Monday 21 May 2018

Daardie beker moet jy drink

Image result for nagmaal

Mat 26:27  Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit.

Tydens my stiltetyd een oggend met my onlangse besoek aan die besigheid in Upington, gee die Here my hierdie een vers om op te mediteer. Die deel wat vir my baie pertinent uitgestaan het van die begin af, is die vetgedrukte deel hierbó. Terwyl ek die vers sit en bepeins, begin die Heilige Gees vir my oopbreek dat hierdie nie 'n versoek was wat Jesus gerig het nie, maar dat dit 'n opdrag was!

Hy lei my toe ook verder na die skrifgedeelte in Matt 20 waar die moeder van twee van Sy dissipels kom vra het dat hulle aan Sy linker en regterkant mag sit in die lewe hierna. Jesus vra hulle toe of hulle die beker sal drink wat Hy moet drink (met verwysing na Sy lyding en verwerping) en hulle het “ja” geantwoord. Hy het toe bevestig dat hulle en ons vandag as Sy dissipels, verseker uit dieselfde beker sal drink, omdat die mense ons sal vervolg as gevolg van ons geloof In Jesus Christus.

Mat 20:22  Maar Jesus antwoord en sê: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word? Hulle sê vir Hom: Ons kan.

Mat 20:23  En Hy sê vir hulle: Dis waar, my beker sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word; maar om te sit aan my regter— en aan my linkerhand berus nie by My om te gee nie, maar is vir hulle vir wie dit deur my Vader berei is.

 Toe Hy dus met die instel van die verbondsmaal (nagmaal) die opdrag gee dat almal uit die beker moet drink, het Hy toe alreeds elkeen wie in Hom glo, opgeroep vir diens as dissipel en martelaar ter wille van Sy naam en ter wille van siele wat gered moet word. Dan gee Hy ook daardie opdrag na Sy opstanding, dat ons moet uitgaan en dissipels gaan maak en hulle alles moet leer wat Hy ons leer.

Mat 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Mat 28:20  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.

Die Gees lei my toe verder na die deel in Paulus se brief aan die Korinthiërs waar hy dit duidelik maak dat hulle die brief is wat in Christus deur die apostels geskryf is...bedoelende dat die gemeente daar die getuienis is van die werk wat Paulus-hulle daar gedoen het. Dit is toé dat die Gees my vra: “wat staan in jou brief geskryf?”...en ek het duidelik verstaan dat Hy bedoel:  watse getuienis  is daar in die hemel oor my diens aan Christus en watse getuienis is in mense se harte oor my? Dit het my op daardie stadium maar net stom gelaat!


2Kor 3:1  Begin ons weer om onsself aan te beveel? Of het ons miskien, soos sommige, aanbevelingsbriewe nodig aan julle of van julle?

2Kor 3:2  Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense;

2Kor 3:3  omdat julle duidelik ‘n brief van Christus is deur ons diens berei, geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die vleestafels van die hart.


My liewe leser van hierdie skrywe, kan ek jou maar op hierdie stadium met dieselfde vraag konfronteer?

WAT STAAN IN JOU BRIEF GESKRYWE?

In die eerste brief aan die gemeente in Korinte, verduidelik Paulus aan hulle die gebruik van die verbondsmaal soos hy dit van Jesus ontvang het. Hy skryf ook duidelik dat die gebruik daarvan ons elke keer moet herinner aan wat Jesus gedoen het, m.a.w. Dit herinner aan die verlossing deur Sy bloed en genesing deur Sy wonde, maar dit herinner ook dat Hy bereid was om te ly ter wille van elkeen wie in Hom sou glo! Dan sê hy ook baie duidelik in vers 28 dat elkeen wie dit gebruik moet homself beproef en ek glo na dese dat dit ook betrekking het op ons bereidwilligheid om die pad te stap wat ons Meester en Here getsap het!

1Kor 11:26  Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.

1Kor 11:27  Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here.

1Kor 11:28  Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink.

Het dit nie dalk tyd geword dat elkeen van ons onsself beproef om te sien of ons nog bereidwillig is om as dissipel van Jesus Christus, te drink uit die beker waaruit Hy moes drink nie...en dit nie ter wille van onsself nie, maar ter wille van hulle wie nog verblind is deur godsdiens en hulle wie nog totaal verlore is?

