Saturday 30 March 2019

Wanneer sterf jy?


Dis seker een van die maklikste vrae om te beantwoord, jy sal sê “Natuurlik wanneer ek my laaste asem uitblaas!”

Dit is waar in die fisiese, ja, maar ons moet ophou om altyd net op die fisiese lewe hier op aarde te konsentreer en meer begin prioriteit gee aan die geestelike lewe in elkeen van ons se wandel hier op aarde.

Natuurlik bygesê dat dit die REGTE en WARE geestelike wandel moet wees saam met die Skepper van hemel en Aarde, ons hemelse Vader Yahweh, deur Jesus Christus ons Verlosser, gelei deur die Heilige Gees! Geen ander geestelike wandel nie!

Die Woord van God waarsku ons egter duidelik in Efésiërs 6:12 “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”

Van die oomblik wat jy gebore is, is jy oppad om te sterf. Dit klink baie kras, maar dis tog so waar. Kom ons praat nie nou van die wegraping wat aanhande is, of van Elia en Henog wat reeds weggeraap is nie.

Dink bietjie aan hierdie statistiek … 100% van alle mense wat vandag lewe gaan sterwe een of ander tyd, en 100% van mense wat nie meer hier is nie van die afgelope 6000 jaar vandat God alles geskape het deur Jesus Christus, het reeds gesterf.

Dit is voor ons uitgelê van geboorte af dat ons gaan sterf, in die fisiese. Aan die ander kant kan baie ander dinge baie vroeg in ons lewens al begin “sterf”.

Efésiërs 4:27 sê “en gee aan die duiwel geen plek nie.”

As ons die duiwel plek gee in ons lewens, sal daar iets sterf want satan is die mensemoordenaar van die begin af - Johannes 8:44. So ons kan fisies sterf as ons hom plek gee.

Hy is ook die verderwer van die vlees – 1 Korinthiers 5:5, so nie net kan ons sterf as ons hom plek gee nie, maar ons vlees kan verderf word, o.a. siektes, pes, ongesondheid, geen lewenslus, ens.

Satan val ons elke dag duisende kere aan op baie verskillende maniere. Ons moet reg wees vir die oorlog sodat ons nie “sterftes” ervaar in ons geestelike (en/of fisiese) wandel nie. Ons moet die Woord van God kan gebruik as die swaard om te veg teen o.a.:

depressie – Psalm 27,
angstigheid – Filippense 4:4-9,
bekommerdheid – Mattheus 8:19-31,
siektes – Jesaja 53:5,
twyfel – Romeine 10:17,
bang wees – Jesaja 41:10.

As ek alles gaan begin opnoem wat Almagtige God vir ons kan doen, is daar nie genoeg plek in hierdie nuusbrief nie.

Ons MOET eintlik daagliks sterf. Hoe kan ek so iets sê? Wel, as ons nie sterf aan onsself elke dag nie, kan God nie in en deur ons werk nie want trotsheid en hoogmoed sal ons ondergang wees. Geliefde Koningskind, ons moet verstaan dat daar altyd iets is wat sterf wanneer ons in sonde wandel.

Ons kan egter wel met geruste harte weet dat as ek Jesus Christus as my Redder en Verlosser aanvaar het en met my hart glo dat God Hom fisies uit die dood uit opgewek het, ek verseker nie bang hoef te wees om fisies te sterf nie! Want dan maak ek my oë dadelik na my afsterwe oop by my Skepper!

En buitendien kan jy nie ‘n ware kind van God dreig met fisiese dood nie want dan is jou pad reguit Hemel toe!

Gebed:

O God Almagtige wat lewe gee en dit nie wegneem nie. Help my asseblief om sterk te wees in my daaglikse wandel en aan die duiwel geen plek te gee nie want hy wil net sterftes  oor my bring heeldag en aldag lank.

Vul my asseblief opnuut met U Heilige Gees sodat ek die satan kan weerstaan in enige aanval wat hy dalk wil loods teen my.

Ek dank U dat ek kan weet volgens 1 Johannes 5:13 dat sou ek wel die dag fisies sterf, ek die ewige lewe klaar het en U my in U arms sal ontvang met blydskap, maar tot dan dank ek U ook dat U my God is wat my sal sterk maak om die sterftes wat satan in my lewe wil bring, teen te staan.

