Thursday 18 May 2017

Wie het jou vertel?


Image result for Jesus praat met die mense



Luk 8:18 Pas dan op hoe julle hoor; want elkeen wat het, aan hom sal gegee word; en elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy dink dat hy het.

Terwyl ek hierdie deel uit Lukas lees, staan hierdie woorde:”pasop dan hoe julle hoor” vir my baie meer pertinent uit as die vorige kere wat ek dit gelees het. Die deel wat daarop volg, het aanvanklik nie vir my sin gemaak nie, totdat ek die volgende woorde in my gees gehoor het: “who told you?”

Hierdie vraag: “who told you?”, is die vraag wat God aan Adam gevra het in die tuin van Eden, nadat Adam en Eva weggekruip het omdat hulle bewus geword het dat hulle naak was.

Gen 3:11  And he said, Who told thee, that thou wast naked? Hast thou eaten of the tree, whereof I commanded thee, that thou shouldest not eate?

Dit is toe dat ek die laaste deel uit Luk 8: 18 beter verstaan. As mens na die verkeerde stem luister in ‘n tyd van beproewing, sal jy die outoriteit wat jy dink jy het in daai saak, ook verloor. Die vyand is die een wat jou vol gedagtes pomp in jou benarde situasie en hy probeer seker maak dat jy nie die Here se stem hoor nie, of dat jy nie fokus op wat Sy Woord sê nie. In só geval spreek mens dan baie dikwels ook die gedagtes van die vyand en omdat daar krag in jou woord is, manifesteer dit wat jy gespreek het.

In meeste gevalle is dit beter om liewer eers stil te bly en perspektief te kry, voordat jy iets spreek.  Sodoende kry jy tyd om God se woord te bepeins en dit liewer oor jou situasie te spreek as enige negatiewe woorde wat net vrees tot gevolg het. Ons lees in die Bybel waar Aäron se seuns met vuur verbrand is, omdat hulle “vreemde vuur” voor God gebring het in die tabernakel. Die Bybel maak pertinent melding dat Aäron stil gebly het en niks negatiefs gespreek het nie.

 Lev 10:1 En die seuns van Aäron, Nadab en Abíhu, het elkeen sy vuurpan geneem en vuur daarin gegooi en reukwerk daarop gesit en vreemde vuur voor die aangesig van die HERE gebring, wat Hy hulle nie beveel het nie.
Lev 10:2 Daarop het daar vuur van die aangesig van die HERE uitgegaan en hulle verteer, en hulle het gesterwe voor die aangesig van die HERE.
Lev 10:3 Toe sê Moses vir Aäron: Dit is dit wat die HERE gespreek het deur te sê: In die wat naby My is, wil Ek My as die Heilige laat ken, en voor die oë van die hele volk wil Ek My verheerlik. Maar Aäron het stilgebly.

Baie kere benadeel ons onsself deur dinge te spreek wanneer jy emosioneel of verward is en dan dra daai woorde krag en die duiwel gryp dit en gebruik dit dan teen jou. Veral in gevalle van siekte, word die uitlatings en verklarings van dokters en medici veel eerder aangehaal as die Woord van God. Wat seker meer skrikwekkend is, is dat die kind van God nie altyd weet wat die Woord van God sê oor Sy planne vir ons nie. Die Here het my al soveel keer in die verlede herinner aan Jer 29: 11 en Jes 54: 17 en dan ook gedring om dit hardop te verklaar:

Jer 29:11 Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.

Jes 54:17 Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê. Dit is die erfdeel van die knegte van die HERE en hulle geregtigheid wat uit My is, spreek die HERE.

Daar is ook ‘n ander baie kosbare les te leer as mens Luk 8 verder lees tot by die verhaal van Jaïrus se dogter. Terwyl Jesus oppad was na Jaïrus se huis om sy dogter te genees, kom daar mense van voor af met die berig dat die kind dood is. Terwyl dit die harde realiteit was dat die kind nie meer lewe nie, kom Jesus en Hy “counter” onmiddelik die negatiewe woord wat gespreek was.

Luk 8:49 Terwyl Hy nog spreek, kom daar iemand van die owerste van die sinagoge se huis en sê vir hom: U dogter is dood, moenie die Meester lastig val nie.
Luk 8:50 Maar toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom en sê: Moenie vrees nie. Glo net, en sy sal gered word.

Ons moet onthou dat ons ‘n God dien by wie niks onmoontlik is nie en al sou die fisiese omstandigheid toon dat daar niks meer aan die saak te doen is nie, is enigiets by God moontlik vir die wat bereid is om te glo!

Onthou altyd: “the first report is not the last report!”

Mag die Heilige Gees, wie die oortuiger is van sonde, geregtigheid en oordeel, ook jou lei om te sien waar die vyand in jou lewe steel, slag en verwoes, omdat jy na die verkeerde stem geluister het. Mag Jesus jou die genade skenk om Sy woord te leer ken, sodat jy in die toekoms eerder die Woord van God sal verklaar of sal stil bly, voordat jy dood spreek oor jou situasie.
Mag die vrede van die Here met jou wees!

GEBED: Heer Jesus, gee my asseblief 'n nuwe honger vir U woord en help my om dit eerder te spreek in elke situasie in my lewe, instede van die leuens van die vyand. Help my ook om eerder stil te bly waar nodig. Plaas asseblief 'n wag voor my mond, sodat ek nie uit vrees, negatiewe woorde spreek nie...amen!

 (ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys





No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...