Sunday 29 October 2017

Moenie verslap nie!


Image result for Hebreërs 12:3
“Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.” (Hebreërs 12:3)

Aan die begin van Januarie 2016 het ek die punt bereik waar ek moeg was, fisies moeg, geestelik moeg en sommer emosioneel moeg ook. Moeg as gevolg van al die aanslae teen hierdie bediening waartoe die Here ons 15 jaar gelede geroep het, moeg as gevolg van mense wat nie wil luister en gehoorsaam raak aan Jesus en Sy Woord nie, en moeg om al die agteraf geskinder en rugstekery onder kinders van die Here, te hoor en selfs fisies in my en my vrou se eie lewens te ervaar.

En die betrokke oggend sê ek dit toe vir die Here: “Vader, ek is moeg vir al hierdie dinge, en ek dink nie ek sien meer kans om aan te gaan in hierdie bediening nie. Ek is jammer Here, maar ek dink ek moet maar uitstap.”

Baie kinders van die Here wat erns maak met die Bybel as Woord van God, is geneig om hulle Bybels in te kleur deur teksverse wat uitstaan, te merk of te “highlight” met kleur merkpenne. So lyk my Bybel ook maar. En terwyl ek so met die Here hieroor sit en gesels, met ‘n swaar gemoed, lê my Bybel oop voor my by Hebreërs hoofstuk 12.

En saggies hoor ek die stem van die Heilige Gees in my gees sê: “Lees wat voor jou staan.” Ek kyk toe en lees toe Hebreërs 12:1, 2 en 4 (wat almal so met kleur gemerk was in my Bybel). Want dit is mos wat gebeur, mens se oog vang net die gedeeltes wat jy voorheen ingekleur het. Ek sê toe vir die Here ek verstaan nie wat Hy vir my uit daardie gedeeltes wil wys nie? Duidelik hoor ek toe in my gees: “Lees die teksvers wat jy NIE ingekleur het nie”. En dit is toe die bogemelde vers 3.

Uit die aard van die saak slaan daardie “ongemerkte” vers in die Bybel toe my voete onder my uit! Hoekom? Want dit hanteer toe my hele situasie, deur my eerstens te herinner aan Jesus en die teëspraak wat Hy alles van mense moes verdra, wat uit die aard van die saak VEEL ERGER is as wat ek tot dusver moes verdra. En tweedens gee dit toe vir my die rede WAAROM Hy dit moes verduur? Sodat ONS, ek en jy, nie in ons siele moet vermoeid en moeg word en dan verslap in dit wat ons vir Hom moet doen nie.

Hoeveel sulke ander “ongemerkte” verse is daar nie nog in my en jou Bybel nie? Wat eintlik “ongemerk” ook ons antwoorde bevat op vele ander vrae wat ons mag hê…

Dit was vir my soos ‘n ontploffing in my gees! Wow! Jesus moes presies dieselfde goed verduur as wat ons vandag verduur, en Hy het dit juis gedoen sodat ons vandag nog nie in ons siele sal vermoeid en moeg word en verslap nie! Toe ek daardie oggend opstaan voor my Bybel was ek sommer na gees en siel en liggaam bemoedig en verkwik en kon ek die nuwe dag, die nuwe jaar en sommer die res van die toekoms totdat ek eendag by Jesus sal wees, met hernude ywer aanpak. Wat ‘n wonderlike God en Vader dien ons nie!

Mag jy ook in die week onthou wat Jesus moes deurgaan, juis sodat JY ook nie sal vermoeid word in jou siel en dan verslap in wat jy vir Hom moet doen nie.
“Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.” (Hebreërs 4:15)

Gebed:
“Vader, vergewe my waar ek gedink het dat die dinge wat met my gebeur, uniek is en dat Jesus nie verstaan waardeur ek gaan nie. Dankie Here Jesus dat U die teëspraak van mense teen U verduur het, juis sodat ek nie in my siel vermoeid hoef te word en dan verslap in wat ek vir U moet doen nie. Gee my opnuut U krag in hierdie nuwe week. In Jesus Naam vra ek dit.
Amen.”

(tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys



Tuesday 24 October 2017

'n Hoopvolle Toekoms


Image result for Filippense 3:14


“Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” (Filippense 3:14)

Dit is darem interessant hoe die hele wêreld geneig is om mens te wil vasmaak aan die verlede, met dinge soos al die “memory-trips” en “memories are made of this” en “let’s walk down memory lane”, ensomeer. En almal, Christene ingesluit, is geneig om maar net saam te praat oor die “goeie ou dae” en/of al die verskriklike dinge wat in die verlede met hulle gebeur het.
Waarom sou dit wees? Is dit dalk omdat satan probeer om Christene weg te hou van die waarheid van die Woord? Die waarheid soos vervat in die bogemelde teksvers, maar ook in Lukas 9:62:
“En Jesus antwoord hom: Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.”

