Tuesday 6 June 2017

Ken God jou?


Image result for 1 Cor 8:3


"Maar as iemand God liefhet, dié word deur Hom geken." (1 Korinthiers 8:3)

In opvolging van die artikel wat Ernest geskryf het vir verlede week se Weeklikse Woord boodskap, het ek net ervaar om hierdie week ‘n bietjie verder daarop uit te brei. Hy het verlede week gevra of ons besig is met God, of met Goddelike dinge? Want ons is baie kere so besig met die “dinge van die Here”, dat ons “die Here van die dinge” vergeet of nie intieme tyd met Hom spandeer nie.

Daarom vra ek hierdie week die vraag of die Here JOU ken, jy wat jouself as Christen verklaar en elke Sondag in die kerk sit? Want baie mense sê vir my dat hulle God kén! Net so het ek gehoor dat mense sê hulle ken my, maar ek het hulle nog nooit persoonlik ontmoet nie, hulle het bloot een van my DVD’s gekyk of een van my boeke gelees, en dan beweer hulle dat hulle my ken.

Dieselfde gebeur baie keer met mense wat hulleself Christene noem, en die Here Jesus. Hulle sê hulle ken Hom, maar intussen het hulle maar bloot na ‘n paar preke geluister of na ‘n paar DVD’s of YouTube videos gekyk. Hulle het nog nooit self in ‘n intieme persoonlike verhouding met Jesus ingegaan, of self intieme tyd met Sy Woord spandeer op ‘n daaglikse basis nie.

En hulle loop die gevaar om een dag dalk die volgende skrikwekkende woorde te hoor:

“En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit. Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop! Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek KEN JULLE NIE.” (Mattheus 25:10-12)


Nou wie word dan deur die Here geken? Ons kry die antwoord in die teksvers waarmee ek hierdie artikel begin het. As iemand GOD LIEFHET, DAN word so ‘n persoon deur God GEKEN. En wanneer jy iemand liefhet, spandeer jy nie net een uur per week in daardie persoon se teenwoordigheid nie, jy is heeldag besig met daardie persoon, hetsy in jou gedagtes, of oor die foon, of met liefdesbriewe aan mekaar, of in sy of haar teenwoordigheid.

Het jy die Here al so lief? Dat jy nie genoeg van Hom kan kry nie? Dat jy nie kan wag om in die oggend wakker te word, net sodat jy kan sê: “More Here, ek is so lief vir U!” Dat jy nie genoeg kan kry van Sy liefdesbriewe aan ons, Sy Woord nie. Dat jy nie anders kan as om deurlopend in die dag aan Hom en Sy Woord te dink, en te dink hoe en waar jy Hom kan behaag en plesier gee deur gehoorsaam te wees aan die opdragte in Sy Woord nie, ens. Dat jy skoon hartseer is as jy vir oomblikke iets anders moet gaan doen wat jou vir ‘n wyle so besig hou dat jy nie tyd het om daar spesifiek met Hom te kan kommunikeer of Sy Woord te bepeins nie.

As jy nog nie God so liefhet nie, dan is dit tyd om jouself die vraag af te vra: “Ken God my dan?” En indien dan nie, is dit tyd om uit te kom uit jou dooie godsdiensbeoefening, en in ‘n intieme verhouding met Jesus Christus in te gaan deur die daaglikse inneem van Sy Woord, deur Sy Woord te bepeins, en deur daaglikse gesprekke met Hom te begin hê in gebed. Dan sal Hy jou deur Sy Heilige Gees lei en leer om Sy kind te wees volgens Romeine 8:14.


Gebed:

“Vader, vergewe my waar ek so besig was met “godsdiens” dat ek U gemis het, dat ek so besig was met dooie rituele dat ek ‘n lewende verhouding met U gemis het. Ek wil vandag vra dat U in hierdie oomblikke my lewe en my hart sal aanraak en omkeer, en my van hier af op ‘n nuwe pad van intieme persoonlike verhouding met U sal begin neem, sodat ek van nou af met vrymoedigheid elke dag kan uitroep met vreugde en die ware wete in my hart: “Vader, ek het U waarlik lief!” Amen.”

  (tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys


No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...