Wednesday 30 December 2015

Wat beteken dit REGTIG om te WAG ?


Image result for person waiting




Ek praat gereeld met mense wat hulle harte vir die Here gegee het, maar telkens sommer gou weer wil moed opgee. Hoekom doen hulle dit? Want dinge gebeur nie met hulle soos en wanneer húlle gedink het dit gaan gebeur nie. Nie op húlle tyd nie en nie soos húlle graag wil hê dit met hulle moet gebeur nie. God, daarenteen, wil hê dat ons sal leer om op Hom te wag, sodat Hy op SY TYD, SY WIL vir ons lewens aan ons kan uitwys. Kom ons kyk in hierdie verband na Jesaja 30:18:

 "En daarom sal die Here met ongeduld daarop wag om julle genadig te wees, en daarom sal Hy Hom verhef om Hom oor julle te ontferm; want die Here is 'n God van die gerig.  Welgeluksalig almal wat op Hom wag!"

 Dit is dus baie duidelik dat ons moet leer om op God te WAG. Ons wil altyd hê dinge moet op óns tyd (so gou as moontlik) met ons gebeur. Ons wil mos heeltyd vir God sê: "Lord I want some patience and I want it NOW!" Dit is egter nie hoe dit met God werk nie. Hy wil hê ons moet leer om te volhard, Hy wil hê ons moet leer om geduldig te wees, Hy wil hê ons moet leer om op Hom te vertrou in stede van op ons eie vermoëns.  En wat sê die Bybelteks wat ons nou net gelees het? God wag met ONGEDULD daarop om ons genadig te wees en ons is "welgeluksalig" (= geseënd!) as ons op Hom wag.  Met ander woorde, Hy WAG op ons om op HOM te leer wag! En wanneer ons leer om so op Hom te wag, is ons geseënd! Weet jy, die Bybel is vol van die refrein: "Wag op God, wag vir God, wag, wag, wag..." Die Hebreeuse woord vir "wag" is: "qavah", wat beteken "to collect" of "to expect" of "om ineengestrengel te wees in". Met ander woorde, ons moet God op so 'n wyse in ons lewens verwag, en inderdaad opneem, dat ons totaal in en met Hom ineengestrengel sal wees. Slegs dan sal ons werklik gehoorsaam kán wees en wíl wees aan Sy opdragte.

 So het die profeet Miga dit uitgeroep in Miga 7:7:

 "Maar ek sal uitsien na die Here, ek wil wag op die God van my heil, my God sal my hoor."

 Moet dit nie wonderlik wees om so "ineengestrengel" te wees in die lewende, waaragtige, Almagtige God nie? Dink net wat wil Hy graag alles vir ons leer terwyl ons so ineengestrengel is met Hom! Maar dan moet ons GEHOORSAAM wees aan Sy Woord. Ons moet Sy Woord letterlik begin opneem en begin DOEN wat Hy vir ons in Sy Woord sê hieroor. Ons moet leer om te wag sodat Hy vir ons kan wys wat Sy doel met ons lewens is, nie wat ONS wil hê vir ons lewens nie.

 Maar wat doen die "vader van die leuen", satan, met die wêreld, as ons net om ons rondkyk? ALLES, word net al hoe vinniger - die lewe, die tegnologie, ons lewenstyl, ons werksprogramme, ensomeer. Alles word ontwikkel en daarop ingestel om dinge VINNIGER te laat gebeur. En ek sê glad nie dis 'n slegte ding nie, inteendeel. Die probleem lê egter daarin dat, soos wat ons gewoond raak aan alles wat so vinnig gebeur óm ons, verleer ons wat dit is om te WAG. Ons raak gefrustreerd as ons in 'n ry moet staan, so dis vinniger as ek my inkopies via die internet doen. Ons raak gefrustreerd as die rooi lig nie vinnig genoeg groen slaan nie, en daarom is daar so baie ongelukke by robotte, waar motors die lig "spring". Ons raak gefrustreerd as die predikant dit waag om 'n minuut langer as sy "toegelate" een uur te preek. (Terwyl ons vergeet dat Jesus by geleenthede dae lank gepreek het sonder dat enigiemand gekla het! Ja, maar Tiaan dit was in Jesus se tyd, die mense het nie so baie gehad om te doen soos ons deesdae nie. Inderdaad, liewe vriend, maar hulle het iets baie bétér gehad - 'n persoonlike verhouding met die lewende Jesus Christus! En dit is ook vir ons beskore. As ons net wil ophou kyk na die struktuur, na die kerk, na die program, na die tydskedule, en slegs na HOM begin dors!)

 En wat sê God? Hy wil sedert die begin van tyd stééds hê ons moet leer om te wag, om te volhard. En ons weet nie meer hoe nie. Daarom raak ek ook vinnig gefrustreerd met God omdat Hy nie die dinge om ons laat gebeur so gou as wat EK wil hê Hy dit moet doen nie. En NET DAAR lê satan se wapen, wat hy gebruik om die verhouding tussen my en God te skaad.

 Nee, my liewe mens, ons moet weer leer om REGTIG op God te wag, soos Hy dit van ons verwag. Slegs dan kan Hy begin om ons te seën soos Hy ons wil seën. Maar sien, ons is ons eie grootste vyand en ons seëninge se eie beperking.

 tiaan gildenhuys
  (tg@oicb.co.za)

Geplaas met toestemming

Thursday 24 December 2015

Geseënde Kerstyd

Image result for geseende kersfeesImage result for geseende kersfees



Aan al my lesers, vriende en familie


Mag hierdie Christusfees julle herinner aan die belofte van Jesus se geboorte, Mag Hy in elkeen se hart wees elke dag asook tydens hierdie feestyd, en mag ons onthou dat dit gaan oor Hom wat die prys vir ons betaal het met liefde. Hy is gebore omdat die wêreld liefde nodig gehad het.

Ek wil sommer van die geleentheid gebruik maak om ook aan almal dankie te sê vir julle getroue ondersteuning, vir al die briewe, die sëenwense en gebede wat julle ook vir my stuur. Mag die Heilige Gees ons altyd lei in waarheid op hierdie forum en ons sëen met mooi vriendskappe, bemoediging en Jesus liefde.

Geseënde Feestyd vir jou en jou familie.

Liefde
Belinda








Het jy plek vir Jesus op Sy geboortedag?


Image result for birth of jesus 


Luk 2:7 En sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê, omdat daar geen plek in die herberg was nie.

Toe Josef en Maria herberg gesoek het, en die mense daai tyd sou geweet het dat sy Jesus, in haar moederskoot het, sou hulle sekerlik plek gemaak het vir haar om geboorte te kon gee aan die Koning wat kom. Ek en jy weet nou dat dit Jesus was wat sy gebaar het, hoe kan ons nie plek hê vir Hom nie? Ons het geen verskoning nie!

Met die geboorte van Jesus het ons nie net ‘n Verlosser en Saligmaker gekry nie, maar God SELF het ook uit die hemel gestap om by ons te kom woon!

Matt 1:23  Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem…Die Naam beteken! God by ons!!

Op Kersdag ontvang ons die reddened hand van God, deur Sy Seun Jesus Christus. God openbaar Homself op Kersdag aan ons, as die Seun!

God se verskyning aan ons deur Jesus Christus op Kersdag het reeds die belofte ingehou van die Heilige Gees wat sou kom om ons te leer, te lei, te troos,toe te rus en met krag te vul. Om ons verstand te lig, ons harte warm te maak en ons siele op te hef tot aanbidding.

Joh 14:2,4 (verkort) Ek gaan om vir hulle plek gereed te maak….En julle ken die weg na hierdie plek waarheen Ek gaan.

Alhoewel daar nie plek was vir Jesus se geboorte in Betlehem nie, het Hy nogsteeds deur die Kruisdood gegaan om vir ons plek gereed te maak, om die berouvolle sondaar te verserker dat daar ‘n plek vir hom/haar sal wees by die Vader!

Durf ons toelaat dat Hy by die deur van ons harte staan en klop en ons wieier om die deur vir Hom oop te maak?

Laat ons kersgesindheid wees om plek en tyd in ons lewens te maak vir God, Sy Seun en God se Gees.

