Saturday 31 January 2015

Kan ons Jesus belewe?




Die tyd raak min. Daar is ‘n hele rits werklikhede wat ons lewens drasties sal verander.
            Ons is nie alleen nie. Ons is God se eiendom. Jesus Christus tree elke dag vir ons in by die Vader. Ons is omring deur Heilige Engele.
            Die Wederkoms van Jesus Christus is baie naby, maar jy kan ook gehaal word terwyl jy jou trollie in die supermark stoot, jou motor bestuur, rustig slaap, in die tuin werk, of straks terwyl jy luister hoe ander skinder.
            Ons kan elke dag met Jesus praat en ons kan hom hoor antwoord. Dit is ‘n belewenis… wanneer Christus en die geesteswêreld vir jou ‘n werklikheid word.
            Omdat elkeen van ons se einde so onverwags is, moet ons ‘n heeltemal ander lewensdstyl handhaaf.
            Ons moet lewe met die besef dat ons enige oomblik gehaal kan word.
            Die volgende werklikheid is reeds besig om plaas te vind: “En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom.
“En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer.
“En Ek sal wonders gee bo in die Hemel en tekens onder op die Aarde, bloed en vuur en rookdamp.
“Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom.
“En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” Hand 2: 17-20
            Ek en jy, die mens, is uniek tussen al GOD se skeppinge. Ons het ‘n materiële liggaam, ‘n siel en ‘n gees. “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Joh 4:24
Het jy al begin om Hom in gees te aanbid? Dis ‘n belewenis. Jy sal nooit weer anders wil lewe nie. Jy kyk skielik verby hierdie tydelike wêreld die Ewigheid in.
Jy besef dat jy nie hoef te wag vir die einde voordat jy die Ewige lewe gaan ontvang nie. Jy besef jy het reeds die Ewige Lewe. Jy is reeds op ‘n ander pad.
Hoe aanbid ons die HERE in gees? Hoe aanbid ons Hom in waarheid? In die gees beteken op leiding van die Heilige Gees. In waarheid is dat alles in jou lewe waarheid sal wees, ‘n Israeliet sonder bedrog. Ons aanvaar ook die Waarheid van die hele Skrif.
Jy is nie wie jy dink jy is nie. Jou ware identiteit is iets heel anders as wat hierdie tydelike wêreld van jou maak.
“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God.” Efes 2:8
Ons kan na die Wedergeboorte weer geestelik met GOD verkeer. “Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” 2 Kor 5:17
Die Bybel doen telkens ‘n beroep op ons om nederig te wees. Baie Christene het ‘n verkeerde persepsie hieroor en meen dat as hulle hulself verkleineer, hulle nederig is.
            So verstaan hulle dat wanneer die Skrif sê ons moet die HERE “vrees” dit beteken dat hulle vir GOD bang moet wees. Vervang egter die woord “vrees” met die woord “respekteer” en eensklaps is hulle persepsie omgekeer.
            Die sonde van ons tyd is wanpersepsies. Dit veroorsaak ‘n binding in ‘n mens se gees. Dit veroorsaak dat ons onder omstandighede lewe in plaas van bo die omstandighede. Kom ons kyk nou wat sê GOD, wie is ek!

