Thursday, 4 May 2017

Pragtige artikel oor "It's Time" dag


Image result for its time angus buchan


Oud-Beeldjoernalis Amanda de Lange se raakvatartikel oor It's Time in Bloem.

Angus Buchan: Dit het alles oor die ‘kerk’ gegaan
Sy het as ’n “Angus-groentjie’ verlede week se veelbesproke byeenkoms buite Bloemfontein bygewoon, maar later ook mense omhels wat sy nie ken nie, skryf Amanda de Lange.

Op ’n kampstoel tussen die stof en graspolle het ek besef waaroor dit alles gaan. Hierdie miljoen mense. Almal op soek na iets.
Verlossing. Hoop. Vryheid. Vrede. Iets om aan vas te hou.
Enigiets wat sê hierdie is nie die einde nie.
Na God.
Dit was nie oor die dinge wat in ons land verkeerd is nie. Nie oor die ongelowiges of die regering en die korrupsie en die arrogansie en magsbeheptheid van dié in beheer nie.
Dit was oor die “kerk”.

Nie die gebou met die toring en die klok wat Sondagoggende lui nie. Nie die ouditoriums waar talle bymekaarkom om te aanbid en ’n hopelik lewensveranderende boodskap te hoor nie. Die ménse.
Want ék is die kerk. Elke mens wat sê hulle dien Jesus, is ’n stukkie kerk op twee bene.
Kla jy oor die kerk, dan kla jy ook oor my. En as jy ’n Christen is en oor die kerk kla, dan kla jy oor jouself. Ons is ambassadeurs van die Koninkryk van God. Ons werk is om lief te hê en te dien. Sonder voorbehoud en sonder veroordeling.

Om te bemoedig. Om te vertroos. Om twee myl te stap wanneer ander net bereid is om een te stap. Om meelewing te hê. Om lig in donkerte te skyn. Om ’n antwoord te wees vir dié wat sê: “Daar is nie ’n God nie. Kyk om jou, man, en wýs vir my waar is God!”
‘Kry jou eie huis in orde’

Wat begin het as ’n lekker jolige affêre (sit drie Suid–Afrikaners bymekaar en die woord “braai” duik vir seker op) het mettertyd omgeswaai na een vol verootmoediging.
Met die reuk van die veld in die lug, word ons aangespreek deur iemand wat vir baie Suid-Afrikaners ’n geestelike vader is. Ek het oom Angus (soos mense graag na hom verwys) nog nooit hoor preek nie; nog nooit die chauvinistiese uitsprake waarvan hy so wyd beskuldig word uit sy eie mond gehoor nie. Ek is ’n Angus-groentjie.

Die manne sit met die hoed in die hand en luister.
Hy praat sonder skroom. “Hier is mense wat die wêreld wil gaan red, maar jul eie huise is in ’n gemors. Jy praat nie met jou vrou nie. Jou kinders het die pad gevat, maar jy wil die wêreld red. Meneer, ek het ’n baie streng woord vir jou van die Here. Kry jou eie huis in orde voordat jy probeer om iemand anders te help.”

Hy spreek hulle aan oor pornografie, drankmisbruik en verslawing, buite-egtelike verhoudings. Die een sonde ná die ander, terwyl die manne hoed in die hand sit en luister. Ek hoor nie meer wat hy sê nie, want ek is té besig om aan my eie sondes te dink.

Hardkoppigheid. Ek het nog altyd daarmee gesukkel. Ek kan nogal moedswillig wees. En my pa het kleintyd al vir my gesê ek het nie ore nie. Ek laat sak my oë oor my ongelowigheid en gebrek aan vertroue.

Ons bely ons swakhede knielend in die stof
Ons moet ons sondes bely, laat hoor oom Angus. Ons kan nie vir God vra om ons gebede te verhoor terwyl ons lewe vol sonde en ongeloof is nie.

Toe kniel ons, die hele miljoen, (oom Angus inkluis) net daar, in die stof. Ons bely ons swakheid, ons sonde. Daar het trane gevloei. Dit was ’n emosionele besigheid. Hoe anders? Het jy al gehoor van liefde sonder emosie?
Ons bid vir dié wat nie meer hoop het nie.
Elke keer wanneer die Bybel vertel hoe God se mense sy teenwoordigheid betree het, was daar emosie. Hulle het gehuil en hulle het gejuig. Hulle was bang en hulle het vrede gevind. Hulle het gebewe en kon nie staande bly nie. Hulle het berou gehad en is vergewe. Hoekom sou dit nóú anders wees?

Maar ek dwaal af.
Daar, in die dorheid van die Vrystaat met die son wat alle oorblywende sonde uit ons uitgebraai het, begin ons juig. Want, herinner Oom Angus, Jesus het ’n swak geheue. As jy berou het en vergifnis gevra het, vergeet Hy van jou oortredinge. So, ons juig omdat ons weet ons God is goed. Ons juig ook omdat ons eintlik ’n vrolike klomp is. Ons omhels mense wat ons van g’n kant ken nie en vertel hulle ons het hulle lief. Ons vat hul hande en huil saam oor verhoudinge met geliefdes wat nie is wat dit moet wees nie.
Ons bid vir dié wat aan angs en depressie ly, vir dié wat werkloos is, vir dié wat siek is en vir dié wat nie meer hoop het nie.
Vir hierdie mooi land en sy mense. Vir ’n regering wat geregtigheid sal najaag en hul land met integriteit sal dien. Teen geweld en teen korrupsie. Teen moord en verkragting.
Koue rillings in die vlaktes
Ná elke gebed rys daar ’n stewige “amen” op.
Weet jy hoe klink dit wanneer ’n miljoen mense saam “amen” uitroep? Dis soos ’n Mexikaanse golf; die klank rol en rol en rol en rol. Dit rol oor jou en langs jou verby tot dit doer anderkant in die vlaktes tussen die hooibale neerplons. Dit gee jou koue rillings. Dit laat jou op en af spring en hande klap. Dit laat jou jou gesig in die warm son hemel toe draai sodat jy dit kan indrink. Amen, amen, amen, amen.
U wil, Here, nie ons s’n nie.
'n Land kan op een dag gebore word.
So lawaaierig as wat ’n miljoen mense kan wees, so stil kan hulle wees. As mens ’n speld in die stof kon hoor val, sou dit deur die vlaktes weergalm het. Skielik, in die windstilte, steek ’n rukwind op. Dit warrel tussen ons deur.
Die bries streel oor elkeen, dwarrel van hart tot hart. Hy raak ons aan, fluisterend.
Die woorde bons in my binneste rond: Gaan vertel hulle Ek het hulle lief, sonde of nie. Gaan vertel hulle Ek haat hulle nie. Vertel hulle hoe Ek na hulle verlang. Gaan, en wees my hande, my voete, my Liefde en my Lig.
Dis Tyd, kerk.
Want ’n land kán op een dag gebore word, ’n nasie in een oomblik in die wêreld gebring word. (Jesaja 66:8.)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...