In die magtige Naam van Jesus Christus van Nasaret, dank ek U.
Amen


Geskryf deur: hein henning
(heinh@sunlightfs.co.za)

Tuesday 19 March 2019

SA in verdrukking

Dankie Vader dat U ons nooit sal verlaat nie, en dat U Woord vandag nog vir ons bedoel is en nooit leeg sal terug keer na U nie maar voorspoedig sal wees waar U dit stuur!

Al die eer en glorie aan U in die hoogste hemele!

Ps12:2  Red, o Here, want daar is geen vrome meer nie; want die getroues het verdwyn onder die mensekinders.

Ps 12:3  Hulle praat leuens, die een met die ander; met vleiende lippe spreek hulle dubbelhartig.

Ps 12:4  Mag die HERE al die vleiende lippe uitroei, die tong wat grootpraat,

Ps 12:5  hulle wat sê: Met ons tong is ons sterk; ons lippe is met ons! Wie is heer oor ons?

Ps 12:6  Oor die verdrukking van die ellendiges, oor die gesug van die behoeftiges sal Ek nou opstaan, sê die HERE; Ek sal hom in veiligheid stel wat daarna smag.

Ps 12:7  Die woorde van die HERE is rein woorde, silwer wat gelouter is in 'n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal.

Ps 12:8  U, o HERE, sal hulle bewaar; U sal ons bewaar van hierdie geslag vir ewig.

Ps 12:9  Die goddelose draf rond as laagheid die oorhand kry by die mensekinders.



Goed genoeg!



Ons leef in 'n era waar bitter baie klem en fokus op prestasies geplaas word. Selfs in die skole word ons kinders geleer om daarop te fokus en word hulle selfs beloon indien hulle sou presteer. Tot 'n mate is dit nie altyd heeltemal verkeerd nie, want dit leer mense ook dat hul soms tot meer instaat is as wat hulle gedink het. Tog is die wêreld se fokus meer op wie jy is, hoeveel jy verdien, watter prestasies behaal is, ens.

Baie kere word hierdie verwronge idee van wie jy werklik is, ook deurgetrek na mense se geestelike lewens en voel hulle baie kere dat hulle net nooit goed genoeg sal wees vir God nie. Orals probeer hul Hom dan ook met werke beïndruk, terwyl ons absoluut niks kan doen wat Hom meer of minder lief sal maak vir ons nie.

Joh 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
Joh 3:17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

God het reeds Sy liefde vir ons bewys deur Sy Seun, Jesus Christus, in ons plek te stuur sodat daar versoening kan kom tussen God en elkeen wie Jesus Christus aangeneem het as Saligmaker.

Rom 5:1 Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus;

Ons word dus gered deur geloof alleen en nie deur enige vorm van werke nie! En elkeen wat Jesus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker, is goed genoeg vir God en ook goed genoeg om deur Hom gebruik te kan word in Sy koninkryk. Dit is dus nie jou verlede of jou huidige posisie wat jou stand in Christus bepaal nie.

2Kor 5:17  Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

Ek wil jou dus bemoedig deur hierdie woord...jy is goed genoeg, só tel op jou kop en kyk na jouself soos wat Vader na jou kyk...skoongewas en losgekoop deur die bloed van Jesus Christus!


GEBED: Vader, ek bid dat U deur U Gees aan elkeen van U kinders sal openbaar hoé groot U liefde vir ons is en hoé kosbaar elkeen in U hart is...amen


 Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

Monday 11 March 2019

As ons vergewe!



Mattheus 6:14,15: "Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie."

Baie kere is ons geneig om hierdie baie belangrike woorde mis te lees in die Bybel, of selfs om nie op die waarskuwing daarin ag te slaan nie.

Maar in hierdie komende week wil ek jou tog graag bemoedig met daardie woorde, maak nie saak in watter situasie jy jou dalk mag bevind, hetsy by die werk of in een of ander persoonlike verhouding in jou familie nie. Satan kom veroorsaak so baie kere wrywing of seer in ons lewenssituasies en omdat hy die Bybel baie goed ken, weet hy wat die bogemelde teksverse bepaal, en wil hy juis NIE hê dat ons daardie mense wat ons so seergemaak het, sal vergewe nie.

Hoekom nie? Want hy wil ons juis ongehoorsaam hou aan die Woord van God en ons baie slinks in 'n situasie probeer intrek dat God my dan ook nie sal vergewe nie, juis omdat ek nie daardie mense vergewe nie.


Maar tog is die  Woord baie duidelik wat ons wel moet doen, juis sodat ons ook vry kan wees van enige seermaak situasie, en dit is naamlik om andere vry te spreek, JUIS sodat ons ook vrygespreek kan wees, soos ons dit lees in Lukas 6:37.