Maak seker jy het plek vir Jesus sodat jy sonder vrees wees dat Jesus vir jou plek gaan hê by Onse Hemelse Vader was die feestyd nooit sal ophou nie.

Vader, Seun en Heilige Gees, ek gee myself opnuut weer oor aan U, en dank U vir U liefde, redding en genade in Jesus Christus.
Amen

Geseënde Feestyd
Groete

Belinda

As jy enige geestelike hulp, gebed of berading verlang skryf aan Belinda Paar (belindapaar@gmail.com)

Sukkel jy met woede?


 Image result for someone who is angry


Deur die Evangelie lees ons hoe Jesus gedreig was, uitgemaak was as ‘n leuenaar, bespot was, uitgelag was, uitgelok was om kwaad te word, mense Hom nie geglo het nie, alhoewel Hy altyd net die waarheid gepraat het, hoe Hy verneder was, verwerp deur Sy eie mense, veraai deur Sy eie disipels en uiteindelik wreed gemartel en doodgemaak was.

Tog het Jesus altyd ‘n gesindheid van geduld en liefde uitgestraal  en het tot die einde toe, ‘n vergewensgesindheid gehad.

Woede is ‘n baie meer skadelik vir ‘n mense as enige siekte, want dit is ‘n siekte van die gees. Dit beinvloed jou goeie oordeel, jou gedagtes, dit maak jou verbitterd, dit beinvloed jou verhoudings met mense om jou,  dit laat jou wrokke dra, jy begin die persoon sleg sê en haat, dit maak jou gewelddadig en dit tas jou geestelik, fisies, emosioneel, maatskaplike, verstandelik aan, en dit maak jou siek!

Jer 4:18 Jou handel en jou wandel het dit aan jou gedoen, dit is jou boosheid, ja, bitter is dit, ja dit raak tot aan jou hart.

Hoe langer jy woede koester, hoe moeiliker gaan dit word om weer beheer oor jou lewe te kry.

Efes 4:26 word toornig (kwaad), en moenie sondig nie, laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie.

Wanneer jy sukkel met woede, vra Jesus om jou te bevry van hierdie negatiewe emosie en gevoelens. Vergewe mense met die krag van die Heilige Gees, spreek hulle vry, en indien nodig herstel verhoudings. Om mense te vergewe beteken nie dat jy saam stem met wat hulle aan jou gedoen het nie, dit beteken net dat jy besluit om nie langer in gevangeniskap te sit met hierdie emosies nie.

Efes 4: 32 Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar, vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe.

Ons lees in Matt 6, hoe Jesus self ons leer om te bid, ons almal ken die Onse Vader, en net na die Onse Vader sê Jesus self!

Matt 6:14&15 “Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle Hemelse Vader julle ook vergewe,
(15) Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie”.

Wil jy vergifis ontvang, en van jou woede ontslae raak in jou lewe?. Vergewe mense! Nie net omdat dit die regte ding is om te doen nie, maar vir jouself, sodat jy ‘n gesonde geestelike, maatskaplike en fisiese lewe kan ly, maar meer belangrik, sodat ons Hemelse Vader jou, jou oortredinge ook kan vergewe.

Jesus seën

Belinda


As jy enige geestelike hulp, gebed of berading verlang skryf aan Belinda Paar (belindapaar@gmail.com)


Saturday 19 December 2015

God maak nie dood nie!


Image result for bunch of pink roses




Ek het opnuut tot hierdie besef gekom toe ek ‘n paar jaar gelede voor my 23-jarige stiefdogter (Imari) se oop graf gestaan het. Sy is enkele dae vantevore aan hartversaking oorlede.

En onmiddellik was daar weer die normale: “Dit was maar seker die Here se wil”, of: “Hy het die mooiste blommetjie gepluk om in Sy tuin te plant” van mense se kant af.  Nee weet jy, ek glo dit lankal glad nie meer nie. Daarom het ek reeds ongeveer ‘n paar jaar gelede ‘n boek geskryf met die titel: “God is nie in die doodmaak besigheid nie”. En het ek ook ‘n DVD uitgebring met die titel: “God maak nie dood nie”

Waar kom ek daaraan? Ek lees maar net woord vir woord wat bepaal die Bybel. In Johannes 8:44 sien ek Jesus Christus is aan die woord en Hy sê onomwonde: “…die duiwel… Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af…” Dit is nie sommer enige mens wat hier praat nie, maar Jesus Homself. En wie is Jesus? Hy is God! En wat sê Hy? Hy sê SATAN is ‘n mensemoordenaar VAN DIE BEGIN AF. Van watter begin af? Van Kain en Abel af.

In Johannes 10:10 is Jesus weer aan die woord en Hy sê: “Die dief (satan) kom NET om te steel en te slag (Eng.- ”kill”) en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.” Jesus Christus Homself sê vir my dat SATAN die een is wat ‘n mensemoordenaar is van die begin af en dat hy gekom het NET om te steel, verwoes en dood te maak. Maar dan kom ons as mense by so 'n hartseergeleentheid en ons wil onmiddellik vir God die skuld gee vir daardie persoon se dood. God Homself sê satan maak dood, maar die mense sê God maak dood. En dan glo ons die mense...

Dit was nie God wat daardie persoon doodgemaak het nie! Dit was satan! En dan wil hy hê ons moet vir God beskuldig daarvoor. Sodoende wil hy veroorsaak dat van die familielede wat agterbly, later so kwaad is vir God oor hulle geliefde/s se afsterwe, dat hulle uiteindelik niks meer met God te doen wil hê nie. Daar bestaan ook nie so iets dat dit “…die Here behaag het om… van ons weg te neem…” nie. Hoe kan ek dit sê? Ek lees weer eens net die Bybel. Esegiël 18:32 bepaal: “Want Ek het GEEN behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here HERE.”

Dit is mos 'n teenstrydigheid om vir iemand te sê: “God het jou kind/broer/man/vrou doodgemaak, gaan vind nou jou berusting by God”. Geen mens sal vir berading na daardie een persoon toe gaan wat fisies die dood van sy of haar geliefde veroorsaak het nie. Maar die oomblik wat ek die waarheid vanuit die Woord snap dat dit nie ons wonderlike Hemelse Vader was wat ons geliefde/s “doodgemaak” het nie, maar wel die satan wat sy of haar “vlees” “verderf” het (volgens 1 Korinthiërs 5:5 (1933-vertaling)), kan ek nou met my hartseer en my rou op God se skoot gaan klim en al my trane teen Sy bors gaan uithuil.

Ek weet wel een ding – die oomblik toe die satan Imari se “vlees verderf” het, was die engele in haar kamer om haar GEES reguit hemel toe te neem! Hoe kan ek so seker wees? Want sy het 'n keuse gemaak, en het die Here liefgehad met haar hele hart en het Hom veral die laaste paar maande van haar lewe met 'n passie begin dien. Dus het God haar nie doodgemaak nie, dit het satan en sy bose magte reggekry, maar God het net haar gees “huis toe gevat”. Na die plek toe waar sy as Sy kind behoort. Daar waar sy nou in onverganklike heerlikheid vir ons almal wat ook vir God 'n keuse gemaak het, wag.

Maar juis omdat so baie mense vir baie jare nie die teenstrydigheid kon insien nie, is daar baie mense wat effektief van God af weggedraai het ná die afsterwe van hulle geliefde/s. Wat veroorsaak dit? Hulle geliefdes wat Jesus geken en gedien het, wag vir hulle voor God se troon om die ewigheid saam met hulle te kan wees, maar omdat die agtergeblewenes weggedraai het nadat hulle begin glo het dit was God wat daardie geliefdes doodgemaak het, eindig hulle in die ewigheid op 'n ander plek. 'n Plek van smarte, ver verwyder van God en van hulle geliefdes.