•          Ek is GOD se kind want, ek is wedergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, (hoe?) deur die Lewende Woord van God wat tot in Ewigheid bly (1 Pet. 1:23);
•          Ek is ‘n nuwe skepsel, omdat ek nou in Christus is (11 Kor. 5:17);
•          Ek is verlos van die mag van die duisternis en ek is oorgebring na die Koninkryk van die Seun  van Sy Liefde (Kol.1:13);
•          Ek is losgekoop deur Christus van die vloek van die Wet (Gal.3:13);
•          Ek is deur GOD uitverkies nog voor die grondlegging van die wêreld (Efes. 1:4);
•          Ek is verlos deur Jesus se bloed (Efes. 1:7);
•          Ek is ‘n geroepe Heilige (Rom. 1:7);
•          Ek deel in Sy erfenis (Kol. 1:12);
•          Ek is triomfantelik (Openb. 21:7);
•          Ek is dood vir die sonde (Rom. 6:2);
•          Ek is ‘n uitverkorene (Kol. 3:12);
•          Ek is bevestig tot die einde toe (1 Kor. 1:8);
•          Ek is deur die Waarheid vrygemaak (Joh. 8: 31-33);
•          Ek is besny met ‘n besnydenis wat nie met die hande verrig is nie (Kol. 2:11; Det: 10:16; Filp. 3:3; Rom: 2:28-29);
•          Ek is met Christus gekruisig (Gal. 2:20);
•          Ek is gered deur die bloed van Jesus (1:14);
•          Ek lewe saam met Christus (Efes. 2:5);
•          Ek is saam met Jesus opgewek (Rom. 2:12);
•          Ek is ‘n getroue navolger van Jesus Christus (Efes. 5:1);
•          Ek is die Lig van die wêreld (Matt. 1:14);
•          Ek is die sout van die aarde (Mat. 5:13);
•          Ek het ‘n heilige roeping (2 Tim. 1:9);
•          Ek is meer as ‘n oorwinnaar (Rom. 8:37);
•          Ek is gewortel en opgebou in Hom en bestig in die geloof (Kol. 2:7);
•          Ek weet al my behoeftes is vervul (Phil. 4:19);
•          Ek het lewe en oorvloed (Joh. 10:10);
•          Ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee (Fil. 4:13);
•          Ek jaag na die doel om die prys te verkry (Fil. 3:14);

