Saturday 29 February 2020

Hou jou pad suiwer


Psalm 119:9-16:"Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord. Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie. Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie. Lofwaardig is U, o HERE! Leer my u insettinge! Ek het met my lippe vertel al die verordeninge van u mond. Ek is vrolik in die weg van u getuienisse soos oor allerhande rykdom. Ek wil u bevele oordink en op u paaie let. Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie."

Hierdie week kyk ons o.a. na die baie bekende woorde van Psalm 119:9 oor waarmee die jongeling sy pad kan suiwer hou en dan die net so bekende antwoord dat hy dit slegs kan doen deur dit te hou na God se Woord. Geen mens kan sy lewe op hierdie aarde suiwer hou as hy of sy dit nie doen volgens God se Woord nie.

Daarom moet ek en jy self ook daagliks leer doen wat Dawid vir ons hier geskryf het, naamlik om God te soek met ons hele hart. Dit beteken nie halfhartig of louwarm nie, maar met alles binne-in ons. Want wanneer ek God se Woord gaan ondersoek, en Hom soek met my hele hart, sal dit my help om nie af te dwaal van Sy gebooie nie.

En as ek Sy Woord in my hart bêre gaan dit my ook help om nie teen God te sondig nie. Maar om Sy Woord in my hart te bêre, gaan ek nodig hê om Sy Woord te bestudeer op 'n daaglikse basis, en met Hom in 'n intieme persoonlike verhouding te wees, sodat ek ook die tipe persoonlike gesprekke met ons hemelse Vader kan hê wat Dawid hier in Psalm 119 met Hom gehad het.


Dit sal daartoe lei dat ons ook soos Dawid sal uitborrel oor hoe werklik lofwaardig is ons God en Here. En by watter beter Leermeester kan ons Sy insettinge en instruksies leer, as net by ons Vader Homself?

En wanneer ons Hom so intiem leer ken, gaan ons ook nie anders kan as om ander mense rondom ons te vertel van dit wat ons by God gehoor het en uit Sy mond geleer het nie. Dit lei verder daartoe dat die vreugde van Here oor my en deur my sal vloei en my vrolik sal maak in my omgang met die Here en dat ek altyd 'n borreling in my het om andere te vertel van Sy Woord en wat dit in my lewe veroorsaak het.

Want jy sien, wanneer jy hierdie dinge van God en Sy Woord begin verstaan en deel maak van jou lewe, word dit soos kosbare skatte en allerhande rykdom wat jy vanuit die Woord opdiep.

En dan, soos met alles in ons hemelse Vader se Woord, het ons die vrye wilskeuse, of ons soos Dawid Sy bevele WIL oordink of nie, en het ons ook dieselfde keuse om te sê ek SAL my verlustig in U Woord en U Woord SAL ek nie vergeet nie. Dit is die vrye wilskeuse wat ons Vader aan elkeen van ons gee, Hy het ons immers nie marionette gemaak nie.

Mag ons dus elkeen in hierdie week kies om dieselfde dinge te doen as wat Dawid ook geleer het om te doen en vir ons in hierdie teksverse neergepen het.

GEBED: 

"Vader, leer my asseblief om U Woord daagliks te bestudeer en dit in my hart te bêre, sodat ek ook my weg kan suiwer hou na U Woord. Leer my U insettinge want ek wil U met my hele lewe loof. Lei my ook deur U Heilige Gees om teenoor almal rondom my te praat van U wonderlike getuienisse Here, ek wil my ook verlustig in U Woord en ek sal U Woord nie vergeet nie. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

Suid-Afrikaanse bidders kry groot internasionale steun



Die gebedgroep “Gesalfdes van Elohim” wat vir Herlewing in Suid-Afrika, en ander spesiale versoeke bid, het pas ‘n enorme deurbraak gemaak toe die internasionale vas en gebedsorganisasie, The Briefing - “Finale Opdrag” besluit het om met ons saam te bid vir Herlewing in SA.