Kyk gerus na nog een laaste teksvers indien jy my nog nie glo nie: 2 Samuel 14:14: “Want ons moet eenmaal sterwe en soos water wees wat uitgegooi word op die grond, wat ‘n mens nie weer kan versamel nie; en GOD NEEM DIE LEWE NIE WEG NIE …”

Liewe vriend & vriendin, as jy tot dusver nog gewroeg het met daardie teenstrydigheid in jou ná 'n geliefde se dood, kan ek net bid dat hierdie kort artikel jou gehelp het om tot ander insigte te kom, en met nuwe oë na ons wonderlike Hemelse Vader te kyk.

Hoor wat sê Hy vir jou en vir my in Jeremia 29:11: “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n HOOPVOLLE TOEKOMS te gee.” Ek en my familie weet dat ons 'n hoopvolle toekoms het om eendag in alle ewigheid saam met Imari te wees. Juis omdat ons almal ook al, soos sy, 'n keuse vir Jeus gemaak het. Weet jy dit al?

Die enigste manier hoe jy kan seker wees dat jy ook eendag saam met jou geliefdes kan wees wat alreeds dood is, is om Jesus Christus ook as jou Verlosser, Redder en Saligmaker aan te neem. Hoe? Deur gou die volgende gebedjie hardop te bid, net daar waar jy sit: “Here Jesus, ek weet en erken dat ek 'n sondaar is. Ek bely nou en hier al my sondes voor U, my verkeerde gedagtes, verkeerde woorde en verkeerde dade. Here, U ken tog alles. Ek bely dit as sonde en ek vra U om my te vergewe. Dankie Jesus dat ek kan weet U vergewe my nou. Open asseblief U Woord vir my en leer my om van vandag af alles te onderhou wat U in U Woord bepaal, sodat ek ook gehoorsaam aan U kan lewe. Dankie Here dat ek nou kan weet, wanneer ek die dag sterwe, sal ek ook in ewigheid saam met my geliefdes wees wat my reeds voorgegaan het in U Hemelse Koninkryk in. Halleluja! Amen.”

As jy dit nou gedoen het, weet ek dat Imari saam met duisende engele voor die troon van God juig omdat jy nou ook eendag saam met ons en hulle almal in daardie onverganklike heerlikheid sal wees! Prys Jesus vir jou keuse!

In liefdevolle herinnering aan IMARI PRINSLOO, prinses van God.

8 April 1984 – 20 April 2007

tiaan gildenhuys (tg@oicb.co.za)

tiaan

(Geplaas met toestemming van Tiaan)


As jy enige geestelike hulp, gebed of berading verlang skryf aan Belinda Paar (belindapaar@gmail.com)

Wat doen Jesus langs die Jordaan?


Image result for Jesus at the Jordan River

Hy laat Hom doop!

Tyd het ‘n geneigdheid om altyd aan te hou loop, en op 'n dag stap die volwasse Jesus Christus langs die Jordaanrivier op… Hoekom? Kom! Hardloop saam met my daarheen! Kom ons gaan kyk…

“Toe het Jesus van Galiléa na die Jordaan, na Johannes gekom om deur hom GEDOOP te word. Maar Johannes het Hom ernstig teëgegaan en gesê: Ek het nodig om deur U gedoop te word, en kom U na my toe? Maar Jesus het geantwoord en vir hom gesê: Laat dit nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul. Daarna het hy Hom toegelaat.” (Mattheus 3:13-15)

Dis baie interessant om te let dat die EERSTE ding wat die volwasse Jesus kom doen, is om Hom deur Johannes te LAAT DOOP.

As ek dus die pad saam met Jesus stap, bly ek iewers in my geloofsgroei agter as ek my nie ook AS VOLWASSE GELOWIGE laat doop nie. Lees weer wat sê Jesus aan Johannes as hy Hom nie wil doop nie – “Laat dit nou toe, want so – HOE? – JA, DEUR SY GROOT DOOP - moet ons alle geregtigheid vervul.” Maar gou kom die argument vanuit die kerk dat die “kleindoop” of “besprinkelingsdoop” in die plek van die besnydenis gekom het en dat daar geen grond of rede bestaan waarom ek myself sou wou laat “groot doop” nie. Ek het geen probleem met daardie argument nie, behalwe dat die vergelyking tussen myself en Jesus Christus op die pad wat ons nou saam stap, op hierdie spesifieke stadium in Sy (en my) lewe dan vir my 'n groot gaping los. Hoekom? Wel, kom ons kyk – Jesus is besny en ek is klein gedoop, so op daardie stadium as klein babatjies is beide Jesus en myself “gelyk” uit die oogpunt van daardie bogemelde argument, want my kleindoop het mos in die plek van Sy besnydenis gekom. Geen probleem tot hier nie. En dan? Die dag wat Hy as volwasse man die Jordaan binnestap om ook as grootmens gedoop te word, bly ek iewers agter. Hy het, as my ouer broer, as eersgeborene van baie broers, wat jou en my insluit, 'n stap vérder geneem, en ek nie, as ek myself nie deur die Heilige Gees laat oortuig om my ook te laat groot doop nie.

As my persoonlike kleindoop in die plek van Jesus se besnydenis gekom het, wat van my het in die plek van Jesus se grootdoop gekom? Of het my kleindoop in die plek van BEIDE Jesus se besnydenis én Sy grootdoop gekom? Is die “verbondswaarde”, as ek met respek so 'n woord mag gebruik, van my persoonlike kleindoop, - wat 'n menslike instelling was - stérker as die “verbondswaarde” van Jesus se besnydenis? Soos ek reeds voorheen gesê het, is my kleindoop se “verbondswaarde” só groot, só sterk, dat dit selfs ons Koning, Jesus Christus, se persoonlike grootdoop dertig jaar later in Sy lewe, uitkanselleer, of dit dan ook insluit? Indien wel, waar staan dit in die Bybel? Nêrens nie! Nee vriend, wat anders kan my op hierdie pad weer gelyk met Jesus bring, ánders as dat ek myself ook laat grootdoop? – NET SOOS WAT HY DIT GEDOEN HET! In gehoorsaamheid aan God se Woord. 'n Persoonlike vriend van my het die volgende fantastiese openbaring ontvang rondom die verskil tussen die “verbondswaarde” van die besnydenis en die doop: Die besnydenis was 'n verbond wat deur God ingestel was, met ander woorde, dit het van God af gekom, wat dit met die mens aangegaan het. Kyk ons egter na hierdie volgende teksvers oor die doop, sal ons sien dat die doop 'n “bede tot God” is om 'n skoon gewete:

“Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie ‘n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ‘n bede tot God om ‘n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus.” (1 Petrus 3:21)

Baie duidelik dus het die besnydenis opdrag uit die hemel gekom, na die mens toe. Uit hierdie teksvers, merk ons dat die mens, deur sy grootdoop 'n bede tot God doen, dit wil sê, dit kom van die aarde af en word gerig tot die hemel. Daar is dus 'n baie groot verskil tussen die “verbondswaarde” van die besnydenis en die “verbondswaarde” van die doop, aangesien die een van God af kom na die mens toe, terwyl die ander een van die mens af kom, na God toe. Dit kan dus nooit op dieselfde vlak geplaas word, soos wat mense dit nou al reeds vir soveel jare probeer doen het nie. Soos ek later skryf, kan 'n babatjie nie so 'n “bede tot God” uitspreek nie, so hierdie teksvers het eweneens niks met die “kleindoop” te doen nie.

