Nêrens in die Skrif staan dat die plant, dier of engele
beelddraers van God is nie, maar net die mens is geskape na Godsbeeld. In ons
wese is ons geskape in Godsbeeld, dit beteken dat ons die gesindheid en liefde van God alreeds
binne ons het in ons geesdimensie.
Verder word ons aangestel om te heers oor God se skepping,
oor die hele skepping, en is ons opdrag om te vermeerder en die en die aarde te
vul.
GEN 1:26 En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle
heers oor die visse van die see en
die voëls van die hemel en die vee en
oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. 1:27 En God het die mens geskape na sy beeld; na
die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. 1:28 En God het
hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die
visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die
aarde kruip.
God sê dat hy jou uitverkies het. Dit beteken nie dat net
die pastoor, voorsanger in die kerk, die berader…almal wat in diens van die Here
is gekies is nie, nee, elke mens wat gebore is, is deur God beplan en gekies om
op die aarde te wees! Die beteken jy is welkom op die aarde! God wou jou hier
hê!
Daar is baie verse in die Skrif wat jou vertel dat jy gekies
en gevorm is deur God en vir God, ek gaan net ‘n paar hier gebruik om jou te
oortuig daarvan.
JES 44:2 So sê die HERE, jou Maker en jou Formeerder van die moederskoot af, wat jou help:
Wees nie bevrees nie, Jakob, my kneg, en Jesúrun wat Ek uitverkies het!
JES 46:3 Luister na
My, o huis van Jakob en die hele oorblyfsel van die huis van Israel, julle wat deur My gedra is van die
moederskoot af, opgeneem is van die geboorte af; 46:4 en tot die ouderdom toe is
Ék dieselfde, ja, tot die grysheid toe
sal Ek julle dra; Ék het dit gedoen, en Ék sal julle opneem, en Ék sal dra en
red.
Daar is baie meer verse in die Woord wat ons kan oortuig dat
God ons beplan het vir die aarde, voor die aardlegging het God al geweet ek en
jy gaan vandag hier wees vir Sy doel en rede.
EFESIËRS 1:4 soos Hy ons
in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder
gebrek voor Hom in liefde te wees,
Daar is baie mense wat nie weet wat hulle doel op aarde is
nie, baie mense wat vasgevang sit in ‘n lewenstryd wat net-net bestaan, daar is
ook mense wat se lewens verwoes is, wat stukkend is en nie weet hoekom hulle
ooit gebore is nie, daar is soveel verdriet en hartseer in ons lewens, en hoe
nader ons aan die wederkoms van Jesus kom, hoe erger word dit.
Huwelike val uitmekaar, mense maak mekaar seer, finansies
wil net nie klop nie, dit is ‘n gesukkel van die more tot die aand om net kop
bo water te hou. Ons selfmoord syfers is hoog, en hoekom? Het God ons dan
geskape om so te sukkel om so deur die lewe te gaan om amper soos Job op die
ashoop te sit? En van ashoop gepraat wat van die mense wat wel in plakkerskampe
sit? Was dit God se doel vir hulle lewens, moes hulle gebore geword het (in Godsbeeld) sodat hulle daar moes eindig? Die
vrae hou nie op nie, die lys kan net langer en langer word, so wat is die
antwoord? En dan die belangrikste vraag van alles….. is dit God se wil of God
se skuld dat ek sit waar ek sit?
Ek is betrokke by ‘n armsorg organisasie en, het mense gevra
oor hulle lewens, want ek wou ook die antwoord kry oor al die vrae, ek wou weet
is dit God se plan met hierdie mense se lewens gewees van die begin af?
Hierdie is die antwoorde wat die meeste mense my gegee het!
·
My ouers het geskei toe ek nog jonk was, ek was
van die een huis na die ander gestuur oor naweke en skoolvakansies en het
nêrens ingepas nie, ek pas vandag nogsteeds nêrens in nie.
·
My man/vrou het my verlaat, en van toe af het my
lewe net afdraand gegaan tot op die punt dat ek vandag sit waar ek sit!
·
Ek was ‘n suksesvolle mens, goeie werk gehad,
goeie inkomste, maar ek het net so hard partytjie gehou as wat ek gewerk het,
drank het later my baas geword en ek het my werk verloor en daarna het ek alles
begin verloor, besittings, tot by my familie.
·
Ek het ‘n onsettende humeur aan my gehad, ek kry
skaam maar ek moet eerlik se ek betaal vir my dade vandag, ek het my vrou en
kinders verskree, gevloek, geslaan, en as ek gedrink het, was ek nog 10 keer
erger, so het ek mense weggestoot en op die ou net was die enigste vriende wat
ek oorgehad het die vriende wat my geken het wanneer ek gebraai en drink het
tot ek niks oorgehad het nie, toe is hulle ook weg.
·
Ek het aan depressie gelei, dit het so erg geword
dat ek begin het om almal naby my te vermy, ek was in so donker gat dat ek nie
meer geweet het hoe om daar uit te kom nie, my man kon dit later nie meer
uithou met my nie, want of hy goed of sleg gedoen het, ek het hom altyd
blammeer omdat ek sielsongelukkig was, tot op ‘n dag wat hy besluit het hy kan
nie meer nie, hy het my laat opneem in ‘n hospitaal en toe ek nie regkom nie
het hy die kinders gevat en geloop. Hy wou die kinders nie naby my hê nie want
hy wou nie hê die kinders moes langer onder my mond deurloop nie. Die hof het
die kinders in sy sorg gesit en hier is ek vandag!