            Hulle het honderde duisende bidders wêreldwyd wat vir 40 dae lank gaan vas en bid vir Herlewing in verskeie lander, onder meer ook vir SA.

            Die 40 dae duur van 1 Maart 2020 tot 9 April 2020. Alle bidders in SA word genooi om saam te bid. Wat die vas gedeelte betref, mag jy vas soos wat jy gelei word... Vir 40 dae net water, of die Daniëlsvas, hoe ook al. As jy nie kan vas nie, maar wel graag wil saam bid, dan is dit ook reg.

Oor die Laaste Opdrag: Dertig jaar lank, elke dag vroegoggend het twee manne, Lou Engle en Chris Berglund, in ‘n motorhuis in Pasadena, Amerika, onder die naam  The Calling -“Die Oproep” saamgekom om vir Amerika te bid.

            Dinge het baie, baie erger geword voordat dit beter sou word. Hulle had male sonder tal rede om op te gee, maar hulle het volhard.

Hulle het besef hulle was in gesprek met die Heilige GOD Jahweh. Hulle het geweet Hy luister want Jahweh het hulle opgeroep om met Hom te praat oor Amerika... net hulle twee vir 30 jaar lank in ‘n motorhuis.

            Dertig jaar is ‘n lang tyd. Skrywer het self hierdie ontsettende werklikheid 40 jaar lank beleef voordat die antwoord in 2011 gekom het.

            Lou en Chris het gebid dat aborsies sou stop en dat Amerikaners sou terugkeer na GOD en dat Herlewing onder alle volke van die wêreld sou uitbreek.

            Met die koms van Donald Trump het die Heilige Gees eers stadig, maar nou al hoe vinniger, die gety begin omkeer. Mens lees weekliks hoe die howe in die onderskeie Amerikaanse state teen aborsie besluit.

            ‘n Evangeliese groep kom daagliks in die Withuis byeen vir gebed. Pres Trump se raadgewers sluit ook talle Evangeliese Christene in.

            God is aan die werk. Wêreldwyd, selfs in Iran (Persië), waar Daniël in sy tyd Eerste Minister was, beleef ‘n magtige Herlewing soos wat Islam hulle na Christus keer. Hulle word reeds as die grootste kerk in die geskiedenis bestempel, maar ‘n kerk sonder ‘n gebou. Hulle kom in Huisgemeentes byeen. Doopdienste geskied in die geheim. Die Liefde van die Messias spoel soos golwe oor die wêreld heen.

            Die uitbreek van die Coronavirus laat mense na kerke en huiskerke stroom. Baie keer terug na GOD terwyl ander die Wedergeboorte ondergaan.

            Meer as duisend kerke werk saam in die reuse Tennessee Herlewing. Kerkmure het skielik geen betekenis meer nie. Dit gaan alleen oor die redding van siele.

            Nou, 30 jaar later, het hulle die motorhuis moes verlaat en na ‘n inkoopsentrum getrek want die tweeman getroues se ledetal het oornag toegeneem tot meer as vier honderd duisend. Reg oor die wêreld skakel bestaande gebedgroepe in by Die Oproep

            Hulle het nou ook ‘n wêreldwye blad met die naam Finale Opdrag. Alhoewel in Engels bereik dit reeds duisende bidders reg oor die aarde. In die proses is weggedoen met die naam Die Oproep en word nou net gewerk onder die naam Finale Opdrag.

            Die redaktrise  is Cheryl Amabile. Gebedgroepe behou hulle identiteit maar skakel in by ‘n korporatiewe ploeg om die pad te berei vir die inbring van ontelbare siele.


Gesalfdes van Elohim wat vir Suid-Afrika in die bres tree vir die land en sy mense se redding, het oornag internasionale steun gekry. Ons  nooi alle gebedsgroepe, individue, wie ook al, om saam te bid. Dit gaan uiteindelik nie oor Gesalfdes van Elohim nie, maar oor die ongeredde siele, en ons almal se Roeping om die Getal vol te maak.






