Tuesday 22 March 2016

Wat beteken die Kruisiging en opstanding vir jou?


Image result for old wooden cross



Die  Week wat die Geskiedenis verander het
Gebruik 2 minute ... om die gebeure van hierdie week van die 6e tot die 12e April 32 n.C. te oordink en vir jouself dan te sê:

So lief het Hy vir my gehad!
Hierdie week het ons as volgelinge van Jesus weer die geleentheid om stil te word rondom die sleutel gebeure van ons geloof. Wat hierdie volg is my uiteensetting van daardie gebeure daardie week van Sy kruisiging.
 
Daardie Palmsondag
Daardie betrokke week sou die nuwe Koning van planeet Aarde gekruisig word en opstaan sodat die wêreld verseker kon weet Hy is die Koning. Daarom is dit aangrypend dat hierdie betrokke week se gebeure juis begin waar Jesus die Sondag Jerusalem binnery op 'n esel, soos daar in Luk 19 en Joh. 12:12 e.v. beskryf word.
Dit was die vervulling van profesieë wat eeue tevore uitgespreek is in gedeeltes soos Sag. 9:9 en Dan. 9:25-27.
Dit was die 10e dag van die eerste maand van daardie jaar. Volgens Eksodus 12 moes die lam vir die Pasga gekies word op die 10de dag van die eerste maand van die jaar. In Jesus se dae was alleenlik lammetjies van Bethlehem geskik geag om as die lam vir die Pasga te dien.
Daarom, op hierdie spesifieke Sondag, is 'n lam wat gebore is in die Bethlehem-distrik, gekies en in Jerusalem ingebring van die Olyf berg af deur die "skaap-poort". Presies dieselfde pad dus wat Jesus die betrokke Sondag Jerusalem binnegekom het op Sy triomftog!
Soos wat Hy die stad binnegekom het, het die mense geskreeu: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Red ons, Seun van Dawid! So is Jesus dan met groot akklamasie aangewys as die beloofde Messias en het die skare so hulle Lam vir die betrokke Pasga gekies!
Die Lam moes eers deur die geestelike leiers ondersoek word, want leer die Torah, dit moes sonder gebrek en vlekloos wees om geskik te wees om as lam vir die Pasga geslag te word.
Daarom lees ons ook hoe Jesus, na Sy intog in Jerusalem in, eers na die tempel toe gegaan het om daar te leer. Terwyl Hy daar was het die Fariseërs, Sadduseërs en ander wetsgeleerdes gekom en met allerhande moeilike vrae Hom probeer uitvang en as ’n leuenaar probeer uitwys. Maar hulle kon geen fout by Hom vind nie.
Datering: 6 Apr. 32 n.C. – gebaseer op die ou Julius Kalender (of sogenaamde “maan-kalender”), en nie die huidige Gregoriese kalender (wat sedert 1582 gevolg word, wat gebaseer is op die beweging van die son nie).

Daardie Maandag
Volgens die instruksies in die Torah-wetgewing, moes elke vorm van kwaad uit elke huis verwyder word vir die viering van die Pasga later die week. Daarom het elke Joodse moeder met ’n kers in haar huis rondgesoek vir enige vorm van kwaad of onreinheid.
Dit is so merkwaardig dat Jesus juis daardie Maandag na die tempel toe gegaan het en al die geldwisselaars daar uitgejaag het (Luk. 19:45 e.v.) om so die "kwaad" uit "die huis van Sy Vader" te verwyder.

Daardie Dinsdagaand
Omdat Jesus en sy dissipels nie in Jerusalem self was nie maar in Betanië, ’n klein dorpie net buite Jerusalem, was dit toelaatbaar dat hulle ’n dag vooraf die Pasga-maal, met die voorbereidings vooraf, kon hê. (Kyk Luk. 22:14 e.v.; Mat. 26:17-35; Joh. 13:36-38).
Later daardie aand word Jesus gevange geneem in die tuin van Getsemane, wat lê op die pad van Betanië na Jerusalem toe (Mat. 26:36-46; Luk. 22:39-53).
Vroeg Woensdagoggend om 06:00
Volgens die Joodse fees kalender was dit “die dag van voorbereiding” met die oog op die Pasga-maal wat later die aand gaan plaasvind. Gelyktydig hiermee word Jesus dan verhoor en gevonnis deur Pilatus (Joh. 19:13-16).
Die Lam, sonder gebrek, wat geslag moes word om te sterf in ons plek, was gekies. Jesus, ons volmaakte Pasga-Lam!
Dr. Derek Prince het gesê dat ons kragtigste geloofsverklaring oor ons verlossing die volgende kan wees: Ek is verlos deur die Bloed van die Lam uit die hande van die vyand!
Daar waar ons dit in geloof hardop begin bely, moet dinge gebeur!
Terwyl ons hier saam is om hierdie gebeure in herinnering te roep, moet ons mekaar herinner aan die wonderlike, totale verlossing wat Hy vir ons aan die kruis bewerk het as die finale Pasga-Lam.

