Monday 28 October 2019

Waar water is, is daar LEWE

Ons persepsies


Dit is weer Somer. Die kinders wil swem en met 'n swembad, wat grens aan 'n grasperk en bome, raak die onderhoud nou 'n daaglikse instelling. Nodeloos om te sê - 'n frustrasie ook. Maar, dis wat jy wil doen, as jy die vrolike klanke van gelukkige kinders, elke dag wil hoor in jou besige grootmens wêreld.

Waar water is, is daar LEWE.

Verlede week maak ek toe weer swembad skoon. Na honderde ure van 'pool-boy' speel met 'n visnet aan 'n lang stok, het ek uiteindelik toe slimmer geword en een van GloMail se puik uitvindsels aangeskaf, wat jy aan die uitlaat van die swembad pomp verbind en hy doen sommer al die harde werk vìr jou. Die beste R400-belegging ooit.

Een keer 'n week, skud jy net hierdie flottasie toestel se sykous uit van al die swerwende blare en gras, wat die seuns in die swembad ingetrap het en hey...
'Bob's-your-uncle.'

Nietemin, hierdie week wou my 'sykous' geen blare vang nie. Na verdere ondersoek vind ek toe uit, dat die pomp nie meer alles so lekker suig nie. Met genoeg deursettings vermoë, soek ek die probleem deur die 'wet-van-uitskakeling'.

Diagnose: Dit was toe die swembad filter, wat tot oorlopens toe vuil en verstop was. Geen water kom meer deur nie. Die operasie staan. As die kalf nie nou uit die put gered word nie, sit ek weer met groter uitdagings, soos groen alge en melkbaddens. Of dikbêk kinders, wat nie kan swem nie en geen vrolike geluide vanaf die agterplaas nie.


Terwyl ek die filter sorgvuldig skoonmaak, praat my Here met my. Hy maak my toe verstaan, dat ek ook nog 'persepsie filters' het, wat vuil is en ook Sy 'vloei van lewende water' deur my na ander, staak en verhoed om te vloei. Waar daar vloeiende water is, is daar mos lewe, nie waar nie? Wanneer water stilstaan en daar is geen natuurlike vloei nie, kan dit sleg en onbruikbaar word.

In daardie oomblikke, berispe Abba my toe sagkens met die woorde: 'Ek kan soveel MEER deur jou doen, My seun, as jy My nie beperk met jou besmette persepsies nie. Jy moet filters skoonmaak, My kind. Anders sit jy binnekort met groen alge in jou verwysing van wie Ek IS en ook, wie Ek vir jou wil wees, en jy gaan ook ander behandel, sonder My liefde, genade en wysheid. Jou visie gaan 'melkerig' word en jy gaan nie meer My waarhede kan raaksien, vir wat dit werd is nie. Gee jou filters. Ek sal dit skoonmaak.'

God is goed en soos altyd, het Hy Sy ewige Woord aan my kom bevestig met Spreuke 23:7 wat sê: 'Want soos die mens in sy siel [sy filters] bereken, so IS hy.'

Gun my om te sê, dat ek nog steeds 'n 'goeie werk in proses is' en Sy genade is genoeg.

Gebed:

"Vader, ek bid dat U my altyd leerbaar sal hou. Ek bid, dat U meer kan verander in my, wat ek kan erken. Vergewe my, vir my vuil filters, Vader. Ek gee U my filters om skoon te maak. Ek gee oor. Verander ook my realiteite daardeur, Here. Ek kies LEWE."

 Geskryf deur: hennie van der westhuizen
(info@paragonlife.co.za)

Monday 21 October 2019

Geen veroordeling



Romeine 8:1: "Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees."

Hierdie is een van daardie wonderlike teksverse in die Bybel om werklik op 'n daaglikse basis ons eie te maak.

As ons weet dat ons Jesus Christus aangeneem het volgens Johannes 1:12,13, en dat ons Hom met ons mond bely het en glo dat God Hom uit die dood opgewek het, volgens Romeine 10:9,10, en Hom gevra het om ons te lei deur Sy Heilige Gees, volgens Romeine 8:14, dan bevind ons onsself IN Christus Jesus.

En as ons onsself IN Christus Jesus bevind, en gelei word deur Sy Heilige Gees, dan is daar GEEN veroordeling vir ons nie.