            Mens hoor baie dat Christene sê: Onder die omstandighede gaan dit so en so. Ons is egter nie veronderstel om onder die omstandighede te lewe nie, maar juis bo die omstandighede — op oorwinningsgrond!
            In 11 Kor. 2:14 lees ons: Maar dank GOD, want Hy laat ons altyd triomfeer in Christus. Boonop laat Hy die geur van Sy kennis oral deur ons versprei.
            Die “Amplified”-vertaling sê:  … Hy lei ons om altyd te triomfeer! Ons moet net bereid wees om ons te laat lei.
            Om nederlae te aanvaar, is om GOD se beste vir ons te verbeur. Te veel Christene lewe vandag as Verbondsvolk met veel minder as wat GOD se regte en voorregte vir hulle inhou.
            Om te triomfeer is ons geboortereg. Jes. 54:17 lees: Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê. (Hoekom?) Want dit is die erfdeel van die knegte van die Here en hulle geregtigheid wat uit My is, spreek die Here.
            Waarom sou enigeen van ons ‘n nederlaag aanvaar wanneer  triomf ons legitieme reg is?
            Die Skrif sê GOD laat ons  altyd, en nie net soms nie, triomfeer. Dit beteken dit is nie GOD se Wil dat ons ooit ‘n nederlaag moet ly nie.
            Natuurlik is daar Christene wat nie altyd triomfeer nie, maar dis hul eie skuld as hulle ‘n nederlaag aanvaar. As ons onder druk toegee, dan is dit nie GOD se skuld nie.
Om altyd te kan triomfeer, beteken dat ons moet vasstaan in die geloof, moet weier om te twyfel, moet weier om ‘n nederlaag te aanvaar. Dit beteken dat ons tot volle wasdom in Christus moet groei.
Psalm 78:8-9,41 lees: dat ons nie koppig en wederstrewig moet word en ‘n onvaste hart en ontroue gees teenoor God moet openbaar nie. Want dit het die kinders van Efraim gedoen en toe  hulle die nederlaag aanvaar het deurdat  hul gewapende boogskutters omgespring het op die dag van oorlog.  En vers 41 sê: … hulle het GOD versoek en die Heilige van Israel gekrenk!
            Dis tog nie wat ek en jy wil doen nie. GOD wou hê dat hulle moes triomfeer maar hulle het teenspoed aanvaar. As ons weier om op te gee, dan sal ons beslis triomfeer!
            Die grootste fout wat ‘n mens kan maak is om gedurig te vrees dat jy ‘n fout gaan maak.
            Ps 27:13-14 lees: Wat sou tog gebeur het as ek nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie, en,  Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!
            Dit beteken die goedheid van GOD is die manifestasie van die teenwoordigheid van GOD.
            Ps 41:12 lees: Hieraan weet ek dat U ‘n welbehae in my het: dat my vyand oor my nie juig nie (triomfeer nie).
            Daar is geen wyse waarop die satan, ons kan verslaan nie, beslis nie wanneer ons in GOD se guns wandel nie!
            Ps 5:13 lees: Want U seën die regverdige, o Here, U omring hom met welbehae soos met ‘n skild!
            Ons durf dus nie nederlae aanvaar nie. Ons slagspreuk moet wees: Nooit gee ek op nie! Onthou, om altyd te triomfeer, is ons erfenis.
            Let op hoe Paulus vir die Liggaam van Christus, dit sluit my en jou in, gebid het wat betref ons erfenis:
Kol. 1:9-14 … en die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig!
            Bekwaam gemaak beteken deur aan ons volmag te gegee het, of ons te gemagtig het, om aan ons gesag te gegee het.
            Strofe 13 lees: Hy het ons verlos uit die mag van die duisternis en oorgebring na die Koninkryk van die Seun van Sy liefde.
            Kol. 2:15 lees: Nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee het, en hulle in die openbaar ten toon gestel het en daardeur ook oor hulle getriomfeer het!
            Ons is dus as Sy kinders almal bemagtig, die gesag gegee, om te triomfeer. Dit is ons erfenis. Dit is ons reg. Ons triomfeer oor alle omstandighede. Ons is meer as oorwinnaars!
            Die HERE het ons geseën met alle geestelike seëninge. Efes 1:3
            Ons kan geen nederlaag ly as ons ‘n openbaring het van die verlossingswerk wat Jesus Christus op Golgotha vir ons bewerk het nie. Golgotha is GOD se meesterstuk.
            Niemand het Jesus vermoor nie want aan niemand is so ‘n voorreg ooit gegee nie. Nee, Hy blaas self Sy asem uit en Hy gee self Sy gees oor in die hand van die Vader.
            En die Hoofman oor Honderd skrik en met verwondering sê hy: Waarlik, dit was die Seun van GOD. Hoekom? Want dit was die eerste keer dat hy gesien het iemand besluit self wanneer om te sterf.
            Ja, Christus het selfs die dood oorwin en ons het dit ook reeds gedoen want geen Christen sterf nie, elkeen vertrek bloot na ‘n nuwe, ewige, lewe. Ja, ons moet selfs ons persepsies oor die “dood” verander.
            Wanneer ons wegdoen met persepsies en met feite en werklikhede werk dan begin ons ook besef wat die verskil is tussen wasdom en onvolwassenheid. Dan besef ons wat die verskil is tussen melk en vaste spys – Hebr. 5:12-14.
            Rom. 8:20 lees: Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. Die Grieks dui aan dat die woord kinders hier “volwasse” kinders bedoel.
            Die Ou Testament is letter en die Nuwe Testament is Gees. In 1 Kor. 3 vanaf vers 1, sê Paulus: Ek kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus.
            En verder: Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spyse nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie (hoekom nie?) omdat julle nog vleeslik is (hoekom is julle nog vleeslik?) omdat daar onder julle nog jaloersheid, twis en tweedrag is.
            In Heb. 5:12 sê Paulus: Want hoewel julle vanweë die tyd reeds leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat mens julle die eerste beginsels van die Woord van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spyse nie.
            En verder: Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die Woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spyse is vir die volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit (hoe verkry mens dit?) deur die gewoonte geoefen om goed van kwaad te onderskei.
            En verder: daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God.
            Wat is dan die pad van die volmaaktheid? Eenvoudig. Efes. 5:1: Wees navolgers van God, soos geliefde volwasse kinders, wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het, en Efes: 4:1 … wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is, met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra, en, ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van vrede.
            Dit verkry ons deur sensitief na die leiding van die Heilige Gees te luister, deur die Woord in diepte te bestudeer.
            Elkeen van ons, sê Efes. 4:7, is die genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus, daarom moet ons voortgaan op die pad van volmaaktheid sodat ons ook  kan word apostels, profete, evangeliste en herders (hoekom?) om, soos Efes. 4:12, die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en ons ook almal kom tot die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus.
Lees weer die voorafgaande paragraaf stadig deur. En dan lees jy verder vanaf vers 14: sodat ons nie meer kinders sou wees nie, wat soos die golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid en listigheid tot dwaling te bring…
            Sommige Christene kan so maklik ander oordeel aan sogenaamde sondes wat sigbaar is. Dit veroorsaak ‘n binding in hulle gees en hulle kan nie geestelik groei nie. Terloops: GOD sê Hy het die werk in elkeen van ons begin en Hy sal dit voleindig. Ons durf dus nie tussenbeide tree nie.
            Dieselfde Christen is dalk groter in die skuld, want, terwyl die ander Christen se sigbare “sonde” (wat dalk nie eers sonde is nie) uitgewys word het eersgenoemde ‘n onsigbare sonde: ja, hy of sy is soos Jak. 1:6-7 sê: hulle sondig deur te twyfel. En dan is daar die waarskuwing dat iemand wat twyfel moenie dink dat hy iets van die Here kan ontvang nie.
            As jy skuld het aan so ‘n onsigbare sonde soos twyfel, rig dan jouself op, bely dit by die HERE, weier om langer te twyfel, en groei voort na wisdom en dien die HERE in Gees en in Waarheid. – Sjibbolet

