Monday 15 August 2016

Met vrymoedigheid na die genadetroon.


Image result for god se genade



Heb. 4:14-16:  “Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.”

Baie mense wat al in my beradingskantoor gesit het, het vir my gesê dat hulle nie dink Jesus verstaan presies wat hulle op hierdie aarde deurgaan nie. Dan verwys ek hulle elke keer na die bogemelde teksverse, want daar staan dat Jesus IN ALLE OPSIGTE versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Onthou, Jesus was vir 40 dae en 40 nagte deur die duiwel versoek, en daar is maar net drie spesifieke situasies vir ons in die Bybel opgeteken. Maar in daardie 40 dae en 40 nagte is Hy versoek met ELKE LIEWE SONDE onder die son, maar Hy het nie gesondig nie.

Dit beteken dat Hy versoek is met drank, met dwelms, met rook, met seks, met pornografie, met homoseksualisme, met skinder, met vloek, met twis, met watter soort sonde jy ookal aan kan dink, (en waarmee jy dalk vandag sukkel), daarmee is Hy versoek. Maar Hy het nie gesondig nie. En juis daarom kan Hy met AL ONS SWAKHEDE medelye hê. Onthou: “Temptation is not a sin. Jesus was tempted but He never sinned. Temptation only becomes a sin when we give in to it.”

En juis daarom kan ons MET VRYMOEDIGHEID na Sy genadetroon gaan wanneer ons sukkel met iets, ons hoef nie eers “reg te bid”, of “deurgebid wees”, of “rein en heilig” te wees voordat ons na Sy genadetroon toe gaan nie, nee ons kan met vrymoedigheid na Hom toe hardloop, maak nie saak hoe “vuil” ons op daardie oomblik in ons lewe lyk of voel nie. Want dit is juis daar voor Sy genadetroon wat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.

Ek sien altyd in my geestesoog die prentjie van hierdie koning van een of ander land, wat op sy troon sit terwyl die tien ministers wat onder hom dien, volgens protokol voor hom staan om die koning te kan sien, van minister nommer 1 tot by minister nommer 10. Maar reg agter die koning se troon is sy klein 4-jarige seuntjie se slaapkamer waar die sit en speel. Skielik vlieg ‘n by by sy slaapkamer se venster in en steek die seuntjie op sy duim. En in my geestesoog sien ek dat daardie 4-jarige seuntjie sy slaapkamerdeur saggies oopmaak, en saggies tot agter minister nommer 10 stap en wag om met sy pa te kan praat…. Regtig? Daar is geen manier nie! Hy gaan sy slaapkamerdeur oopruk en met groot spoed reguin na sy pa se troon toe hardloop en op sy pa se skoot spring en huil oor die by wat hom gesteek het!

En dit is presies wat ek glo wat die bogemelde teksverse beteken as dit sê dat ons met VRYMOEDIGHEID na die genadetroon kan gaan. God die Vader is ons Hemelse Pappa wat wil hê dat Sy kinders na Hom toe sal hardloop met hulle probleme.

My liewe vriend/in, hou dus op om na satan se leuens te luister wat jou wil laat WEGHARDLOOP VAN die genadetroon af, nee, draai om en hardloop NA die genadetroon toe, want daar sal jy barmhartigheid en genade vind om gehelp te kan word om los te kom van jou sondes.

Gaan luister gerus na hierdie lied op YouTube (gesing deur Katy Wilburn) wat hierdie waarheid net meer bevestig. Die lied het my gees geruk toe ek dit die eerste keer geluister het.

Gaan gerus na hierdie skakel: https://www.youtube.com/watch?v=d8a5LYafhlw

(tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)

Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

Indien iemand gebed of geestelike raad benodig kontak belindapaar@gmail.com

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...