’n Uiters belangrike gegewe
Dit is baie belangrik om te onthou dat die week waarin die Pasga gevier is, soms 2 Sabbatte kon hê, as die Pasga êrens in die middel van die week val. As dit die geval was, het hulle ’n spesiale Sabbat gevier die dag na die Pasga-maal die vorige aand gevier is. (In die Joodse feeskalender word die eerste dag van die “fees van die ongesuurde brood” as ’n Sabbat gevier). Dan, eers later daardie betrokke week, het die gewone Sabbat, op die sewende dag van die week, normaal gevolg.
Die week toe Jesus gekruisig moes word, was dit so 'n week waar die Pasga-viering in die week geval het en was daar dus twee Sabbatte die betrokke week gewees.
Kom ons begin dan die gebeure kronologies plaas in die lig hiervan:
Die Kruisiging -Woensdagoggend om 09:00
Gelyktydig met die gebeure waar die Hoëpriester die gekose lam vasgemaak het aan die horings van die altaar, op die 14de dag van die Joodse maand, Nissan, word Jesus nege-uur daardie oggend vasgespyker aan die kruis.

Woensdagmiddag om 15:00
Van 12h00 tot 15h00 daardie betrokke Woensdag was dit vir drie ure donker (Mat. 27:45 e.v.). Na 3 ure van “hel” kon Hy sê: “Dit is volbring”.
Alles wat nodig was om die heilige God in staat te stel om mense se sondes te mag vergewe, was gedoen. Die oorwinning is behaal en daarom kon Hy met vrede Sy lewe oorgee aan die Vader.
Drie-uur daardie middag, gelyktydig met die tyd wanneer die lam keelaf gesny en geslag moes word vir die Pasga later die aand (Eks. 12:6), sterf Jesus aan die kruis.
Die Lam het die volledige offer gebring en daarmee die Ou Wet volkome vervul. En so, met Sy dood, het ’n Nuwe Testament met ’n Nuwe Verbond en Wet geldig geword.
Datering: 9 Apr. 32 n.C.

Vroegaand (voor 18:00) daardie Woensdag

Jesus se liggaam word van die kruis afgehaal en begrawe in die graf (Mark. 15:42). (Moenie verlei word deur die Nuwe Afrikaanse vertaling van “Dit was Vrydag” nie. Dit staan nie in die Grieks nie. Gaan lees maar in die 1953-Afrikaanse Vertaling of in van die Engelse Bybelvertalings wat presies in die oorspronklike Grieks staan).

Drie dae in die graf
Volgens die Skrif en die profesieë sou Jesus 3 dae en drie nagte in die graf wees. Hy was dus daardie spesiale Sabbat (of eerste dag van die “fees van die ongesuurde brood”) daar (wat gestrek het van die Woensdagaand 18:00 tot Donderdagaand 18:00); gevolg deur die Vrydag (wat gestrek het van die Donderdagaand 18h00 tot die Vrydagaand 18h00); en dan ook vir die normale Joodse Sabbat (van die Vrydagaand 18:00 tot die Saterdagaand 18:00).
Drie volle dae en drie volle nagte dus, soos Hy vooraf gesê het dit sou gebeur.

Die opstanding
Vroeg daardie Saterdagaand na 18:00, (met die begin van die Joodse eerste dag van die week), staan Jesus uit die dood op na drie dae in die graf. Ons weet nie presies wanneer dit daardie aand gebeur het nie.
Datering: 12 Apr. 32 n.C.
            Jesus het immers self profeties verklaar dat Hy gekruisig gaan word, gaan sterf, vir drie dae in die graf gaan wees, en dan weer gaan opstaan.
So kom talle profetiese gedeeltes ook hiermee in vervulling, soos Hos. 6:1,2; en die teken van Jona (Mat. 12:40).
Daardie Saterdagaand het die priester, volgens die Joodse feeskalender, ook die “eersteling-gerf” van die oes voor God gewuif om so die nuwe oes aan God te wy (Lev. 23:10-11).
Daarom word die opgestane Jesus ook die “Eersteling’ daar in 1 Kor. 15:20-23 genoem.

Vroeg die Sondagmôre
Maria Magdalena en die ander Maria, en later van die ander dissipels, ontdek dat Jesus Christus opgestaan het soos Hyself gesê het gaan gebeur (Mat. 28:1 e.v.).
Ons dien en volg dus waarlik ’n lewende, opgestane Here! (1 Kor. 15)
Hoor hoe getuig Paulus oor die betekenis hiervan vir die Evangelie, of Goeie Nuus, wat my en jou lewe verander het, daar in 1 Kor. 15:1-7: "Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan.
Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom.
Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe. Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels."
Daar kan dus geen twyfel hieroor wees nie: Die Here wat ons aanbid en volg, het waarlik opgestaan en Hy lewe.
Die nuwe Koning van planeet, Aarde, is 'n lewende, opgestane HERE! – Christo Nel, Nuwe Wyn
Indien jy weet van iemand wat ‘n Bybel  opreg benodig en kan gebruik besoek www.thesower.org.za  
As iemand geestelike hulp of gebed verlang, skryf aan: belindapaar@gmail.com  
Bid asseblief deurentyd vir ‘n magtige geestelike Herlewing in SA  – Sjibbolet 

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...