Saturday 10 September 2016

Wat het van jou Getuienis geword?


Image result for person sharing a testimony

Julle sal my getuies wees tot aan die uiterste van die aarde (Hand 1:8).


 En Christus sê as ons Hom voor die mense bely, dan bely Hy ons voor die Vader. Getuig, bely ons nie, kan ons geestelike lewe ook nie beweeg of groei nie en beroof ons onsself van ryke seëninge.

          Om te getuig, is die voorreg van elke wedergebore gelowige, maar baie gelowiges word koud of onverskillig deur die koue ontvangs van hul getuienis.
          Hierdie boodskap van verlossing is vir beide siel en liggaam bedoel en God wat ons verordineer het om getuies te wees, het belowe om Sy Woord aan ons te vervul en te bevestig.

(Hebr 2:3-4).
“Hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur diegene wat dit gehoor het, terwyl God nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedieninge van die Heilige Gees volgens Sy wil?”
          “Hy het vir hulle gesê:  Gaan die wêreld in en verkondig die Evangelie en maak siekes gesond.”  

Daar is sommige wat vir God wil werk, maar wat vrees dat Hy nie Sy beloftes sal vervul nie.

Dit is net omdat jy nie in die geloof uitgestap het nie, omdat jy nie ‘n vaste vertroue in die Woord van God het nie. Sy Woord is onfeilbaar. Hy het gesê ons is die instrument en die uitbou en onderhou van Sy Koninkryk word deur Sy krag en genade bewerk. Die onus is op Hom, nie op jou en my nie. Al wat ons moet doen is om te gaan vertel.

God sê Hy is waarmaker van Sy woord. Ons is nie die waarmaker nie. Ons getuig en Hy, deur Sy Heilige Gees, bevestig dit.

Daar is diegene wat nie Christene wil word nie omdat hulle bang is om hul by ‘n verlore saak te voeg.

Weens die sondes van sogenaamde Christene (iemand noem hulle “papier” Christene) wil sommiges nie graag bekend staan as kinders van God nie. Dit is egter geen verlore saak nie. Dit is die enigste saak wat die moeite werd is om by aan te sluit.

Hy is die enigste God wat jou uitdaag en sê: Toets My of Ek nie ‘n waarmaker van My Woord is nie!

Toe Adam, ons voorvader, in die Tuin van Eden in sonde geval het deur te eet van die BOOM van kennis van GOED EN KWAAD, het hy die geestelike DOOD op homself gehaal.
          Hierdie geestelike Dood het die mens sy vryheid laat verloor en hom, God se skepsel, onder die wrede heerskappy van Satan en van sonde en siekte geplaas.
          Daarom het die geestelike Dood ons natuur bederf. Die enigste manier om Geestelike lewe terug te kry en die mens te herstel in die Koninkryk van God, is om hom ‘n nuwe natuur te gee.

          Die mens het ‘n nuwe geboorte nodig, die lewe van God, wat die Heilige Gees alleen kan gee. Dit is waarom Christus aan Golgota gesterf het, sodat ek en jy weer met die Almagtige God versoen kan raak, sodat ons weer ‘n burger van God se Israel kan word.
          Na sy val het die mens volhard om teen God te rebelleer en om valse gode te aanbid. Die resultaat was dat hy godsdienste gekry het wat hom skynbaar bevredig het, maar wat hom nie terug in die plan van God kon kry nie.
          God het nogtans die gevalle mens lief genoeg gehad om voorsiening te maak vir sy terugkeer in Sy familie, daarom het Hy Sy Seun Jesus Christus gestuur.

          Jesus Christus het in die arena van wêreld se godsdienste gestap as Uitdager. As die Seun van God het Hy hulle uitgedaag.
          Die Hemelse uitdaging staan nog.  Baie godsdienste, illusies en dwalinge, het die wêreld se belangstelling gewek, maar kon niemand nooit werklik bevredig nie.
          So lank as wat God se Woord vasstaan, sal daardie uitdaging bly staan. Ander godsdienste was reeds oud en verbygaande toe Jesus in die wêreld as ‘n hulpelose babatjie gebore is. Selfs die godsdiens wat reiniging van sondes deur vuur voorgestaan het, dit is die aanbidding van die son, die vuurgod, kon die natuur aan die mens nie verander nie.

          Die stemme van die stigters van vele anti-Christiese godsdienste is nog nooit weer van anderkant die graf gehoor nie. Hulle dood het ‘n volslae einde aan hulle lewens gebring.

          Die Seun van God, beklee met glorieryke Heiligheid, Goddelike geregtigheid, Hemelse reinheid, het in hierdie bose wêreld gekom en die Ewige Lewe, die opstanding uit die dode, gemeenskap met God, kom aankondig. Jesus Christus het ons waarlik vrygemaak van sonde en siekte. Halleluja!

