Monday 26 August 2019

Hou vas wat jy het !


Openbaring 3:11: "Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie."

Wanneer mens kyk na wat rondom ons gebeur in die wêreld, is daar geen twyfel dat ons werklik aan die einde van die eindtyd lewe nie.

Jesus se tweede koms is baie baie naby, en daarom kom hierdie waarskuwing in vandag se teksvers. Elkeen van ons moet vashou wat ons het, sodat niemand ons kroon kan neem nie. Die Bybel is duidelik dat daar verskillende lone en krone op Jesus se gehoorsame volgelinge wag in die hemel.

Jy is welkom om my volgende YouTube video daaroor te kyk as jy wil.

En uit die aard van die saak sal satan wil sekermaak dat ons nie daardie lone of krone ontvang nie, en sal hy dit by ons probeer steel.


En hoe probeer hy ons krone neem? Deur ons moedeloos, negatief en swaarmoedig te probeer maak oor al die dinge wat rondom ons aan die gang is. En daarvoor gebruik hy baie suksesvol alle vorme van sosiale media waaraan ons kan dink.

Maar hy gebruik ook familielede, werkskollegas en selfs vriende om ons in sommige gevalle so negatief te maak, hoe hartseer dit ookal is. Hier gebruik hy soms verhoudingsprobleme tussen huweliksmaats, of tussen ouers en kinders, om ons so moedeloos of negatief te maak.

Hoekom doen hy dit? Want uiteindelik wil hy baie graag hê dat ons totaal moet wegval van Jesus Christus af, behalwe die feit dat hy nie wil hê ons moet eendag krone in die hemel sal ontvang nie.

En juis daarom kom die woorde van hierdie week se teksvers dat ons moet vashou wat ons het, juis sodat niemand ons kroon kan neem nie. Hoe hou ons vas?

Deur aan Jesus Homself vas te hou, daagliks my Bybel te lees en Sy Woord in te neem, en om deurlopend met Hom in gesprek te wees by wyse van gebed.

Onthou gebed is nie hoogdrawende woorde of net 'n gebedjie in die oggend of in die aand nie. Gebed is ook deurlopende gesprekke met ons Hemelse Vader oor alles waarmee ons op 'n daaglikse basis gekonfronteer mag word.

Mag jy in hierdie week 'n daadwerklike keuse maak om VAS TE HOU AAN JESUS!


GEBED: 

"Vader, baie dankie dat ek vandag mag vra dat U my hierdie week U krag sal gee om vas te hou aan wat ek reeds in U het, sodat niemand my kroon kan neem nie. In Jesus Naam vra ek dit. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

Monday 19 August 2019

Vrede wat alle verstand te bowe gaan.



Een van die kosbaarste geskenke wat Jesus aan ons agtergelaat het, is: “die vrede wat alle verstand te bowe gaan.” Tog is daar sóveel kinders van die Here wié werklik sukkel om in hiérdie vrede te lewe. Dit is 'n kosbare geskenk wat geen geld of wêreldse besittings, aansien of  titels ooit kan koop nie. Jy kan dit slegs bekom deur werklik in 'n intieme verhouding met die Gewer daarvan te lewe. In Johannes 14 lees ons die volgende:

Joh 14:27  Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.

Ons lees dan ook in die evangeliese boeke, dat wanneer Jesus Sy dissipels uitstuur, Hy hulle dan ook die opdrag gee om, waar hulle ookal kom, die mense te groet met die woord: “vrede”.
Dan sê Hy ook dat as daar iemand van vrede in daardie plek is, dan sal die vrede op hom of haar rus, anders sal dit terugkeer na die dissipels.

Luk 10:5  En in watter huis julle ook al mag ingaan, sê eers: Vrede vir hierdie huis!
Luk 10:6  En as dáár ‘n man van vrede is, sal julle vrede op hom rus; anders sal dit tot julle terugkeer.

Ons lees dan ook op 'n paar plekke dat Jesus gekom het om die evangelie van vrede te verkondig, omdat Hy juis die Een is wié die prys betaal het, sodat daar nou vrede tussen ons en God kan wees.

Act 10:36  Dit is die woord wat Hy gestuur het aan die kinders van Israel toe Hy die evangelie van vrede verkondig het deur Jesus Christus—Hy is die Here van almal.

Ef 2:17  En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was;

Vrede is egter 'n keuse soos enige ander ding in hierdie wêreld en hang dit van jou af of jy sal kies om daarin te lewe eerder as om toe te laat dat jou omstandighede of die wêreld rondom jou vir jou gaan dikteer hoé jy elke ding moet hanteer. In die begin van Johannes 14: 27, waarsku Jesus ons dan ook om nie toe te laat dat ons benoud word of vrees nie!

