Monday 15 April 2019

"Your call has been placed on hold"



Hierdie week kry ek ‘n visioen wat so van toepassing is in ons besige, kitstyd van vandag.

Ek sien hoe ‘n persoon met Vader oor ‘n enorme selfoon praat. Dis ‘n lewendige, opgewonde, tweerigting gesprek. Die persoon vra iets en Vader verduidelik. Die persoon deel iets en Vader luister en geniet Sy kind se entoesiasme. Die persoon vra planne en Vader antwoord uit Sy Woord.

Skielik lui die selfoon in die persoon se oor, hy kyk na die skerm en erken die naam op die skerm as iemand belangrik uit die wereldkant van sy lewe. Sonder om te dink se hy vir Vader dat hy net gou die oproep wil neem want dit is belangrik.

Sodoende is God se stem dadelik stil, en mens hoor die bekende stemboodskap wat aan God se kant sê: ”your call has been placed on hold”.

Vader hou geduldig aan want Hy het soveel om nog vir die persoon te sê en planne om te deel en dinge om vir hom te leer.

Elkeen van ons weet dat as iemand jou “on hold” sit in ‘n oproep, jy een van twee keuses het. Jy hou aan tot die persoon weer die lyn oopmaak en kontak maak, of jy kan die oproep beëindig en die foon neersit.

Dadelik kom die teks by my op:

Open 3:20 – Kyk Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand My stem hooren die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.

Hoe dikwels was ek en jy al op ‘n goeie plek in ons verhouding met Vader en skielik duik iets uit ons verlede, of iemand wat jou aandag aftrek op, en jy gee dadelik aandag daaraan sonder om twee keer te dink.

Jy vergeet Jesus nie, jy skuif Hom net tydelik eenkant toe om eers SELF met die ander dinge te deel. Intussen sou dit soveel beter wees om Jesus te vra om deel te wees daarvan, dit te help oplos, jou te help om los te kom daarvan ens.

Gebed:

Here Jesus, ek wil vandag weer die kontak met U herstel in my hele lewe. Ek is jammer dat ek U eenkant toe geskuif het , soms op die tye wat ek U die nodigste gehad het. Ek bely dat ek U nie genoeg vertrou het om sekere situasies in my lewe te hanteer nie en dat ek gedink het ek kan dit beter doen. Vergewe my dat ek meer op mense en myself vertrou het in sulke tye. Ek wil graag vandag weer opnuut U stem hoor om my te leer en te lei.
Amen

 
 Geskryf deur: rene short
(grs@oicb.co.za)

Wednesday 10 April 2019

Ons is wandelende Tabernakels



Die Wedergeboorte is ‘n Hemelse wonderwerk, ‘n geestelike gebeurtenis sonder weerga. Selfs die Engele in die Hemel Jubel van blydskap. Dawid het hom min gesteur aan wat mense oor hom dink. Hy wou altyd weet wat God van hom dink. So het hy ten spyte van foute, steeds nader aan God beweeg.

            Mens kom die eerste keer in ‘n Pinksterdiens. Die gelowiges sing en klap hande, ander met hulle hande in die lug, hulle harte en tonge jubel voor die HERE… en jy as vreemdeling staan daar soos ‘n strykplank… menssku.

            Maar as jy jou tone in jou skoene wikkel, is jy elk geval net so skuldig, so val maar liewer in, jou oë op Jesus gerig.

            Dawid se troon is die permanente troon wat Jesus op gaan sit. Dawid is ook van dieselfde bloedlyn as Jesus. Wat aanbidding betref, het God nie die tabernakel van Saul of die tabernakel  van Moses gebruik nie. God het die tabernakel van Dawid gebruik.

            Let op: “Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die HERE wat al hierdie dinge doen.” Hand 15:16-17

            In Jerusalem het Dawid ‘n tent gehad met die flappe omhoog. Die heidene kon die tabernakel daarbinne sien. Daar was net een offer van diere. Al die ander offers was lof en aanbidding.

            Toe Christus op Golgota sterf, is die voorhangsel in die tempel geskeur, nie een steen het op die ander bly staan weens die aardskudding wat gevolg het nie. Dit was die einde van die aardse tempel era.

            Wanneer iemand Wedergebore word vind die grootste wonderwerk ooit plaas. Christus en die Heilige Gees word daardie oomblik inwonend in my en jou wat beteken die Tabernakel is nou in ons. Ons is inderdaad Nuwe Skepsels.. 2 Kor 5:17 en Gesante van God. 2 Kor 5:20.

            Jesus het voor die Kruisiging vertel die aardse tempel gaan afgebreek en in drie dae herbou word. Die heropbouing is nog steeds aan die gang. Ons elkeen wat gered word se liggaam is nou die Tempel en binne die besonderse Tempel is die Tabernakel wat Christus en die Heilige Gees huisves.

            “En Salomo het 'n huis vir Hom gebou. Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie.” Hand 7:47

            “Kom na Hom toe, die Lewende Steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom (hoekom?), om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.” 2 Pet 2:4-5

            Ons is wandelende Tabernakels . Ons stig nie kerke nie, ons laat toe dat ons soos lewende boustene inmekaar gemessel word tot ‘n geestelike huis (volk). Natuurlik mag ons vir onsself groot genoeg geboue oprig om onderdak te kan aanbid, maar ons bou nie kerke nie. Ons is die Kerk.

