding toe hy vir sy lewe gevlug het van Saul, en God se teenwoordigheid in ‘n spelonk gekry het. In Ps 57:2 smeek hy, “Wees my genadig, o God, wees my genadig, want by U het my siel geskuil, en in die skaduwee van u vleuels sal ek skuil totdat die onheil verbygegaan het.”

Hier is waar Dawid besef het dat God met hom sal wees en hom sal beskerm. Dit is waarom hy in Ps 23:5 & 6 kon skryf; “U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.” Dawid, in die teenwoordigheid van koning Saul het God se tafel gevind en aan hierdie tafel het hy God se beskerming ervaar.

In die donkerte van die spelonk, het Dawid die nabyheid van God ontdek. Kan dit wees dat die donkerte wat tans om jou is, die skadu van Sy vleuels is? Dít is die perfekte wegkruip plek!

Waarom maak jy nie vandag die volgende jou verklaring nie – Ps 36:8 “Hoe kosbaar is u goedertierenheid, o God! Daarom skuil die mensekinders onder die skaduwee van u vleuels.” Asook Ps 61:4 & 5 “Want U het ‘n toevlug vir my geword, ‘n sterk toring teen die vyand. Ek wil in u tent vertoef vir ewig, in die skuilplek van u vleuels my verberg.” 

“Here Jesus, ek het nodig om in U skuiplek in te gaan. Ek benodig U goddelike leiding en beskerming. Ek wil by U tafel aansit soos wat Dawid ook aangesit het. Open asseblief my oë om te sien waar U tafel is en om U beskerming en leiding te ontvang. Amen.”

(cobus van heerden - cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys



Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...