Saturday 19 December 2015

God maak nie dood nie!


Image result for bunch of pink roses




Ek het opnuut tot hierdie besef gekom toe ek ‘n paar jaar gelede voor my 23-jarige stiefdogter (Imari) se oop graf gestaan het. Sy is enkele dae vantevore aan hartversaking oorlede.

En onmiddellik was daar weer die normale: “Dit was maar seker die Here se wil”, of: “Hy het die mooiste blommetjie gepluk om in Sy tuin te plant” van mense se kant af.  Nee weet jy, ek glo dit lankal glad nie meer nie. Daarom het ek reeds ongeveer ‘n paar jaar gelede ‘n boek geskryf met die titel: “God is nie in die doodmaak besigheid nie”. En het ek ook ‘n DVD uitgebring met die titel: “God maak nie dood nie”

Waar kom ek daaraan? Ek lees maar net woord vir woord wat bepaal die Bybel. In Johannes 8:44 sien ek Jesus Christus is aan die woord en Hy sê onomwonde: “…die duiwel… Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af…” Dit is nie sommer enige mens wat hier praat nie, maar Jesus Homself. En wie is Jesus? Hy is God! En wat sê Hy? Hy sê SATAN is ‘n mensemoordenaar VAN DIE BEGIN AF. Van watter begin af? Van Kain en Abel af.

In Johannes 10:10 is Jesus weer aan die woord en Hy sê: “Die dief (satan) kom NET om te steel en te slag (Eng.- ”kill”) en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.” Jesus Christus Homself sê vir my dat SATAN die een is wat ‘n mensemoordenaar is van die begin af en dat hy gekom het NET om te steel, verwoes en dood te maak. Maar dan kom ons as mense by so 'n hartseergeleentheid en ons wil onmiddellik vir God die skuld gee vir daardie persoon se dood. God Homself sê satan maak dood, maar die mense sê God maak dood. En dan glo ons die mense...

Dit was nie God wat daardie persoon doodgemaak het nie! Dit was satan! En dan wil hy hê ons moet vir God beskuldig daarvoor. Sodoende wil hy veroorsaak dat van die familielede wat agterbly, later so kwaad is vir God oor hulle geliefde/s se afsterwe, dat hulle uiteindelik niks meer met God te doen wil hê nie. Daar bestaan ook nie so iets dat dit “…die Here behaag het om… van ons weg te neem…” nie. Hoe kan ek dit sê? Ek lees weer eens net die Bybel. Esegiël 18:32 bepaal: “Want Ek het GEEN behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here HERE.”

Dit is mos 'n teenstrydigheid om vir iemand te sê: “God het jou kind/broer/man/vrou doodgemaak, gaan vind nou jou berusting by God”. Geen mens sal vir berading na daardie een persoon toe gaan wat fisies die dood van sy of haar geliefde veroorsaak het nie. Maar die oomblik wat ek die waarheid vanuit die Woord snap dat dit nie ons wonderlike Hemelse Vader was wat ons geliefde/s “doodgemaak” het nie, maar wel die satan wat sy of haar “vlees” “verderf” het (volgens 1 Korinthiërs 5:5 (1933-vertaling)), kan ek nou met my hartseer en my rou op God se skoot gaan klim en al my trane teen Sy bors gaan uithuil.

Ek weet wel een ding – die oomblik toe die satan Imari se “vlees verderf” het, was die engele in haar kamer om haar GEES reguit hemel toe te neem! Hoe kan ek so seker wees? Want sy het 'n keuse gemaak, en het die Here liefgehad met haar hele hart en het Hom veral die laaste paar maande van haar lewe met 'n passie begin dien. Dus het God haar nie doodgemaak nie, dit het satan en sy bose magte reggekry, maar God het net haar gees “huis toe gevat”. Na die plek toe waar sy as Sy kind behoort. Daar waar sy nou in onverganklike heerlikheid vir ons almal wat ook vir God 'n keuse gemaak het, wag.