Maar terselfdertyd moet ons nie die voorwaarde in daardie teksvers, mislees nie. Daar is geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die WAT NIE NA DIE VLEES WANDEL NIE, maar na die Gees.

As ek myself dus 'n kind van God noem, maar willens en wetens aanhou sondig en die dinge van die vlees soek en najaag, kan ek nie aanspraak maak daarop dat daar vir my geen veroordeling sal wees nie.  Daar is slegs geen veroordeling, as ek IN Christus Jesus is EN na die Gees wandel, met ander woorde, onder leiding van Sy Heilige Gees, soos Romeine 8:14 ons wys.

Kom ons vra dus ons Hemelse Vader om ons in hierdie week in elke moontlike situasie te lei deur Sy Heilige Gees, sodat ons nie sal wandel deur die vlees nie, maar deur die Gees. Want dan kan ek weet sal daar vir my geen veroordeling wees nie.


GEBED: 

"Vader, baie dankie dat ek mag weet dat as ek IN Christus Jesus is, en wandel deur die Gees, daar vir my geen veroordeling sal wees nie. Lei my en leer my in hierdie week om die dinge van die vlees te weerstaan op 'n daaglikse basis sodat ek kan weet daar is dan vir my ook geen veroordeling nie. In Jesus Naam. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

Monday 14 October 2019

Jou onreinheid


Nadat die vyand weer die afgelope week probeer het om my vorige onreinheid teen my kop te gooi en my deur 'n gelowige boeta probeer oortuig het dat ek nogsteeds skuldig staan voor die Here, het Vader my weer op verskeie maniere herinner dat ek reeds deur Sy bloed gewas is en dat daar geen skuldbrief teen my uitstaande is vir die sonde van die verlede wat ek reeds teenoor Hom bely het nie. Dit het ek natuurlik ook geweet en het ek die aantygings met 'n “heilige woede” verwerp!

Ek het egter in hierdie laaste jaar sóveel mense bedien wie hulself nie kan vryspreek of aanvaar dat Vader hulle vergewe het nie. Tog kom hulle aan die einde van elke sessie tot besef dat die vyand hulle net gebind wil hou en neem hulle die besluit om hulself te vergewe. Wanneer ek hulle lei in gebed en by die deel kom waar hulle hulself by die naam moet vryspreek, dan sukkel sommige só om hul eie naam te noem dat dit soms 'n rukkie vat om dit uit te kry.

Tog is dit juis ons onreinheid wat vir ons 'n pad oopmaak reguit na Jesus toe indien ons bereid is om ons sondes na Hom te bring dat Hy ons in Sy bloed kan was.

Vader het my konstant herinner aan die vrou met die bloedvloeiing wie se onreinheid juis vir haar 'n pad oopgemaak het tot by Jesus.

Mat 9:20  En daar het ‘n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, van agter gekom en die soom van sy kleed aangeraak.
Mat 9:21  Want sy het by haarself gesê: As ek maar net sy kleed kan aanraak, sal ek gesond word.
Mat 9:22  En Jesus het omgedraai en haar gesien en gesê: Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered. En die vrou het gesond geword van daardie uur af.

In daardie tyd was daar 'n wet wat bepaal het dat as 'n vrou in haar tyd van maandstonde was, dat sy dan onrein is totdat dit verby is en sy haarself gereinig het. Alles waaraan sy sou vat sou ook onrein wees en enige iemand wat haar sou aanraak sou ook onrein word. Die wet was dan ook dat indien enige iemand onrein sou wees as gevolg van watter rede ookal, hulle hardop moes verklaar dat hulle onrein is wanneer hulle in die openbaar beweeg het of as iemand naby aan hul sou kom.

Vir hierdie vrou om dus deur die skare te kon kom tot by Jesus, moes sy haar onreinheid bekend maak, anders sou hulle haar doodgemaak het as dit bedek was en later op die lappe sou kom. Sy het verder ook nie die liggaamskrag gehad om deur die skare te kon stoei om naby Jesus te kom nie. Haar onreinheid het dus vir haar 'n pad oopgemaak reguit na Jesus toe en in geloof het sy toe haar genesing ontvang soos sy geglo het.

