Monday 30 July 2018

Volgelinge....?


Image result for Lukas 6:22

“As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar.” (Johannes 15:18-20)

Baie Christene verstaan nie waarom mense by die werk of selfs in hulle families baie kere lelik is met hulle nie, veral nie as hulle bloot die regte ding probeer doen volgens die Bybel nie. Die antwoord lê opgesluit in die bogemelde woorde. Jesus het daar duidelik gesê dat omdat die wêreld Hom haat, sal hulle ons ook haat. Hy het ook gesê dat as hulle Hom vervolg het, sal hulle ons ook vervolg.

Nou is die vraag, het hulle Jesus vervolg? Ja, hulle het. Gaan hulle ons dus vervolg? Ja, hulle gaan. Maar wie het Jesus vervolg? Sy eie mense. So wie gaan ons vervolg? Ook ons eie mense. Dit moet ons dus nie verbaas as hierdie dinge met ons gebeur nie. Ons moet dan net leer om verder dieselfde te doen as wat Jesus gedoen het, deurdat Hy selfs aan die kruis gesê het: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Kom ons begin dieselfde doen.

Ek wil jou dus graag hierdie week bemoedig met die woorde van Jesus, dat as hierdie goed met jou gebeur, dit jou nie moet aftrek, negatief of moedeloos maak nie. Inteendeel, kyk wat het Hy ook vir ons gesê in Lukas 6:22,23:

“Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens. Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel, want hulle vaders het net so aan die profete gedoen.”

Gebed:

“Vader, ek kom na U in die Naam van U Seun, Jesus Christus. Ek vra Here, vergewe my waar ek bitter of opstandig geraak het as familie of werkskollegas my vervolg of spot oor my geloof in Jesus Christus. Ek kies vandag om hulle te vergewe en ek vra Vader, vergewe U hulle asseblief ook. Lei my in hierdie week om juis opgewonde te wees as so iets gebeur, omdat ek weet dit beteken my loon is groot in die hemel. Amen.”

 (tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys


Monday 23 July 2018

Die nooit,nooit, ooit belofte!


Image result for Hebreërs 13:5

Hebreërs 13:5 “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.”

In tye wanneer ons wêreld gedefinieër word deur nomadiese verhoudings en oppervlakkige toewyding is dit meer as wonderlik om te weet daar is ‘n Vriend wat nader is as ‘n broer.

Die skrywer van Hebreërs boekstaaf God se “nooit nooit ooit” belofte – “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.”

Daar is ‘n soveel dieper betekenis en beskrywing in hierdie teks wat die Afrikaanse taal nie kan verwoord met die vertaling uit Grieks nie. Leermeesters van die Griekse taal weet dat ‘n dubbel negatief die stelling versterk, dit verwyder dit vêr bo alle moontlike twyfel.

Die Amplified Bybel stel dit moontlik die beste: “For God Himself has said, I will not in any way fail you nor give you up nor leave you without support. I will not, I will not, I will not in any degree leave you helpless nor forsake nor let you down; nor relax My hold on you! Assuredly not!”

Met ander woorde, “EK sal jou nooit, nooit, ooit verlaat nie! Nooit nie en dit is ‘n belofte.”

Maar, soms word God se nabyheid nie gevoel of ervaar nie. Daar is tye waar dit voel of Hy nêrens te vinde is nie. Ons roep uit maar daar is geen antwoord nie. Desperaat soek ons na tekens maar vind niks. Tog is Hy daar. Baie kere besef ons dit eers nadat die “stilte” tydperk verby is.

Dit is wanneer ons besef juis hoe naby Hy was. Miskien kan ons, soos die Psalm digter, na hierdie tye en seisoene kyk as “in die skadu van Sy vleuels”. Ja, Hy is naby, selfs wanneer dit so donker is.

Beskou die volgende as ‘n kort “oor vlug” oor ‘n paar hoë pieke in die bergreeks van God se Getrouheid:

Gen 28:15 “En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het.”

