Monday 25 November 2019

Vloek


Ek haal  Keith L. Brooks aan:

"’n Jongman was ’n groot vloeker, maar dit het hom nie gehinder nie. Hy trou toe met ’n pragtige Christen meisie. Daarna begin hy sy vloekgewoonte in ’n ander lig sien en probeer hy om dit af te leer.

Een oggend, voor hulle sou kerk toe gaan, staan hy en skeer. Hy sny hom raak. Voor hy homself kon keer roep hy ergerlik uit: ”God!” Toe eers sien hy hoe sy vierjarige dogtertjie, pop in die arms, vir hom staan en kyk.

Sy sit haar pop neer en kyk met vonkelende ogies rond in die badkamer. “Is God hier?” vra sy opgewonde. Die man word rooi in die gesig en skaam vra hy: “Hoe­kom vra jy so?” “Ek het gedink God is hier want ek het gehoor Pappa praat met Hom.” Sy sien die ont­nugterde uitdrukking op sy gesig. “Roep Hom weer, Pappa. Ek weet Hy sal kom as Pappa Hom roep.”

Die kindjie se woorde sny diep in sy hart in. Hy tel haar op in sy arms en met ’n snik druk hy haar teen hom vas en vir die eerste keer roep hy regtig tot God, om hom te vergewe en hom Sy kind te maak en hom te help om soos ’n Chris­ten te lewe. In daar­die oomblik het hy vry geword van sy vloek­ge­woonte. Saam met sy vrou het hy ’n toegewyde Christen geword."

Wanneer ons in gesprek is, elke dag, enige dag, enige gesprek, en daar glip ‘n vloekwoord uit, is dit soos wanneer jy ‘n brief skryf en dit is vol kladmerke.

Die ergste vloekwoord wat ons egter ooit kan gebruik, is om die naam van die Almagtige God Yahweh of sy seun Jesus Christus te MISBRUIK as ‘n vloekwoord. Hoe durf ons die Naam as ‘n vloekwoord gebruik! Die Naam wat vir my en jou sondes gesterf het word deesdae sommer as ‘n “werkwoord” gebruik!

Die woord van God praat genoeg met ons oor die gebruik van onder andere vuil taal. Lyk vir my dit was in die tyd van die apostels ook ‘n groot problem gewees.

In meer as een sendbrief van die apostels spreek hulle die probleem van kwaad word en vloek aan.

Efesiërs 4:29 Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.
Kolossense 3:8 Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond.

Gelukkig stel Jakobus ons gemoed gerus met bemoedigende woorde as hy die mag van ons tonge beskryf. Ons struikel ALMAL elke dag want niemand van ons is volmaak nie.

Jakobus 3:2 Want ons almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ‘n volmaakte man, in staat om ook die hele liggaam in toom te hou.

As ons meen dat ons nie struikel nie, tree die sonde sommer dadelik weer in in die vorm van lieg op…

1 Johannes 1:8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.

Elke keer as iemand vloek, is dit vir my persoonlik soos ‘n mes wat in my hart steek, nie eers te praat van laster nie... maar onder leiding van die Heilige Gees kan ons die persoon reghelp met lankmoedigheid en liefde. Glo my, jy word skeef uitgekyk en afgejak.

Selfs as dit kom by iets soos vloek, kan ons nou maar weer lekker argumenteer daaroor.

"Maar Hein, dis nie vloek nie, dis ‘n werkwoord. Ag Hein, dit beteken iets anders in ‘n ander taal. Hein, hou op so erg wees, dis net ‘n sê-ding. Almal sê dit. Dit staan in die Bybel (verwysing na o.a. Daniel 10:6 en Lukas 10:18) so ek kan dit sê. Hein, sy/hy maak my SO kwaad, toe glip dit uit! Maar Hein, ek vloek al so lank en kan nie ophou nie, maar ek vloek darem al minder."

Jy lieg vir jouself. Filippense 4:13 sê “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee”, so ja, ek KAN ophou vloek.

Geliefdes, ons moet by ‘n punt kom waar selfs vloek as absolute gruwel beskou word, want dit is beslis vir God ‘n gruwel.

Lukas 16:15 En Hy het vir hulle gesê: Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is ‘n gruwel voor God.

