Monday 12 September 2016

Deelgenote van die Goddelike natuur


Image result for kind person


DEELGENOTE VAN DIE GODDELIKE NATUUR

2 Petrus 1:4 “waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, ...”


Johannes 15:4 & 5 “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”


Die belofte van “deelgenootskap aan die goddelike natuur” is so groot en kosbaar dat ons gerus dieper daarna moet kyk. Om ‘n deelgenoot van die goddelike natuur te wees (sonder om God te wees of te word) is ‘n moeilike konsep om te verstaan. Die Woord roep ons om elke dag ons lewens in Christus te leef. Kyk gerus na Galasiërs 2:20 “...en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. ...” Hoe ons in hierdie waarheid leef kan soveel keer ontwykend wees. In die gelykenis van die wynstok en die lote gee Jesus egter ‘n fisiese illustrasie van hierdie groot geestelike realiteit.


Die voorbeeld wat Jesus hier gebruik gaan oor fisiese wingerd stokke, lote en die potensiële vrug wat daaruit kan voortkom. Vir die druiwe om te vorm moet die regte omstandighede (lewe) gevolg word wat dan sal lei tot die oes van die vrug. Die druiwe lote het nie hierdie lewe in hulleself nie. “Net soos die loot geen vrug kan dra van homself” Om vrug te kan dra moet die loot deel in die lewe van die wingerdstok, “so julle ook nie as julle in My nie bly nie.” Kyk gerus na die dooie lote wanneer die wingerde klaar gesnoei is. Hulle kan geen vrug dra nie. Daar kan slegs vrug op die lote wees as hulle in die wingerdstok is. Die lewe van die wingerdstok is waaroor dit gaan en is van kardinale belang.


In die geestelike toepassing hiervan is Jesus die wingerdstok en ons die lote, “Ek is die wynstok, julle die lote.” Vir die goddelike vrug en natuur om in ons te ontwikkel en vorm moet ook die regte omstandighede en lewe gevolg word. Ons as lote het nie hierdie lewe in onsself nie, “so (kan) julle ook nie (vrug dra) as julle in My nie bly nie.” Hierdie kan ons daagliks sien in die selfgesentreerde lewens van soveel Christene rondom ons, wat nie deelgenote is van die lewe in Jesus, die wynstok, nie, “sonder My kan julle niks doen nie.” ‘n Daaglike Christelike lewenswandel is slegs moontlik deur die deelgenootskap aan Jesus Christus wat deur ons werk.


Verder word ons daaraan herinder dat nederigheid en geloof uiters belangrik is om te lewe soos God beplan het. Ons moet in nederigheid op Jesus vertrou vir ‘n goddelike en vrugtevolle lewe net soos die lote op die wynstok vertrou vir die vrug wat hulle dra.


“Here Jesus, dankie dat ek nie nodig het om my eie vrug te dra nie. Leer my om ‘n deelgenoot van U goddelike natuur te hê. Ek wil in nederigheid en in geloof myself aan U onderwerp sodat U in en deur my kan lewe. Verheerlik Uself ook deur my lewe. In Jesus Naam vra ek dit. Amen.”

(cobus van heerden - cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys




No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...