 Cheryl Amabile en haar man Paul  

Sunday 23 February 2020

God wil jou uit jou benoudheid verlos.

 Anderkant die swaarkry lyk dit baie goed!  

   

“Hulle sal nie meer honger en nie meer dors kry nie; die son sal hulle nie brand nie en ‘n hittegloed ook nie, want die Lam wat in die middel van die troon sit, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei; en God sal al die trane van hulle oë afdroog.”
Openb 7:16-17


            Daar is goeie nuus. Die HERE wat vir Elia uit sy groot benoudheid verlos het, is nog steeds dieselfde. Wat Hy vir Elia gedoen het, wil Hy ook vir jou en my doen.


            Daar is mense wat sê dat Elia terugkom aarde toe omdat hy, soos Jesus, die aarde lewend verlaat het. Dit is nie waar nie. Wat wel waar is, is dat die gees en krag van Elia tans oor die aarde beweeg om kinders en vaders te versoen. Luk 1:17


            Ons is in die Eindtyd. Die tyd van die groot afval: Die apostel Paulus waarsku dat in die laaste dae daar ‘n aansienlike toename sal wees in valse leering. “Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang. 1 Tim 4:1.”


Die laaste dae word beskryf as “gevaarlike tye” omrede die toename van euwel in die mens se karakter asook die feit dat mense die waarheid aktief teenstaan. 2 Tim 3:1-9 asook 2 Tess 2:3).

            As jy die karakter van Elia het, sorg dat jy dit behou. As jy dit nie het nie, maak werk daarvan om dit te bekom.


            As jou karakter reg is, kan jy die volgende opeis en daarop staatmaak:

“Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige.

“Ek sal tot die HERE sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou.

Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes.

“Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is 'n skild en pantser.

“Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie, vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie!

“Al val daar duisend aan jou sy en tien duisend aan jou regterhand- na jou sal dit nie aankom nie.

“Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien.

Want U, HERE, is my toevlug. Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak.

“Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie; want Hy sal sy Engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.

“Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.

“Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap.

“Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken.

“Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee.

“Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.” Ps 91

            Die geheim is om onsself daagliks te vernuwe deur die Woord en gebed. Luister: “Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.

            “Want ons ligte verdrukking wat vir 'n oomblik is, bewerk vir ons 'n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.” 2 Kor 4: 17-18 – Wekroep

Monday 17 February 2020

Sovêr dit van jou afhang



Een van die grootste geskenke wat enige mens in sy lewe kan ontvang, is die geskenk van vrede...om werklik vrede in alle omstandighede te kan hê...ten spyte van die dinge waardeur mens soms gaan, of dinge wat rondom jou aan die gang is...om altyd na daai plek van vrede te kan terugkeer.

Daardie tipe vrede kan mens egter net kry as jy die Prins van vrede ontmoet het en Hom die Heer van jou lewe gemaak het!

'n Hele paar jaar gelede, het die Here vir my baie duidelik in 'n droom gesê dat vrede 'n keuse is en dat dit van die mens afhang of hy daardie keuse gaan maak al dan nie. Paulus is ook baie duidelik daaroor in die brief aan die heiliges in Rome.

Rom 12:17  vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense;
Rom 12:18  as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.

In ons land is daar op hierdie stadium baie dinge aan die gang wat daarop uit is om vrees in te boesem en om die vrede  by mense te steel. Daardeur word daar deur die Satan ook baie verdeeldheid gesaai en dan ook baie spesifiek in die liggaam van Christus. Die Duiwel weet dat as daar nie eenheid is nie, daar ook nie krag is nie en só lê hy die ware kerk van Christus lam in tye waar dit regtig nodig is dat mense die krag van God kan sien en beleef.

Gelowiges se fokus word getrek na die fisiese dinge rondom ons sodat ons nie in die Gees bly fokus nie en bring mee dat baie kinders van die Here se woorde en optrede nie strook met die beeld van Christus nie. Baie leef dan ook meer in vrees en swaarmoedigheid as met blydskap en dankbaarheid.