Vloek vandag is baie beslis ‘n voorstaander by die wêreld en word baie "hoog geag".

Ek waarsku jou vandag geliefde, vloek is vir God ‘n gruwel. Hou op daarmee!

Gebed:

"Vader, in die naam van Jesus Christus kom ek vandag voor U troon en bely dat ek ‘n sondige tong in my mond het. U het my in geheel geskape, volmaak, insluitend my tong, so daar is geen rede hoekom ek dit nie in toom kan hou nie. Ek vra asb dat U nou my tong sal seën dat die misbruik van enige woord wat enigsins dalk en selfs net miskien as vloek kan uitglip, en dat U my sal beskerm daarteen sodat ek net sal spreek wat goed is in U oë.
In Jesus Naam
Amen."


Geskryf deur: hein henning
(heinh@sunlightfs.co.za)

Monday 18 November 2019

Tabernakel Bedieninge se afsluit datum 2019



As dit God behaag, en Jesus vertoef om te kom, sluit Tabernakel Bedieninge se kantoor vanaf 20 Desember 2019 tot en met 10 Januarie 2020 vir berading.

Indien U nog 'n afspraak wil maak vir hierdie jaar, kontak my gerus.

(Kantoor - in Krugersdorp)
0788338915
belindapaar@gmail.com


Musiek vingers


In een van my 'ek-tyd' oomblikke, terwyl ek wag vir 'n vergadering, tussen al die geraas van die beton-oerwoud en publieke klets, besluit ek om te gaan soek vir 'n klassieke klavierstuk op die internet. Ek het my slimfoon by my; en die 'classics', saam met my hemelse taal, het my nog altyd gehelp rustiger word vir 'n groter fokus. YouTube is nie net sleg nie. Daar is goeie goed ook.

Ek kry toe 'n stuk. Dit is nuut en vars, en ook iets, wat ek nog nie voorheen gehoor het nie. ['A Breathtaking Piano Piece' by Jervy Hou]

In my vreemde verbasing, terwyl ek rustig na die kunstenaar luister, hoor ek myself hardop dink. Ek bedoel, regtig hardop. My skerpsinnige brein is altyd wakker en ek hou nogal daarvan, om geestelike parallelle te trek met nuwe konsepte. Ek kry toe die volgende mediterende gedagte: 'Kan jy vir jouself indink, hoe dit moet voel, om só 'n mooi solo stuk te kan speel, sonder daardie baie belangrike en nodige regterduim, waaraan jy so gewoond geraak het? Jy weet jy hét hom nodig en hy was nog atyd jou konstante metgesel. Vir die perfekste afronding tot 'n meesterstuk, kan jy nie sonder hom nie, nie waar nie?'

Terwyl die strelende musiek in my ore afstuit, formuleer my gedagtes die volgende realiteit: 'God, die Maestro, is heeltyd sorgvuldig besig, om vir JOU in 'n finale meesterstuk te omskep en Hy het egter ook jou liggaam en al jou fakulteite nodig vir 'n goeie afronding. Uit Sy mooi musiek skepping, moet JY uiteindelik vir Hom kan reflekteer. Soos Vader - soos seun.

En dan wanneer jy nou 'n giftige infeksie in jou regterduim opgetel het, weens 'n Sakspinnekop wat jou bygekom het, toe jy nie jou hand in spinnekop neste moes indruk nie, het dit jou klassieke speel-vermoë geweldig belemmer. Weet jy wat hierdie spinnekop aan jou kan doen? Die gif verteer weefsel.


Jy kan nie meer daardie musiek hand gebruik, soos jy dit altyd voorheen gedoen het nie. Met baie moeite en ook 'n bygevoegde frustrasie tot jou repertoire, probeer jy kompenseer tot jou nuwe disfunksie en probeer jy 'aanpas' tot die bestaande musiek stuk, maar in realiteit, klink dit net nie meer dieselfde nie.

Die note is af en net niks 'vloei' nie. Die harmonisering is uit en jou tempo 'raas', want jy raak al hoe meer angstig en verbouereerd, want jou optrede is nie meer 'n seën tot ander nie en die verleentheid vir jou en vir ander, raak net groter by die dag. Jy 'hap' selfs nou al na die wat naby jou is, veral na die een, wat in jou skoot lê.

