Tuesday 29 September 2020

Ek is in diep waters!

Die spreekwoord... "ek is in diep waters" is nie onbekend by enige van ons nie... ons almal was al daar..., tot Dawid wat n man so na God se hart was, die oogappel van God, n man in wie God welbehae gehad het, en Dawid roep uit! "Red my, o God, want die water het tot by my keel gekom" (Ps 69:2).

As jy die Ps lees sien jy hy was vals beskuldig van diefstal, mense het hom sonder rede gehaat, bespot, verkleineer en beledig, beskinder, sy eie familie het hom verwerp en hy het nie die nodige lewensbehoeftes gehad nie, hy was vol pyn!

Ons sien dat sy swaarkry eindeloos aangehou het, want hy sê "Ek het my moeg geroep om hulp, my keel is hees geroep".

Klink dit vir jou bekend? Was jy ook al daar?

Wat het Dawid gedoen terwyl dit so met hom gegaan het?

Hy het aanhou bid! Dawid was n geloofsoorwinnaar!

Daar is n verskil tussen n mens wat "opstaan" en n mens wat oorwin! Mense wat opstaan bly negatief, spreek negatief, en verwag nog meer negatief! Geloof-oorwinnaars is mense met hoop! Hulle weet nog meer slegte dinge kan moontlik op hul pad kom maar hulle hoop is op God gevestig vir deurbrake...hulle vertrou dat sou nog iets gebeur, dat God se hulp en gebed onafskeidsbaar is!

Ek wil jou vandag bemoedig met die woorde...terwyl jy bid vir jou situasie is jy alreeds n geloofsoorwinnaar, want Hy na wie jy uitroep is Magtiger as enige van jou probleme! Hy is meer getrou as enige vriend of familie-lid! En Hy is altyd gereed om te help!

Soms vat God bietjie lank met n deurbraak, want Hy weet hoe om jou desperaat te maak vir Hom... sou Hy dadelik help, het jy Hom nie meer nodig nie! So bou Hy jou geloof en jou verhouding met Hom tot n sterk onafskeidbare band!

Hou vas aan God.. jou deurbraak is oppad, jou geloof verseker dit!

Mooi oorwinningsdag vir jou.

(Geskry deur Belinda: belindapaar@gmail.com)

Besluite met wysheid!


 Besluite en keuses...daar kom n dag in jou lewe wat jy n besluit moet maak oor wat die beste is vir jou! Soms is dit nie n besluit wat ander mee saam stem nie, maar jy weet dat dit n besluit is wat jou beskerm, jou vrede gaan gee, jou geestelik gaan laat groei!


Soms is dit nie n lekker besluit om te neem nie, nie n maklike een nie, soms is dit n besluit wat vir n hele ruk eers gaan seermaak voor dit beter gaan word... en soms gaan dit ander om jou ook seermaak... maar op die einde is dit n beter besluit om te neem...die regte keuse om te maak, nie net vir jou nie maar ook vir ander... soms help jou besluit ook ander om ook makliker besluite en lewensrigting in hulle lewens te maak, of te kry.

Voor jy enige ernstige besluite neem in jou lewe, bid vir wysheid! En moet nooit n besluit neem as jy emosioneel is nie!

Mag die Heilige Gees jou altyd lei in elke besluit wat jy moet neem.

Vrede van God en wysheid van die Heilige Gees is my gebed vir jou vandag.

Ps 27:14 Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE!

(Geskryf deur Belinda: belindapaar@g.mail.com)


Het jy nie gesag ontvang deur Jesus nie?



Om so te kla en kerm oor wat aangaan om ons is vir God pynlik omdat Hy vir ons al die mag en Sy Seun gegee het om elke stryd te kan wen hoekom kla, moun en vrees jy so?

Hoe oorwin ons wat aangaan in ons land? Die onregverdigheid, die kleurvoorkeur, die bedrog en verdrukking die moorde, verkragtings, diefstal en nou kinderdiefstal?

Hoeveel keer hoor jy "die aanslae teen my is geweldig....die duiwel is lustig...dit gaan swaar met my...ons land is in sy dinges ... die regering is klomp skelms, diewe, rasiste....die dinge moet gebeur want ons staan in die eindtyd".

Hoekom aanvaar ons die gemors wat ons kant toe kom? Die groot verdrukking kom EERS NA die wegraping! Die rooikappie brigade is presies dit... rooikappie-verhaal AS jy die Woord van God ken!

Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie... maar teen die bose magte! En Wie het die bose alreeds oorwin? Waar lê jou Mag? Wie het aan jou mag gegee om op skerpioene en slange te kan trap? Om duiwels uit te dryf? Wie het oorwinning vir jou alreeds op Golgota gegee?

Rooikappie regeer met vrees.. net soos Hitler... en wat doen ons wat oorwinning gekry het in Jesus? Ons vrees!!

Ons almal belei Jesus met ons mond... sonder geloof!!

Jy hoor so baie die wit man kan nie saam staan nie! Jy is 100% reg!! Nie eens in gebed nie!!

O en die "vyand kom in massas"! Dit is waar! Lafaards doen! God sê Ek sal My engele opdrag gee aangaande jou! Almal ken Ps 91...maar niemand glo wat hy/sy lees nie! Hoeveel engele het Hy? n Legioen!! Wie kom in massas as jy net vra?

Ps 91:11 want Hy sal Sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou wee

Ons belei...Jesus het ons vrygemaak.. maar ons leef in tronke en in verdrukking en met siektes!! Sonder vryheid! Want ons het GEEN geloof in wat ons sê nie!

Maar ons is vinnig om te vra waar is God? Ek sal jou sê waar is God! Hy is in die Hemel! En Hy gaan daar bly TOTDAT jy en ek Hom roep!

Sag. 4:6 “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.”

(Geskryf deur Belinda: belindapaar@gmail.com)

Vertrou op die Woord!

 

Psalm 119:41-48: "En laat u goedertierenhede oor my kom, o HERE, u heil volgens u belofte, sodat ek my smader iets kan antwoord, want ek vertrou op u woord. En onttrek die woord van waarheid nie geheel en al aan my mond nie, want op u verordeninge wag ek. Dan wil ek u wet altyddeur onderhou, vir ewig en altyd, en in die ruimte wandel, want ek soek u bevele. Ook wil ek voor konings van u getuienisse spreek en my nie skaam nie. En ek wil my verlustig in u gebooie wat ek liefhet, en my hande ophef na u gebooie wat ek liefhet, en u insettinge oordink."

Hoe nader ons beweeg aan Jesus se koms, hoe meer is daar mense wat ons as Christene wat vasstaan op die woord "smaad" m.a.w, ons spot omdat ons nie soos die wêreld glo nie. Maar dit is juis as ons onwrikbaar vasstaan op Sy Woord, dat die Here Sy goedertierenhede en Sy heil oor ons sal laat kom. En dit lei daartoe dat ons 'n getuienis het teenoor hulle wat ons so wil spot, en dis juis omdat ons vertrou op die Woord van die Here.

Hoe meer ons op die Woord vertrou, en doen wat die Here van ons verlang, hoe minder sal die woord van waarheid uit ons mond onttrek. Ons sal dus nie anders kan as om te alle tye die woord van waarheid te spreek nie. Dit sal verder daartoe lei dat ek Sy wet sal onderhou vir ewig en altyd, want dit wat ek spreek, is dit wat ek doen, want die Bybel sê immers wat die hart  van vol is, loop die mond van oor.

En na die mate wat Hy Sy goedertierenhede en heil oor my uitstort, en ek in Sy verordeninge lewe, gaan ek nie anders kan as om met vrymoedigheid te getuig teenoor diegene rondom my van wat Hy in my lewe doen nie. En ek sal daardie vrymoedigheid hê, ongeag wie die mense rondom my is, of dit familie of vriende of hooggeplaaste mense is.

Daar is mos 'n gesegde wat lui: "A man on his knees before God, can stand before any man."

En weet jy, al hierdie dinge lei net verder daartoe dat ek my al hoe meer verlustig in Sy gebooie, dit begin geniet in my lewe, en dit daagliks oordink en toepas. Dit is wat die Woord van die Here so 'n wonderlike lewende Woord maak, dat mens dit op jou eie kan geniet, dit saam met ons Hemelse Vader kan geniet, en dit teenoor andere rondom ons kan wys.

Mag hierdie week jou al hoe nader bring aan hierdie wonderlike God wat ons dien en aanbid, ongeag jou omstandighede, of voor wie jy staan.

