Thursday 17 December 2015

God se Sleutel

Image result for die onse vader gebed
Mag die VREDE VAN GOD wat alle verstand te bowe gaan oor jou kom en met jou wees.
Ek wil graag begin met ‘n gebed soos opgeteken in Mattheus 6 vers 9 tot 13.

Onse Vader wat in die hemele is,
Laat U Naam geheilig word;
laat U Koninkryk kom;
laat U wil geskied –
soos in die hemele net so ook op die aarde;
gee ons vandag ons daaglikse brood;
en vergeef ons ons skulde –
soos ons ook ons skuldenaars vergewe;
en lei ons nie in versoeking nie,
maar verlos ons van die bose.
Want aan U behoort
die Koninkryk
en die Krag
en die Heerlikheid
tot in ewigheid.
Amen
Hierdie gebed is deur Jesus aan ons gegee as die model gebed en ek glo dat alle gebede deur God gemeet word aan hierdie gebed. So kom ons kyk ‘n bietjie na wat ons hier bid. Wat is die riglyne waarvolgens ons moet bid en wat is die sleutel wat Jesus hier vir ons gee!

Onse Vader wat in die Hemele is, laat U Naam geheilig word, laat U Koninkryk kom, laat U wil geskied, soos in die hemele, so ook op die aarde
Hier erken ons God as ons Vader en ons erken Sy heiligheid en Heerskappy ook in ons (aarde). Adam is uit stof gemaak daarom is ons ook aarde. God se Koninkryk is Sy Heerskappy in ons lewens. Daarom sê Jesus in Mattheus 6:33 “Soek eers die Koninkryk van God en Sy geregtigheid en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word”.  
Kom ons kyk kortliks na die Koninkryk waarvan Jesus hier praat. Soos ek reeds gesê het, is God se koninkryk, Sy heerskappy of outoriteit in my lewe hier op aarde. 

Wat is díe outoriteit? Dit is Sy kragwerking gemanifesteer in my lewe. Dit is ‘n mondvol en wat sê ek nou eintlik?
Jesus sê aan Nikodéumus: “Voorwaar,voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, sal hy die koninkryk van God nie sien nie.” (Johannes 3:3) Op verskeie ander plekke praat Jesus van die koninkryk en in Matthéus 3:2 sê Johannes die doper: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.”
Hoeveel van ons het groot geword met die denke dat hierdie koninkryk en die hemel dieselfde is. Dit is weereens ‘n leuen van satan.

God se koninkryk is Sy outoriteit wat Hy vir ons gee in Markus 16:17: “En vir die wat geglo het, sal hiedrie tekens volg: In My naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek.” Jesus het die volgende opdrag gegee: “En gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom. Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit.” (Matthéüs 10:7 & 8).
Hoe sal ek en jy dit kan doen sonder God se gesag en outoriteit in ons? Nou raak dit meer duidelik waarom satan wil he dat ons moet glo dat die koninkryk en die hemel dieselfde plek is. As ons God se koninkryk verstaan en daarvolgens begin lewe en opereer, word ek en jy ‘n gevaar vir satan, want ons het nou die Goddelike krag om mense te bevry van die leuens waarmee hy hulle vasgemaak het.
Van watter ander dinge praat Jesus verder in Sy gebed? Kom ons kyk.

Gee ons vandag ons daaglikse brood 
Sorg vandag vir ons en voorsien vandag in al ons behoeftes. God wil vir my en jou sorg en voorsien net soos Hy aan die Israeliete voorsien het in die woestyn Sinaí. Ek lees niks hier van môre en oormôre nie. Jesus sê: “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.” (Matthéüs 6:31 – 32). Beteken dit dan dat ons maar op ons louere kan rus en God sal voorsien? NEE verseker nie.
Kom ek vra jou gou: Toe die engel van God by Gideon gekom het (Rigters 6 : 11) wat was Gideon besig om te doen? Was hy nie besig om koring uit te slaan nie? Het hy nie gewerk nie?
Kom ons kyk na koning Dawid. God stuur die profeet Samuel om ‘n koning te gaan salf nadat Saul HOM teleur gestel het soos opgeteken in 1 Samuel 16. God stuur Samuel na die huis van Isai om ‘n koning te gaan salf. Nadat Samuel by die seuns van Isai verby gegaan het vra hy: “Is dit al die seuns? En hy (Isai) sê, Die kleinste is nog oor, en kyk, hy pas skape op.” Dawid was ook besig om te werk.
Is dit toevallig dat die grootste van die rigters en die grootste aardse koning van alle tye besig was om te werk toe God hulle roep? Verseker nie. Jesus gee vir ons hier ‘n sleutel van hoe God se voorsiening werk.

En vergeef ons ons skulde (sonde) 
God het vir jou en vir my onsettend lief maar Hy haat sonde met alles wat in Hom is. Sonde bring verwydering tussen Hom en ons. Sy liefde en die liefde van Jesus vir ons het gemaak dat Jesus die volle prys vir ons sonde betaal het aan die kruis en daarom kan ons skoon en vry van sonde voor God staan en die hemel ingaan as ons sterf.
Wat moet óns egter doen, my liewe Belinda? Wat verwag God van ons? Ja, Jesus sê “gaan en sondig nie meer nie”. Dit moet ons daagliks nastreef – en Hy help ons daarin. Maar is daar nog iets? Stel óns moontlik voorwaardes oor hoe GOD ons moet vergewe?  Kom ons kyk verder.