Deu 31:7 & 8  “Toe het Moses Josua geroep en aan hom voor die oë van die hele Israel gesê: Wees sterk en vol moed, want jy sal met hierdie volk in die land ingaan wat die HERE aan hulle vaders met ‘n eed beloof het om aan hulle te gee; en jy sal hulle dit laat erwe. En dit is die HERE wat voor jou uit trek; Hy sal met jou wees; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie; jy mag nie bevrees of verskrik wees nie.”

Jos 1:5 & 6 “Niemand sal voor jou standhou al die dae van jou lewe nie; soos Ek met Moses gewees het, sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie. Wees sterk en vol moed; want jy sal hierdie volk die land laat erwe wat Ek hulle vaders met ‘n eed beloof het om aan hulle te gee.”

1Sam 12:22  “Want die HERE sal sy volk ter wille van sy grote Naam nie verwerp nie, omdat dit die HERE behaag het om van julle vir Hom ‘n volk te maak.”

1Kron 28:20 “En Dawid het aan sy seun Salomo gesê: Wees sterk en vol moed, en voer dit uit; vrees nie en wees nie verskrik nie, want die HERE God, my God, sal met jou wees; Hy sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie, totdat jy al die dienswerk aan die huis van die HERE voltooi het.”

Ps 37:25 “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.”

Jes 41:10 “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.”

Ons kan dit alles in een sin opsom – “Ek sal jou nooit, nooit, ooit verlaat nie! Nooit, nooit, ooit nie – en dit is ‘n belofte.”

God sê in Num 23:19  “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?” Dit is waarom ons, sonder enige twyfel, kan weet dat Hy ons nooit sal verlaat nie.

“Vader, dankie vir die belofte wat ek het dat U my nooit sal verlaat nie. Dankie dat ek op U Woord kan staan en U herinner aan U beloftes. Dankie dat hulle in Jesus Ja en Amen is soos dit geskrywe is in 2 Kor 1:20 “Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.’ Amen.”

(cobus van heerden - cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys


Tuesday 17 July 2018

Vrees nie!


Image result for 1Kron 28:20

Een van die grootste en sterkste wapens waarmee die vyand die hele mensdom aanval, is “vrees”. Dit is ook nie 'n nuwe taktiek nie en is dit iets wat ons al uit die Bybel se tyd kan opmerk. In ons land is daar op hierdie stadium baie dinge waaroor mense vrees en is daar ook baie kinders van die Here wat deur hierdie taktiek van die Satan, in slawerny geplaas word! Daar word gevrees oor die politieke situasie in ons land, die stygende lewenskostes, plaasaanvalle en veiligheid, stygende brandstofkostes, ontvoering van kinders ens., ens., ens.

Wat hartseer is om te merk, is dat baie kinders van die Here betrokke is by die verspreiding van hierdie “vrees” boodskappe op sosiale media...en dit terwyl ons veronderstel is om die waarheid te ken en met die werke en metodes van die vyand, bekend te wees.

Terwyl ek hierdie boodskap van die Here bepeins het, gee Hy my hierdie vers:

1Kron 28:20  En Dawid het aan sy seun Salomo gesê: Wees sterk en vol moed, en voer dit uit; vrees nie en wees nie verskrik nie, want die HERE God, my God, sal met jou wees; Hy sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie, totdat jy al die dienswerk aan die huis van die HERE voltooi het.

God is getrou aan Sy beloftes in Sy Woord en alhoewel daar slegte dinge met goeie mense gebeur, is Hy altyd getrou dat ons nie bo ons kragte versoek sal word nie. Selfs in Dawid se tyd was daar ou Goliat wie vir 40 dae lank die hele Israel-weermag met vrees gebind het. Totdat Dawid op die toneel verskyn het en besluit het om op die Almagtige God te vertrou, want hy het die vorige geleenthede onthou toe die Here hom die krag gegee het om die leeu en die beer te verslaan.