GEBED: 

"Vader, dankie ek kan vertrou op U onveranderlike Woord. Leer my asseblief elke dag net meer van U verordeninge en insettinge deur U Heilige Gees, sodat ek kan getuig van U grootheid en goedertierenheid en heil in my lewe, maak nie saak voor wie ek staan nie. In Jesus Naam. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys

(tg@oicb.co.za)

My reg?

Wanneer jy groot geword het en geskool was in 'n geestelike gemeenskap van 'outoriteit-neem-oor-die-vyand-en-al-sy-boosheid' en ook heers oor alles, wat aan jou toevertrou word as goeie rentmeesters [Lukas 10:19 en Genesis 1:28], dan loop die 'koninlike-DNA' sommer sterk deur jou are. Jy voel jy kan berge versit, prinse onttroon en sommer planete skuif!

Ongelukkig kan hierdie ook 'n baie gevaarlike geloofs-ingesteldheid wees, wanneer jy nie 'n baie suiwer Skriftuurlike en gebalanseerde dissipelskap ontvang het nie. [Matthèüs 28:19] Wanneer jou leermeesters nagelaat het om jou te leer, dat Christus NIE net die magtige 'Leeu van Juda' was nie; maar vir 'n baie kort seisoen in Sy lewe, moes Hy ook die 'Lam van God' wees. Iemand wat gewillig moes opstap na die slagpale toe. Om GESLAG te word. Nou nie meer so 'n 'koninlike' gedagte nie, of hoe?

Die ongeleë gevaar van die baie vleeslike 'ek-is-geregtig-tot-dit-en-ek-is-geregtig-tot-dat', kan onverwags so vinnig inkruip en jou weer verenig met die trotse-en selfregverdigende troon van 'EK.' Die Engels noem dit 'ENTITLEMENT'.

En dan; gebeur die lewe. En ook selektiewe goed, wat buite jou beheer is. Dit mors ewe skielik met jou geleerde teologie. Dit het geen genade vir joú oortuigings nie en soveel, as wat jy dit geestelik probeer 'hanteer', word dit net erger. Leë antwoorde en geïrriteerde frustrasie. Hoe kán hierdie dinge met my gebeur, vra jy jouself? En hoekom met mý? [Asof jy gevrywaar word van alle lewens-storms.]

Jou gemodeleerde 'formules' werk nou nie meer so mooi nie en jy trek dit persoonlik aan: 'Ek moet sekerlik iets verkeerd doen, of my geloof is nie genoeg, soos 'Pastor Bill' sin in Amerika nie.'

STOP. Kan jy net stilword vir 'n oomblik, asseblief Christen? Hersien net gou weer Jesus se afhanklike woorde in Johannes 5:19: 'Waarmee is My Vader nou besig in My lewe? En hoe werk Ek SAAM met Hom? [My eie verwerking]

Die fokus hiér, lê op 'SAAM'.

Die enigste dissipline, wat jou in volle ritme kan hou met God, is daaglikse, intieme dialoog. Net soos, wat Jesus moes doen met Sy Vader. Dit gaan jou dwing, om uit die 'formule-bootjie' uit te klim en Hom blindelings te kan vertrou vir iets heeltemal nuuts, wat elke dag op die water gaan aankom. Hy 'BLY' skeppend en Hy 'IS' nog steeds die Skepper. Hy sal verseker, en elke keer, iets nuuts na vore bring.

Hoe weet ek dit, vra jy miskien? [TERUG-IN-TYD-VANDAG] Wel, dit was nog net laas week, waar Jesus afgebuk en begin modder speel het met Sy spoeg, 'n handvol daarvan op jou blinde oupa se oë geplak het en nadat die 'putty' afgewas was, kon oupa toe helder sien! [Johannes 9:6] Gister weer, het Hy jou geliefde skoonma gevra, om haar bed op te tel en te begin loop, na 'n 38 jaar se bedlêende tronk. En sy het! Met groot vreugde. [Johannes 5:8]