Só wat het hierdie manne gehad of geweet wat ons in vandag se tye die kol laat mis?

Fil4:4  Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!
Fil 4:5  Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby.
Fil 4:6  Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.
Fil 4:7  En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

Ek glo dat ons beslis in die laaste dae leef en weet ook dat die dinge van duisternis net nog erger gaan word, aangesien Jesus ons ook daaroor gewaarsku het. Die droogte en politieke dinge in ons land het baie kinders van die Here op 'n baie laagtepunt in hul lewens gebring en dit het verseker 'n groot impak op mense.

Tog is dit van uiterste belang dat ons in hiérdie tye juis die eenheid onder gelowiges moet beskerm, aangesien baie aanvalle ook uit eie geledere kom. Daarom moet ons ook ag slaan op die Gees se vermaning daaroor deur Paulus in sy briewe aan die Korinthiërs.

1 Kor 1:10  Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.

GEBED: 
"Ons hemelse Vader, U sien en ken die dinge waardeur ons nou deurgaan en U het ons ook gewaarsku dat dit sal kom. Kom versterk ons opnuut met U krag uit die hoogte dat ons kan staande bly in hiérdie tye, sodat ons ook tot die einde toe sal volhard. Help ons om die eenheid tussen U kinders te bewaar en vergewe tog ook ons aandeel in die verdeeldheid wat daar reeds is...amen!"

Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

Tuesday 11 February 2020

Onderhou Sy opdragte


Psalm 119:4-8: "U het u bevele gegee om dit trou te onderhou. Ag, was my weë maar vas om u insettinge te onderhou! Dan sal ek nie beskaamd staan as ek op al u gebooie let nie. Ek sal U loof in opregtheid van hart as ek u regverdige verordeninge leer. Ek sal u insettinge onderhou; verlaat my nie geheel en al nie."

Ons sien in hierdie paar verse dat die Here Sy bevele in Sy Woord vir ons gegee het vir 'n spesifieke rede. En daardie rede is sodat ons kan leer om dit trou te onderhou.

Om dit trou te onderhou, beteken dat ons GETROU sal wees in die onderhouding daarvan, dat ons nie sal afwyk in ons gehoorsaamheid aan Sy Woord en Sy opdragte nie. En Dawid roep uit dat hy so graag wil hê dat sy weë STANDVASTIG sal wees om die Here se insettinge te onderhou.

Netso moet die uitroep in my en jou harte in hierdie week wees dat ons weë, by die huis en by die werk, vas moet wees om God se insettinge te onderhou.

Want doen ons dit so, is daar 'n belofte in hierdie teksverse opgeneem, naamlik dat ek dan nie "beskaamd" sal staan nie. Dit beteken niks anders dat as ek gehoorsaam is aan God se Woord en Sy opdragte, dan hoef ek my nie vir  enigiets in my lewe te skaam nie. Hoekom nie? Want ek gaan dan nie daardie tipes goed in my lewe doen wat wil veroorsaak dat ek my moet skaam vir my optredes teenoor my geliefdes of werkskollegas nie.

Verder is daar dan die bemoediging dat as ek Sy regverdige verordeninge in Sy Woord leer, dit die gevolg sal hê dat ek Hom sal begin loof met 'n opregte hart. Want dit is absoluut so waar dat hoe meer ons God en Sy Woord leer ken, en besef hoe reg en regverdig Hy is, kan ons nie anders as om Hom in ware opregtheid te begin loof en prys nie.

En dit doen ons nie net met ons monde nie, nee, ons begin dit met ons hele lewens doen, sodat ons hele lewe uiteindelik 'n loflied en 'n lofoffer vir ons God begin raak, hetsy tussen ons familie, vriende, of by die werk. En as ek Sy insettinge, Sy opdragte in Sy Woord onderhou, sal Hy my nooit verlaat nie, en al was ons broer Dawid bekommerd daaroor, weet ons dit sal nooit gebeur nie.

