Monday 22 October 2018

Wat doen ek as mense my haat?

Image result for someone jumping with joy

 SPRING OP EN WEES BLY!

“Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens. Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel…” (Lukas 6:22,23)

Dalk is dit hoe dit daagliks of weekliks daar by jou werk gaan, of selfs in jou huwelik, of in jou familie. Moontik word jy ook gespot, verkleineer of sleggesê omdat jy opstaan en standpunt inneem vir Jesus Christus. Moontlik word jy ook verstoot en beledig en jou naam ook weggegooi soos iets wat slegs is, ter wille van Jesus Christus in jou lewe.

Moenie dat dit jou onderkry nie. Glad nie. Inteendeel.

Lees gerus wat sê die Bybel wat jy in werklikheid moet doen wanneer so iets met jou gebeur – wees bly en spring op! Hoekom? Want jou loon is groot in die hemel! Nie hier op aarde nie. Hier is dit nie lekker wanneer so iets met jou gebeur nie, maar eendag wanneer ons voor die Troon van Jesus staan en ons beloning van Hom ontvang daarvoor, sal al die pyn en emosies as gevolg daarvan hier op aarde, totaal vergete wees.

Ek wil graag hê jy moet bemoedig word hierdeur, dat jy mag weet dat alhoewel dit in die huidige nie baie lekker is om hierdie dinge te beleef nie, dat dit uiteindelik ewige belonings vir jou tot gevolg sal hê.

Gebed:

Vader, ek kom na U in die Naam van Jesus Christus en ek dank U dat ek bemoediging daaruit kan ontvang wanneer mense my verstoot en beledig en my naam weggooi soos iets wat slegs is, ter wille van die Here Jesus Christus in my lewe. Dankie dat ek mag weet dat dit beteken dat my loon in die hemel eendag groot sal wees as gevolg daarvan. Leer my net om hulle wat my so vervolg, te seën en steeds lief te hê, net soos wat Jesus dit gedoen het. Amen.

(tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

Monday 15 October 2018

Eet die Brood!


Joh 6:32  En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, dit is nie Moses wat die brood uit die hemel aan julle gegee het nie, maar my Vader gee julle die ware brood uit die hemel.

Joh 6:33  Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee.

Joh 6:34  Toe sê hulle vir Hom: Here, gee ons altyd hierdie brood.

Joh 6:35  En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.

In hierdie deel lees ons dat die skare mense van Jesus 'n teken vra sodat hulle in Hom kon glo en herinner hulle Hom aan die manna wat hul voorvadders in die woestyn, uit die hemel ontvang het. Jesus herinner hulle daaraan dat die brood uit die hemel van God af gekom het en nie deur die hand van Moses nie.

Dan gaan Hy voort en maak hierdie stelling dat Hy die ware brood is wat volkome kan versadig en dat elkeen wat van Hom eet en in Hom glo, nie verlore sal gaan nie. Dit was natuurlik 'n vreeslike woord vir die mense om te aanvaar, aangesien die werklike betekenis daarvan vir hulle verborge was.

In Openbaring lees ons dat Jesus in werklikheid ook die lewende Woord van God is. Dit beteken dus dan dat as ons Jesus as brood moet eet, dat ons die Woord van God moet “eet” deur dit te bestudeer en te glo, elke dag van ons lewens!

Opb 19:11  Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.

Opb 19:12  En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self.

Opb 19:13  En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God.

Toe Jesus deur Satan in die woestyn versoek is en hy aan Jesus voorgestel het om brood van die klippe te maak omdat Hy honger was, het Jesus hom terug verwys na dit wat geskrywe was in Deut 8: 3...dat die mens nie net van brood sal lewe ne, maar van elke woord wat uit God se mond gaan. Dit was dus alreeds 'n heenwyser na Jesus Christus as die enigste Weg na die ewige lewe.

Deu 8:3  En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan.

As ons dan na die wetenskaplike sy gaan kyk van wat met brood gebeur sodra dit in die mens se maag volkome verteer is, dan sien ons dat dit deur die hele liggaam versprei word en dat dit dan wetenskaplik onmoontlik is om dit te kan onderskei as weefsel geneem en ondersoek word.

Net só is die Woord van God veronderstel om só deel van ons hele lewenswandel te moet wees, dat ons ononderskeibaar van Christus sal wees!

In die boek van Spreuke lees ons dan ook dat as ons die Here só intiem ken en in verhouding met Hom lewe, sal dit ook vir ons genesing wees!


Spr 3:5  Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.

Spr 3:6  Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.

Spr 3:7  Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad;

Spr 3:8  dit sal genesing wees vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente.


Liewe leser, "eet" jy al op hierdie wyse van die Brood van die Lewe?


Gebed:  Vader gee my asseblief 'n nuwe honger vir die ware Brood van die lewe en Heilige  Gees, bring my in 'n meer intieme verhouding met die Heilige en Almagtige God, Jesus Christus van Nasaret...Amen!