Gisteraand om die kampvuur, toe ons 'choppies' en braai-broodjies geeët het, wou jou pa niks eet nie. Vir die derde dag nou al. Finansiële spanning glo. Ons weet ook van die SARS verrassing, wat laas week in die pos gekom het. Die keiser soek alwéér, wat hom toekom. In jou pa se erge bekommernis, vra Jesus hom toe, om gou 'n vis te gaan vang en wanneer hy dit uitgetrek het, sal daar 'n groot rôl oranje note in die bek van die vis wees. 'Betaal daarmee jou skuld, Johan. Kom dan terug en eet saam met ons 'n skilpadjie', was die Wonderwerker se woorde. [My eie verwerking] En dit het ook presies, net so afgespeel! Jou pa is 'n ander mens vandag, nie waar nie? Méér gelowig, as jy my sou vra. [Matthéüs 17:27]

Môre vra die Meester jou weer, om jouself sewe keer te gaan afwas in die Oranjerivier, net Noord van Prieska. Met verbasing, gaan jy sien, dat jou melaatsheid heeltemal weg is! En wag, daar is meer: Jou vel gaan so nuut wees, soos 'n jong kind s'n! Nie eers soos 'n volwasse soldaat se vel nie. [2 Konings 5:1-14]

God werk buite standaard formules. Nog meer - buite mensgemaakte formules. Hy kan nié in 'n vuurhoutjie-boksie gedruk word nie. Elke keer is anders.

Net só werk dit ook met jou lewens-storms, wat nie altyd met joú teologie gaan klop nie. Ja, ek glo ook; ons IS koninlik en konings-kinders daarby, maar ons is OOK Sy gesante, mede-werkers in die koninkryk en Sy EIENDOM. Ons behoort nie aan onsself nie. Hy kan met ons maak, nét wat Hy wil. En vir AL Sy eie doeleindes. Nie ons s'n nie.

Al beteken dit, dat jy met tye, in uitdagende omstandighede moet beland, wat jou gemaksone geweldig baie gaan bedreig en wat ook nie altyd te lekker is vir jou vlees nie, sodat God jou kan gebruik, om die ateïs wat oor jou pad kom, te kan bedien tot 'n besluit vir die ewige lewe. Wat is nou belangriker hiér: 'n Ongeredde man se siel, wat gered word en die ewigheid in God se boesem lê; of jou eie 'Christen reg', om as gelowige geen storms te hê nie? Wat leef nou weer verewig: Liggaam of gees? [Let wel: Diskresie oor die tipe storms is nodig. Ons het ook 'n opportunistiese vyand, wat baie kreatief kan wees! Johannes 10:10]

Indien dit vir jou moeilik is, om hierdie stelling te omhels, wil ek graag vir al die Nuwe Testamentiese apostels/dissipels van Christus in die getuiebank vra, hoe hulle elkeen, in die fleur van hulle lewens en ook toe later, dood is? Nog meer, hoe was hulle fisiese lewens-kwaliteit gewees, voor hulle dood?

Gun my om te sê, dat hierdie 'n baie omstrede en uitdagende stelling vir die 'voorspoed-teologie' gemeenskap is. Dit sal egter ook wees, want hulle is ook maar net nóg 'n 'formule' gedrewe beweging. Weekliks moet ek bybelse antwoorde en leiding verskaf aan verwarde lede, wat ook 'ge-name, ge-frame en ge-claim' het en absoluut niks in oorvloed ontvang het nie. 'Te min geloof?', vra hulle my klokslag. Of heel moontlik ook 'entitlement', wat God nooit sal behaag nie?

Hierdie is 'n uitspraak, wat aanvanklik lyk of dit 'n teenstrydigheid bevat, want God wil tog hê, dat dit met ons goed moet gaan en dat ons in oorwinning moet lewe [Johannes 10:10 en Jeremia 29:11], nie waar nie, maar by nader beskouing, is bostaande tog onverwags betekenisvol en waar. Dit is onvermydelik, dat kinders van God ook moeilike uitdagings in hul lewens gaan beleef. Ja, lewens-storms buite hulle beheer. Magteloos. Tye wanneer jy ook nie alles bymekaar gaan hê nie. Wat dan?

Waartoe, en waarop is ek as koninlike gelowige, geregtig?

Antwoord: God se teenwoordigheid. Sy intieme leiding. Deurbraak. Bemoediging. Die muur van vuur om my. 'n Verskansing van beskerming oor my. My Skild en my Pantser in die oorlog. 'n Hoëpriester. Die Herder wat intens omgee en sorg. En laastens, 'n baie kort tydjie op aarde, waar jy SAAM met God, Sy koninkryk kan uitbrei en bevorder - op Sy termes, en in Sy tyd, en in Sy vermoëns - of dit in die vuur is, soos met Daniël of op Jesus se bors, soos Johannes. Want Hy BESIT jou. Jy het geen eienaarskap meer oor jou nie. [Galásiërs 2:20] Hy het die regte. Hy is Heer.

