Monday 29 August 2016

Heilig is U Naam!


Image result for holy is thy name



Opb 19:11  Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.

Opb 19:12  En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self.


Opb 19:13  En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God.


Ek wonder hoeveel kinders van die Here besef werklik wat dit beteken dat God se naam Heilig is? In Lev 22 sê die Here vir Moses om aan die volk opdrag te gee dat hulle moet waak daarteen dat hulle Sy naam ontheilig:


Lev 22:32  En ontheilig my heilige Naam nie, sodat Ek geheilig kan word onder die kinders van Israel. Ek is die HERE wat julle heilig, 

en in Exodus 20: 7 lees ons as deel van die tien gebooie dat elkeen wat God se Naam ydelik gebruik, nie ongestraf sal bly nie.


Nogtans is daar menige van ons wat al die Woord van God gebruik het om onsself te regverdig of om ander mee te oordeel en veroordeel. Dan praat ek nie eers daarvan dat Sy naam nog in menige mense se monde as 'n vloekwoord gebruik word nie. Baie kere was ek ook al in gesprekke waar daar op ligsinnige manier met die Woord van God die spot gedryf word, terwyl Openbaring duidelik sê dat Sy naam: die Woord van God is!


Hoeveel van ons dink werklik daaraan wat dit beteken as ons in ons gebede bid: “in Jesus se naam?” Het Sy naam werklik so afgestomp geword in ons gedagtes en spraak, dat ons nie meer besef dat dit Heilig is nie?


En dan kom hierdie wonderlike en Heilige  God en Hy vertrou ons met Sy naam!!! Hoeveel van ons sal ooit iemand anders vertrou met ons naam deur te sê: “gaan sê maar vir so en so in my naam dit en dat”? Nogtans sê ons God in Markus 16 dat ons in Sy naam mag duiwels uitdryf!


Mar 16:17  En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek,


Wat vir my egter die mees kosbaarste was, is toe Vader my lei na Num 6: 24-27 in Sy woord!. Daarin gee Hy opdrag dat ons mekaar moet seën met spesifieke woorde en só Sy naam op mekaar lê en dan beloof Hy om te seën! Hoe absoluut stunning, awesome is dit nie dat God Sy naam aan ons toevertrou om mekaar mee te seën en die vyand van ons lyf af te hou nie?


Num 6:24  Die HERE sal jou seën en jou behoed;


Num 6:25  die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;


Num 6:26  die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.


Num 6:27  So moet hulle dan my Naam op die kinders van Israel lê; en Ék sal hulle     seën.


Dit is tyd dat ons werklik weer moet besef hoé kosbaar en Heilig Sy naam is en hoé getrou God aan Sy naam is. Hy sê ook daarom dat as ons iets in Sy naam vra, dan sal ons dit ontvang van Vader af!!


Joh 15:16  Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.


Dankie God dat U ons U Heilige Naam gegee het en ons daarmee vertrou!

 (ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

Indien jy gebed of geestelike berading benodig kontak my belindapaar@gmail.com




No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...