Hoe weet ons dit? Want ons het die brief aan die Hebreërs tot ons beskikking wat hy nie gehad het nie. En kyk hoe mooi staan dit in Hebreërs 13:5: "Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie."

Mag ons dus elkeen in hierdie week Sy gebooie en opdragte getrou en vas begin onderhou, sodat ons ons nie hoef te skaam vir enigiets wat ons gedoen het nie, en mag ons in ons daaglikse lewens Hom met opregte harte loof.

Maar ten einde dit reg te kry het ons natuurlik nodig om Sy Woord daagliks getrou te BESTUDEER.

GEBED: 

"Vader, dankie dat U U bevele vir ons gegee het om dit getrou te onderhou. Leer my asseblief in hierdie week ook om dit so te begin doen, sodat ek my nie meer hoef te skaam vir my eie optredes nie, en sodat my lewe 'n opregte lofoffer tot U eer sal word. In Jesus Naam. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

Bly in die spel


Soms, en net soms, gee die voltydse bediening vir jou 'n bietjie 'cabin fever' en jy weet net; NOU moet jy hier uitkom en vinnig roetine breek. Ek reël toe vir my 'n sessie 'Racquetball' saam met 'n ou vriend.

Ek het egter nog nooit voorheen teen hom gespeel nie, behalwe tafeltennis. Ek het ook geweet, dat hy redelik goed is met muurbal en dat hy vir my 'n lekker uitdaging kan wees. Ek wou toe aan hom, hierdie nuwe Amerikaans-ingevoerde sport [Racquetball] voorstel met die hoop, dat die gogga sal byt en dat ons heeltyd dit kan speel. Die spel is aansienlik stadiger vir al die 'ouer' garde, duskant 50. Muurbal het net te vinnig geword vir my. Racquetball is redelik identies aan muurbal, behalwe dat die rakket en bal net twee keer groter is. Met hierdie sport, kan jy ook meer domineer vanaf die middel af. Lekker groot pret.

Toe nie vir my, op daardie spesifieke dag nie! My vriend het my absoluut niks gespaar nie. Ek het parkering gesoek, om die waarheid te sê. Die streng kompetisie het toe verander in 'n standaard oefensessie - 'n baie diplomatiese manier, waarop jy vir iemand wil sê, dat jy eindelik in die verkeerde liga is. Ek het 'n staande reël met al my vriende, dat jy speel jou beste spel teen my. 'You daren't soft-play me in the match.' Daar is nie 'n groter vernedering, as jou mededinger probeer om 'aan te pas' by jou swak spel, sodat jy goed moet lyk nie. Dit is net af.

My realiteit vir daardie dag was: Ek kon nie vinnig genoeg by al die balle uitkom nie; my muurhoue was pateties; ek het heeltyd in sy hand gespeel en hoegenaamd nie gedomineer vanaf die middel af nie; my 'dropshots' het ewe skielik vlerke gekry en ek was heeltyd uitasem uit gewees. Die eenvoudige, basiese dissiplines van die spel, was vir my net heeltemal buite bereik gewees. Gun my ook om te sê, dat ek twee jaar laas Racquetball gespeel het. Ek draf gereëld om die blok, maar die fiksheid element, soos almal weet, is net nie dieselfde nie.

Tot my ontnugtering, moes ek ook ná die tyd hoor, dat my mededinger eintlik nou vir 'n geruime tyd al vir die A-liga muurbal speel! Ek het dit nie geweet nie. 'Knowledge is power, right?'

Ek besef toe, dat hier 'n geestelike parallel is.

Baie gelowiges het my spreekkamer al vol gesit, wat lelik afgedwaal het vanaf die geloof of verkoel het in hul liefde vir God of verval het in erge sondige-en bose praktyke. En klokslag met 30% van alle gevalle, vergeestelik hulle dit met 'n antwoord; dat dit aanvanklik God was, wat hulle in 'n geestelike 'sabbatical' jaar of twee van isolasie ingeroep het; wanneer jy hulle dan nou vra, hoe hulle hiér in 'Hartseerville' beland het? Jy waag ook om hulle te vra, of hulle heeltemal seker is, dat hulle reg 'gehoor' het by die Here, en hoe God Sy Woord aan hulle bevestig het, om dan nou te onttrek vanuit Sy liggaam se gereëlde gemeenskap en gesonde leer uit, vir so 'n lang seisoen?