Ek wil dus vandag elkeen uitnooi wié nog stoei met vorige sondes of wié homself/haarself nie kan vryspreek vir vorige dinge nie, om daardie dinge na Jesus toe te bring en jou genesing te ontvang dat jy kan vrykom van die leuens van die vyand. Die Bybel is duidelik dat God nie meer aan jou sondes dink as Hy dit vergewe het nie, só waarom laat jy die vyand toe om jou daaraan te herinner?

1Joh 1:9  As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Heb 8:12  Want Ek sal barmhartig wees oor hulle ongeregtighede en aan hulle sondes en hulle oortredinge nooit meer dink nie.

1Joh 1:7  Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.


 GEBED: 
Here Jesus, baie dankie vir U genade wat só ontsettend groot is vir ons dat U die vorige sondes selfs nie eers onthou nie. Kom help elkeen van ons om in die lig te wandel deur U genade te aanvaar sodat ons ook onsself kan vergeef soos wat U reeds gedoen het...amen!


Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

Hoe lank moet ek nog uithou?

Wanneer kom die einde van my probleme?

Rom 12:2  En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. 

Ons almal gaan deur verdrukking en soms verstaan ons nie waarom God ons nie help nie. Dieselfde het gebeur met Hosea. Sy vrou was 'n prostituut en alhoewel hy baie lief was vir haar, kon hy nie verstaan waarom God vir hom gesê het om met haar te trou, as God geweet het dat hy so seer gaan kry in sy huwelik nie.

Gomer, sy vrou sou verkoop word as slaafin, en uiteindelik kon hy haar loskoop en haar lewe red. Hy kon haar terugneem na sy huis waar sy, sy vrou kon wees, en nie sy slaaf nie.

Hosea het nooit opgehou met sy bediening nie, ten spyte van die feit dat hy binne hom baie seer gehad het, en ten spyte van die feit dat hy God se weë nie verstaan het nie. Hy het aangehou om vir sy vrou te bid, om vir God te vra om hom te help, en op die einde het hy as oorwinnaar gestaan omdat God sy gebede gehoor het, sy hart gesien het, sy deursettingsvermoë raakgesien het, en toe sy gebede verhoor het.

Ons verstaan nie altyd hoekom goed met ons gebeur nie, maar een ding is verseker! Met God werk alles ten goede mee.

As dit altyd goed gaan met ons, het ons God nie nodig nie, kan ons God nie in aksie sien nie, kan ons Hom nie verhoog nie, nie dank nie, nie prys nie. God weet hoe om ons desperaat te maak vir Hom, hoe om Sy leiding te vra, sodat ons God se grootheid, liefde en almag kan sien, daarom se Paulus vir ons wees in alles dankbaar!

God het die perfekte tyd vir alles, al kan ons dit nie verstaan nie, God weet ook hoe sterk Hy jou gemaak het, hoe lank jy sal kan uithou en volhard, Hy sal jou nooit bo jou vermoë toets nie. Moet nooit moed opgee nie, hou aan om op God te vertrou vir die beste uitweg in jou lewe, want Hy het die perfekte plan vir jou, as jy net kan wag om dit te sien en beleef.

Sëenwense
Belinda


Rom 5:3  En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk,
5:4  en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop;
5:5  en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.
5:6  Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe.




Monday 7 October 2019

Dors na die Woord



Amos 8:11: "Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek 'n honger in die land stuur, nie 'n honger na brood nie en nie 'n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor."

Mense vra my gereeld wat sien ek is besig om in die geestelike te gebeur, soos wat ons deur Suid Afrika en ander lande reis om te bedien? En dan is my antwoord gereeld dat ek Amos 8:11 rondom my sien gebeur.

Want daar is orals 'n honger om die woorde van die Here te hoor, selfs op plekke waar mense soms nie eens kos het om te eet of water het om te drink nie.  Duidelik het hulle geleer dat fisiese kos en water hulle niks kan help in die ewigheid nie, maar die woorde van die Here bring vir hulle ewige redding. Dit is iets wat nie bereken kan word of enige fisiese of monetêre waarde aan gekoppel kan word nie.

Ek sien ook al hoe meer die werklikheid van wat Jesus gespreek het in Mattheus 5:6:
"Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word."