Soos ons ook ons skuldenaars vergewe 
Wat bid ons eintlik hier? Is die in gewone taal nie miskien “Vader moet asseblief nie my sonde vergewe totdat ek almal vergewe, vryspreek en vergeet van dit wat hulle aan my gedoen het nie. Jesus ek weet dat U vir my gesterf het maar ek kies om U nie as my verlosser en saligmaker te aanvaar nie. Ek kies om hierdie onvergewens gesindheid as skeiding tussen ons te hou. Ek kies om nie deel te hê aan U en U beloftes nie. Ek kies om U woord nietig te verklaar. Jesus ek kies om U te verloën. Ek kies die hel bo die hemel! 

Om jou skuldenaars nie te vergewe nie is sonde. Haat in watter vorm ook al is ‘n teken van onvergewens gesindheid en is sonde. Bitterheid is sonde. ‘n Gesindheid van “ek sal vergewe maar ek sal nie vergeet nie”, is sonde. Met hoeveel van ons is dit dat ons sê ons vergewe iemand maar die volgende misstap wat daardie persoon gee, is alles wat ons “vergewe” het weer terug en gebruik ons dit weer in ons argumente. My liewe vriend / vriendin, het jy werklik daardie persoon vergewe as jy dit wat hy / sy gedoen het nie kan of wil vergeet nie? Jesus sê in Mattheus 7 : 1 “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie!” Baie van ons is vinnig om te ontken dat ons ander oordeel. Is jy eg my liewe Belinda of is dit skynheiligheid? As jy oordeel, het jy nog nie vergewe nie! Onthou God sien jou hart naak en oop voor Hom en jy kan Hom nie “bluff” nie. Net jy en Hy sal weet of jy werklik vergewe het. Ek pleit by jou, gaan maak seker of jy werklik almal vergewe het. Vra Pa om jou te help hiermee en ook om jou te help om te vergewe en te vergeet.
Ons plaas sélf ‘n skeiding tussen GOD en ons met onvergewens gesindheid!

En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose 
As jy in die lig wandel sal jy duidelik God se wil en pad vir jou lewe sien. Jy sal met die oë van Jesus kyk en versoekings van ver af raaksien. Sy koninkryk (heerskappy) in jou lewe sal jou onmiddelik laat regeer oor dit wat jou wil versoek en jy sal oorwin. Jesus het satan reeds oorwin en hy (satan) is gebonde in duisternis waar hy rondloop soos ‘n brullende leeu op soek na wie hy kan verslind. As jy in God se lig wandel kan satan jou nie verslind nie. Jy moet egter kies waar jy wil wandel.

Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in alle ewigheid
 Aan God behoort die koninkryk (heerskappy). As ons suiwer voor God is, het ons deel van hierdie heerskappy. Hy sê in Openbaring 1 : 6 “en ons gemaak het konings en priesters …”. 
 Die krag waarmee ons dinge doen, behoort aan Hom.
Paulus sê: “Uit myself is ek tot niks in staat nie, maar ek kan alles doen deur Hom wat my die krag gee!”.
Terwyl ek eendag in gesprek met God was vra ek: “Vader, ek lees in Openbaring van die 24 ouderlinge wat voor U is en op hulle gesigte neerval en uitroep, Heilig, Heilig is die Here ,,,. Dit is al wat hulle doen, van voor die begin van tyd af en hulle sal dit nog steeds doen as tyd reeds verby is. Word hulle nie moeg nie?” My liewe Belinda, weet jy wat het Pa my geantwoord (seker met ‘n glimlag om sy mond)?
“My seun” sê Hy, “elke keer as die ouderlinge opkom sien hulle ‘n ander faset van My en My heerlikheid wat so oorweldigend is dat hulle weer op hulle gesigte neerval. My Heerlikheid vervul hulle behoeftes.” Daarom is daar ook geskrywe; “God sal alle behoeftes vervul na die rykdom van Sy heerlikheid.”
AMEN

LAAT DIT SO WEES.
Dit is wat die woord amen beteken. Laat die volle implikasie van die gebed op my van toepassing wees. Nie net die sëen nie maar ook die keuses wat ek in die gebed maar. Ek aanvaar dit so.
My liewe Leser, AMEN is soos jou handtekening wat jy op ‘n kontrak aanbring. Jy verklaar dat jy so tevrede is.
Ek vra jou, moet nie net bid en mooi en vroom woorde spreek nie. Jesus sê
in Mattheus 12 : 36 & 37: “Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.” Geen wonder dat Salomo in Spreuke sê dat die mag oor lewe en dood in die tong lê nie!!! Valse woorde (gesindheid) bring veroordeling.