In slot, JY is ook geregtig op die baie salige en verwelkomende woorde van ons Koning, eendag in die hiernamaals, wat sê: 'Mooi so, goeie en getroue dienskneg. Oor weinig was jy getrou, oor veel sal Ek jou aanstel. Gaan in, in die vreugde van jou Heer.' [Matthèüs 25:23]

GEBED:

'Vader God, gee my die genade, om aan die einde van MYSELF te kom. En hóú my daar, Heer. My begeerte is, dat wanneer U na my kyk, U net vir Christus sal raaksien. In die Naam van Jesus Christus, van Nasaret. Amen.'

Geskryf deur: hennie van der westhuizen

(info@paragonlife.co.za)

Gooi aan die ander kant


In albei gevalle waar Jesus vir die dissipels gesê het om weer die nette te laat sak, was dit nadat hulle die hele nag op die water spandeer het en niks gevang het nie. Hulle was dus reeds besig met die dinge wat hulle moes doen en gewoond was om te doen en tog het dit geen resultate opgelewer nie.

Tog die oomblik toe Jesus in die prentjie kom, toe is die voorsiening oorvloedig. 

Luk 5:4  En toe Hy ophou met spreek, sê Hy vir Simon: Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak om te vang.

Luk 5:5  En Simon antwoord en sê vir Hom: Meester, ons het die hele nag deur hard gewerk en niks gevang nie; maar op u woord sal ek die net laat sak.

Luk 5:6  En toe hulle dit gedoen het, het hulle ‘n groot menigte visse ingesluit; en hulle net wou skeur.

In bogenoemde deel, sien ons dat nadat Petrus geluister het na die preek wat Jesus uit die boot gedoen het, hy tog besluit het dat hy op Jesus se woord sou reageer omdat hy gehoor het dat Jesus met gesag gespreek het.

Jesus se woord is vandag nogsteeds net só kragtig asof Hy dit in hiérdie oomblikke tot ons spreek...die vraag is: “na wié se woorde luister ons in tye van beproewing?” Selfs nou terwyl die “lockdown”-periode verleng is en dit nog 'n veel groter impak op mense se finansies tot gevolg het en ook nog meer vrees by mense aanwakker, na wié se stem gaan jy as kind van God kies om te luister? 

Ons lees dan ook heel aan die begin nadat sonde in hiérdie aarde gekom het en die mens skielik besef het dat hy naak is, dat God ook aan die mens die vraag stel: “wié het jou dit te kenne gegee?” 

Gen 3:10  En hy antwoord: Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg.

Gen 3:11  En Hy sê: Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is? Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie?

Dit is só maklik om God se woord aan te haal in tye wat dit goed gaan of wanneer ons omstandighede gemaklik is en dinge normaal voortgaan...woorde soos: “Hy sal jou nooit verlaat of in die steek laat nie, God is gister, vandag en tot alle ewigheid dieselfde en niks is by God onmoontlik nie”...maar is dit waaraan jy vashou as jou hele lewe binne een dag omgekeer word?

In die tweede geval waar Jesus die dissipels weer vra of hulle iets gevang het, sien ons dat Hy hulle beveel om op presies dieselfde plek weer die nette in te gooi. Baie dikwels wil ons só graag uit ons omstandighede kom of wil ons hê dat die Here dit verander, maar dan lê ons antwoord eintlik reeds binne ons huidige omgewing of situasie.

Dié antwoord of oplossing lê egter in die antwoord wat Jesus gee: “gooi aan die anderkant”...somtyds verg dit net bloot 'n doelbewuste keuse om anders na 'n situasie te kyk of selfs ons ingesteldheid daaromtrent te verander, wat dan die deurbraak bring.

Joh 21:6  En Hy sê vir hulle: Gooi die net aan die regterkant van die skuit, en julle sal kry. Hulle het toe gegooi en deur die menigte van visse was hulle nie meer in staat om dit te trek nie. 

Ken van die groot sleutels tot deurbraak in mense se lewens is dankbaarheid en om vergenoegd te wees met jou omstandighede! 

Fil 4:11  Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is.