Geregtigheid is in gewone taal, God se manier van dinge doen. Ek sien ook hoe mense in hulle gewone lewens begin honger en dors na God se manier van dinge doen, en ek sien ook hoe hulle geestelik versadig raak daardeur, ongeag hoe beroerd hulle fisiese omstandighede lyk.

En dan lui Jesus se dringende uitnodiging in Openbaring 22:17 ook in my ore:
"En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat DORS het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet."

Is jy al honger en dors na die woorde van die Here in die Woord van die Here, geliefde? Ongeag hoe jou fisiese omstandighede daar uitsien? Of veroorsaak jou fisiese omstandighede dat jy moeg en moedeloos raak en nie meer wil ag slaan op God en Sy woorde in Sy Woord nie?

Want jou tydelike fisiese omstandighede bepaal nie jou ewige toekoms nie, slegs jou persoonlike verhouding met Jesus Christus kan dit bepaal. En as jy na Hom toe gaan, soos Hy jou in Openbaring 22:17 uitnooi, dan sal Hy jou versadig, met die fisiese, en ook met die ewige.

Mag ons Hemelse Vader jou in hierdie week ook 'n honger en 'n dors gee na Sy woorde in Sy Woord sodat jy Sy deurbrake in jou fisiese omstandighede kan begin sien, maar ook die wonderlike vooruitsig sal hê om vir ewig saam met Hom te wees. Hy gee dit immers verniet.


GEBED: 

"Vader, gee ons in hierdie week 'n nuwe honger en dors om U woorde te hoor vanuit U Woord. En dankie dat ons kan weet dat U ons wil voed, beide met die fisiese, maar ook met die ewige geestelike beloftes wat U verniet uitdeel aan die wat na U toe kom. In Jesus Naam. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

Tuesday 1 October 2019

Aangename geur



2 Korinthiërs 2:14 - 16: "Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei. Want ons is 'n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan; vir die laaste 'n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste 'n reuk van die lewe tot die lewe."

Ons sien hier die wonderlike bevestiging dat God ons altyd laat triomfeer in Christus. En wat het daardie triomf in Christus tot gevolg in ons persoonlike lewens?

Dit versprei die reuk van sy kennis orals - deur ONS! God het ons dus nodig om die reuk van Sy kennis te versprei na die wêreld rondom ons. Ons moet dus soos 'n plant wees wat 'n baie spesifieke geur afgee as iemand met ons te doen kry.

En ons moet ook nie skaam wees, of huiwer om God se geur af te gee teenoor die wêreld nie. Jesus sê immers as ons Hom verloën voor die mense, sal Hy ons ook verloën voor Sy Vader wat in die hemel is.

Maar die vraag is, watter geur gee ons af teenoor diegene rondom ons, hetsy in ons gesinne, of by die werk, of in ons sosiale lewe?

Is ons vir hulle 'n aangename geur van lewe tot lewe, met ander woorde lei ons optredes teenoor hulle daartoe dat hulle ook gaag die lewe van Christus wil hê wat hulle in ons sien en ervaar?

Of is ons vir hulle 'n geur van die dood tot die dood, met ander woorde dat ons optredes hulle 'n afkeer gee aan ons en wat ons glo, omdat ons dalk skynheilig is?

Maar natuurlik is ons, as ons wel in ware heiligmaking lewe, weer vir nog andere óók 'n geur van die dood tot die dood, wat bloot beteken ons heiligheid en opregte lewens "stink" vir hulle, want hulle kan ons nie verdra nie, omdat hulle nie die lig wat uit ons uitstraal, kan verdra nie.

Mag ons ewige Skeppergod jou in hierdie week ook laat triomfeer in Christus, sodat jy ook vir sommige 'n aangename geur kan wees van lewe tot die lewe, en moenie bekommerd wees as daardie aangename geur vir andere rondom jou 'n geur van die dood tot die dood is nie. Mag jou lig vir Jesus so skyn dat dit die duisternis in hulle kan verdryf.


GEBED:

"Vader, baie dankie dat U ons altyd laat triomfeer in Christus. Gee my asseblief hierdie week die krag om 'n aangename geur te wees, en om vir diegene rondom my 'n geur te wees van lewe tot lewe, en oortuig asseblief diegene wat U nog nie ken nie, en wat my aangename geur mag ervaar as dood tot die dood, om U ook in hulle lewens in te nooi. In Jesus Naam vra ek dit. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...