Het jy nie al ooit gewonder of daar dalk méér steek aan die groot doop as wat meeste mense wil erken nie, veral as ons in ag neem dat dit die ENIGSTE plek in die hele Bybel is waar die Heilige Gees in 'n FISIESE vorm (as duif) aan mense sigbaar geword het? Sê dit nie dalk iets oor die belangrikheid van die groot doop dat dit juis dáár is waar die Heilige Gees eenmalig sigbaar geopenbaar word nie? Hoekom het die Heilige Gees dan nie eerder by die berg van verheerliking so sigbaar gemanifesteer nie, want uit 'n menslike oogpunt was dáárdie tog 'n baie meer “hemelse, Goddelike” oomblik as die oomblik in die waters van die Jordaan? Behalwe natuurlik as die grootdoop eintlik 'n baie belangriker en baie dieper betekenis het as wat ons maar nog altyd gedink het, of probeer wegredeneer het met allerhande “slim” menslike argumente …

'n Paar ander teksverse wat dit baie duidelik maak dat, indien ek werklik die pad saam met Jesus wil stap, ek myself ook uiteindelik sal WIL laat groot doop, is die volgende:

“Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het. Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders? En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en LAAT ELKEEN van julle GEDOOP WORD in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” (Handelinge 2:36 – 38)

Kom ons kyk in die eerste plek na die woorde: “…wat JULLE gekruisig het…”. Ons weet almal dat dit nie die heidene was wat Jesus gekruisig het nie, maar die godsdienstige Jode van Israel. Baie duidelik praat Petrus dus hier NIE net met die ongelowiges wat daar rondgestaan het nie, maar ook met godsdienstige mense, wat uit die aard van die saak daardie tyd beslis almal reeds besny (“kleingedoop”) was. En wat sê hy verder vir HULLE, toe die waarheid van die Woord hulle in die hart tref? “Bekeer julle, en LAAT ÉLKÉÉN (ook die godsdienstiges) van julle GEDOOP WORD in die Naam van Jesus Christus.” En waarom sou hulle hulle laat doop? “…tot vergewing van sondes…” Ek hoef nie veel meer te sê oor daardie sinnetjie nie, want alles gaan daaroor dat ek moet seker maak dat ek met berou my sondes bely sodat ek vergifnis daarvan kan ontvang. Baie duidelik weet ons 'n babatjie kan hom nie bekeer nie, aangesien hy nog niks verkeerds gedoen het nie. Hierdie teksvers is beslis op grootmense gerig wat al KEUSES in die lewe kan maak, met die opdrag dat, sodra jy jou bekeer, jy jou moet LÁÁT groot doop. Duidelik sien ons dus hier dat die doopopdrag óók aan godsdienstige mense, kerkmense, gerig word. Maar kyk mooi hoe reageer die “godsdienstige mense” van Jesus se tyd. Vergelyk dit gerus met die “godsdienstige mense” van vandag, wat ook nog nie werklik die harde stofpad van die geloofslewe sáám met Jesus Christus wíl stap nie, se optrede…

“Al die mense, ook die tollenaars, het na hom geluister en was aan die wil van God gehoorsaam…

Hóé was hulle aan die wil van God gehoorsaam?

“Hulle het hulle met die doop van Johannes LAAT DOOP…”

Baie duidelik nê? Daar is vandag ook vele argumente oor wat die “doop van Johannes” in werklikheid was. In die Bybel is dit baie duidelik dat dit niks anders was as dat mense hulle in die Jordaan fisies deur hom LAAT DOOP het nie. Maar hoe tree die “godsdienstige mense” van destyds op?

“Net die Fariseërs en die wetgeleerdes het die bedoeling van God VERWERP en hulle NIE deur Johannes LAAT DOOP NIE.” (Lukas 7:29, 30)

Net so is daar vandag argument op argument van “godsdienstige mense” van verskeie denominasies of kerke, waarom hulle hulleself nie kán, of nie hóéf, of nie mág, groot laat doop nie. As ek die pad saam met Jesus wil stap, sien ek as ek VOLGENS DIE BYBEL aan God se wil gehoorsaam wil wees – let wel, volgens die Bybel en nie volgens enige menslike leerstellings nie – en ek NIE Sy bedoeling wil verwerp NIE, sal ek myself wel een of ander tyd, uitsluitlik as gehoorsaamheidstap aan God se Woord, laat grootdoop. Of ek gedoop is of nie, raak glad nie my saligheid nie, en kan my nie uit die hemel uithou nie, maar dit sal beslis my verhouding met Christus verdiep.

Ons sien verder in Handelinge 10 dat Petrus ook aan die heidene, (in teenstelling met die godsdienstiges waarvan ek hierbo gepraat het), - daardie mense wat nie deur die Jode erken was as goed genoeg om God te ken nie - die Woord verkondig en dat hulle self ook die Heilige Gees ontvang ná sy prediking. Dan kom hierdie baie duidelike woorde van Petrus aan hulle:

“Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak. Toe het Petrus begin spreek: Niemand kan tog die water weer, dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, nie GEDOOP word nie? En hy het beveel dat hulle gedoop moet word in die Naam van die Here.” (Handelinge 10:46-48)

Wat sien ons is die eerste ding wat Petrus BEVEEL gedoen moet word nadat hulle die Woord gehoor het, hulleself bekeer het en die Heilige Gees ontvang het? Dat hulle gedóóp moet word! Onthou, hierdie was heidene, so hulle was NIE besny nie. Daar was dus nie vir hulle 'n “kleindoop” nie. Uiteraard is dit dieselfde as met ongelowiges wat hulle harte vir die eerste keer vir Jesus Christus gee, hulle moet as grootmense gedoop word as gehoorsaamheidstap aan Christus en Sy evangelie. Ons hoef gelukkig nie in lang argumente in te gaan rondom besprinkeling of onderdompeling nie. Ons weet almal dat in Jesus se tyd, “doop” beteken het om fisies en totaal “onderdompel” te word. As ek en jy vandag koffie en beskuit eet, en ons “doop” die beskuit in die koffie, druk ons immers nie ons vingers in die koffie en spat die koffie oor die stuk beskuit voordat ons dit eet nie!

Maar kom ons los nou eerder die “godsdienstiges”, die ongelowiges, en die heidene uit hierdie argument en ons fokus op diegene wat hulleself gelowiges noem, wat WERKLIK die pad saam met Jesus Christus wil stap en dalk nog wonder wáárom hulle hulle op 'n dag sal wíl laat groot doop. Kom ons kyk na een van die grootste en mees prominente Fariseërs van sy tyd, Saulus van Tarsis, wat as “verbondskind” uit die aard van die saak óók besny was. En kyk net wat gebeur met hóm enkele dae nadat hy die persoonlike ontmoeting met Jesus Christus op pad Damaskus toe gehad het, waarná hy Paulus genoem is:

“En ‘n sekere Ananías, ‘n vroom man volgens die wet, wat ‘n goeie naam gehad het by al die Jode wat daar woon, het na my gekom en by my gaan staan en vir my gesê: Saul, broeder, word siende! En op dieselfde oomblik het ek hom aangekyk. En hy het gesê: Die God van ons vaders het jou voorbeskik om sy wil te ken en die Regverdige te sien en die stem uit sy mond te hoor; want jy sal vir Hom by al die mense ‘n getuie wees van wat jy gesien en gehoor het. En nou, WAAROM VERSUIM JY? Staan op, LAAT JOU DOOP en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.”  (Handelinge 22:12-16)

As ek dus myself nou op die “geloofspad” met Paulus moet vergelyk, lyk dit as volg: Paulus as Joodse gelowige is besny, ek is kleingedoop. Ons is hier gelyk. Net soos ek en Jesus soos ek dit vroeër verduidelik het. Maar dan staan hierdie groot geloofsheld, wat twee derdes van die Nuwe Testament geskryf het, óók op en LÁÁT hóm – SONDER VERDERE VERSUIM - groot doop! En weer is daar 'n gaping tussen my en Paulus, soos tussen my en Jesus Christus, as ek my nie ook laat groot doop nie. As my persoonlike kleindoop in die plek van Paulus se besnydenis gekom het, wat van my het in die plek van Paulus se grootdoop gekom? Wat vir my verder interessant is, is dat hierdie bogemelde teksverse onder andere ook verwys na elke gelowige wat die pad met Jesus begin loop, aangesien dieselfde “voorbeskikking” wat op Paulus van toepassing was, ook op elkeen van ons van toepassing is. God sê in amper soveel woorde in Jesaja 49:1, Jeremia 1:4,5 en Mattheus 28:19 vir ons presies dieselfde as wat Hy vir Paulus gesê het, met ander woorde: “Die God van ons vaders het JOU (ja, jy en ek ook) voorbeskik om sy wil te ken en die Regverdige te sien en die stem uit sy mond te hoor; want JY (jy en ek ook) sal vir Hom by al die mense ‘n getuie wees van wat JY (jy en ek ook) gesien en gehoor het.”  Hoe kan ek sê hierdie teksvers sê amper dieselfde as daardie ander drie? Kom ons lees ook die ander drie teksverse waarna ek verwys, en dan vergelyk ons.