            As individu is ons egter wandelende Tabernakels. Ons beweeg tussen mense en hulle leer Jesus as Verlosser ken weens ons gedragspatrone en bediening.

            Let op: “Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; EN 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.

            “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die Hemele is, verheerlik.” Matt 5:14-16

            Wedergeboorte is ‘n buitengewone Goddelike geestelike wonderwerk. Jy is dan nie meer jy nie, jy is ‘n Nuwe Skepsel uit die hand van God, ‘n wandelende Tabernakel, ‘n pelgrim op pad na die Nuwe Jerusalem en jy kyk hoeveel mense jy langs die pad kan help en met jou saamneem.  – Wekroep

Monday 8 April 2019

Wees nie bevrees nie!



Jesaja 43:1,2: "Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere, hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. "

Wanneer mens in 'n persoonlike verhouding lewe met die Skepper van hemel en aarde, dan is dit baie kere 'n groot avontuur om teksverse soos hierdie in Sy Woord raak te lees!

Een ding wat ek die afgelope twintig jaar in my lewe  op hierdie pad saam met die Here geleer het, is dat Hy altyd getrou is aan Sy eie Woord, en dat Hy ook 'n waarmaker is van Sy Woord.

En hier lees ons baie duidelik dat Hy sê ons hoef nooit bevrees te wees nie, want Hy is die een wat ons verlos en wat ons by die naam geroep het.


Maar verder lees ons ook die belofte raak dat selfs al moet ons by tye deur die waters van die lewe gaan, of deur die riviere en vure van ons alledaagse bestaan, hoef ons nie bang te wees nie, want daardie dinge sal ons nie onderkry nie.

Dit beteken nie vir een oomblik dat indien ek en jy kinders van God is, dat ons NIE deur die waters of die riviere of deur die vure en die vlamme van die lewe sal gaan nie. Inteendeel, ons is eintlik verseker daarvan dat daardie dinge teen ons SAL kom in die vorm van aanslae by ons werk, of in ons families, of in ons ouer-kind verhoudings, of in ons gesondheid, of in ons finansies.

En wanneer dit WEL kom, hoef ons nie vir een oomblik bang of bevrees te wees nie. Hoekom nie? Want God is BY my en jou, Hy het ons by die naam geroep, en ons behoort aan Hom as ons vir Hom gekies het en aangeneem het as ons enigste Koning en Here.

Mag hierdie woord jou hierdie week bemoedig, ongeag wat die waters of die riviere of die vure of die vlamme mag wees waardeur jy tans gaan...

GEBED:

"Vader, baie dankie dat ek in hierdie week nie hoef te wonder nie, maar dat ek kan weet U is by my. Dankie dat ek weet U het my ook by my naaam geroep en dat ek aan U behoort! Dankie dat ek kan weet U stap hierdie week tree vir tree saam met, ongeag wat dit is wat besig is om teen my te kom. In Jesus Naam. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

Tuesday 2 April 2019

Hy het gekies om Sy lewe af te lê...

Dink daaraan....


Ons nader alweer die tyd van paasfees wanneer ons opnuut herdenk dit wat Jesus vir ons kom doen het aan die kruis. Terwyl Hy tog aan die hande van mense omgekom het, was dit nie die mens wat Hom doodgemaak het nie, maar het Hy juis gekies om Sy lewe vir ons af te lê, sodat die prys van sonde betaal kon word en daar vrede by ons Abba Vader kon wees.

Joh 10:17  Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem.
Joh 10:18  Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang.

Daar is baie mense wat beweer dat dit die “kerk” is wat Jesus gekruisig het, maar as ons na die  bogenoemde verse kyk, dan sien ons duidelik dat Jesus Sy doel hier op aarde kom voleindig het deur die prys van sonde te betaal, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.

Joh 3:15  sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Jesus is die Weg, die Waarheid en die Lewe en dit is slegs diegene wie Hom as Redder en Verlosser aanvaar, wat die ewige lewe sal ontvang...daar is geen ander manier om dit te bekom nie.

Wanneer Jesus die laaste ete saam met Sy dissipels geniet op die pasga voordat Hy gevange geneem is, het Hy ook die verbondsmaal ingestel as tekens om ons te herinner aan dit wat Hy gedoen het en ook dat Hy weer kom. Elke keer wanneer ons die tekens gebruik, moet ons onsself herinner daaraan dat Sy liggaam vir ons verniel is, sodat ons volkome genesing kan hê in elke gebied van ons lewe en ook fisies in ons liggaam.

Die beker met die sap, verteenwoordig Sy bloed wat die prys van ons sonde betaal het en wat ons skoonwas van die ongeregtigheid van sondes. Die tekens herinner ons ook dat Hy weer kom!

1Kor 11:23  Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het;
1Kor 11:24  en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis.
1Kor 11:25  Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.
1Kor 11:26  Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.


GEBED: Here Jesus, mag elkeen van ons in hierdie paastyd opnuut weer herinner word aan die duur prys wat U vir ons betaal het en ook die onskatbare liefde wat U vir ons het...amen


 Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...