Ons opdrag is dan ook om in vrede met alle mense saam te leef en om vrede na te jaag.

Heb 12:14  Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;
Heb 12:15  en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.

Rom 12:16  wees eensgesind onder mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige; moenie eiewys wees nie;
Rom 12:17  vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense;
Rom 12:18  as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.

Mat 5:9  Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

Mag elkeen van ons in hierdie komende week, 'n keuse maak vir vrede en dit najaag soos 'n kosbare skat!


GEBED:
Here Jesus, baie dankie vir hierdie kosbare skat wat U aan ons agtergelaat het en mag elkeen van U kinders dit najaag en besef dat dit meer werd is as enige aardse skat of besitting...amen!

Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

Hoeveel kanse gaan ek nog kry?


Hoeveel kanse kry ek tog wel in my lewe? Beslis baie meer as wat ons dink, ervaar of kan verduidelik!

In die fisiese is daar baie kanse waarvan ons nooit eers sal weet nie, want sê nou net jy het twee minute vroeër gery, was die kans dalk daar dat jy in ‘n ongeluk sou wees. Jy loop verby ‘n konstruksie werksplek in die straat en die kans is daar dat ‘n baksteen dalk op jou kop sou val. Jy loop oor die straat, al kyk jy mooi, is die kans daar dat ‘n motor jou kan omry.

In God se Woord verskyn die woord kans net twee keer in die Afrkaans 1933-53 vertaling. Die eerste keer is gemik op die fisiese voorbeeld soos ek genoem het bo.

Josua 8:20 Toe die manne van Ai agter hulle omkyk, sien hulle hoe die rook van die stad na die hemel optrek; maar hulle het geen kans gehad om hierheen of daarheen te vlug nie, want die manskappe wat op die vlug was na die woestyn, het omgedraai teen die vervolgers.

Ek glo dat dit nie soseer kans in die fisiese is nie, maar wel die beskerming van die engele van God, deur Hom gestuur as ons Hom gevra het vir hulle beskerming wat baie dinge na kans laat lyk.

So kan ons ons “kanse” in die fisiese lewe in elke aspek van die lewe herken. In finansies, werksgeleenthede, gesondheid, lewenstyl, besittings, noem hulle maar. Daar is party kanse wat ons wel kan aangryp en party wat ongesiens verbygaan asook party wat selfs verwoesting inbring as ons die kans gemis het.

As jy dan nou eintlik regtig sit en dink aan hoeveel ter menigte kanse ons tog wel kry in ons lewe in die fisiese, hoeveel kanse dink jy kry ons tog nie in die geestelike nie?

Dit is die geestelike kanse in die lewe wat die meeste afgeskeep word en natuurlik wanneer ons die geestelike kanse weggooi, sal die fisiese ook daaronder ly.

Hoeveel keer is jy al gevra om saam te gaan kerk, biduur, sel groep, seminaar, ens toe, en eintlik is jy nie lus nie, so jy reel eerder iets anders in plek daarvan. Dis ‘n geestelike kans wat weggegooi was!

Hoeveel dae lees jy glad nie die Woord van God nie, dis ‘n geestelike kans om te groei wat weggegooi was.

En so kan ek baie dinge opnoem wat verbeurde kanse uitwys.

Aan die ander kant in die geestelike weer, hoeveel kanse kry jy tog nie om iets te doen VIR die koninkryk van God nie? Help ‘n boemelaar nie net met ‘n geldjie nie, maar deel Jesus ook.

Hoeveel keer het jy oorskiet kos in die huis wat weggegooi word, wat jy eerder kon gaan uitdeel het? Hoeveel keer as iemand na jou toe kom met ‘n probleem, om sommer net te bid vir hom of haar daar en dan.

As ons nie die geestelike kanse aangryp nie, gaan dit nie op ‘n skinkbord vir ons aangebied word nie.

Ons moet die kans aangryp en alles doen in ons vermoë om dit te bewerkstellig, soos genoem in
Lukas 5:19  En toe hulle vanweë die skare geen kans sien om hom in te bring nie, klim hulle op die dak en laat hom met die bed afsak deur die panne tussen die mense in en voor Jesus.

Geliefde, ek daag jou uit om van vandag af uit te kyk vir die kanse in die lewe. Nie net in die fisiese nie, maar meerso in die geestelike, want dan sal dit beter gaan in alle aspekte van jou lewe gepaard met gehoorsaamheid aan die Woord van God.