Die vyand wil nie hê ons moet besef dat solank hy ons kan kry om “agtertoe te kyk”, dat ons nie geskik sal wees vir die koninryk van God nie. Onthou, satan ken die Bybel beter as ons en wil dit graag teen ons gebruik, net soos wat hy dit teen Jesus probeer gebruik het tydens die versoeking in die woestyn.  Deur ons vas te bind met al die dinge van die verlede wat so goed klink, weerhou hy ons van die verdere waarheid van die Woord soos wat die Here dit self vir ons sê in Jeremia 29:11:

“Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.”

Die woorde: “hoopvolle toekoms” in die Grieks beteken ook: “an end-time reward”. Dit beteken God wil ons graag kry om uit te sien na ‘n hoopvolle toekoms en “end-time reward” saam met Hom. En juis dit wil satan nie vir ons hê nie en daarom wil hy ons eerder vasmaak aan al die dinge van die verlede, want daardeur kan hy ons vasbind aan al die seer, verwerping, mislukkings en hartseer van die verlede ook.

Kom ons kies eerder om van nou af onsself los te maak van die dinge wat agter is en om ons uit te strek na daardie hoopvolle toekoms wat net Jesus Christus vir ons kan bied.

Gebed:

“Vader, vergewe my asseblief omdat ek ook vasgeval het in al die dinge van die verlede, instede daarvan om uit te sien na die hoopvolle toekoms saam met U. Leer my asseblief om die laste van die verlede van my rug af te gooi en daagliks te begin lewe vir U en U Koninkryk, totdat ek eendag by U kan wees in alle ewigheid. In Jesus Naam. Amen.”

 (tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

Thursday 19 October 2017

Leef net vir God se plan en wil


Image result for whale splashing in the sea 

Maak jou "splash"

Jona 1:17: En die HERE het ‘n groot vis beskik om Jona in te sluk; en Jona was drie dae en drie nagte in die ingewande van die vis.

Ons het die voorreg om vir ‘n week by die see te wees saam met ons kinders en kleinkinders. Dit is ook die tyd van die loofhuttefees wat Vader vir al Sy kinders ingestel het en beveel het om te onderhou.

Ek lees in Numeri die voorskrifte wat gegee is vir elke dag. Dis ‘n klomp diere wat geoffer moes word en as mens dit in randwaarde omsit is dit groot offers wat elke dag gebring moes word. Ek sit so en wonder wat verwag Vader van ons in vandag se tyd. Terwyl ek so sit en wonder en uitkyk oor die groot Indiese oseaan, spring ‘n walvis amper vollyf uit die water en val met ‘n groot "splash" terug. Dis skouspelagtig mooi en ek hou die plek dop waar dit gebeur het in afwagting vir ‘n herhaling. ‘n Groot klap met die stert volg.

Dis toe dat ek dink aan die groot vis wat vir Jona ingesluk het, drie dae met hom in sy ingewande rondgeswem het en toe op droe grond gaan uitspuug het. Alles in opdrag van God want dit was definitief nie sy normale gedrag nie. Daar kom die besef toe by my op dat dit is presies wat Vader van ons verwag as offer. Ons hele volledige self. Sien, daai vis het nie geweet dat wat hy gedoen het daai drie dae vir altyd in die Woord van God opgeskryf sou word vir miljoene mense om te lees nie. Hy het nie eers geweet dat dit in ‘n profesie oor ons Messias gebruik sou word nie. Hy het net geswem, gesluk toe hy beveel is en gespoeg toe hy beveel is. Tog lees ons vandag nog van hom en die groot wonderwerk rondom dit.

Hierdie walvis wat vandag hier rondspring weet nie eers dat ek hom dophou nie. Tog spring hy uit en speel gemaklik rond om my te vermaak en God te verheerlik daardeur. So natuurlik. Sonder inspanning. Dis deel van sy lewe.

