Wednesday 23 October 2013

God antwoord soms anders as wat ons verwag!



Ship wreck

Nadat ’n skip gesink het, het die enigste oorlewende van die bemanningslede op ’n afgeleë eiland uitgespoel. Sy aanvanklike vreugde dat hy oorleef het, het egter gou in skok en vrees verander toe hy besef dat hy alleen op ’n onbewoonde eiland vasgevang sit met min natuurlike voedsel. Met groot moeite het die matroos vir hom ’n primitiewe hut gebou en elke dag tot God gebid vir ’n uitkoms om van die eiland af gered te word.

Al het verskeie skepe in die vêrte by die eiland verbygevaar, was die matroos se wanhopige pogings om hulle aandag te trek tevergeefs.

Eendag, toe die matroos rasend van honger op pad terug na sy hut is, sien hy dat sy hut aan die brand geraak het. Sy sakspieëltjie wat in die son gelê het, moes ’n vonk veroorsaak het. In trane het die matroos wanhopig na God geroep en desperaat gevra waarom Hy dit toegelaat het dat hy oorleef as hy van honger op die eiland gaan sterf?

Ure later het die matroos mismoedig op ’n heuwel gesit en in die vêrte uitgestaar toe hy sien hoe ’n groot skip nader na die eiland vaar, anker gooi en ’n roeibootjie neerlaat om in die rigting van die eiland te roei. Hy het vinnig nader gehardloop. “Hoe op aarde het julle geweet hier is iemand op die eiland?” het hy gevra toe die bemanningslede uit die roeibootjie klim. Hulle het geglimlag: “Ons het jou rookseine gesien!”

God is in staat om ’n slegte situasie in ’n regte situasie om te draai. Jou “afgebrande huis” kan dus jou grootste deurbraak word. Luister maar na die Psalmdigter se woorde in Psalm 68:20-21: “Ons wil die Here prys, Hy dra ons elke dag. Dit is God wat ons red. Hy is ons God, die God wat ons altyd help.” (Die Bybel vir Almal)

God is ons Redder. Hy kan jou uit jou finansiële krisis red. Hy kan ’n gebroke verhouding herstel. En Hy kan ’n krisis in ’n geleentheid om te groei omskep. Gaan jy vertrou dat Hy in beheer is van elke situasie – selfs al verstaan jy nie dadelik hoekom dinge in jou lewe gebeur nie? Sterkte.


Vader God, baie dankie dat U enige slegte situasie in ’n goeie situasie kan omdraai. Help my om nooit mismoedig te word nie, maar om my oë te alle tye op U te hou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...