Gebed
Almagtige Vader in die Hemel, dankie vir al die kanse wat U my gun in hierdie lewenswandel van my. Ek vra dat U deur U Heilige Gees my sal lei dat ek veral die geestelike kanse in my lewe kan aangryp wat U op my pad stuur.
Gee my asb die krag om alles te doen tot erkenning en tot eer aan Jesus Christus van Nasaret
Amen


Geskryf deur: hein henning
(heinh@sunlightfs.co.za)

Monday 5 August 2019

Hy verlaat ons nie!


Hebreërs 13:5,6: "...want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my 'n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal 'n mens aan my doen?"

Hierdie is 'n wonderlike bemoediging van ons Here, dat Hy ons NOOIT begewe of verlaat nie. En dit is juis wat ek en jy ook hierdie week moet hoor.

Want so baie kere is ons as gelowiges geneig om te dink dat die Here Jesus ons "verlaat" het, of ons alleen los om self ons eie probleme met die mense rondom ons, op te los.

Maar volgens my, beteken die woord: "nooit", mos steeds niks anders as "nooit" nie. Dit sluit dan ook aan by Jesus se woorde in Mattheus 28:20 dat Hy met ons is, al die dae tot aan die voleinding van die wêreld en ook Galasiërs 2:20 wat bepaal dat Hy IN ons is.

En juis wanneer daardie teksvers vir ons 'n werklikheid word, kan ons verder bemoediging ontvang uit die woorde van vers 6 dat die Here vir ons 'n Helper is, wat meebring dat ek niks hoef te vrees nie, want as hy my Helper is, wat kan ENIGE mens aan my doen?

As jy dus nodig het om hierdie week enige mens te konfronteer oor enige situasie, veral as jy dalk valslik beskulidg mag wees oor iets, staan gerus op hierdie duidelike teksverse.

Ons dien inderdaad 'n wonderlike God wat nooit Sy kinders alleenlaat, of verlaat nie. Hy is altyd daar om saam met ons deur enige situasie in ons lewens te stap, maak nie saak hoe ongemaklik dit mag wees in ons vlees nie.

GEBED: 

"Vader, baie dankie dat ek vandag opnuut mag kennis neem van die feit dat U my nooit begewe en nooit verlaat nie. Help my asseblief om dit elke dag van my lewe te onthou. In Jesus Naam vra ek dit. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

Keer vir Leë beloftes!



Daar is so baie plekke in die Bybel waar ons ongehoorsaam is. Een daarvan om beloftes te maak en dit nie na te kom nie. Jy leen iets by iemand en belowe om dit terug te bring. Jy hou nie jou woord nie... en jou woord is veronderstel om jou woord van eer te wees.

“As jy ’n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe. Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie. “ Pred 5:3-4

Moet nou nie probeer verskoon dat dit net beloftes is wat mens aan die HERE maak wat tel nie. Die HERE sê: “Vir sovele jy dit aan die geringste van My doen, doen jy dit aan My”
Matt 25:40

          Almal van ons het al, sonder om te dink 'n belofte gemaak wat ons nie nagekom het nie. Ons maak almal die fout om beloftes te maak en dit nie na te kom nie. Maar laat iemand anders 'n leë belofte aan jou maak en dit nie nakom nie, dan is die vet in die vuur.

            Dis ook om onwaardig by die Nagmaaltafel aan te sit en ‘n OORDEEL oor jouself te drink.

Ons lees telkemale in die Bybel van God se beloftes aan ons en ons is vinnig om daarop aanspraak te maak. Ons staan bakhand en wag, ongeduldig want 'n belofte moet nagekom word. In ons arrogansie vergeet ons gerieflikheidshalwe baie maklik om ons beloftes gestand te doen.

Wanneer jy in die moeilikheid is en jou lewe nie volgens plan verloop nie word beloftes maklik gemaak. Sommige mense is onder die indruk dat hulle God kan omkoop of met Hom kan onderhandel deur die beloftes wat hul maak. Beloftes wat uit desperaatheid en ondeurdag gemaak is, beloftes wat nie nagekom word nie.

Ons moet baie versigtig wees met die maak van beloftes. God verwag dat jy jou beloftes aan Hom sal nakom, Hy eis dit van jou. Moenie beloftes maak wat buite jou bereik is nie, hou eerder vas aan die beloftes wat God jou gee. Hy is betroubaar en 'n waarmaker van Sy woord. Wees geduldig en wag met vrede in jou gemoed vir die uitkoms.

            “Laat die liefde ongeveins (rein, suiwer) wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan;  0 wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning; wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here...” Rom 12:9-11

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...