          Jesus Christus het nie in die wêreld gekom om apologie vir Sy bestaan aan te teken nie, of om ‘n woonplek te vra nie; Hy het as die vervulling van die Belofte gekom.
          “Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.” (Gen 3:15)

          Die lewe van Jesus Christus word in elke gelowige gebore wanneer hy die wedergeboorte ontvang, deur die bloed wat op Golgota gestort was.  Deur die wedergeboorte word hierdie mens nou ‘n werktuig in die hand van God, ‘n Getuie van God se Genade en Liefde.
          “Soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld.”  (1 Joh 4:17)

          In ons dag is daar baie mense wat nie ware gelowiges is nie, maar slegs nominale Christene, papier Christene, wat die hele week hulle eie gang gaan, maar op Sondae  probeer om die Tien Gebooie te gehoorsaam.
          Hierdie mens probeer deur ‘n uiterlike vorm van vroomheid God te dien, maar sy godsdiens is tevergeefs. Jesus Christus, die Heilige Gees, ontbreek in sy lewe..

          Jesus Christus het nie gekom om goeie sedes te bewerkstellig nie, maar onsterflikheid aan die mens te skenk. Hy belowe: “Ek sal hom opwek op die laaste dag, Ek sal hom die Ewige Lewe gee. Die dode in Christus sal eerste opstaan.”

          Geen ander godsdiens behalwe die Christelike Godsdiens, belowe en verseker die Ewige Lewe nie. Wie kon ooit die Ewige Lewe belowe voordat Jesus Christus gekom het? Watter sterfling kon? Dit was net die Seun van God self, uit die Hemel, met die kennis van onsterflikheid en die Ewige Lewe wat kon waag om so ‘n klimaks vir die mens voor te hou.

          Want in Hom was LEWE, en die Lewe was die lig van die mense. Hy het ook gesê: “Hy wat leef en in My glo, sal nooit sterf nie.”

          Vandag is Jesus Christus die mens se enigste hoop. Geen duiwelse mag op aarde kan die mag weerstaan wat Jesus Christus as ‘n erfenis aan die weergeborene nagelaat het nie.
          Baie Christene wil vandag die duiwel om verskoning vra omdat hulle Christene is.  Ons het ons vertroue in God en ook in die Woord van God verloor! Ons het ons ware persepsie verloor, dit is,  ons is op in Christus op oorwinningsgrond, ons het reeds oorwin!

          Die saligheid bestaan dus daarin dat God die sondige mens tot ‘n nuwe mens herskape, alleen maar daarin dat God die wêreld liefhet (Joh 3:16). God se hele verlossingsplan is reeds voor die grondlegging van die wêreld vasgestel.  En aan elke verloste mens gee God deur Jesus Christus mag (gesag) om die duiwel te weerstaan.
          Jesus Christus het die sonde-vraagstuk opgelos deur Homself as ons Bloed-offer op Golgotha te offer.
          Nou word jy as vrygekoopte geroep om te getuig aangaande dié heerlike feit, dat daar deur Sy gestorte Bloed vergifnis van sondes is, en dat deur Sy wonde daar genesing vir ons liggame gekom het.

          Toe Jesus uit die graf opgestaan het, het hy in Sy opstandingskrag te voorskyn gekom.  Hy wat bo alle owerheid en mag en krag is en wat alle dinge onder Sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee het.  Hy gee aan u hierdie mag, hierdie gesag, om die werke van die duiwel te verbreek.

          Staan op in die Geloof! Gaan en verkondig die werke van God!  Hy sal dit bevestig waar die voorwaardes nagekom word. Die Here wil en sal Sy Woord bevestig.

          Hy sê in Jes 50: 2-3: “Is my hand werklik te kort om te verlos of is daar in my geen krag om uit te red nie?  Kyk, deur My dreiging maak Ek die see droog... Ek beklee die Hemel met swartheid.”

          Ons is dus geroep om getuies van die Evangelie te wees, waarin die mag van Jesus Christus en die Volle Raad van die Godheid uiteengesit word.
          Neem die bonatuurlike – die Geesvervulde lewe – uit ons godsdiens en u kry ‘n godsdiens so dood soos die heidense godsdienste.
          Neem die Evangelie van Jesus Christus uit hierdie wêreld en ons sal spoedig ‘n volk van kannibale, seksuele kranksinniges en moordenaars wees, mense wat skielik Bybelse waarhede ontken soos Sy maagdelike geboorte, ens.

          Die mense veroordeel wonderwerke en genesings, en verwater so die Christen se getuienis:  Hulle leef sogenaamd in ‘n tyd waar wonderwerke geëindig het.

          Prys die Here, ek ondervind meer en meer elke dag, die bevestiging van die Woord van God;  die waarheid dat Hy Sy Woord gestuur het om te genees, word elke keer bevestig.
          Die Here sal altyd ‘n getuienis eer. Kyk na Henog. Hy het met God gewandel en is deur God weggeneem om by Hom te wees.
          En daar is Elia wat 450 heidense priesters uitgedaag en oorwin het. En Daniël wat geweier het om voor mense te buig wat sy getuienis sou beskadig het.  God het die bekke van die leeus gesluit sodat sy getuienis nog indrukwekkender kon wees.

