Tuesday 7 July 2015

God wil ons dubbel vergoed! Sag 9:12


Image result for God seen jou


Ons is in die moeilikheid. Ons is in die Vallei van Agor, die vallei van moeilikheid, van beroering. Dis so erg dat mens nie eers aan die toekoms kan dink nie.

            Maar in Hosea 2:14 sê die HERE: Hierdie Vallei van Agor is juis ons deur van hoop.
            Dit is vir sommige van ons ‘n probleem om vir onsself uit te werk... die feit dat hierdie moeilikheid waarin ons is, nie deur ons as moeilikheid gesien moet word nie, maar as ons Deur van Hoop!
            Oordink hierdie woorde: “Hierdie Vallei van Agor is eintlik ons deur van hoop”. Dink dag en nag daaraan, noem dit in elke gebed. Leef in afwagting. Wees soos ‘n kind wat deur sy ma ‘n roomys beloof is. Dis al waaraan hy dink en waaroor hy praat, hierdie nuwe hoop.
            Omdat ons nou weet dat daar hoop is, moet ons terugkeer na die “Hoopvolle Vesting” (hoekom?) want God wil ons dubbel vergoed! Sag 9:12
            God wil dat ons as mense, as Sy kinders, hoop op ‘n aaneenlopende grondslag moet beleef en geniet. Nie hoop soos in “dalk” nie, maar hoop soos in “toekoms-feit”, want God sê daar is hoop.
            God sê hierdie Agor is nie wat ons sien en beleef nie, dis eintlik ons Deur na Hoop! Sien, hoor en praat nie meer oor die moeilikheid nie want vir ons is dit nie moeilikheid nie, vir ons is dit ‘n Deur van Hoop!
            Die Almagtige God is die God van hoop. Hoop is een van die gawes wat God aan ons skenk, vandaar ook die Afrikaanse spreekwoord dat “die hoop sal nooit beskaam nie!”
            Nogtans verval ons soms in wanhoop en word ons mismoedig.
            Mismoedigheid  is veronderstel om vir die Christen ‘n kortstondige moment te wees op pad terug na hoop.
            Ons het hoop as integrale deel van ons bestaan nodig want ons kan nie sonder hoop lewe nie.
            Sonder hoop voel dit vir ons of die lewe nie die moeite werd is nie.
            Wanneer ons hoop het, dan voel ons soos wat God ons gemaak het. Sonder hoop voel ons soos ‘n regte ou nikswerd – totdat ons besef, daar is hoop!
            Daar is hoop! Dit maak nie saak wat jou omstandighede is en watter probleme jy in die gesig staar nie: Daar is beslis hoop. Solank jy nog lewe en asemhaal is daar hoop.
            Omstandighede kan verander. “Want solank iemand by al die lewendes behoort, is daar hoop.” – Pred. 9:4.
            “’n Lewendige hond is beter as ‘n dooie leeu.” – Pred. 9:4.
            Luister weer, wat jou omstandighede ook al mag wees, al staar jy die dood in die gesig, is daar hoop.
            Al het jy jouself afgeskryf en heeltemal moed opgegee, is daar hoop, want jy is heel waarskynlik in jou huidige situasie omdat jy jouself daarin geplaas het.
            Onthou, ander mense raak ook mismoedig, soos Koning Salomo. Hy was die mees wyse man wat ooit geleef het.  Hy was ‘n magtige koning, en selfs hy net by ‘n plek in sy lewe gekom waar hy gevoel het dit beter sou wees om liewer dood te wees. – Pred. 4: 1-2.
            Selfs Dawid het in wanhoop verval in Ps. 142:3.
            Natuurlik kom daar tye en omstandighede in ons lewens wat ons spreekwoordelik op moedverloor se vlakte laat sit. Ons kan maar daar sit, maar hoop verlaat ons nooit nie. Daar is altyd hoop, want God het dit beloof!
            As jy moedverlore sou word, dink maar daaraan dat jy in belangrike geselskap soos die van Koning Salomo en Koning Dawid is.
            Daarom durf ons nie in ‘n staat van ontmoediging bly nie. Ons moet die kole van hoop aanblaas tot ’n magtige hoopvolle vuur.
            Jy mag redeneer dat dit moeilik is om begrip vir bovermelde redenasie te hê.
            Dink weer ‘n keer: Daar is mense wat sê hulle sal sterwe vir Christus. Klink nogal edel né. Die waarheid is dat God nie verlang dat jy vir Hom moet sterwe nie, maar juis vir hom moet Lewe!
            Lewe om ander te bemoedig. Lewe om die gevangenes en die siekes te besoek, die ellendiges op te help, jou man, jou vrou, jou kinders lief te hê, die Lewegewende Evangelie te verkondig, om Christus voor die mens te bely.
            Waar daar lewe is, is daar hoop, sê ons altyd. Maar selfs in die dood is daar hoop want ‘n Christen gaan nie dood nie, hy het die Ewige Lewe.
            In die Vallei van Agor gaan alles tot niet, maar Hoop lei tot verandering, tot restourasie, tot nuwe lewe, tot nuwe moed, ‘n nuwe visie, ja, tot ‘n totale metamorfose!    
            Verandering verwyder die haat, die nyd en die liefdeloosheid uit jou lewe.  Hoop herstel huwelike.
            Hoop sê: “Staan op, neem jou bed op en loop!” – John. 5:8.
            Die besluit om hoop te aanvaar berus egter by jouself. Jy moet die keuse maak.
            Hoop sê:  “As jy (as Christen gestruikel het) jou sondes bely, Hy is getrou en regverdig om jou, jou sondes te vergewe, en (boonop) jou van alle ongeregtigheid te reinig. – 1 Joh. 1:9.
            Heb. 7:19 sê:  “… daar is die invoering van ‘n beter hoop waardeur ons tot God nader.”
            Hoop sê in Sag. 9:12: “Keer terug na die vesting o hoopvolle gevangenes! Ook kondig Ek vandag aan dat Ek jou dubbel sal vergoed!”
            Hoop sê in Klaagl 3:21-26: “Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop:  dit is die goedertierenheid van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want Sy barmhartigheid het geen einde nie (let op:  geen einde nie); dis elke more nuut; U trou is groot!
            “Die HERE is my deel, sê my siel, daarop sal ek op Hom hoop. God is die HERE vir diegene wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek. Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE!”
            Hoop sê in Heb. 6:18-19: “Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename (dis ek en jy as Christene) van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met ‘n eed gewaarborg:
            “Sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê; en ons het dit as ‘n anker van die siel, wat veilig en vas is en ingaan tot die binnekant van die voorhangsel.”
            Dit is noodsaaklik dat jy ‘n studie maak van Heb. 6.  Dit staan bekend as die hoop hoofstuk.
            In Joël 2 doen hoop ‘n ernstige beroep tot bekering, want daar is hoop en in Joël 2:25 kom die genadige en regverdige God en sê hy sal diegene wat terugkeer na die hoopvolle vesting vergoed vir die jare wat die sprinkane verslind het.
            Komaan, glo God, beweeg deur die Deur van Hoop ‘n nuwe toekoms binne. – Sjibbolet

Indien jy geestelike berading of gebed benodig, kontak my, belindapaar@gmail.com

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...