Maar juis omdat so baie mense vir baie jare nie die teenstrydigheid kon insien nie, is daar baie mense wat effektief van God af weggedraai het ná die afsterwe van hulle geliefde/s. Wat veroorsaak dit? Hulle geliefdes wat Jesus geken en gedien het, wag vir hulle voor God se troon om die ewigheid saam met hulle te kan wees, maar omdat die agtergeblewenes weggedraai het nadat hulle begin glo het dit was God wat daardie geliefdes doodgemaak het, eindig hulle in die ewigheid op 'n ander plek. 'n Plek van smarte, ver verwyder van God en van hulle geliefdes.

Kyk gerus na nog een laaste teksvers indien jy my nog nie glo nie: 2 Samuel 14:14: “Want ons moet eenmaal sterwe en soos water wees wat uitgegooi word op die grond, wat ‘n mens nie weer kan versamel nie; en GOD NEEM DIE LEWE NIE WEG NIE …”

Liewe vriend & vriendin, as jy tot dusver nog gewroeg het met daardie teenstrydigheid in jou ná 'n geliefde se dood, kan ek net bid dat hierdie kort artikel jou gehelp het om tot ander insigte te kom, en met nuwe oë na ons wonderlike Hemelse Vader te kyk.

Hoor wat sê Hy vir jou en vir my in Jeremia 29:11: “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n HOOPVOLLE TOEKOMS te gee.” Ek en my familie weet dat ons 'n hoopvolle toekoms het om eendag in alle ewigheid saam met Imari te wees. Juis omdat ons almal ook al, soos sy, 'n keuse vir Jeus gemaak het. Weet jy dit al?

Die enigste manier hoe jy kan seker wees dat jy ook eendag saam met jou geliefdes kan wees wat alreeds dood is, is om Jesus Christus ook as jou Verlosser, Redder en Saligmaker aan te neem. Hoe? Deur gou die volgende gebedjie hardop te bid, net daar waar jy sit: “Here Jesus, ek weet en erken dat ek 'n sondaar is. Ek bely nou en hier al my sondes voor U, my verkeerde gedagtes, verkeerde woorde en verkeerde dade. Here, U ken tog alles. Ek bely dit as sonde en ek vra U om my te vergewe. Dankie Jesus dat ek kan weet U vergewe my nou. Open asseblief U Woord vir my en leer my om van vandag af alles te onderhou wat U in U Woord bepaal, sodat ek ook gehoorsaam aan U kan lewe. Dankie Here dat ek nou kan weet, wanneer ek die dag sterwe, sal ek ook in ewigheid saam met my geliefdes wees wat my reeds voorgegaan het in U Hemelse Koninkryk in. Halleluja! Amen.”

As jy dit nou gedoen het, weet ek dat Imari saam met duisende engele voor die troon van God juig omdat jy nou ook eendag saam met ons en hulle almal in daardie onverganklike heerlikheid sal wees! Prys Jesus vir jou keuse!

In liefdevolle herinnering aan IMARI PRINSLOO, prinses van God.

8 April 1984 – 20 April 2007

tiaan gildenhuys (tg@oicb.co.za)

tiaan

(Geplaas met toestemming van Tiaan)


As jy enige geestelike hulp, gebed of berading verlang skryf aan Belinda Paar (belindapaar@gmail.com)

1 comment:

  1. Liefste Belinda

    Hierdie is so mooi geskryf en uit die Skrif gehaal. Ek weet jy bid al jare vir Joost vd Westhuizen se genesing, miskien moet jy hierdie vir sy broer stuur, miskien sal hy jou dan toelaat om vir Joost te gaan bid.

    Dankie vir jou bemoediging en die Woord wat jy met ons deel. Jy is 'n pêrel vir God se Koningkryk. Ek weet jy is een van Sy gesalfdes en geseendes.

    Liefde
    Anel van Wyk

    ReplyDelete

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...