Monday 29 July 2019

Bid vir mekaar


Gebed is seker dié belangrikste komponent van ons verhouding met 'n lewende God. Gebed is doodeenvoudig 'n gesprek met ons Redder en Verlosser, Jesus Christus van Nasaret. Tog is dit 'n deel van ons wandel in Christus wat die meeste afgeskeep word. Enige Christen sal kan getuig dat daar baie krag in gebed is.

Die belangrikste gebed ooit waarvan ons in die Bybel lees, is sekerlik dié een wat Jesus self vir ons gebid het, voordat Hy Sy lewe vir ons as losprys gegee het!

Joh 17:11  En Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is in die wêreld; en Ek kom na U toe. Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons.

Joh 17:12  Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar. Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word.

Joh 17:13  Maar nou kom Ek na U toe; en Ek spreek hierdie dinge in die wêreld, sodat hulle my blydskap volkome in hulle kan hê.

Joh 17:14  Ek het hulle u woord gegee, en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.

Joh 17:15  Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar.

Joh 17:16  Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.

Joh 17:17  Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.

Ons lees dan ook op verskeie plekke waar Jesus, vroeg en laat, baie tyd in gebed spandeer het en ook dat Hy in besonder vir Sy dissipels gebid het.

Luk 22:31  En die Here sê: Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif.

Luk 22:32  Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk.


Verder lees ons dan ook hoé Paulus by verskeie geleenthede vir die gemeentes en individue gebid het.

2Ti 1:3  Ek dank God, wat ek van my voorouers af in ‘n rein gewete dien, wanneer ek onophoudelik nag en dag aan jou in my gebede dink,

Dit is dus duidelik uit die Woord dat dit belangrik is dat ons op gereelde basis vir mekaar moet bid en só mekaar se laste kan help dra. Een van die belangrikste uitvloeisels van gebed, die van genesing vir jouself, word baie keer geminag en lei ons skade as gevolg van onkunde!

Jak 5:16  Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.

Geliefdes, kom ons begin om meer intens vir mekaar te bid, sodat ons die volle krag van gebed ook in ons eie lewens kan ervaar.

GEBED: 
Jesus, baie dankie dat U alreeds meer as 2000 jaar gelede vir my ook gebid het (en vandag steeds vir my intree) en baie dankie vir elke persoon wie gereeld ook vir my bid. Help my dat ek ook getrou ander sal opdra in gebed aan U en dat my gebede ook as lieflike geur sal opstyg tot U troon...amen!



Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

Monday 22 July 2019

Kom ons eet!



Reg aan die begin van die skepping, in die tyd van Adam en Eva, het God slegs een boom uitgesonder waarvan die mens nie mag geëet het nie. Terwyl die mens dus aan niks tekort gehad het nie en vrylik van die ander kon eet, glo ek dat daar 'n dag gekom het waar hierdie woorde die eerste keer op hierdie aarde gespreek is.

Dit was die dag toe Eva vir Adam genooi het om te eet van die verbode vrugte. Ons weet dan ook dat daardie daad van ongehoorsaamheid, die verderf op hierdie aarde en oor die mensdom gebring het.

Tog, baie jare later, word daardie uitnodiging weer gerig deur die tweede Adam en word ons weereens genooi om te eet. Hierdie keer word ons genooi om deel te hê aan Sy liggaam en Sy bloed wat vir ons die verlossing gebring het.

Joh 6:53  En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie.
Joh 6:54  Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag.
Joh 6:55  Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank.
Joh 6:56  Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.

Wanneer Jesus die nagmaal instel, herhaal Hy weer hierdie uitnodiging en gee dan ook aan ons hierdie verbondstekens as 'n herinnering aan die offer wat Hy met Sy liggaam gebring het vir ons genesing en ook dat Sy bloed die prys vir ons sondes betaal het.

1Kor 11:24  en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis.
1Kor 11:25  Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.
1Kor 11:26  Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.

Jesus het Homself gegee om ons te reinig van alle ongeregtigheid en om ons heilig voor Vader te stel.

Tit 2:14  wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.

Laat ons onsself dan daagliks herinner aan hierdie genade wat ons verniet ontvang het en kom ons neem hierdie uitnodiging aan, terwyl ons die dinge van die oumens aflê en die vrees van die Here najaag in heiligmaking.

2Kor 7:1  Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.


GEBED:  Here Jesus, baie dankie dat ons deel mag hê aan U liggaam wat vir ons gebreek is tot genesing en U bloed wat die prys van ons ongeregtighede betaal het...amen!


Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

Doen goed



Mattheus 5:44,45: "Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê, seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges."

Hierdie is twee van daardie teksverse in die Bybel wat die meeste Christene nie graag wil hoor nie, of hoop dat Jesus dit dalk nie so letterlik bedoel het nie.

Want wanneer iemand my vloek, is die eerste reaksie in ons vlees, gerugsteun deur die standaard siening in die wêreld daarbuite, om hom of haar dadelik terug te vloek!