Die parallel: Só werk die spinnekop gif van bitterheid en onvergewings gesindheid ook. Indien daar dan nie spoedig mee gedeel word en kwytskelding en vryspraak word gegee nie, gaan 'n duim binnekort geamputeer moet word. En dit het weer die vermoë, om vir jou 'n moontlike musiek loopbaan te kos.

Intussen gaan jou musiek optrede, baie moeilik 'n salwing op die ore van luisteraars kan wees. Die YouTube 'video knipsel van jou lewe', gaan minder mense wil kyk en God gaan minder 'hits' of 'likes' of erkenning kry vir die afronding en finale produksie. Daar gaan geen staande ovasie kan wees nie. Hoe gaan JOU getuienis nou lyk? En wat moet mense van die Musiek Hoof dink?

Die ware realiteit is; Jy sal nooit in hierdie lewe of in die volgende, enige vergelding kan kry, deur SELF die advokaat, die regter of laksman te wil wees, aan die wat jou verwond en teleurgestel het nie. Dit is egter God  se werk. Laat hulle net GAAN. Vergewe en spreek vry.

God kan net in jou VERANDER, wat jy aan Hom kan OORGEE. Gee vir Hom daardie seer regterduim en laat Hom toe, om jou Sterkte en Waagmoed te wees in hierdie vryspraak reis. Jy kan dit nie sonder Hom doen nie, omdat dit bonatuurlik is. MAAK die keuse en God sal die werk in jou begin. Sy Naam is 'Getrou'.

God bevestig altyd Sy Woord aan my op kosbare maniere en nieteenstaande, dat daar menigde, goeie Skrifte oor vergifnis is, was ek gelei na Prediker 10:10 wat sê: 'As die yster [gereedskapstuk] stomp geword het [weens bitterheid] en 'n mens die snykant nie geslyp het nie [bekeer], moet hy die kragte meer inspan..' [God se planne in jou lewe, word gefrustreer]

Gun my om te sê, dat vanaf ek ook hierdie gelowige sprong gevat het tot finale vryspraak teenoor my skuldenaars; nou van die mooiste en geharmoniseerde klanke uit my eie geneesde regterduim vloei! Alle eer en lof aan my Dirigent.


Gebed:

"Vader, my God; gee my die WIL, om gehoorsaam te wees aan U opdrag om te vergewe, asb. U weet, dit kom nie sommer maklik vir ons mense-kinders nie. Maak my 'n musiek instrument, waarop U trots kan wees. Amen."

 Geskryf deur: hennie van der westhuizen
(info@paragonlife.co.za)

Tuesday 12 November 2019

Ydel woorde



Efesiërs 5:6-8: "Laat niemand julle met ydel woorde verlei nie, want daardeur kom die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid. Wees dan nie hulle deelgenote nie. Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here - wandel soos kinders van die lig."

Ons teksverse hierdie week, bevat 'n belangrike waarskuwing en ook bekangrike opdragte waarna ons moet kyk.

Die waarskuwing is dat niemand ons met "ydel woorde" moet verlei nie, want daardeur kom God se toorn oor die kinders van die ongehoorsaamheid. Die Griekse woord vir "ydel", beteken ook  "leë" of "nietige". En ons moet ook nie deelgenote daarvan word nie, met ander woorde ons moet nie daaraan deelneem nie.

In kort beteken dit niks anders dat ons nie tyd moet mors in ons daaglikse omgang met "leë" of "nietige" gesprekke nie.

Wat sou dalk leë of nietige gesprekke daarstel?

Die antwoord kry ons in die laaste gedeeltes van die teksverse wat ek aangehaal het. En dit is dat ons vroeër in duisternis gewandel het, maar nou deel is van die lig van die Here. Daarom moet ons wandel soos kinders van die lig en in die lig van die Here.

En as kinders van die lig wat wandel in die lig van die Here, laat ons ons nie meer "verlei met ydel woorde" nie.

Ons kan dus nie meer deelneem aan die "kringe van spotters" (Psalm 1:1) by die werk of tussen vriende nie.

Ons kan nie meer deelneem aan ydele gesprekke vol van skinder nie.