Ons moet onsself so offer vir Jesus dat ons Sy opdragte as deel van ons normale lewe kan gehoorsaam sonder inspanning. Ons moet toelaat dat Hy ons gebruik sonder verset. Hy kan daai 15 ton lyf met gemak uit die water laat kom en laat neerval vir almal wat kyk om te sien. So kan Hy elkeen van ons gebruik op maniere wat ons nie eers kan dink nie. Ons moet net oorgee en toelaat dat Hy ons gebruik en uit die water van die lewe lig en ons neersit met ‘n groot "splash". Maak nie saak wie vir ons kyk en OF iemand kyk nie. Dit moet deel wees van ons lewe om Hom te gehoorsaam want iewers sien iemand dalk net raak wat Hy besig is om te doen deur ons. Iemand hou dalk die groot "splash" dop en dit vul hul met verwondering vir ons Here. Jy sal nooit weet waar die druppels van daai "splash" val nie. Dit maak in die oomblik wat God ons gebruik ook nie eers saak wie kyk en wie sien en wie nie. Dit het nie vir die vis in Jona se verhaal saakgemaak of dit opgeskryf word of nie. Ons moet gehoorsaam met dieselfde gesindheid.

Kom ons kies om vandag net in God se wil en plan te beweeg vir ons lewe. Laat Hy met ons maak en doen wat Hy wil om Homself te verheerlik. As Hy dan daardeur ook kies om iemand of ‘n menigte, vandag of oor baie jare daardeur te raak, maak dit geen verskil aan wat ek en jy vandag in Sy heerlikheid en wil kan geniet deur totaal gehoorsaam te wees aan Hom nie. Om Jesus te verheerlik moet alles wees waaroor dit gaan vandag. Ook in hierdie loofhutte feestyd.

Daardie mense het nie somme bereken toe hulle moes offer nie. Hulle het dit in gehoorsaamheid gedoen en is deur hul keuse van gehoorsaamheid geseen sodat hulle dit weer en weer kon doen. God het hulle nie iets gevra wat hulle nie kon gee nie. Hy voorsien in hulle gehoorsaamheid en so sal Hy dit vandag nog vir ons doen. In ons gehoorsaamheid sal Hy die onmoontlike moontlik maak en voorsien wat ons nog nie eers weet nodig gaan wees nie. Kom laat ons nie koste of moeite bereken aan ons gehoorsaamheid nie. Kom ons maak net ons "splash" vir Jesus vandag. As ons dit nie doen nie, mis iemand dalk net ‘n mooi skouspel of ‘n paar druppels water wat hulle oe op ons Here Jesus kan vestig.
(rene short - grs@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

Friday 13 October 2017

Aangenome kinders en Biologiese ouers

Image result for parent and child reunited

As jy as aangenome kind jou biologiese ouers soek,
of weet van sulke kinders wat hul ouers soek,
kontak vir Willie Karnavos williek@otenet.gr

Sy en haar span vroue doen sulke opsporings
voltyds en gratis. Aangenome kinders kan ook hier
by Willie-hulle se FB blad aansluit:
https://www.facebook.com/groups/babycomehome/

Image result for parent and child reunited

Mag ons wraak neem as mense verkeerd handel teenoor ons?


Image result for two people arguing with each other

Ons hoor so baie keer dat mense sê “Ek sal alles in my vermoë doen om hom/haar terug te kry” of “Ek gaan hierdie saak nie hier los nie”, maar mag ons dit doen as ons kinders van die Here is? Wat se die Woord?

Rom 12:19 Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die troorn, want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, EK sal vergeld, spreek die Here!

Verder kry ons ‘n opdrag,  Sëen die wat jul vervolg, sëen en moenie vervloek nie! (Rom 12:14)

Heb 10:30 Want ons ken Hom wat gese het: My kom die wraak toe, EK sal vergelde, spreek die Here, en weer: Die Here sal Sy volk oordeel.

Deut 32:35 My kom die wraak toe en die vergelding, op die tyd as hulle sal wankel, want die dag van hulle ondergang is naby, en wat oor hulle beskik is, kom gou.

 Ek weet soms is dit bitter moeilik om weg te loop van iets af waar mens seer gekry het, en in sommige gevalle kan ons nie anders om regshulp te kry nie, maar wat die Woord sê is, stel God eerste, in enige saak sodat Hy die Regverdige Regter kan wees in jou saak.

MATTHEUS 25:45  Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sovêr julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.

As jy betrokke was in ‘n argument, loop weg en gaan bid daaroor en vra Jesus om die mense te laat sien wat hulle aan jou doen is verkeerd in Sy oë, maar onthou ook om Hom te vra om joune ook oop te maak vir jou foute! Ons is nie altyd so onskuldig in dinge soos ons dink en voel nie.

ROMEINE 12:18  as dit moontlik is, sovêr as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.