Maar tog wil Jesus hê ons moet anders wees en daardie persoon eerder seën, juis sodat ek seën kan ontvang. En waar is daar beter geleenthede om hierdie tekvers prakties te beoefen as elke week by die werk as iemand wat nie van my hou nie, my sou slegsê of vloek? Kan ons die week kies om dit dan eerder te doen soos Jesus dit wil hê, en eerder seën as om terug te vloek?

En hoe is dit moontlik om goed te doen aan iemand wat my haat, of om te bid vir daardie mense wat my beledig en vervolg en my net heeltyd in die moeilikheid wil laat beland? Of hoe kan ons ons vyande liefhê? Ons gaan hierdie dinge beslis nie in ons eie krag kan regkry nie.

Daarom prys ons die Here vir verse soos Filippense 4:13 in die Bybel, wat bepaal dat ons tot ALLES in staat is deur Christus wat ons die krag gee! Ons kan dus regtig al daardie goed doen wat Jesus van ons verwag - as ons Hom net elke dag leer VRA vir Sy krag om dit te doen.


Die vraag is nou - maar hoekom moet ek al daardie dinge so doen? En die antwoord kry ons in vers 45 wat bepaal: "...sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is..."

Wil ons regtig vir die mense rondom ons wys dat ons kinders van ons Hemelse Vader is, dan moet ons al daardie dinge PRAKTIES begin doen teenoor almal rondom ons, selfs teenoor die slegtes en die onregverdiges in ons daaglikse lewens.

Kom ons vra in hierdie week die Vader om ons werklik Jesus se krag te gee om soos Hy op te tree teenoor al die mense rondom ons in elke situasie waar ons gekonfronteer word, en begin daardie paar dinge prakties te DOEN, en kyk wat doen Vader vir jou in jou situasie.


GEBED: 

"Vader, ek bely vandag dat ek nie altyd U opdragte in Mattheus 5:44 nagekom het nie. Vergewe asseblief my sonde Here, en gee my in hierdie week Jesus Christus se krag om te doen wat U van my verwag, selfs teenoor die slegtes en die onregverdiges in my lewe wat my haat, vloek, vervolg en beledig, juis sodat ek U kind kan wees en soos U kan wees, en U my kan seën. In Jesus Naam vra ek dit. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

Wednesday 10 July 2019

Vadoek storie



Vanoggend staan ek en skottelgoed was en ek dink sommer. Jy weet mos as jy skottelgoed was dink jy sommer net. Na alles mooi opgestapel is in die oorvol skottelgoedrak, droog ek my hande af en ek dink dadelik aan 'n vriendin wat altyd praat oor watter storie vertel jou vadoeke? Daarop wonder ek hoekom baie vrouens so skuldig voel oor hulle vadoeke, en net daar bekyk ek my klomp vadoeke.

Die twee mooi gryses hang elkeen op hulle eie reëlings. Een by die  opwas wasbak vir afdroog en die ander een by die afspoel wasbak in die kombuis vir opvryf.

Die wit en groene is my gunsteling. Hy is die "all rounder". Is oor my skouer as ek kook om vinnig my hande af te vee en sommer om die proe-lepel ook af te vee. Hy vee gou-gou af waar ek mors terwyl ek werskaf. Hy hou die warm kastroldeksel vas en kan soms sommer net enige plek rondlê.

Daar is die gele wat onder die wasbak bly vir vuilwerk soos daai koffievlekke op die vloer wat gemors het toe jy geloop het met ‘n oorvol koppie.

Dan is daar die spesiale nuwe turkoois vadoeke wat in die onderste laai bly vir wanneer koek en tee gaste opdaag.

Laastens die twee groen waslappies. Hulle was en maak skoon. Dit is hulle primêre doel .

Toe my kinders kleiner was kon dit my heeltemal irriteer as hulle ‘n lap vir die verkeerde doel gebruik. Die "all rounder" droog nie af nie. Die groen waslappies maak nie vloere skoon nie. Die gryses vee nie kaste af nie.
Hulle het baie vining geleer dat vadoeke wat bo kasoppervlakte hang nie vir vloere bedoel is nie en daardies onder die kasoppervlakte nie vir skottelgoed nie.

Verstommend was nog altyd dat die dag wanneer ek besluit een moet vervang word, is dit tyd dat die buite tafel of stoele afgevee moet word en dan geld geen reëls skielik meer nie. Die oues word heeltemal misgekyk asof hulle nie bestaan nie en die nuwe een word sommer vir die doel gebruik. Dit het my  destyds rasend gemaak. Is dit net ek wat die verskil kon sien tussen ou en nuwe vadoeke en waslappe?

Een ding besef ek. Vadoeke is die geduldigste artikels in my huis. Hulle doen net presies dit waarvoor jy hulle gebruik.

So saam met die gedagtes dink ek aan my geestelike lewe en besef dat ons met alle respek gesê, die Heilige Gees binne in ons soms soos daardie vadoeke behandel. Hy word aangewend soos benodig. As ons alleen is, laat ons Hom eenkant lê. As daar gemors is in my lewe is, moet Hy help skoonmaak. Hy moet al die vuil en nat absorbeer. As daar gaste kom word Hy uitgestal. Ja, net soos mens se vadoeke met jou kan "praat", so praat die Heilige Gees.

