Monday 19 September 2016

"Sien is glo"


Image result for pink roses



Só 'n tyd gelede vra die Here my die vraag: “wil jy wag op “signs” en “wonders” om te manifesteer of gaan jy My woord vat en daarin alleen glo en vertrou?”. Dit is na aanleiding van sake van genesing in my kind en vrou wat ek by die Here se voete neergelê het. En as ek die volgende dag nie beterskap sien nie, dan is ek teleurgesteld en bring dan maar weer die saak op petisie voor die Here. Die Here gee my toe een oggend die volgende gedeelte uit Sy woord:


Luk 1:13  Maar die engel sê vir hom: Moenie vrees nie, Sagaría, want jou gebed is verhoor, en jou vrou Elisabet sal vir jou ‘n seun baar, en jy moet hom Johannes noem.

Luk 1:14  En hy sal blydskap en verheuging vir jou wees, en baie sal oor sy geboorte bly wees;

Luk 1:15  want hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af.

Luk 1:16  En hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God.

Luk 1:17  En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here ‘n toegeruste volk te berei.

Luk 1:18  Toe sê Sagaría vir die engel: Waaraan sal ek dit weet? Want ek is ‘n ou man, en my vrou is op ver gevorderde leeftyd.


Toe ek hierdie stuk lees was dit vir my op daai stadium nog net die mooi belofte van Johannes die Doper wie die voorloper vir Jesus Christus sou wees. Ek het egter op hierdie stadium nog nie gesien wat die Here my wou wys nie en Hy laat my dus verder lees:


Luk 1:34  Toe sê Maria vir die engel: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie?

Luk 1:35  En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.

Luk 1:36  En kyk, Elisabet, jou bloedverwant, het self ook ‘n seun ontvang in haar ouderdom, en hierdie maand is die sesde vir haar wat onvrugbaar genoem is.

Luk 1:37  Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.

Luk 1:38  En Maria sê: Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord. En die engel het van haar weggegaan.


En tóe sien ek dit en ek snap wat die Here my wou leer! Die engel kom by Sagaria en sê vir hom dat hyself sy vrou sou beken en dat sy sou swanger word al was hulle al op hoë ouderdom. Sagaria vra hierdie dood onskuldige vraag (volgens my) : “waaraan sal ek dit weet?”…en zap! Daar slaan die engel hom met stomheid vir die volle 9 maande plus nog 8 dae tot op die besnyding van Johannes! En ek dog by myself: en dit oor ‘’n eenvoudige ou vragie!”


Nietemin, dieselfde engel kom by Maria en sê vir haar dat die Heilige Gees haar sal bevrug en nie eers ’n man nie! En sy antwoord: “laat dit met my gaan volgens u woord”. En dis net daar waar die Here vir my vra: wil jy ook 9 maande 8 dae wag vir jou belofte, of sal jy My vertrou op My woord en daarmee onmiddelik die krag van Jesus Christus en Sy volheid ontvang. En net daar bloei al die bietjie tande wat ek oor het!


Die Here begin my toe attent maak daarop dat soveel van Sy kinders verval het in die vloek van die wêreld van: “sien is glo”! terwyl die Woord van God tog duidelik is oor wat geloof eintlik is volgens Heb 11: 1.


En dan sê vers 6 van Heb 11 nog baie duidelik dat dit onmoontlik is om God te behaag sonder geloof!


Maar daar is ook die belofte dat Hy die SAL beloon wat Hom soek! Wow!


Hoekom is dit dan vir ons as kinders van die Here, só moeilik om net God se woord te vat en daarop vas te staan? Of is dit dalk ’n geval van: te veel van die wêreld se woord in ons mond en te min van God se woord? Die Skrif is baie duidelik dat ons mag in ons monde het en dat dit wat ons spreek of dood sal voortbring of lewe. In Jakobus lees ons hoe hy beskryf dat die tong maar 'n klein orgaan is in die mens se liggaam, maar dat dit groot vure kan aansteek!


Spr 18:20  Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrings van sy lippe.

Spr 18:21  Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.


Die mens wat dus voorspoedig wil lewe, moet leer om sy tong te beheer! Mag die Heilige Gees my en jou daarmee help.

 (ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys



No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...