ROMEINE 12:21  Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.

ROMEINE 12:16-17  wees eensgesind onder mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige; moenie eiewys wees nie;  (17) vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense;

Die spreekwoord “Soort soek, soek soort” is presies wat Paulus van praat in die bogenoemde vers, sorg dat jy by nederige vriendekringe uitkom sodat jy nederig kan bly!

Mag die Gees van God jou lei en jou mond stil maak as jy iets gaan sê wat jy nie moet sê nie.

Onthou spreek sëen uit oor die wat jou vervloek (hoekom?) Sodat God jou ook kan sëen.

Oorwinningsdag vir elkeen in Jesus Naam
Sëenwense
Belinda

Sunday 8 October 2017

Genees God vandag nog?


Image result for person in hospital bed

Mag die vrede van Jesus Christus met jou wees.

Ek het onlangs ‘n e-pos ontvang waarin die skrywer gevra het of God vandag nog genees. Verder het hy ook genoem dat medici diagnoses oor hom gemaak het en dat operasies aanbeveel word. Ek wil geensins die persoon in ‘n swak lig stel nie of die vraag wat gevra is as onbenullig afmaak nie. Ek voel dat dit ‘n uiters belangrike vraag is en ek weet dat soveel kinders van God ook al met die vraag geworstel het.

Hier volg my antwoord asook verdere verduidelikings:

Ek glo met alles in my dat God steeds genees soos die Bybel sê. Heb 13:8 sê; "Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid." So as Hy in die Bybelse tyd genees het, sál Hy vandag genees en sal in die toekoms genees. In Eks 15:26 sê God: “As jy getrou na die stem van die HERE jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die HERE wat jou gesond maak.” Let op die voorvereiste “As jy getrou na die stem van die HERE jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou.”

Daar is baie faktore wat genesing kan beïnvloed soos onvergifnis, bitterheid, rebellie, okkultiese betrokkenheid en vele ander. Ook het die voorouers se lewens 'n invloed op ons, vloeke, betrokkenheid by organisasies soos Vrymesselary ens. Daarom is dit belangrik om te deel met dit wat uit die verlede kom. Ek moet vergewe, vryspreek, en uit die Outoriteit, wat Jesus Christus aan my gee, die geeste van Satan beveel om my te verlaat. Vra die Heilige Gees om aan jou te wys wat jy moet bely en aanspreek. Daar is twee skitterende boeke wat ek kan aanbeveel wat vir jou die geestelike wortels en oorsake van siektes verduidelik en uitwys.
         
Healing begins with Sanctification of the Heart – Dr MK Strydom
(ISBN no: 9780797443754)

A More Excellent Way – Past Henry W Wright
(ISBN no: 0967805929)

Dan gaan dit ook oor my eie geloof. Mat 9:28 & 29: "En nadat Hy in die huis gegaan het, kom die blindes na Hom toe. En Jesus sê vir hulle: Glo julle dat Ek dit kan doen? Hulle antwoord Hom: Ja, Here. Toe raak Hy hulle oë aan en sê: Laat dit vir julle wees volgens julle geloof."

Verder moet ek ook kyk na dit wat ek oor myself spreek. Oor my gesondheid, behandeling, genesing, gestremdheid, finansies, omstandighede, ens. Spr 18:21 sê; "Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet."

Ons spreek soveel keer negatiewe woorde en uitsprake oor onsself, aanvaar diagnoses as finale uitsprake, ens. Daardeur kanselleer ek God se beloftes en ook Sy genesing en bring 'n vloek oor myself en dit is presies wat gebeur. Negatiewe woorde wat ek oor myself spreek is innerlike ede of geloftes. Dit is baie kragtig en net jy self kan dit breek. Bely dit voor God as sonde en kanselleer dit. Spreek dat Jesus jou geneesheer is en staan op Sy beloftes in die Woord.

Nou hoe moet ek mediese diagnoses hanteer? Ek, Cobus, leef glad nie in ‘n droom wêreld nie. Die diagnoses is baie keer wetenskaplike feite en ek moet dit hanteer. Om dit te ignoreer gaan nie die probleem oplos nie. As ek siek is, is ek siek. Die vraag is egter; wie glo ek? Die feite van die diagnose wat sê dat ek siek, terminaal siek of gestremd is, of die waarheid wat sê; Ek is die HERE wat jou gesond maak.