Net só het ek en U getuienis van geleenthede waar die Here ons gehelp het en ook beskerm het teen gevare en moet ons onsself elke keer daaraan herinner wanneer die vrees by ons deur kom klop. Die Woord van die Here is baie duidelik oor God se beloftes en vind ons een daarvan in Jesaja:

Isa 54:17  Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê. Dit is die erfdeel van die knegte van die HERE en hulle geregtigheid wat uit My is, spreek die HERE.

Die vraag is net: wat kies jy om te glo en wat spreek jy met jou mond? Want wat jy sê, sal jy hê!

Spr 18:20  Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrings van sy lippe.

Spr 18:21  Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.

Kom ons begin werklik anders te wees as die res van die mensdom wie geen hoop het nie, omdat hulle nie die lewende Jesus Christus ken nie. Kom ons wandel in die lig van Sy Woord en hou ons hart op Hom gerug, terwyl ons bewus is van die dinge rondom ons, maar sonder vrees sodat ons kan bid daaroor en op God vertrou vir die uitkoms!

 (ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys



Tuesday 10 July 2018

Rig jou oë op hoër grond!


Image result for Matthéüs 5:1 & 2

Matthéüs 5:1 & 2 “En toe Hy die skare sien, het Hy op die berg geklim; en nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom gekom; en Hy het sy mond geopen en hulle geleer …”

Skares vergader altyd om gebeure en persone wat nuuswaardig en interessant is. Dit, en selfs baie meer was Jesus, en só het Sy bediening al groter skares getrek. Ons lees in Matt 4:24 & 25 “En die gerug aangaande Hom is versprei oor die hele Sírië; en hulle het na Hom gebring almal wat ongesteld was, wat gekwel was deur allerhande siektes en pyne en wat van duiwels besete was, en maansiekes en verlamdes; en Hy het hulle gesond gemaak. En groot menigtes het Hom gevolg van Galiléa en Dekápolis en Jerusalem en Judéa en van oorkant die Jordaan af.” Maar Hy het geweet dat skares maar wisselvallig is. Toe Hy sien dat Sy bediening skares bymekaar trek – klim Hy ‘n berg.

Hierdie was ‘n beslissende besluit – boontoe! ‘n Doelbewuste maneuver om díe uit te sif wat maar net daar was vir ‘n maklike weg, gratis kos ens. En net soos Jesus verwag het, het die skare verdwyn. Jy sien, skares klim nie berge nie.

Wat volgende gebeur het is presies wat Jesus wou hê. Die wat aan Hom verbind was het saam met Hom geklim. Is jy een van hulle? Wanneer die skares verdwyn en die volg van Jesus nie meer populêr of maklik is nie, sal jý nog steeds aan Sy sy klim? Indien wel – sal Hy jou na die bergkruin neem.

Wat het Jesus hulle daar op die kruin van die berg geleer? Dáár gee Jesus die Bergpredikasie! Hy leer hulle oor die Saligsprekinge, die Sout van die aarde en die Lig van die wêreld, die Vervulling van die wet en die profete, Woede, Wellus, Egskeiding, Ede, Wraak, Liefde teenoor jou vyande, Gee aan behoeftiges, Gebed, Vas, Skatte in die hemel, die Gesonde oog, die Twee here, Kwelling oor die lewe, Oordeel, Vra en ontvang, die Goue reel, Valse Profete, die Outoriteit van Jesus. In kort, Hy leer die by Hom hoe om te leef as kind van God. Lees gerus Matt 5 tot 7. Daar was baie wat Hom gevolg het vir dit wat Hy vir hulle kon doen. Genesing, bevryding, voorsiening, ens. Min was egter bereid om ‘n daadwerklike  poging aan te wend om Sy leëringe en riglyne te ontvang.

Om Jesus werklik te volg gaan jou kos. Jy gaan ‘n prys moet betaal. Jy gaan ‘n doelbewuste poging moet insit. Lees gerus Lukas 14 verse 25 tot 33. In vers 28 lees ons “Want wie van julle wat ‘n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie?”