Met baie verwarring, kon nog min kliënte effektief my vraag geantwoord het. Ek het nie 'n probleem, as Vader jou roep tot kort tye van afsondering nie, maar wanneer jy glo, jy ook vir twee jaar uit die spel geneem moet word, soos ek, gaan jy erge gevolge van verwaarlosing wys. Om nie eers te praat van die spiere, wat jy gaan trek of skeur nie.

Wanneer jy enige gesonde ledemaat vanaf 'n lewendige liggaam afsny en eenkant in 'n hoek gooi, gaan hy begin vrot en uiteindellik doodgaan. Hy gaan sy bloed-en-suurstof toevoer verloor vanaf die gasheer - die liggaam - en ophou funksioneer. Hy sterf. Hy is losstaande. [detached]

God is 'n familie-God. Hy glo aan familie en die gesin. Hy het hierdie wonderlike konsep Self ontwerp vir elke gelowige, om 'geborge' te wees in Sy liefde. Om GEBORGE te voel, beteken die volgende: 'Ek is geliefd, ek is beskermd en my basiese behoeftes is voorsien'.

Baie vra my: 'Hoe op dees aarde, het ek in hierdie misleiding beland, broer? Hoe het ek hier gekom, Hennie?' Ek vra dan: 'Loop jy miskien alleen of is jy aangeheg [attached] aan 'n liggaam, wat vir jou, al jou blinde kolle in liefde en genade kon uitwys?' Spreuke 18:1 leer ons, dat 'n mens nie ontvanklik is vir enige inspraak, as jy jouself isoleer nie. Ander vra my weer: 'Hoekom beleef ek ook nie God se sorg, Sy voorsiening en Sy liefde, soos die meeste van julle nie?' Ek vra dan: 'Loop jy miskien alleen of is jy aangeheg [attached] aan 'n liggaam, waardeur God aan jou kan voorsien, wat jy daagliks nodig het?' Ek kan nie eers vir myself probeer indink, dat my 9-jarige seun, nou sy ouerhuis wil verlaat en vir twee jaar 'antwoorde' gaan soek of opleiding in geregtigheid wil gaan ontvang in die woestyn nie. Dit maak nie sin nie, doen dit?

Ander is nou weer passief-aktief betrokke in 'n liggaam, maar te trots om te vra vir enige hulp of leiding. Tussen almal, maar só alleen.

Romeine 8:15 verduidelik mooi aan ons, dat met jou oorgawe, jy nou deur 'n intieme Vader in 'n nuwe familie ingeplant is. Saam met vaders, kry jy ook families. Wees deel van Sy familie, asseblief, kind van God. Vind vir jou 'n geestelike gemeenskap, waar jy ook 'geborge' kan voel, as jy nie alreeds een het nie. En dit hoef nie eers baie te wees nie.

En wanneer jy dan nou een vir jou gekry het, is dit ook belangrik om jou spel te BLY beoefen, deur gereëld op te daag vir die Racquetball sessies! Bly fiks en aktief, sodat jy sonder moeite, by al die balle kan uitkom!

Hebreërs 10:25 bemoedig ons: '..en laat ons, ons onderlinge byeenkomste nie versuim, soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer, namate julle die dag sien nader kom.'

Gebed:
"Vader, bind my hegter aan 'n liefdevolle familie, waardeur ek ook geborge kan voel. Lei my, asseblief Here. Dankie vir die selfdissipline, om gereëld op te daag vir die oefensessies in die Gees. In die wonderlike Naam van Christus Jesus. Amen."



 Geskryf deur: hennie van der westhuizen
(info@paragonlife.co.za)

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...