          Alhoewel ons geroep is om die lydingsdoop te deurloop, mag ons nie die mens of ‘n gesag gehoorsaam wat vereis dat ons God se insettinge moet oortree nie.
          Op Golgota is daar voorsiening vir Goddelike genesing gemaak.  Watter soort Evangelie sou ons sonder die Groot Geneesheer, Jesus Christus, gehad het? Ons getuienis behoort in die eerste plek so te wees dat Christus deur ons lewens te voorskyn kom, sodat die getuienis van ons wedergeboorte mense tot sonde oortuiging sal bring.

          In die tweede plek moet ons nie bang wees om die beloftes van God in ons bediening te gebruik nie. Die Bybel verklaar onomwonde dat ons deur die gestorte bloed van Christus, verlossing van sonde het en dat ons deur Sy wonde genees is.
          Hy belowe ook dat as ons hande op die siekes lê, hulle gesond sal word.  Hy het dit belowe, nie jy en ek nie. Hy sê Hy is ‘n waarmaker van Sy Woord. Waarom sou ons dan twyfel.
          In Jak 1:6-7 sê die Here dat iemand wat twyfel... ”moenie dink dat iets, van die Here kan ontvang nie.” Ja, nie eers  “iets” nie.

          Dus, weier om te twyfel. Twyfel is nie van die Hemel nie. Die duiwel saai twyfel. Verdryf hom uit jou lewe in die kragtige naam van Jesus Christus, staan vas, en weier om te twyfel.
          Toe Jesus Christus op Golgota gesterf het, het Hy elke sondaar verseker dat hy ‘n geleentheid gebied word om ‘n kind van God te word.

John Lake het die opstanding van Christus so beskryf: Een dag het Dawid op die berg gesit en sy skape opgepas, toe Sy gees hom weggevoer het na die ruimtes van God.  Hy sien die toekomstige gebeure en roep uit: “U het opgeklim na die hoogte, U het gevangenes weggevoer, U het geskenke onder die mense geneem, ja ook wederstrewiges om daar te woon, o, Here God.”  (Psalms 68:19).
          En toe met ‘n triomfantelike geroep sê hy: “Hef op julle hoofde, o poorte, ja verhef julle ewige deure dat die Ere-Koning kan ingaan.” (Ps 24:7)

          Toe Christus daardie handskoen in die arena gewerp het, het ‘n oorlog tussen twee koninkryke ontstaan. Dit was ‘n stryd tussen lig en duisternis in die Hemel en op die aarde. Jesus Christus het aan die hele wêreld getoon dat Hy waarlik die Oorwinnaar is.
          Die môre van Sy opstanding het Hy as Held, Oorwinnaar oor Satan, dood en hel, sonde en siekte, opgestaan.
          Ek en jy is vandag Hy. Ons as wedergeborenes het oorwin!

          Mense het baie verskonings waarom hulle nie sogenaamd kan getuig nie. Die Skrif trek egter ‘n finale streep deur alle verskonings.
          Eseg. 3:18-19 lees: “As Ek aan die Goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe – en jy (Christen gelowige) waarsku hom nie en spreek nie om die Goddelose vir sy Goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die Goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar, sy bloed sal  Ek van jou hand eis!
          “Maar as jy die Goddelose waarsku, en hy hom nie van sy Goddelose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy, jy het jou siel gered!”

          Getuig, getuig, getuig, waarsku die Goddelose en red jou eie siel! Wees soos Paulus wat  in Romeine 1 vers 16 sê: “Want ek skaam my nie oor die Evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo.” 
Daardie redding beteken vrymaking, veiligheid en genesing.
          Paulus sê: “...vir elkeen wat glo.” Wat beteken dit in die praktyk? Eenvoudig die volgende: Petrus kom by die man by die poort en sê aan die verlamde  “... staan op en loop.” As die man nie probeer opstaan het nie sou hy nooit geloop het nie.

          Geloof vra dus gehoorsaamheid en handeling. Nadat Jesus die brode en die vissies aan die dissipels gegee het om uit te deel, het die dissipels tot by die voorste ry mense moes stap en dit begin uitdeel. Veronderstel hulle sou net daar bly staan het en gesê het: Nou hoe op aarde kan ons vyf duisend man, hul vroue en hul kinders met die bietjie kos voed? Dan sou daar niks gebeur het nie.
          Geloof vra daardie vaste vertroue, daardie gehoorsaamheid om te stap na die eerste ry mense en te begin uitdeel, en toe kom God se vermenigvuldende krag in werking en nie is almal gevoed nie, daar bly toe nog brokstukke ook oor.


Deel asb jou getuienis met ons oor hoe Jesus jou gehelp het, tot eer van Jesus se Godheid en om ander te bemoedig om die Evangelie te glo.

 Skryf aan belindapaar@gmail.com Jy kan jou getuienis ook annoniem deel.

 Jesus gee ons opdrag om van Hom te getuig. Heb 2:3-4

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...