Fil 4:12  Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.

1Tim 6:6  Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins.

1Tim 6:7  Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie.

1Tim 6:8  Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.

 Daar is baie dinge in ons lewens, soos die “lockdown”, wat ons niks aan kan doen om te verander nie, maar die wyse waarop ons daarna kyk of dit hanteer, gaan bepaal of dit ons paniekbevange laat en of ons meer as oorwinnaars daardeur sal kom!

 GEBED:

Onse Vader wat in die hemel is, laat U naam geheilig word en laat U koninkryk kom...in die hemel en netso ook op die aarde, gee ons vandag ons dag se brood en laat ons nie in die versoeking kom nie. Pappa, help ons dat ons na U stem sal luister en nie na die geraas van die wêreld nie, juis omdat ons weet dat U woord waarheid is en dat U ons nooit in die steek sal laat nie...amen!

 Geskryf deur: ernest phillipson

(ecp@oicb.co.za)

Leer my die weg!


Psalm 119:33-40: "HERE, leer my die weg van u insettinge, sodat ek dit tot die einde toe kan bewaar. Gee my verstand, dat ek u wet kan bewaar, ja, dit kan onderhou van ganser harte. Laat my wandel op die pad van u gebooie, want daarin het ek ‘n behae. Neig my hart tot u getuienisse en nie tot winsbejag nie. Wend my oë af, dat hulle geen nietigheid sien nie; maak my lewend in u weë. Vervul aan u kneg u belofte wat pas by u vrees. Wend my smaadheid af wat ek vrees, want u verordeninge is goed. Gewis, ek het ‘n begeerte tot u bevele; maak my lewend deur u geregtigheid."

In die tyd waarin ons ons tans bevind, hier kort voor die koms van ons Here Jesus Christus, is dit belangriker as OOIT vantevore in die geskiedenis dat ons die Here sal vra om ons die weg van Sy insettinge te leer, juis sodat ons dit in ons lewens kan bewaar tot die einde toe.

En om die Here se insettinge, Sy voorskrifte, Sy gebooie te kan bewaar tot die einde toe, het ons verstand nodig, geestelike insig wat net Hy ons kan gee deur Sy Heilige Gees. En ons moet Hom juis vra vir daardie insig en verstand, want deur dit sal ons weet HOE om Sy insettinge te onderhou en te doen.

As ons die Here verder vra om ons te laat wandel op die pad van Sy gebooie, sal Hy dit doen deur ons deur Sy Heilige Gees leiding te gee, volgens Romeine 8:14. Want op hierdie pad vind ons volgens 1 Johannes 5:3 dan uit dat Sy gebooie nie swaar is nie, en word dit iets waarin ons ons satisfaksie en plesier kan vind om 'n goeie lewe te lei.

En as die Here my so deur Sy gees lei, gaan die Here se getuienisse in Sy Woord, en Sy weë, vir my baie belangriker raak as enige winsbejag of die begeerte na fisiese wêreldse dinge, en sal my oë nie "rondkyk" na nietige dinge wat geen geestelike waarde vir my het nie.


Verder lees ons in die Woord dat die vrees van die Here die beginsel van alle wysheid is (Psalm 11:10), en kan ons dus ook die Here vra om aan ons die belofte van die vrees van die Here in ons lewens te vervul, dat ons ook daagliks daardie wysheid salhê. Dit sal tot gevolg hê dat ons sal afwyk van die kwaad en sal haat wat sleg is.

En as ons lewend gemaak word na God se weë, dan sal die skandes van ons sondes (smaadhede) ook van ons afgewend en weggevat word, juis omdat die Here se verordeninge net goed is.

As ons leer om self 'n opregte begeerte te hê tot die Here se bevele, sal Hy ons ook lewend maak na Sy geregtigheid. Vir 'n verduideliking van waaroor God se geregtigheid werklik gaan, kyk gerus na hierdie YouTube video van my: https://youtu.be/-BPar29HzDo

Mag ons dus elkeen in hierdie week kies om die Here te vra om ons lewend te maak na Sy weë en na Sy geregtigheid, want ons Jesus se koms is BAIE naby!

GEBED: 

"Vader, leer my asseblief elke dag deur U Heilige Gees U weë en U insettinge, en maak my lewend na U Woord en U geregtigheid, in Jesus Naam. Amen."
 
 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...