My liewe Leser, Doen asseblief ‘n ernstige selfondersoek. Maak klaar met die dinge wat skeiding bring tussen GOD en jou. Bely jou sonde teenoor Hom en aanvaar Sy vergifnis. Die sleutel wat Jesus ons gee in Sy gebed is onvoorwaardelike vergifnis. Jy moet volkome vergewe om vergewe te kan word. Hy het 100% gesterf vir jou en jy moet 100% vergewe. 100% is 100%. Nie onderhandelbaar nie!! Dit staan op die tjek waarmee Hy jou gekoop het. Wat staan op jou lewens tjek aan Hom?
Ek bid graag vir jou die gebed soos op die volgende bladsy. Weet dat God jou onsettend lief het en jou wil vergewe.
“Vader, ek kom vandag na U in die naam van Jesus Christus. Ek wil U loof en eer as my God en Heer. Dankie vir die voorreg dat ek U kind kan wees en dankie Jesus dat U vir my sonde aan die kruis gesterf het. Dankie dat U my leer bid het en dankie vir die voorreg dat ek nou ook kan bid vir my vriend of vriendin wat hierdie artikel lees.
Vader, ek bring nou vir my vriend / vriendin voor U. Ek wil U vra Here dat U aan hom/haar sal uitwys alles wat nou skeiding bring tussen U en hom/haar. Here as hy/sy nog nie 100% seker is dat hy/sy U kind is nie, vra ek nou in die naam van Jesus Christus dat U hom/haar sal aanneem as U kind. Ek vra Here dat U sy/haar sonde sal vergewe en hom/haar sal skoonwas met die bloed van Jesus sodat hy/sy volkome rein voor U kan staan. Here U sê in U woord dat ons ons skuldenaars moet vergewe. Vader ons kan dit nie doen sonder die hulp van Heilige Gees nie. Daarom vra ek U, Heilige Gees, om my vriend/vriendin te help om te kan vergewe. Ek weet dat ander mense hom/haar baie seer gemaak, bedroef, teleurgestel of skade berokken het. Dit was baie keer iemand wat hy/sy lief voor is of was en dit is hoekom dit so seer is. Jesus noem U die trooster en daarom vra ek U om vertroosting te bring. Ons blameer baie keer iemand wat gesterf het op ‘n tydstip wat ons hulle baie nodig gehad het of ons miskien nie die kans gehad het om dinge tussen ons reg te stel nie. Ek vra U Here dat U elkeen sal help om te vergewe en vry te spreek want dit is die sleutel wat Jesus aan ons gegee het. Here wys aan hom/haar uit wie daar nog is wat hy/sy moet vergewe”.

My liewe Leser, ek wil jou vra om die volgende gebed hardop te lees:

“Vader, ek kom na U in die naam van Jesus Christus. Ek verklaar opnuut dat Jesus my verlosser en saligmaker is en ek aanvaar Sy bloed as my reinigings middel. Ek bely nou alles wat ek verkeerd gedoen het teenoor U en my medemens as sonde en ek vra dat U my sal vergewe in die naam van Jesus en dat U my sal skoon was in die bloed van Jesus. Dankie Vader dat ek nou kan weet dat ek U kind is. Here U sê dat ek my skuldenaars moet vergewe en daarom bring ek nou elkeen wat iets teen my gedoen het voor U en ek vergewe hulle en spreek hulle vry in die naam van Jesus. Ek vergewe ook die wat ek nie meer kan onthou nie Here, en vra dat U aan my sal uitwys wie of wat nog tussen ons staan. Here ek vra dat U ‘n wag voor my mond sal plaas. Here vergewe my ook vir al die woorde wat ek verkeerdelik gespreek het, in woede, of in watter omstandighede ookal. Vergewe my daarvoor en dankie dat ek kan weet dat U dit nie meer teen my hou nie. Here, ek kies nou om my hele lewe aan U te gee, my liggaam, my siel en my gees. Ek vra dat U sal manifesteer in my lewe, gedagtes, optredes, denke, redenasies, ens. so dat die wereld kan sien dat ek u kind is. Dankie Here vir U liefde wat my gered het en dankie dat U my sal help op my pad vorentoe. Here, ek aanvaar verantwoordelikheid vir alle aspekte in my lewe, as die koning wat U my gemaak het. Dankie dat U my gaan help om te regeer oor myself en my omstandighede. Dankie dat ek meer as ‘n oorwinnaar in U kan wees.
AMEN”

My liewe Leser, baie dankie vir die voorreg dat ek hierdie tydjie met jou kon spandeer. Ek bid dat die Here met jou gepraat het deur hierdie stukkie wat ek met jou kon deel. Gaan die toekoms met blymoedigheid tegemoed. Jou lewe en lewens uitkyk sal jou beeld na God en almal om jou bepaal.
 Jou lewe is ‘n geskenk van GOD. Wat jy daarmee doen is jou geskenk aan GOD.
 Ek groet jou met die woorde van Jesaja 62 : 3.
 “En jy sal ‘n sierlike kroon wees in die hand van die Here en ‘n koninklike tulband in die hand van jou God.” 
  
Sëen en liefde in Jesus naam.
cobus van heerden (cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...