Jy voel vining aangekla as gaste skielik in jou kombuis inkom en jou vadoeke lyk soos wie-kom-daar-aan. Vinnig pluk jy dan daai nuwe mooies uit die onderste laai en  verduidelik hoe jy net beplan het om vandag die oues weg te gooi en jy prop hulle vinnig onder in die wasbak se kas. As die gaste weg is, haal jy hulle weer uit en bêre die nuwes.

Net so waarsku die Heilige Gees ons wanneer vuilheid aan ons lewens kom karring. Hy vee trane af wanneer daar hartseer is en Hy maak foute vining skoon en toe as ons Hom om vergifnis smeek. As ons uitgevang word wanneer ons besig is met verkeerde dinge of gedagtes, kan ons soms ons eie aksies vinnig regverdig en wanneer ons tussen mense is sit ons die beste kant voor.

Ek het ook besef vadoeke is altyd daar. So ook die Heilige Gees. Hulle dwing hulle nie op ons af nie. Hulle is beskikbaar vir gebruik soos nodig. So onderdruk ons baie kere die Heilige Gees se volle potensiaal in ons lewens. Hy wil en kan soveel meer vir en in ons wees. Hy wil jou elke oomblik raadgee, beskerm, waarsku, lei, leer, troos en nog baie meer.

Van vandag af kies ek om die Heilige Gees toe te laat om Sy werk voluit te doen in my lewe. Hy gaan nie meer my geestelike vadoek wees nie. Hy is elke dag nuut. Hy stel my nooit in ‘n verleentheid nie. Hy is altyd op Sy pos. Wat ‘n voorreg om Hom in my te mag hê.

Joh 14:26 – maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in My Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gese het.

Rom 5:5 – en hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.

1Kor 6:19 – of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julleself behoort nie?

1 Joh 2:27 – en die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos die julle geleer het, so moet julle in Hom bly

Gebed:

“Vader in die hemel, vergewe my dat ek U Heilige Gees se potensiaal in my lewe so onderdruk het met my eie wil en planne. Help my om van hierdie oomblik af meer en meer te luister na U stem. Leer my gees asseblief sodat ek my volle potensiaal in U koninkryk kan bereik en U daardeur verheerlik kan word. Jesus kom maak my asseblief opnuut vol met U Heilige Gees. Amen.”

 
 Geskryf deur: rene short
(grs@oicb.co.za)

Monday 1 July 2019

Liefde vir God



1 Johannes 5:2,3: "Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar. Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie."

Die Bybel leer ons dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Nou is die probleem juis dat baie mense nie vir hulleself lief is nie, so hoe kan hulle dan enigiemand anders om hulle, liefhê? As hulle hulleself haat, dan gaan hulle uiteraard hulle naaste haat. As hulle nie hulleself kan vergewe nie, dan gaan hulle nie hulle naaste kan vergewe nie, ensomeer. Want hulle sal hulle naaste liefhê op dieselfde wyse as wat hulle hulleself liefhet.

Hoe stel ons dit dan reg? Ons kry die antwoord in die bogemelde verse. Ons sal die kinders van God kan liefhê wanneer ons God liefhet en Sy gebooie bewaar. En uit die aard van die saak sluit Sy gebooie in dat ons mekaar 70 x 7 keer moet vergewe, dat ons nie bitterheid jeens ander mense moet toelaat nie, dat ons diegene moet seën wat ons vervloek ensomeer.


Maar nou is die probleem dat ons almal nog al die jare gesê het: "Maar dis so moeilik!" En dit het ons laat grootword en laat dink dat ons nie in staat is om hierdie dinge reg te kry nie.

Tog leer die teksvers waarmee ons besig is, dat God se gebooie NIE SWAAR IS NIE. En hoekom is hulle nie swaar nie? Want as ons God liefhet, en uit liefde vir Hom Sy gebooie begin onderhou, gaan ons agterkom dat dit vir ons al hoe makliker raak om dit alles te kan begin doen. Want dan doen ons dit uit ons liefde vir Hom en nie uit enige dooie godsdienstige tradisies nie.

Kom ons vra dus hierdie week vir die Here om ons te leer om Hom al hoe meer lief te kry vir dit wat Hy alles vir ons gedoen het, steeds doen, en nog gaan doen in die ewigheid. En daarmee saam dat Hy ons dan sal leer om Sy kinders lief te hê met Sy liefde.

Wat daaruit gaan voortvloei, is dat ons dan Sy gebooie sommer gemaklik gaan onderhou en ons verhouding met Hom en ons medemens gaan begin geniet!


GEBED: 

"Vader, hierdie week wil ek U vra dat U my 'n hart sal gee om U lief te hê met die liefde wat U vir my het. En daarmee saam wil ek vra dat U my verder sal leer om myself te leer liefkry met U liefde, sodat ek my naaste kan begin liefhê soos myself. Laastens vra ek dat U my sal leer om U gebooie uit liefde uit te begin doen en dit te begin geniet tot U eer. In Jesus Naam vra ek dit. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...