Ons kan nie meer deelgenote wees aan leë vuil grappies of 'n gevloek en skel nie.

Nee, ons woorde moet woorde wees wat hulle oorsprong het in die lig van Jesus Christus, wat diegene rondom ons sal stig, opbou en bemoedig. Spreuke 25:11 leer dat ons woorde moet wees soos goue appels op versierde skinkborde.

Mag die Here Jesus ons in hierdie week aanraak deur Sy Heilige Gees om ons nie te laat verlei deur mense rondom ons se ydele woorde nie, maar om van ons kant af die lig van Jesus vir hulle te laat skyn.


GEBED: 

"Vader, leer my in hierdie week om my nie te laat verlei deur die ydele woorde van mense rondom my nie, maar dat ek sal wandel as 'n kind van die lig, wat die lig van Jesus Christus laat skyn vir almal rondom my. In Jesus Naam. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

Tuesday 5 November 2019

Julle vra verkeerd!


Baie kinders van die Here worstel met die kwessie van sogenaamde “onbeantwoorde gebede” en is dit vir ons moeilik om te verstaan dat as God dan ons hemelse Pappa is, hoekom antwoord Hy nie ons gebede nie? Dit is egter wel moontlik dat ons met die verkeerde gesindheid of motief in ons hart kan vra en dan nie ontvang volgens wat ons begeer het nie.

Jak 4:3  Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.

Tog lees ek in die Bybel van mense soos Elia, Josua, Hiskia ens., wie  vir sekere dinge gebid het en hulle het dit ontvang. Een van die treffendste dele wat my onlangs weer opgeval het, is die deel waar Josua gevra het dat die son moet stilstaan, en dit het. Hy het letterlik die skepping op sy kop laat staan, net om sy doel te kon bereik om die vyand te verslaan.

Jos 10:12  Toe het Josua met die HERE gespreek, op die dag dat die HERE die Amoriete aan die kinders van Israel oorgegee het, en voor die oë van Israel gesê: Son, staan stil in Gíbeon, en maan, in die dal van Ajalon!
Jos 10:13  Toe staan die son stil en bly die maan staan totdat die volk hulle gewreek het op hul vyande. Staan dit nie geskrywe in die Boek van die Opregte nie? En die son het bly staan in die middel van die hemel en het hom nie gehaas om onder te gaan nie, omtrent ‘n volle dag.

Ons lees van Elia wat gebid het dat dit nie moet reën vir drie en 'n half jaar nie en toe later weer bid op Karmel... en dit het begin reën. Op 'n ander geleentheid vra hy twee keer vuur uit die hemel uit en dit verbrand elke keer die koning se soldate wat gestuur is om hom te kom gevange neem.

Tog sê die Bybel duidelik dat hy 'n mens was net soos ons!

Só wat het hierdie manne gehad of geweet wat ons in vandag se tye die kol laat mis?


Ook lees ons dat Jesus sê dat alles wat ons in Sy Naam vra, sal ons ontvang.

Joh 14:13  En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.
Joh 14:14  As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.

Joh 15:16  Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.

Soos ek deur hierdie gedeeltes in die Bybel lees, is ek oortuig dat al hierdie mense 'n ware en opregte verhouding met die lewende God gehad het en dat hulle Hom nie beperk het in dit wat hulle wou gehad het nie. Dikwels is ons geneig om te “klein” te vra en sit ons God in die beperkinge van ons eie denke se boksies. Tog sê die Bybel dat niks by God onmoontlik sal wees nie!

Luk 1:37  Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.

Ek weet ook dat God geen aannemer van die persoon is nie en dat wat Hy vir hulle gedoen het, Hy ook in gelyke dele vir my sal doen!

Hand 10:34  En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie,

Kom ons laat God God wees wanneer ons tot Hom nader in gebed en kom ons maak seker dat ons werklik 'n diep en intieme verhouding met Hom het, sodat ons ook kan glo dat ons sal ontvang wat ons
VOLGENS SY WIL vra.


GEBED:

"Vader ek bely dat ek U baie kere beperk in die dinge wat ek in gebed van U vra...vergewe my daarvoor. Help my om werklik 'n intieme verhouding met U te hê en om U toe te laat om volgens U wil te gee wat ek ookal nodig mag hê...amen!"


Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...