“Hoor na My, eilande, en luister, volke wat ver is! Die HERE het My geroep van die moederskoot af, van my geboorte af het Hy my naam genoem.” (Jesaja 49:1)

“Die woord van die HERE het dan tot my gekom en gesê: VOORDAT Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou GEKEN; en VOORDAT jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou GEHEILIG; Ek het jou tot ‘n PROFEET vir die NASIES gemaak.” (Jeremia 1:4, 5)

“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

Dit is dus duidelik vanuit hierdie teksverse dat die Here ons almal van VOOR ons geboorte af self geken het, geroep het, ons name genoem het, en ons so “voorbeskik” het om uit te gaan en te getuig, en om die nasies te leer, hulle na God toe te lei, en hulle te DOOP. Maar om hulle te kán doop, moet ek self ophou versuim, opstaan en mý láát doop sodat my sondes wat ek gepleeg het sedert ek klein was, afgewas kan word, terwyl ek ook die Naam van die Here aanroep.

“Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding.” (Romeine 6:3 – 5)

“Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie ‘n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ‘n bede tot God om ‘n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus.” (1 Petrus 3:21)

Hier sien ons duidelik nog eens dat die doop nie iets is wat die vuilheid van my fisiese liggaam wegneem nie, maar 'n bede tot God om ons gewete skoon te maak van die verkeerde dinge wat ons gedoen het. Sonder enige twyfel weet almal ook dat 'n babatjie nie enige “…bede tot God (het) om 'n skoon gewete…” nie, want 'n babatjie het nog niks verkeerd gedoen nie. Wéér eens 'n duidelike teksvers dat die doop waarna die Bybel verwys, met grootmense te doen het en nie met babatjies nie. Ja, daar is die argument dat ons “in sonde ontvang en gebore is”, maar dit beteken bloot dat ons in 'n sondige wêreld ontvang is en in 'n sondige wêreld gebore is. Dit beteken nie dat ek as babatjie alreeds gesondig het nie. Hoe kan ek dit sê? Kyk gerus weer na Jeremia 1:4, 5:

“Die woord van die HERE het dan tot my gekom en gesê: VOORDAT Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou GEKEN; en VOORDAT jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou GEHEILIG; Ek het jou tot ‘n PROFEET vir die NASIES gemaak.”

Daardie woorde rig God tot élke baba wat gebore word. Vóórdat daardie baba in sy of haar moederskoot gevórm was, het God hom of haar reeds geken en voordat hy of sy gebóre is, het God hulle reeds GEHEILIG. Waar kom die sonde van daardie babatjie in? Daardie babatjie kán nog geen sonde pleeg nie. Hy is dan deur God Homself geheilig! Daarom gaan so 'n babatjie REGUIT HEMEL TOE as hy sterf voordat hy self besluite in die lewe kon begin neem.

Let wel, of ek groot gedoop is of nie, raak vir geen enkele oomblik my saligheid nie, maar soos ek vroeër gesê het, gaan dit my beslis in 'n dieper verhouding met Jesus intrek. Ek probeer hier ook niemand oortuig hieroor nie, want dit is nie my werk nie. Daardie deel doen slegs die Heilige Gees in mense se lewens. Al wat ek wel gevind het die afgelope aantal jare wat ek self die pad saam met Jesus stap, is dat dit beslis 'n gehoorsaamheidstap is aan die sagte stem van die Heilige Gees. Want so te sê elkeen van die - letterlik honderde - mense wat ek op hierdie pad ontmoet het, het iewers op daardie pad wat hulle saam met Jesus Christus van Nasaret begin stap het, self ook daardie gehoorsaamheidstap geneem. Ek het ook al die wonderlikste getuienisse gehoor van mense se gewaarwordinge die oomblik wat hulle uit daardie doopwater opgekom het. So kan ek by my persoonlike doop die geroep van 'n voëltjie baie duidelik onthou toe ek uit die water opkom en die goue sonstrale die rivier waarin ek gedoop is, soos die nuwe Jerusalem se goud laat glinster het. In daardie oomblikke het ek presies geweet wat beteken die woorde van Filippense 4:7 oor die “…vrede van God wat alle verstand te bowe gaan…”

Nog 'n paar bevestigings dat gelowiges hulle moet LAAT doop as hulle gehoorsaam wil wees aan God se Woord – en NIE aan menslike leerstellings nie, want God se Woord is immers baie belangriker as menslike leerstellings - vind ons in die volgende teksverse:

“Hy wat GLO en hom LAAT DOOP, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.” (Markus 16:16)

Jesus Homself rig hierdie opdrag dus baie duidelik aan grootmense wat kan glo en hulle kan LAAT doop.

“En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en LAAT ELKEEN van julle GEDOOP WORD in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” (Handelinge 2:38)

Petrus praat hier sonder twyfel met grootmense, maar sekerlik ook met kinders wat al self keuses in die lewe kan maak. En wat sê hy vir hulle? Om hulle te bekeer, met ander woorde om op te hou met hulle ou manier van lewe, en om hulle te LAAT DOOP. Hoekom? Sodat hulle sondes vergewe kan word en hulle in 'n nuwe verhouding met die Heilige Gees kan ingaan.

“En nou, WAAROM VERSUIM JY? Staan op, LAAT JOU DOOP en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.”  (Handelinge 22:16)

Ananias praat hier met die volwasse Paulus, soos ek reeds vroeër in die hoofstuk daaroor geskryf het. En wat sê hy duidelik vir Paulus? Dat hy hom moet LAAT DOOP. Hoekom? Sodat sy sondes afgewas kan word.

Die laaste interessante deel, is om te let dat Jesus se finale opdrag aan Sy dissipels, wat ons wat Hom wil volg vandag insluit, ook die volgende oor die doop bevat het:

“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en DOOP HULLE in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om ALLES te onderhou wat Ek julle beveel het.” (Mattheus 28:19)

Die Griekse woord wat hier gebruik word vir “doop”, is “baptidzo” wat fisies beteken om onderdompel te word. Jesus se opdrag is om AL DIE NASIES te gaan dissipels maak en onder andere om hulle te DOOP, ja, om hulle te onderdompel. “Al die nasies” sluit my en jou natuurlik ook in. Hoekom moet ons dit doen? Want uit die voorafgaande drie teksverse is dit duidelik sodat daardie nasies se sondes afgewas kan word en hulle ook die Heilige Gees kan ontvang. Het die Heilige Gees jou al oortuig om onderdompel te word? Want as babatjie was jy nie onderdompel nie…

As laaste gedagte, het jy geweet dat Moslems geen probleem het met Jesus Christus nie? Dat hulle selfs beweer dat hulle in Hom glo, alhoewel Hy in hulle oë bloot maar net nog 'n “profeet” is en nie werklik God se seun nie? Maar weet jy wat is baie interessant? Die oomblik wat enige Moslem sy hart vir die Here gee, begin die gevaarseine vir sy of haar familie opgaan. Dit is egter nog steeds nie vir die Moslems 'n onoorkombare probleem nie. Maar die oomblik wat so 'n nuwe Christen Moslem hom of haar LAAT DOOP, is sy of haar familie verplig om daardie persoon fisies dood te maak! Sê dit dalk iets oor die belangrikheid van die grootdoop, gesien in hierdie geval uit die oogpunt van die koninkryk van duisternis? Dink gerus daaroor na, en begin asseblief self met die Heilige Gees in gesprek tree hieroor indien jy nog nie groot gedoop is nie, maak nie saak wie jy is nie…

(Uittreksel uit die boek: “Kom stap die pad saam met Jesus”. – tiaan gildenhuys)

tiaan gildenhuys (tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming.