Die Woord sê dat ons deelgenote aan ‘n hemelse roeping is. Heb 3:1  “Daarom, heilige broeders, deelgenote van die hemelse roeping, let op die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis, Christus Jesus,” Dit is die hoër roeping in Christus. Fil 3:14  “Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” Dít is die roeping van God op ons lewens en wat middelmatigheid onaanvaarbaar maak. Ek kan en wil nie meer die skare volg nie. Die Engels vir die woord middelmatigheid is “mediocrity” en dit beteken letterlik ”halfpad teen ‘n berg op.”

Gaan dit werklik vir jou aanvaarbaar wees om Jesus net halfpad te volg? Ek het nie so gedink nie!

My vriend en vriendin, stel jou visier op hoë grond! Dan sal die Koninkryk, die Outoriteit van Jesus Christus jou volgende bestemming wees.

“Here Jesus, van vandag af sal ek nie meer skares volg nie, ek sal U volg. Ek sal saam met U die berg uitklim en U lering ontvang. Gee my asseblief U krag en vestig my oë op die hoë grond en roeping. Ek bereken die koste om U te volg en is bereid om die prys te betaal. Amen.”

(cobus van heerden - cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys



Monday 2 July 2018

Skep moed!


  Image result for heilige gees


“Nou dan, skep moed, Serubbábel (Karel, Pieter, Marie, Suzanne (of wat ookal jou naam mag wees), spreek die HERE, en skep moed, Josua, hoëpriester, seun van Jósadak, en skep moed, julle almal, volk van die land, spreek die HERE, en werk! Want Ek is met julle, spreek die HERE van die leërskare, met betrekking tot die verbond wat Ek met julle gesluit het by julle uittog uit Egipteland, en my Gees sal in julle midde bestendig bly; wees nie bevrees nie!” (Haggai 2:4,5)

Wanneer mense nie die Woord van die Here ken nie, en hulle die daaglikse nuus dophou met betrekking tot dinge wat in ons eie land of dwarsoor die wêreld gebeur, is dit baie maklik om ontmoedig te word. En daardie ontmoediging lei maklik daartoe dat mens selfs nie eens lus is om te werk, of konstant jou beste te lewer nie, want “wat is die nut” is baie mense se uitkyk. Vandag wil ek jou egter bemoedig met die bogemelde woorde van die Here. Haal gerus Serubbábel en Josua se name uit en plaas jou eie daarin, en weet dat die Here vandag steeds vir jóu óók sê: “skep moed, en werk!”

Want Sy Gees is vandag nog steeds bestendig in ons wat aan Hom behoort, se midde. Daarom hoef ons ook nie vir een oomblik bevrees te wees vir die dinge wat besig is om op ‘n daaglikse basis rondom ons te gebeur nie. Ons moet aangaan met ons lewens en werk asof ons vir die Here werk, en nie vir mense nie.

“En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang, want julle dien die Here Christus.” (Kolossense 3:23,24)

“…en julle eer daarin te stel om rustig te lewe en julle eie sake te behartig en met julle eie hande te werk, soos ons julle beveel het,…” (1 Thessalonicense 4:11)

My liewe broer en suster, ek wil jou vir hierdie week bemoedig met die woorde in die bogemelde teksverse. Doen jou werk, of wát jy ookal die week gaan doen, soos vir die Here en nie vir mense nie, en Sy Gees sal met jou wees en jy hoef nie te vrees vir dit wat rondom jou gebeur nie.

Gebed:

“Vader, ek kom na U in die Naam van U Seun, Jesus Christus. Vergewe my asseblief waar ek toegelaat het dat dit wat ek elke dag rondom my sien gebeur, om my te ontmoedig. Na aanleiding van U eie woorde, kies ek vandag om moed te skep en my werk te doen asof ek dit vir U doen en nie vir mense nie, want ek weet ek dien die Here Christus. Amen.”

(tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys


Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...