(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys



Monday 8 October 2018

Profete vir die nasies


(Jeremia 1:4,5): - “Die woord van die HERE het dan tot my gekom en gesê: Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot ‘n profeet vir die nasies gemaak. Toe het ek gesê: Ag, Here HERE, voorwaar, ek kan nie praat nie, want ek is jonk. Maar die HERE het vir my gesê: Moenie sê: Ek is jonk nie; want na wie Ek jou ook al stuur, moet jy gaan; en wat Ek jou ook al beveel, moet jy spreek.”

Het jy al die bogemelde teksverse mooi bestudeer? En het jy dit al vir jouself toegeëien? Want alhoewel mense kan argumenteer dat dit in die “konteks” eintlik op Jeremia van toepassing sou wees, het ek geen twyfel dat die Here dit ook vir JOU en MY sê nie, ongeag wat jou naam is.

Daar sien ons ‘n paar interessante dinge waarvan elkeen van ons beslis moet kennis neem. Eerstens sien ons dat God elkeen van ons geken het reeds van voor ons geboorte af al, en dat Hy ons aangestel het as profete vir die nasies. Hoekom? Want Sy opdrag in Mattheus 28:19 is immers dat ons moet gaan dissipels maak van al die nasies. Jou skeppingsdoel op hierdie aarde is dus nie om bloot maar net ‘n sekretaresse te wees nie, of ‘n dokter, of ‘n meganikus, of ‘n onderwyser, of ‘n ingenieur nie.

Nee, jou ware skeppingsdoel is om ‘n profeet te wees vir die nasies wat elke dag deur jou kantoor stap, of deur jou werkswinkel, of deur jou spreekkamer, of deur jou klaskamer. Om hulle aan te raak met die liefde van Jesus. Jy is dus nie sommer maar net hier op aarde om geen bydrae tot God se Koninkryk te maak en eendag te sterf nie. Maak nie saak hoe gering dit ookal mag wees wat jy doen nie, moenie dink jy is nie goed genoeg nie. God sê jy is goed genoeg vir HOM.

Verder lees ons daar dat die Here sê na wie ookal Hy ons stuur, moet ons gaan, en wat Hy ons ookal beveel, moet ons spreek. Mag ek en jy dus in hierdie nuwe week gehoorsaam wees aan ons skeppingsdoel en ook daardie opdragte van die Here.

Gebed:

“Vader, baie dankie dat U my waardig ag om my as profeet vir die nasies rondom my te gebruik. Gee my asseblief U krag om te gaan na wie U my ookal beveel om te gaan, en om te spreek met wie U my ookal beveel om te spreek. Ek bid dat U alleen verheerlik sal word in my lewe in hierdie week. In Jesus Naam bid ek dit. Amen.”

(tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys



Monday 1 October 2018

Jesus Christus ons Groot Hoë Priester



Hebreërs 4:14 – 16 “Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.”

Jesus as ons Hoëpriester is een van die kosbare waarhede waardeur ons groei tot  volwassenheid en wat ons in intimiteit nader aan Hom trek. Wanneer ons die grootheid van Jesus in hierdie amp besef word ons standvastigheid versterk. Heb 4:14 “Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou.” Belydenis is dit wat jy spreek en verklaar. Jesus was heeltemal suksesvol is Sy opdrag en missie van verlossing. Hy kom en sterf as offer vir ons sonde. Hy het opgestaan in oorwinning oor die sonde en die dood. Hy het opgevaar na die hemel en sit in die gesagsposisie van outoriteit, aan die regterhand van Vader. Omdat ons dít weet, het ons ‘n groter rede om standvastig te bly in ons belydenis van hoop in Hom.

Verder, ons Hoëpriester is nie verwyderd en onsimpatiek teenoor ons behoeftes en swakhede nie. Heb 4:15(a) “Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie,” Die vyand het al sy versoekings tegnieke teen Jesus gebruik. Jesus het dit wat jy deurgaan ook deurgaan, dit waarmee jy versoek word is Hy mee versoek. Nog ‘n feit van groter belang en waarheid is dat Hy nooit ingegee en toegegee het nie. Heb 4:15(b) “maar sonder sonde.” So, Jesus verstaan nie net ons geveg nie, Hy gee ook die oorwinning.

Hierdeur het ons die reg om Vader te nader, deur ons Hoëpriester, sonder twyfel of vrees om die hulp te ontvang wat ons nodig het. Heb 4:16 “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” Ons God regeer die hemel en aarde vanaf ‘n troon van genade. Hierdie genade kan net verstaan word deur die wat onder Sy nuwe verbond van genade leef. Hierdie genade is genoeg om die wat tot Hom gaan te regverdig en te heilig, die wat in nederigheid op Hom vertrou. Die genade hier is nie vir die aanvanklike redding nie maar dit is tot die redding van die verlostes wanneer hulle van hulle tekortkominge bewus word. Ek en jy word genooi om nader te kom, Vader te nader op ‘n intieme wyse, deel te hê in Sy volheid ten spyte van ons tekortkominge.

“Here Jesus, my Hoëpriester, ek loof en eer U vir U grootheid. U is groot in verstaan, omgee, oorwinning en genade. Soos ek nader aan U kom verwag en aanvaar ek dat U genade genoeg is om in my tekorte te voorsien. Amen.”

(cobus van heerden - cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys


Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...