Ek gaan na Vader toe met die diagnose.
Bely einge sonde en ongeregtigheid wat hierdie aanval reg gee.
Pas Jak 4:7 toe en weerstaan Satan en sy geeste in die naam van Jesus Christus. Jak 4:7 “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.”
Beveel my liggaam om te genees volgens die Woord van God.
Gebruik die verbondsmaal (nagmaal) op 'n daaglikse basis.
Veg die geveg totdat die genesing plaasvind.
Let op my woorde.
Spreek Goddelike wysheid oor diegene wat my behandel en die instansies waar ek behandel word en seën hulle.
Soos die aanslag feller word moet ek nader aan God beweeg.

Ek bid dat Vader jou lei deur die Heilige Gees om ook op hierdie gebied meer as ‘n oorwinnaar te kan wees.

“ABBA Vader, ek bring elke persoon wat hier lees voor U. Sal U asseblief elkeen van ons vervul met U Heilige Gees. Heilige Gees sal U asseblief elkeen van ons leer aangaande genesing van Jesus en ook hoe om dit oor onsself te verklaar en om dit ook te kan glo. Leer ons aangaande die geestelike aanslag op ons gesondheid en hoe om die geveg te baklei volgens die Woord. In die naam van Jesus Christus vra ons dit. Amen.”

(cobus van heerden - cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

Moet ons aan ander gee?


Image result for someone giving someone something

 GEE, EN AAN JULLE SAL GEGEE WORD


“Gee, en aan julle sal gegee word. ‘n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.” (Lukas 6:38)

Terwyl ek hierdie naweek in ‘n kerk bedien het, was hierdie een van die verse wat ek bespreek het, en terwyl ek dit bespreek, het die Heilige Gees net weer opnuut op my hart gedruk hoe ‘n belangrike vers is hierdie in werklikheid, veral in ons omgang met mense rondom ons.

Die Here wil hê ons moet GEE, van ons geld, van ons tyd, van ons omgee, van ons empatie en van ons simpatie, sommer net van alles wie en wat ons is. Want in die self-gesentreerde wêreld waarin ons tans leef is daar nie baie sprake van “gee” nie, maar wel baie van “ek wil hê”. Dis eerder ‘n kwessie van “gee vir my, gee vir my, gee vir my…”

Mense gaan kerk toe want hulle wil iets “ontvang”, maar nie baie mense dink daaraan dat hulle kerk toe moet gaan om iets te gaan “gee” nie. Mense gaan werk toe net sodat hulle aan die einde van die maand iets kan “ontvang”, hulle salaris. En terwyl hulle wag vir daardie salaris wil hulle nie vreeslik baie energie spandeer aan hulle werk nie. Nie baie mense dink daaraan dat hulle werk toe moet gaan om hulle beste te gaan “gee” nie, net omdat hulle kinders van die Here is en in lyn met wat Kolossense 3:23,24 bepaal nie.

Baie mense is in ‘n gesinsopset in ‘n huis en wil net heeltyd iets “ontvang” en dink nie daaraan dat hulle eintlik iets vir mekaar moet “gee” as mede-gesinslede nie. Omgee, liefde, wedersydse respek, onderdanigheid teenoor ouers, of wat ookal nie. Hulle wil eerder net “hê”.

Maar kyk mooi, daar is ‘n belofte en ‘n waarskuwing vervat in daardie teksvers. As ons gaan leer gee soos wat God dit bedoel, sal daar VIR ONS GEGEE WORD, ‘n GOEIE MAAT wat ingedruk en geskud en oorlopend is. Ons almal het al gesien dat jy ‘n blik kan vat en dit vol mieliemeel maak totdat dit vol is. Maar die oomblik as jy daardie blik bietjie skud of stamp dan sak die meel af en kan jy nog meer bygooi. Dit is dieselfde beeld wat die Here Jesus hier gebruik.

Die waarskuwing vind ons egter in die gedeelte wat lees dat met dieselfde maat weermee ons meet, weer vir ons gemeet sal word. Dit beteken bloot dat as ek my beste gee, ek baie kan terugverwag, maar as ek maar net my oorskiet-tyd, oorskiet-geldjies of oorskiet-empatie of oorskiet-simpatie gee, moet ek weet sal ek maar dieselfde “oorskiet” terugkry van die Here, of andere rondom my.

Gebed:

“Vader vergewe my waar ek in die verlede nie altyd my beste gegee het nie. Leer my asseblief om van hierdie week af my beste te gee, sodat ek kan weet dat U vir my ‘n goeie maat sal teruggee, wat ingedruk en geskud en oorlopend vol is. In Jesus Naam. Amen.”

(tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...