Monday 19 January 2015

‘Eens Wedergebore...?’




Indien mense gered is, beteken dit dat hulle altyd gered is? Wanneer mense Christus as hulle Verlosser leer ken, word hulle in ‘n verhouding met God gebring wat hulle verlossing as vir ewig veilig waarborg.

Die Skrif verklaar hierdie feit.
·       Rom 8:30  “En die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.”


Hierdie strofes vertel ons dat vanaf die oomblik dat God ons kies, is dit asof ons verheerlik word in Sy teenwoordigheid in die Hemel. Daar is niks wat ‘n gelowige kan verhoed om eendag verheerlik te word nie, aangesien God dit alreeds in die Hemel beplan het. Vanaf die oomblik dat iemand geregverdig word, is sy verlossing gewaarborg – hy is so veilig asof hy alreeds in die Hemel verheerlik is.

·       Paulus vra twee kritieke vrae in Rom 8:33-34 "Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel? Christus Jesus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is tot die lewe – wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.”


Wie sal ‘n klagte teen God se uitverkorenes inbring? Niemand sal nie, want Christus self is ons advokaat. Wie sal ons veroordeel? Niemand sal nie, want Christus, die Een wat vir ons gesterf het, is die een wat veroordeel. Ons het beide die advokaat en die regter as ons Verlosser.

·       Gelowiges is wedergebore (geregenereer) wanneer hulle glo (Joh 3:3; Titus 3:5). ‘n Christen sal eers sy verlossing moet verloor voordat hy gederegenereer kan word. Die Bybel gee geen bewyse dat die nuwe geboorte van ons af weggeneem kan word nie.


·       Die Heilige Gees woon in alle gelowiges (Joh 14:17; Rom 8:9) en dood alle gelowiges in die liggaam van Christus (1 Kor 12:13). Indien ‘n gelowige weer ongered sou wou word, sou hy eers “nie-inwonend” en losgemaak moet word van die Liggaam van Christus.


·       Joh  3:15 sê dat wie ook al in Jesus Christus glo “die ewige lewe kan hê.” As jy vandag in Christus glo en die ewige lewe het, maar dit more verloor, dan was dit nooit in die eerste plek “ewig” nie. As dit dus vir jou moontlik was om jou verlossing te verloor, sou die beloftes van ewige lewe in die Bybel ook ‘n fout wees.