Thursday 17 December 2015

16 Desember – Dit gaan nie oor die Gelofte nie, maar om die Verbond


Image result for sarel cilliers 


Om die Gelofte te gedenk, of om dit as versoening tussen  volksgroepe te sien, is on-Bybels, sê mnr Schalk Jacobsz, navorser van die Boerevolk se geskiedenis.
          Mnr Andrè Jacobsz verduidelik die Gelofte is op 16 Desember 1838 afgelê en as gevolg daarvan is ‘n nuwe VERBOND  tussen die Boere en God gesluit. Dit is die Verbond wat gedenk moet word en nie die Gelofte nie.
          Wat gebeur het by Bloedrivier is geprofiteer in Die Bybel dat dit sal gebeur. Vandag is die dag van die Verbond. Dit is die dag waarop die nuwe Verbond met Israel gesluit is. Dis die Verbond van die  Nuwe Testament wat opgeteken staan in Jeremia 31:31-34  en soos Paulus dit aangehaal het in Heb. 8:8-12. Die kern daarvan is: “Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n Volk wees.
          Die Gelofte lees, dat hulle belowe om ‘n Huis (Volk) ter gedagtenis van Sy groot naam, te stig waar dit Hom sal behaag.
          Die Trekkers het nooit belowe om die dag te herdenk nie. Daar is geen sprake daarvan nie. Hierdie geskiedenis wat almal aanhang, is die memoires van ‘n ou man, Sarel Cilliers, wat 30 jaar na die tyd, sonder dat hy die notules voor hom gehad het, sy memoires geskryf het.
          Die dag toe die Gelofte voorgehou is deur Pretorius, het Bandjies dit neergepen. Hy was die Klerk van die Raad van die Volk en hy was saam op die ekspedisie as Pretorius se privaat sekretaris, vir die uitsluitlike doel om hulle doen en late te notuleer. En hy het dit gedoen en dit is gepubliseer op die Volk se instruksies op 14 Junie 1839. Dit is amptelik. Die res is buite die waarheid.
          16 Desember is die Dag van die Verbond. En, dit behoort nie ‘n vakansiedag te wees nie. Iemand wat homself ‘n nasaat noem van die Trekkers,  wat in sy hart weet dat hy lid van die Boerevolk is, behoort vroegoggend, terwyl dit nog donker is, die hele dag op sy knieë deur te bring, al is dit ‘n werkdag en moet hy –  sy salaris en voordele ten spyt – die dag aan God wy. Dit is die offer wat gebring moet word.
          Mense speel met vuur. Die Boerevolk is die offerande wat God Almagtig vir Homself afgesonder het, en volgens die Wet op die Tiende van die vee. Sien Lev. 27:32-33. Daar sal mens lees dat die Wet op die afsondering van ‘n Tiende van die vee, is die enigste Tiende wat nie gelos mag word nie. Dit mag nooit gelos word nie.
          Die Gelofte is sewe dae na mekaar herhaal. Die Boerevolk is gebind in die band van die Verbond. Eseg. 20:37 lees: “Ek sal julle onder die Herderstaf laat deurgaan, en julle bring in die band van die Verbond. Die Almagtige God het presies dit gedoen.
          Die meeste teoloë, asook die ANC en sy alliansie,  praat almal oor ‘n saak wat hulle nog nie eers begin het om te verstaan nie.
          Suid-Afrika stuur op chaos af, omrede die Boerevolk nog nie sy Gelofte nagekom het nie.
          Wat interessant is, is dat Cilliers  die oggend van 9 Desember 1838 tydens die oggenddiens gelees het uit Rigters 6:1-24. Vers 24 eindig waar Gideon, ‘n altaar bou vir die Almagtige God en hy noem dit “God is Vrede”.
          In verse 25 en 26 het God die nag aan Gideon verskyn en gesê, gaan, en breek jou vader se Baal-altare af, kap die heilige boomstam af en vat die tweede bul van sewe jaar en offer dit. Vernietig jou vader se godsdiens.
          Die Kerk is vandag dus buite orde, want die Kerke verkondig vandag die integrasie van die Uitverkore Volk.
          Eseg. 20:33-38 begin by die Godsdiensoorloë en -vervolgings in Europa en die vestiging van die Kaapse gemeenskap..... “Ek sal julle in die woestyn van die volkere inbring en daar sal Ek met julle in die gerig tree van aangesig tot aangesig, soos ek met julle vaders in die woestyn van Egipteland in die gerig getree het, so sal ek met julle in die gerig tree.”
          Hierdie moet saamgelees word  met Miga 5:1-4 wat sê dat “die Gesalfde sy Volk prysgegee het, tot op die tyd dat ‘n barende sal baar. Dit is ‘n Volk wat ‘n Volk sal baar. Die Dogter van Sion wat die jongste dogter gaan baar.
          Hierdie baring het begin met die Tweede Vryheidsoorlog. Lees hiermee saam Jes. 66, onder meer  “sal Ek tot by die geboorte bring en nie laat baar nie. Sal Ek wat laat baar, self toesluit.
          In Miga 4 lees ons van “krimp in mekaar o’ Dogter van Sion soos een wat baar.” Dit is die sleutel. Dis die Volk. Vers 37 van Eseg. 20 wat lees “en Ek sal julle onder die Herderstaf laat deurgaan en julle laat bring in die band van die Verbond –  en lees daarmee saam Lev. 27:32-33 wat sê alles wat Hy onder die Herderstaf laat deurgaan, ‘n tiende daarvan moet geheilig word aan die Here, God.
          Die Woord sê verder “julle mag nie ondersoek of hulle goed of sleg is nie en dit ook nie ruil nie. Maar as julle dit tog ruil, moet dit en die geruilde  heilig wees. Dit mag nie gelos word nie.”
          Wanneer die Here sê Ek sal julle onder die Herderstaf laat deurgaan, het Hy dit gedoen met die Groot Trek. Hy het ‘n tiende van die Kaapse gemeenskap laat trek. Die geskiedkundiges is dit almal eens, dit was maar net ‘n tiende.
          Hulle is afgesonder as Sy offerande, die offerande van Safanja 3 vers tien. Die Here sê “anderkant die Riviere van Kus sal My aanbidders, die Dogter van My verstrooide, My offerande bring.”
          Dit is die Boervolk, die “Dogter van My verstrooide” moet die offerande bring, hulle moet geboorte gee aan hierdie offerande, en dit is die Boerevolk.
          En die Here sê: “Ek sal julle bring in die band van die Verbond”. Op die 9e Desember is die Gelofte afgelê. In die daaropvolgende week is die ekspedisie met drie en ‘n halwe dae vertraag.... ‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd.
          As gevolg van hierdie vertraging is die Gelofte sewe dae agtereenvolgens herhaal. Bybels beteken dit dat as mens ‘n onderneming teenoor enigiemand sewe keer herhaal, sweer jy dit met ‘n eed. Daar het God die Vader hulle dit  sewe dae  agtereenvolgens  gedwing om dit te herhaal.
          En op die oggend van die 16e Desember, voordat hulle dit die agste keer kon herhaal, toe dit dagbreek was, so effe dagbreek dat die  brandwagte wat toe nog steeds op hulle poste was, kon net-net sien dat die Zoeloes aan die kom was.
          Byna voor die son opgekom het, het die slag begin. Voordat die Trekkers weer ‘n diens kon hou.
          En toe, deur ‘n wonderwerk, het God die oorwinning in hulle hand gegee, net soos hulle gevra het in hulle gebed die oggend van die 9e Desember. Vader het hulle geantwoord  op hulle gebed en die Gelofte wat hulle afgelê het.
          So het die Here God kontrak met  die Trekkers gesluit. Wat is die inhoud van hierdie kontrak?
          Die inhoud van hierdie kontrak is die Nuwe Verbond van die Nuwe Testament. Dit is hoe eenvoudig dit is.
          Die inhoud van die Bloedrivier Verbond, is neergepen deur Jeremia, meer as twee millennia gelede. Dis weer aangehaal deur Paulus: “Ek sal my Wet op hulle hart skryf en in hulle verstand gee, en Ek sal vir hulle ‘n God wees en hulle sal vir My ‘n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy broer leer en sê: Ken God nie, want elkeen sal My ken, klein en groot onder hulle, en Ek sal barmhartig wees en aan hulle ongeregtigheid en hulle sonde nie weer dink nie.
          Dus, hulle sal vol ongeregtigheid en vol sonde wees... ons sal dit wees, want daar is geen manier wat onsself kan regverdig nie. Niemand kan homself regverdig maak nie. God die Vader het dit onmoontlik gemaak, maar, Hy het ook gesê Hy sal barmhartig wees en Hy sal daaraan nie meer dink nie.
          Die rede is dat die Gesalfde, Jesus Christus, het die prys betaal. Hy het die offer gebring, die finale offer.
          Mens aanvaar dit en jy bely dat  Jesus Christus Seun van God en jou Verlosser is en jy word gered deur die Genade, deur jou geloof in Hom.
          Geen mens kan die Koninkryk van God binnegaan deur middel van die Wet nie, alleen deur Jesus Christus. Vandaar dan ook die bewoording van die Nuwe Verbond: Ek sal hulle barmhartig wees en aan hulle sonde nie meer dink nie.
          God het gesê Troos, troos My Volk, Ek is die leidsman!
          En  hierdie is die sleutel, Christus is die leidsman. Die tyd vir menslike leiers is verby.
          Dit is die dat ons gedurigdeur die Woord van die Here moet bestudeer en gedurigdeur moet waak. Ons moet alles, letterlik alles, toets aan die Skrif.