GEBED: 

Vader, vergewe ons dat ons nie altyd bereid is om te drink uit die beker waaruit U moes drink nie. Kom versterk ons egter met U krag om getrou te wees in ons opdrag as dissipels van U en kom gee ons U hart vir siele wie nog verlore is...Amen!

(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys




Friday 18 May 2018

Biologiese ouers soek hulle kinders


Vaders word in hierdie tyd deur die Gees van Elia opgewek om terug te keer na hulle kinders. So lui hulle die Koms van Christus binne. Die Gees van Elia moet in die Kerk aanwesig wees, toegelaat word, verwelkom word.

            “En hy sal voor Hom uitgaan in die gees en die krag van Elía (hoekom?), om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders...” Luk 1:17

            Maleagi het al profeteer: "Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur voordat die dag van die Here kom, die groot, verskriklike dag. Elia sal vaders en kinders versoen...." Mal 4:5-6

            Die Gees van Elia sal die morele verval in en om die Kerk omkeer en die  Gees van Isebel en ook Agab, wat alles verniel, teenstaan. Die Kerk maak gereed vir die Wederkoms... sonder vlek of rimpel.

            Reg oor die wêreld verbrokkel huwelike in toenemende maat die afgelope 50 jaar en in Suid-Afrika loop een uit elke drie huwelike op die rotse. Soms is dit een uit elke twee huwelike. Buite-egtelike kinders word in toenemende maat die afgelope 50 jaar gebore.

            Vaders ontken vaderskap. Die Gees van Isebel verwoes predikante, gemeentes, huwelike huisgesinne, laat selfs staatspresidente en konings tuimel. In Italië is 90% van alle mans en vroue ontrou. Dit het ‘n aanvaarde kultuur geword. Dié toestand kom reg oor die wêreld voor, ook erg in SA.

            God se oplossing vir die Eindtyd, is die herstel van vaderlose volke, die herstel van Sy vaderlose Kerk. Die Gees van Elia sorg vir vrymaking van die Gees van Isebel se onheile.

            Hier is ‘n nuwe ontwaking en ‘n vars bries van Herlewing vir die volke. Kinders het die liefde en aandag van ‘n vader broodnodig.

            Op die Internet wêreldwyd, maar ook in SA is tienduisende aangenome kinders wat hul biologiese ouers soek. Biologiese ouers soek ook. In kinderhuise sit hulpelose kinders met verlange langs die heiningdrade: Wanneer kom hulle mammas en pappas hulle haal?

            Oplaas moet hulle in pyn aanvaar: Hulle is alleen.

Die HERE het ‘n reuse omgee vir kinders. Almal wat na kinders omsien, kan weet dat die HERE na hulle sal omsien. Matt 7:11. Hy berei vir Homself lof uit die mond van kinders en suigelinge. Matt 21:16

            Mens wonder hoekom die profesie juis klem lê op die vaders wat met die kinders moet versoen. Die antwoord is die volgende...

            Navorsing is in 21 lande wêreldwyd gedoen:

·       63% van selfmoorde kom van huise met afwesige pa’s

·       80% van verkragting wat uit woede en frustrasie gepleeg word, kom van huise met afwesige pa’s

·       70% van jeugdiges in institusionele inrigtings wat deur die staat bestuur word, kom uit huise met afwesi-ge pa’s.

·       85% van kinders met gedragsprobleme kom van huise met afwesige pa’s.

·       90% van kinders wat rondswerf sonder vaste huisvesting, kom van huise met afwesige pa’s.

·       71% van kinders wat nie hul skoolloopbaan voltooi nie, kom van huise met afwesige pa’s

Wanneer mans eienaarskap neem om hul lewe en prioriteite te verander en hul verantwoordelikheid en Goddelike gesag beoefen soos God dit bedoel het, kan dit ʼn reuse verandering en impak in ʼn gemeenskap bring.


Help ons asseblief om die volgende gesinne te herenig:

·       As jy as seun op 25 Augustus 1983 in Johannesburg (Boksburg/Benoni) gebore is en jou biologiese ouers soek, het ons straks baie goeie nuus vir jou.