Want die oomblik as ek daardie persoon of persone vryspreek, wat my so tenagekom het, of seergemaak het, dan sê die Bybel is EK vry. Dit beteken dus nie dat ek deur hulle vry te spreek nou sê hulle was reg en ek was verkeerd nie. Nee, dit beteken bloot dat my vryspraak my vry maak van die las wat satan daardeur op my skouers wou plaas, en kan ek daardie persone vierkantig in die oë kyk waar ons ookal weer met mekaar te doen sal hê.

Moet dus nie dat seer en onvergifnis in hierdie week keer dat jy gehoorsaam raak aan God se Woord nie. Ek vertrou dat jy in Jesus se krag enige sulke mense sal vryspreek, juis sodat jy ook vrygespreek kan wees, en nie meer daardie las op jou skouers hoef te dra nie.


GEBED:

"Vader, ek kom na U in die magtige Naam van Jesus Christus. Ek vra dat U my asseblief hierdie week sal help om in Jesus se krag daardie persoon of persone vry te spreek wat my so ontsettend seergemaak het, juis sodat ek dan kan weet dat ek daardeur ook deur U vrygespreek is. In Jesus Naam. Amen."

 Geskryf deur: tiaan gildenhuys
(tg@oicb.co.za)

Waar kan ek skuil?

11:1 Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. By die HERE skuil ek. Hoe kan julle dan vir my sê: Vlug na julle berg soos 'n voël!

11:2 Want kyk, die goddelose span die boog; hulle het hul pyl op die snaar reggesit om in die donker te skiet na die opregtes van hart.

11:3 As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?

11:4 Die HERE is in sy heilige paleis; die troon van die HERE is in die hemel; sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders.

11:5 Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet.

11:6 Hy sal op die goddelose vangnette, vuur en swawel laat reën; en 'n gloeiende wind sal die deel van hulle beker wees.

11:7 Want die HERE is regverdig; Hy het geregtighede lief; die opregtes sal sy aangesig sien.

Wednesday 6 March 2019

Die lewe gaan aan



Baie kere gebeur daar dinge in mens se lewe wat jou tot stilstand dwing of tot stilstand ruk en dan voel dit asof jou hele wêreld in duie stort. Tog, na verloop van tyd vervaag die herinnering daaraan en dan kom mens agter dat jy maar op 'n manier daardeur gekom het. Nietemin, al was dit die afsterf van 'n geliefde, 'n groot siektetoestand of een of ander familie- of finansiële krisis, die lewe gaan aan en niemand kan bekostig om net op 'n hopie te gaan sit en wens dat dit nie gebeur het nie.

Die Bybel vermaan ons ook baie duidelik dat ons nie aan die dinge van die verlede moet vashou nie, maar dat ons op Vader se skoot moet klim en Hom vertrou om ons te versterk en krag te gee om deur die situasie te werk.

Jes 43:18  Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie.

Luk 9:62  En Jesus antwoord hom: Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.

Dit is onvermydelik dat daar beproewinge oor ons lewenspad sal kom en die wyse waarop ons dit hanteer, sal bepaal wat die langtermyn impak op ons lewe gaan wees en of dit enigsins letsels in ons siel gaan agterlaat.

Maak egter nie saak wat met ons gebeur nie, Vader belowe dat Hy ons nooit in die steek sal laat of alleen daardeur sal laat gaan nie. As ons weet om dit na Hom toe te bring, dan sal ons staande daardeur kan kom.

Heb 13:5  Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.
Heb 13:6  Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?

Die Bybel is ook duidelik dat God nooit sal toelaat dat ons bó ons kragte versoek sal word nie en dat Hy in elke situasie ook die uitkoms sal gee.

1Kor 10:13  Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.

Een ding is verseker en ek wil elkeen bemoedig wie op hierdie stadium deur een of ander  beproewing moet gaan...Vader sal jou die krag gee om deur dit te kom as jy bereid is om Hom te vertrou!!

Fil 4:13  Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.

Psa 37:3  Bet. Vertrou op die HERE, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid,
Psa 37:4  en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.
Psa 37:5  Gimel. Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer;
Psa 37:6  en Hy sal jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag.


Gebed:  "Hemelse Pappa, baie dankie dat ons kan weet dat U altyd met ons is en dat U ons nooit in die steek sal laat nie, maar dat U elkeen sal versterk met nuwe krag wanneer die storms om ons slaan...Amen!"

 Geskryf deur: ernest phillipson
(ecp@oicb.co.za)

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...