Geskryf deur  Andrè Jacobsz
Image result for andre jacobs akteur



God se Sleutel

Image result for die onse vader gebed
Mag die VREDE VAN GOD wat alle verstand te bowe gaan oor jou kom en met jou wees.
Ek wil graag begin met ‘n gebed soos opgeteken in Mattheus 6 vers 9 tot 13.

Onse Vader wat in die hemele is,
Laat U Naam geheilig word;
laat U Koninkryk kom;
laat U wil geskied –
soos in die hemele net so ook op die aarde;
gee ons vandag ons daaglikse brood;
en vergeef ons ons skulde –
soos ons ook ons skuldenaars vergewe;
en lei ons nie in versoeking nie,
maar verlos ons van die bose.
Want aan U behoort
die Koninkryk
en die Krag
en die Heerlikheid
tot in ewigheid.
Amen
Hierdie gebed is deur Jesus aan ons gegee as die model gebed en ek glo dat alle gebede deur God gemeet word aan hierdie gebed. So kom ons kyk ‘n bietjie na wat ons hier bid. Wat is die riglyne waarvolgens ons moet bid en wat is die sleutel wat Jesus hier vir ons gee!

Onse Vader wat in die Hemele is, laat U Naam geheilig word, laat U Koninkryk kom, laat U wil geskied, soos in die hemele, so ook op die aarde
Hier erken ons God as ons Vader en ons erken Sy heiligheid en Heerskappy ook in ons (aarde). Adam is uit stof gemaak daarom is ons ook aarde. God se Koninkryk is Sy Heerskappy in ons lewens. Daarom sê Jesus in Mattheus 6:33 “Soek eers die Koninkryk van God en Sy geregtigheid en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word”.  
Kom ons kyk kortliks na die Koninkryk waarvan Jesus hier praat. Soos ek reeds gesê het, is God se koninkryk, Sy heerskappy of outoriteit in my lewe hier op aarde. 

Wat is díe outoriteit? Dit is Sy kragwerking gemanifesteer in my lewe. Dit is ‘n mondvol en wat sê ek nou eintlik?
Jesus sê aan Nikodéumus: “Voorwaar,voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, sal hy die koninkryk van God nie sien nie.” (Johannes 3:3) Op verskeie ander plekke praat Jesus van die koninkryk en in Matthéus 3:2 sê Johannes die doper: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.”
Hoeveel van ons het groot geword met die denke dat hierdie koninkryk en die hemel dieselfde is. Dit is weereens ‘n leuen van satan.

God se koninkryk is Sy outoriteit wat Hy vir ons gee in Markus 16:17: “En vir die wat geglo het, sal hiedrie tekens volg: In My naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek.” Jesus het die volgende opdrag gegee: “En gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom. Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit.” (Matthéüs 10:7 & 8).
Hoe sal ek en jy dit kan doen sonder God se gesag en outoriteit in ons? Nou raak dit meer duidelik waarom satan wil he dat ons moet glo dat die koninkryk en die hemel dieselfde plek is. As ons God se koninkryk verstaan en daarvolgens begin lewe en opereer, word ek en jy ‘n gevaar vir satan, want ons het nou die Goddelike krag om mense te bevry van die leuens waarmee hy hulle vasgemaak het.
Van watter ander dinge praat Jesus verder in Sy gebed? Kom ons kyk.

Gee ons vandag ons daaglikse brood 
Sorg vandag vir ons en voorsien vandag in al ons behoeftes. God wil vir my en jou sorg en voorsien net soos Hy aan die Israeliete voorsien het in die woestyn Sinaí. Ek lees niks hier van môre en oormôre nie. Jesus sê: “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.” (Matthéüs 6:31 – 32). Beteken dit dan dat ons maar op ons louere kan rus en God sal voorsien? NEE verseker nie.
Kom ek vra jou gou: Toe die engel van God by Gideon gekom het (Rigters 6 : 11) wat was Gideon besig om te doen? Was hy nie besig om koring uit te slaan nie? Het hy nie gewerk nie?
Kom ons kyk na koning Dawid. God stuur die profeet Samuel om ‘n koning te gaan salf nadat Saul HOM teleur gestel het soos opgeteken in 1 Samuel 16. God stuur Samuel na die huis van Isai om ‘n koning te gaan salf. Nadat Samuel by die seuns van Isai verby gegaan het vra hy: “Is dit al die seuns? En hy (Isai) sê, Die kleinste is nog oor, en kyk, hy pas skape op.” Dawid was ook besig om te werk.
Is dit toevallig dat die grootste van die rigters en die grootste aardse koning van alle tye besig was om te werk toe God hulle roep? Verseker nie. Jesus gee vir ons hier ‘n sleutel van hoe God se voorsiening werk.

En vergeef ons ons skulde (sonde) 
God het vir jou en vir my onsettend lief maar Hy haat sonde met alles wat in Hom is. Sonde bring verwydering tussen Hom en ons. Sy liefde en die liefde van Jesus vir ons het gemaak dat Jesus die volle prys vir ons sonde betaal het aan die kruis en daarom kan ons skoon en vry van sonde voor God staan en die hemel ingaan as ons sterf.
Wat moet óns egter doen, my liewe Belinda? Wat verwag God van ons? Ja, Jesus sê “gaan en sondig nie meer nie”. Dit moet ons daagliks nastreef – en Hy help ons daarin. Maar is daar nog iets? Stel óns moontlik voorwaardes oor hoe GOD ons moet vergewe?  Kom ons kyk verder.

Soos ons ook ons skuldenaars vergewe 
Wat bid ons eintlik hier? Is die in gewone taal nie miskien “Vader moet asseblief nie my sonde vergewe totdat ek almal vergewe, vryspreek en vergeet van dit wat hulle aan my gedoen het nie. Jesus ek weet dat U vir my gesterf het maar ek kies om U nie as my verlosser en saligmaker te aanvaar nie. Ek kies om hierdie onvergewens gesindheid as skeiding tussen ons te hou. Ek kies om nie deel te hê aan U en U beloftes nie. Ek kies om U woord nietig te verklaar. Jesus ek kies om U te verloën. Ek kies die hel bo die hemel! 

Om jou skuldenaars nie te vergewe nie is sonde. Haat in watter vorm ook al is ‘n teken van onvergewens gesindheid en is sonde. Bitterheid is sonde. ‘n Gesindheid van “ek sal vergewe maar ek sal nie vergeet nie”, is sonde. Met hoeveel van ons is dit dat ons sê ons vergewe iemand maar die volgende misstap wat daardie persoon gee, is alles wat ons “vergewe” het weer terug en gebruik ons dit weer in ons argumente. My liewe vriend / vriendin, het jy werklik daardie persoon vergewe as jy dit wat hy / sy gedoen het nie kan of wil vergeet nie? Jesus sê in Mattheus 7 : 1 “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie!” Baie van ons is vinnig om te ontken dat ons ander oordeel. Is jy eg my liewe Belinda of is dit skynheiligheid? As jy oordeel, het jy nog nie vergewe nie! Onthou God sien jou hart naak en oop voor Hom en jy kan Hom nie “bluff” nie. Net jy en Hy sal weet of jy werklik vergewe het. Ek pleit by jou, gaan maak seker of jy werklik almal vergewe het. Vra Pa om jou te help hiermee en ook om jou te help om te vergewe en te vergeet.
Ons plaas sélf ‘n skeiding tussen GOD en ons met onvergewens gesindheid!