·       As jy as meisie op 13 Julie 1974 in Johannesburg gebore is, en jou biologiese ouers soek, het ons straks vir jou ook baie goeie nuus.

·       Kontak ons by sjibbolet.buro@gmail.com  of  belindapaar@gmail.com


Wednesday 16 May 2018

Blom waar jy geplant is!


Image result for 1 Petrus 1:1 & 2



1 Petrus 1:1 & 2 “Petrus, ‘n apostel van Jesus Christus, aan die vreemdelinge van die verstrooiing in Pontus, Galásië, Kappadocië, Asië en Bithínië, uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word!”

Uit hierdie tekse kry ons ‘n nuwe sienswyse vir oorweging. Vanuit die een hoek sien ons ‘n nasionale ramp; honderde duisende landsburgers is ontwortel vanuit hulle wonings deur ‘n besettende weermag, soos diere aangejaag op snelweë en paaie; verstrooi deur verskeie winde, en nou net bekend as uitgewekenes en vreemdelinge. Dit is nogal ‘n baie somber prentjie.

Maar uit ‘n ander hoek sien ons iets heeltemal glorieryk. Die woord vertaal as “verstrooiing” uit die Griekse Nuwe Testament beteken eintlik “om as saad gesaai te word.” Met ander woorde, alhoewel hulle deur mense gesien word as uitgewekenes en verstrooides uit hulle land, sien God hulle as saad wat in nuwe lande van glorie geplant is.

As ons net sal leer om altyd na ons veranderende omstandighede vanuit God se oogpunt te kyk, sal ons nie vasgevang word in die gepaardgaande dramas en bewegings van veranderende kulture en lewenswyses wat twis en argumente ontlok oor dit wat ons verontrief nie. Ons sal eerder leef as dankbare mense wat God loof vir Sy getrouheid in alles en ten alle tye. Ons sal groei en blom waar ons geplant is.

God weet wie jy is, waar jy is en wat Sy plan vir jou is!

Indien jy in nederigheid sal erken dat Hy in beheer is, sal daar ‘n verandering kom in jou hart en in jou uitkyk na dit wat om jou is. Sonskyn sal deur die donker wolke om jou breek en jou lewe sal groei met nuwe effektiwiteit en doelgerigtheid.

Jy sal blom waar jy geplant is en sal ook ontdek dat God jou na die plek gebring het waar jy altyd wou wees.

“Here Jesus, help my asseblief om deur U oë te kyk na die plek en omstandighede waar ek is. Ek verklaar dat U in beheer is en wil graag hier blom en vrug dra. Amen.”

(cobus van heerden - cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys



Wednesday 9 May 2018

As My volk....


Image result for 2 Kronieke 7:13

"As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” (2 Kronieke 7:13,14)

Hierdie is twee baie bekende teksverse, wat alle Christen gelowiges al gehoor, of self gelees het. Maar net soos met so baie ander verse in die Bybel is die vraag: Neem ons werklik IN wat ons gelees het, HOOR ons en SIEN ons werklik wat daar staan?

Want in hierdie verse is daar VIER baie duidelike dinge wat ONS moet DOEN, vóórdat God ons land (of ons lewens) kan genees. En daardie vier dinge, is (1) dat ons ons moet verootmoedig, met ander woorde nederig moet raak, (2) ons moet bid, (3) ons moet God se aangesig soek, EN (4) ons moet ons BEKEER van ons verkeerde weë, want eers as ons aan al VIER daardie dinge voldoen, kan God ons land of ons eie lewens genees.

Dit help nie ons doen net een, twee of selfs drie van daardie dinge, en dan is ons ongelukkig as die Here nie vir ons genesing bring nie. Gelowiges is gou geneig om te sê: “Maar ek bid en ek soek die Here se aangesig!” En tog is hulle in baie gevalle nog vol van die “eie-ek”, vol trots en hoogmoed en nie werklik nederig nie, én hulle bekeer hulle ook nie van hulle verkeerde dade nie, hetsy of dit haat, onvergifnis, bitterheid, rassisme, of wat ookal is nie.

Dan moet ons nie wonder waarom ons nie deurbrake of genesing in ons lewens of in ons land kan ontvang nie.