·       Die Skrif sê dit die beste, “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of Engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie (Rom 8:38-39)."


Onthou dat dieselfde God wat jou gered het ook dieselfde God is wat jou sal bewaar. Wanneer ons eens gered is, is ons vir altyd gered. Ons verlossing is verseker vir ewig veilig!

Maar, daar staan geskrywe: Rom 10:9  As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word...

Twee dinge... met die mond bely... en... met die hart glo. By massadienste gebeur dit maklik dat ‘n paar duisend mense met die mond bely, maar is hulle gered? Ons moet wag en kyk hoeveel van hulle wat met die mond bely het, ook met die hart glo.

Rom 10:10 verklaar wat bedoel word met bely en met glo:  “... want met die hart glo ons tot geregtigheid... en ... met die mond bely ons tot redding.”

En wanneer iemand glo, dan kan ons dit waarneem want Joh 7:38  Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei,” Joh 7:38.

En die Here voeg by: “Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde” 1 Joh 4:7.

Mense wat glo “... word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Rom 12:2.

Iemand wat glo is soos ‘n boom wat goeie vrugte dra. Luk 6:43-44

Nog ‘n kenmerk van iemand wat glo: “Maar die wysheid van bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. En die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede vir die wat vrede maak.” Jak 3:17

Ja, ‘n Gelowige kan struikel en hy kan selfs val, maar in berou staan hy op en hy bly op die Goeie weg. “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie. Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.” Gal 6:1-2

Let op die volgende: “Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waar 'n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook 'n slaaf geword. Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste. (Hulle had die kennis, maar hulle het nie geglo nie).

“Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is. Maar oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol.” 2 Pet 2:19-22

Dit is diegene wat bely het nadat hulle die kennis ontvang het, maar nooit geglo het nie. Hulle was dus nooit gered nie, nooit waarlik Wedergebore nie.

Dis ook na hulle wat Johannes verwys in 1 John 2:19 “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; (hoe weet ons dit?) want, as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.”

En dan Johannes se trooswoord: “En julle het die salwing van die Heilige en weet alles.” 1 Joh 2:20

“En nou bly geloof, hoop, liefde--hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.” 1 Kor 13:13 – Sjibbolet

Thursday 1 January 2015

Voorspoedige 2015




Maak vandag, 'n dag in jou lewe vir nuwe dinge…

Dinge van hoop en liefde en oorwinning in Jesus’ Naam.

Jou verlede met sy teleurstellings, foute, verkeerde keuses, ontnugtering en hartseer moet nou plek maak
vir lente in jou lewe. Alles moet nuut word.

Sit al jou ou bagasie in 'n sak, in 'n groot sak, pak daai sak self, noem elke ding by sy naam wat jy daar in sit,
moenie iets vergeet nie en sit dit vandag, sommer nou, by Jesus se voete. En sê vir HOM, "Ek is nou klaar
met my verlede, my hartseer, my tekortkominge, my....... Dankie HERE dat U vir my voorspoed beplan en
ek vat dit. En ek dank U daarvoor. En as ek enige tyd weer terug kyk na my ou sak, herinner my asseblief dat
ek klaar is daarmee."

"En ek het 'n nuwe Hemel en nuwe Aarde gesien...die heilige stad, die Nuwe Jerusalem... en HY(die HERE)
sal by hulle (ons) woon... En God sal al die trane van hulle (julle) oë afvee, en daar sal geen dood meer wees
nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie."

"Kyk, Ek maak alles nuut."

"Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die Lewe, verniet. Hy sal oorwin, sal alles
beërwe; en ek sal vir hom 'n God wees, en hy sal vir My 'n seun, ‘n dogter, wees." Openb 21:1-7

Maak vandag, die eerste dag van die res van jou lewe, pak daai sak en moenie weer terugkyk nie.

Hou vas aan God se belofte vir jou lewe: Net SY Goedheid en Guns volg jou in 2015.

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...