En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose 
As jy in die lig wandel sal jy duidelik God se wil en pad vir jou lewe sien. Jy sal met die oë van Jesus kyk en versoekings van ver af raaksien. Sy koninkryk (heerskappy) in jou lewe sal jou onmiddelik laat regeer oor dit wat jou wil versoek en jy sal oorwin. Jesus het satan reeds oorwin en hy (satan) is gebonde in duisternis waar hy rondloop soos ‘n brullende leeu op soek na wie hy kan verslind. As jy in God se lig wandel kan satan jou nie verslind nie. Jy moet egter kies waar jy wil wandel.

Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in alle ewigheid
 Aan God behoort die koninkryk (heerskappy). As ons suiwer voor God is, het ons deel van hierdie heerskappy. Hy sê in Openbaring 1 : 6 “en ons gemaak het konings en priesters …”. 
 Die krag waarmee ons dinge doen, behoort aan Hom.
Paulus sê: “Uit myself is ek tot niks in staat nie, maar ek kan alles doen deur Hom wat my die krag gee!”.
Terwyl ek eendag in gesprek met God was vra ek: “Vader, ek lees in Openbaring van die 24 ouderlinge wat voor U is en op hulle gesigte neerval en uitroep, Heilig, Heilig is die Here ,,,. Dit is al wat hulle doen, van voor die begin van tyd af en hulle sal dit nog steeds doen as tyd reeds verby is. Word hulle nie moeg nie?” My liewe Belinda, weet jy wat het Pa my geantwoord (seker met ‘n glimlag om sy mond)?
“My seun” sê Hy, “elke keer as die ouderlinge opkom sien hulle ‘n ander faset van My en My heerlikheid wat so oorweldigend is dat hulle weer op hulle gesigte neerval. My Heerlikheid vervul hulle behoeftes.” Daarom is daar ook geskrywe; “God sal alle behoeftes vervul na die rykdom van Sy heerlikheid.”
AMEN

LAAT DIT SO WEES.
Dit is wat die woord amen beteken. Laat die volle implikasie van die gebed op my van toepassing wees. Nie net die sëen nie maar ook die keuses wat ek in die gebed maar. Ek aanvaar dit so.
My liewe Leser, AMEN is soos jou handtekening wat jy op ‘n kontrak aanbring. Jy verklaar dat jy so tevrede is.
Ek vra jou, moet nie net bid en mooi en vroom woorde spreek nie. Jesus sê
in Mattheus 12 : 36 & 37: “Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.” Geen wonder dat Salomo in Spreuke sê dat die mag oor lewe en dood in die tong lê nie!!! Valse woorde (gesindheid) bring veroordeling.

My liewe Leser, Doen asseblief ‘n ernstige selfondersoek. Maak klaar met die dinge wat skeiding bring tussen GOD en jou. Bely jou sonde teenoor Hom en aanvaar Sy vergifnis. Die sleutel wat Jesus ons gee in Sy gebed is onvoorwaardelike vergifnis. Jy moet volkome vergewe om vergewe te kan word. Hy het 100% gesterf vir jou en jy moet 100% vergewe. 100% is 100%. Nie onderhandelbaar nie!! Dit staan op die tjek waarmee Hy jou gekoop het. Wat staan op jou lewens tjek aan Hom?
Ek bid graag vir jou die gebed soos op die volgende bladsy. Weet dat God jou onsettend lief het en jou wil vergewe.
“Vader, ek kom vandag na U in die naam van Jesus Christus. Ek wil U loof en eer as my God en Heer. Dankie vir die voorreg dat ek U kind kan wees en dankie Jesus dat U vir my sonde aan die kruis gesterf het. Dankie dat U my leer bid het en dankie vir die voorreg dat ek nou ook kan bid vir my vriend of vriendin wat hierdie artikel lees.
Vader, ek bring nou vir my vriend / vriendin voor U. Ek wil U vra Here dat U aan hom/haar sal uitwys alles wat nou skeiding bring tussen U en hom/haar. Here as hy/sy nog nie 100% seker is dat hy/sy U kind is nie, vra ek nou in die naam van Jesus Christus dat U hom/haar sal aanneem as U kind. Ek vra Here dat U sy/haar sonde sal vergewe en hom/haar sal skoonwas met die bloed van Jesus sodat hy/sy volkome rein voor U kan staan. Here U sê in U woord dat ons ons skuldenaars moet vergewe. Vader ons kan dit nie doen sonder die hulp van Heilige Gees nie. Daarom vra ek U, Heilige Gees, om my vriend/vriendin te help om te kan vergewe. Ek weet dat ander mense hom/haar baie seer gemaak, bedroef, teleurgestel of skade berokken het. Dit was baie keer iemand wat hy/sy lief voor is of was en dit is hoekom dit so seer is. Jesus noem U die trooster en daarom vra ek U om vertroosting te bring. Ons blameer baie keer iemand wat gesterf het op ‘n tydstip wat ons hulle baie nodig gehad het of ons miskien nie die kans gehad het om dinge tussen ons reg te stel nie. Ek vra U Here dat U elkeen sal help om te vergewe en vry te spreek want dit is die sleutel wat Jesus aan ons gegee het. Here wys aan hom/haar uit wie daar nog is wat hy/sy moet vergewe”.

My liewe Leser, ek wil jou vra om die volgende gebed hardop te lees:

“Vader, ek kom na U in die naam van Jesus Christus. Ek verklaar opnuut dat Jesus my verlosser en saligmaker is en ek aanvaar Sy bloed as my reinigings middel. Ek bely nou alles wat ek verkeerd gedoen het teenoor U en my medemens as sonde en ek vra dat U my sal vergewe in die naam van Jesus en dat U my sal skoon was in die bloed van Jesus. Dankie Vader dat ek nou kan weet dat ek U kind is. Here U sê dat ek my skuldenaars moet vergewe en daarom bring ek nou elkeen wat iets teen my gedoen het voor U en ek vergewe hulle en spreek hulle vry in die naam van Jesus. Ek vergewe ook die wat ek nie meer kan onthou nie Here, en vra dat U aan my sal uitwys wie of wat nog tussen ons staan. Here ek vra dat U ‘n wag voor my mond sal plaas. Here vergewe my ook vir al die woorde wat ek verkeerdelik gespreek het, in woede, of in watter omstandighede ookal. Vergewe my daarvoor en dankie dat ek kan weet dat U dit nie meer teen my hou nie. Here, ek kies nou om my hele lewe aan U te gee, my liggaam, my siel en my gees. Ek vra dat U sal manifesteer in my lewe, gedagtes, optredes, denke, redenasies, ens. so dat die wereld kan sien dat ek u kind is. Dankie Here vir U liefde wat my gered het en dankie dat U my sal help op my pad vorentoe. Here, ek aanvaar verantwoordelikheid vir alle aspekte in my lewe, as die koning wat U my gemaak het. Dankie dat U my gaan help om te regeer oor myself en my omstandighede. Dankie dat ek meer as ‘n oorwinnaar in U kan wees.
AMEN”

My liewe Leser, baie dankie vir die voorreg dat ek hierdie tydjie met jou kon spandeer. Ek bid dat die Here met jou gepraat het deur hierdie stukkie wat ek met jou kon deel. Gaan die toekoms met blymoedigheid tegemoed. Jou lewe en lewens uitkyk sal jou beeld na God en almal om jou bepaal.
 Jou lewe is ‘n geskenk van GOD. Wat jy daarmee doen is jou geskenk aan GOD.
 Ek groet jou met die woorde van Jesaja 62 : 3.
 “En jy sal ‘n sierlike kroon wees in die hand van die Here en ‘n koninklike tulband in die hand van jou God.” 
  
Sëen en liefde in Jesus naam.
cobus van heerden (cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...