Gebed:

“Vader, ek kom na U in die Naam van U Seun, Jesus Christus. Vergewe my asseblief omdat ek nie altyd gehoorsaam is aan U Woord deur my nie te veroormoedig nie, of nie te bid en U aangesig te soek nie, en veral ook waar ek my nie altyd bekeer van my verkeerde weë nie. Ek vra dat U my U krag sal gee om dit van vandag af reg te kry om aan daardie vier voorwaardes in U Woord te voldoen, juis sodat U ook my lewe en ons land kan genees. In Jesus Naam. Amen.”

 (tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys




Tuesday 1 May 2018

Bid aanhoudend!


Ek het al menige kere die kommentaar en prediking gehoor dat jy net nodig het om eenkeer tot God te bid oor 'n saak, omdat: “Hy nie doof is nie en jou die eerste keer gehoor het”. Tog lees ek en verstaan ek van my Bybel dat ons aanhoudend moet bid en vra...nie omdat God ons nie die eerste keer gehoor het nie, maar sodat ons geloof gebou kan word en ons kan leer om in afwagting te wag vir God se perfekte wil en antwoord en wil Hy ook hê dat ons Hom só moet petisie, volgens wat ek lees in die onderstaande Skrif:

Jes 62:6  o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes—moenie rus nie

Jes 62:7  en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!

Jesus het self die mense met die bergpredikasie geleer om aanhoudend te bid en nie moed op te gee nie, maar om te hoop op die goeie dinge uit Vader se hand. En volgens wat ek verstaan van die Grieks wat hier gebruik word, is dat die wat aanhoudend bid, klop en soek, sal ontvang.

Mat 7:7  Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.

Mat 7:8  Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.

Mat 7:9  Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ‘n klip sal gee;

Mat 7:10  en as hy ‘n vis vra, aan hom ‘n slang sal gee?

Mat 7:11  As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!

Baie kere gee ons moed op oor 'n saak waarvoor ons bid nog voordat ons regtig begin het, omdat ons in ongeloof of kleingelowigheid bid of nie die geduld het om te wag op Vader se antwoord of uitkoms nie. Baie kere draai ons voor die deur van ons deurbraak om en verbeur dan dit wat God vir ons bestem het. Dikwels blameer ons die duiwel dat hy dinge by ons steel, maar dan is dit bloot ons ongeduld wat ons laat skade ly.

Jak 1:4  Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.

Jak 1:5  En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.

Jak 1:6  Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.

Jak 1:7  Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie—

Jak 1:8  so ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë.

Jak 4:2  Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie.

Jak 4:3  Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.

Menige keer is die dinge waarvoor ons bid nie binne Vader se wil vir ons nie, omdat dit wêreldse goed is wat ons nie nodig het nie of wat vir ons 'n struikeling sal wees in ons verhouding met Vader. Wanneer ons egter bid vir die dinge wat werklik nodig is, dan SAL Vader op die regte tyd voorsien, want dit is Sy beloftes aan ons.

Mat 6:31  Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?

Mat 6:32  Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.

Mat 6:33  Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

Mat 6:34  Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.

Dit is nie altyd maklik om te midde van jou omstandighede te fokus op God se beloftes nie, maar dit is juis dan des te meer belangrik om jou fokus na Hom te skuif en nie in jou  omstandighede vas te kyk nie. God is getrou aan Sy Woord  en Sy beloftes en Hy het nog nooit verander nie en Sy oor is gerig op die gebed van die regverdiges.

Spr 15:8  Die offer van die goddelose is vir die HERE ‘n gruwel, maar die gebed van die opregtes is Hom welgevallig.

Spr 15:29  Die HERE is ver van die goddelose, maar die gebed van die regverdiges hoor Hy.

2Kor 1:20  Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.

Moet dus nooit ophou bid of moed opgee nie, want daar is groot krag in gebed en God is altyd getrou! Moet nie ophou vertrou nie, want op die regte tyd SAL jy gehelp word!

Jak 5:16  Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag

Heb 4:16  Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.

Gebed: Vader U weet dat dit nie altyd maklik is vir ons om geloof te behou en te vertrou op U as dinge moeilik raak nie, maar gee ons asseblief die krag om nie op te hou om in geloof te bid en te vertrou nie...amen!

(ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys




Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...