Monday 29 May 2017

God, of Goddelike dinge?



Image result for open bible


Terwyl ek besig is om tot Vader te nader vir 'n Woord om Sondag in 'n vriend van my se kerk te gaan bedien, kom die volgende vraag by my op: “waarmee is ons besig ..God of Goddelike dinge?

Daar is sóveel seminare en lesings wat in hierdie tye die ronde doen om sogenaamd die bruid te help om los te kom van demoniese bindinge en gereed te maak vir die Bruidegom. Sommige van hierdie aanbiedinge kan nie eers behoorlik uit die Woord gerugsteun word nie, maar is blykbaar na aanleiding van sogenaamde openbaringe deur die Gees. Die Skrif wat dan ook gebruik word om die leringe te ondersteun, is die een waar Jesus sê dat Hy nog baie dinge aan die dissipels wou oordra, maar dat hulle dit nie op daai stadium sou kon dra nie (Joh 16: 12). Dit mag dan ook heeltemal só wees dat daardie leringe deel kan wees van die goed wat in hierdie laaste dae openbaar gemaak word.

Ek sien egter sóveel kinders van die Here wat gryp na elke strooihalmpie om hul “bruilofskleed” skoon te kry, sodat hulle gereed sal wees as Jesus kom, terwyl ek sien dat meeste van hierdie leringe se einddoel is om die vlees te ontset van demoniese bindinge en vloeke te breek of sielswonde te genees. Die vraag is: “sal als wat ek doen, my help om my verhouding met die Bruidegom te bou?”

Die Skrif wat by my bly opkom, is die volgende:

Mat 24:24  Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.

En die vraag wat bly na vore kom is: “is die duiwel nie maar net besig om die bruid besig te hou met Goddelike dinge, sodat haar fokus nie meer op verhouding is nie, maar op dade?”

Want wat het op die ou end bepaal dat Moses 'n dienskneg van God geword het met wie Hy van aangesig-tot-aangesig gespreek het, “afterall”, hy was maar net 'n moordenaar wat teëgepraat en ongehoorsaam gewees het! Wat het Dawid 'n man na God se hart gemaak, terwyl hy omtrent al tien gebooie gebreek het? Wat gaan bepaal dat ek as bruid gereed sal wees?

Dit het my laat dink aan toe ek besluit het om met Christine te trou...dit was nie die feit dat sy absollut foutloos was nie, maar die feit dat haar hart vir my was! Dit laat my dink aan hoé kyk Jesus na ons as bruid...gaan dit oor al die goedjies wat ek doen om myself te probeer skoonmaak, of gaan dit oor my hart vir Hom? Sommige kinders van die Here hang egter aan die verskoning dat God hul hart ken en dan volhard hulle maar met die sondes.

Ek wil dit duidelik stel dat ek nie wil beweer dat ons nie moet skoonmaak en heilig lewe nie, maar dat die skoonmaak moet gaan om jou verhouding met Christus te bou!...daar is immers geskrywe: “wees heilig, want Ek is heilig”

En vir dié wat die verskoning van die hart gebruik, daar staan geskrywe!:

Jer 17:9  Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?

Want sommige skoonmaaksessies gaan bloot jou lewe op aarde meer gemaklik maak en jou nie noodwendig nader aan Christus bring nie. Ons moet dus steeds alles by die Gees van God gaan toets, voordat ons net inval by elke moontlike geleentheid om sogenaamd “skoon” te kom.

Spr 16:2  Al die weë van ‘n man is suiwer in sy oë, maar die HERE toets die geeste.

1Joh 4:1  Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.

Wat ek dus met hierdie skrywe probeer sê, is dat die bruid in hierdie dae haar hart moet ondersoek om te sien of dit nog 100℅ vir ons Bruidegom is, sodat daar nie dalk ook die volgende van ons gesê sal word nie:

Hand 28:27  Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor, en hulle oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.

Opb 2:2  Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het;
Opb 2:3  en dat jy verdra het en lydsaamheid besit, en ter wille van my Naam gearbei en nie moeg geword het nie.
Opb 2:4  Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het.
Opb 2:5  Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.

GEBED: Heer Jesus, vergewe my waar ek besig is met Goddelike dinge en waar my hart van U af gedwaal het, terwyl ek gedink het ek is besig om my voor te berei as bruid. Help my deur U Gees om werklik in diepte te kan onderskei in hierdie laaste dae en help my om net by U voete te kom rus soos Maria, sodat U my kan wys waar daar nog skoonmaak nodig is..amen!
 (ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys


No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...