·
My man het verhoudings gehad, een na die ander,
ek kon dit later nie meer handteer nie en het gedink dat ek dit op my eie sou
maak, ek het hom geskei, hy is weer getroud, verneek nogsteeds sy vrou, en
weier om enige onderhoud te betaal want dit was my keuse om hom te los, my
salaris kan nie alles betaal nie, my prioriteit is om te sien dat die kinders ‘n
dak oor hulle kop het, so my salaris gaan vir huur en brandstof, ek kan nie al
die kos koop wat nodig is nie, en klere kan ek glad nie bekostig nie, ons almal
dra tweedehandse klere, wat anders kan ek doen?
·
Daar was ook ‘n hele paar wat die regering
blameer het oor rasisme, wat werk moes verlaat om vir ‘n swarte ‘n pos te skep
en nie weer werk kon kry nie omdat hulle “die verkeerde kleur is”
Hierdie is maar ‘n paar van die antwoorde wat ek gekry het.
Almal hartseer verhale, en sommiges is wat mense aan mense gedoen het, ander is
wat mense aan hulself gedoen het. So is God te blameer vir hierdie mense se
lewens wat so uitgedraai het? Wou God hierdie mense in die “dumps” sien sit,gesinne
sien uitmekaar val, met ‘n gesukkel om kop bo water te hou?
Dan was my volgende vraag aan hierdie mense, dink jy dit was
God se plan vir jou lewe? En die antwoorde was basies dieselfde!
- ·
Ek dink ek is maar net een van daai mense wat
geen “luck” in die lewe het nie,
- ·
Ek dink nie dit is God se skuld nie, maar ek
verstaan nie waarom God my nie help nie,
- ·
EK het lankal opgehou om te bid en te vra, ek
glo nie God wil my help nie, ek dink ek het Hom al te veel teleurgestel,
- ·
Dit is net God se genade dat daar nog mense is
wat wat omgee om te help, ander weet ek nie wat sou van ons geword het nie.
Ek het ook mense gevra of hulle ‘n verhouding met God gehad
het voordat hulle opgeindig het waar hulle is en die meerderheid se antwoord
was, ons het soms kerk toe gegaan, en ander het gesê dat hulle niks met kerke
te doen wil hê nie want die kerk gaan net oor geld, as jy nie gee nie, wil
hulle jou ook nie help nie.
Kom ons gaan kyk na wat God sê oor al die gevalle hierbo, is
sommiges gebore sonder “luck”, is ander gebore om te sukkel, om in depressie te
sit, om te vrees oor waar die kos more vandaan gaan kom om die kinderbekkies te
voer? Is dit so dat sommige mense net eenvoudig nie gemaak is vir die lewe nie?
JER 1:5 Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het,
het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot 'n
profeet vir die nasies gemaak.
PSALMS 139:14 Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit
alte goed.139:15 My gebeente was vir U
nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde.139:16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe:
dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
PSALMS 8:6 U het hom 'n weinig minder gemaak as 'n goddelike wese (engele) en hom met
eer en heerlikheid gekroon. 8:7 U laat
hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel:
Ons sien dus uit die paar verse dat ons: Geheilig is, dat
ons profete vir nasies gemaak is, dat ons vreeslik wonderbaar is, kunstig
geweef in die dietes van die aarde, en dat ons name almal opgeskryf is in die
boek van die Lewe, dat ons met eerbekroon is deur God self, en dat ons net
onder die engele aangestel is op die aarde om oor die aarde (God se skepping)
te heers!
Lees ook die volgende Bybel verse: Jes 44:21 ons is geskape
om God se dienskneg te wees, en dat God ons nooit vergeet nie, Joh 11:4-10 Dat God elkeen van ons gekies het om vir Hom ‘n
profeet van nasies te wees, Heb 8:10 Dat God ons verstand gegee het, en dat ons
Sy volk sal wees en Hy ons God!
As God dan al hierdie dinge vir ons in Sy Woord sê, hoekom
sukkel die mense so?
Eerstens van alles, niemand is sondevry nie, sekere gevalle
is dit omdat gehoorsaamheid aan God se Woord nie deel was van hulle lewens nie,
ander gevalle is omdat mense nie weggedraai het van sonde nie, myns insiens is
dit omdat mense nie ‘n verhouding met God het
nie, en nie geloof het dat God hulle liefhet nie, en laastens omdat mense
nie glo dat Jesus die volle prys betaal het vir hulle nie, maar kom ons kyk ook
waar kom satan in die prentjie! Die bekende gedeelte wat almal ken.
JOHANNES 10:10 Die dief kom net om te steel en te slag en te
verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en
oorvloed kan hê. 10:11 Ek is die
goeie herder. Die goeie herder lê sy
lewe af vir die skape.
JOHANNES 8:44 Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle
doen. Hy was 'n mensemoordenaar van die
begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is
nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar
is en die vader daarvan.
1 JOH 5:3
Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie
is nie swaar nie. 5:4 Want alles wat uit God gebore is, oorwin
die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof. 5:5 Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy
wat glo dat Jesus die Seun van God is? 5:6
Dit is Hy wat deur water en bloed gekom het, Jesus die Christus; nie
deur die water alleen nie, maar deur die water en die bloed; en dit is die Gees wat getuig, want die
Gees is die waarheid.
EFESIËRS 6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en
bloed nie, maar teen die owerhede, teen
die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die
bose geeste in die lug.
Weens spasie gaan ek hierdie moet verkort, my punt is om te
bewys dat ons emosionele en lewenspaaie nie so beplan was deur God nie, nie al
die mense wat in armoede sit is ongelowige mense nie, tot kinders van God sit
met finansiele en emosionele probleme, maar net Jesus is die uitweg, en al wat
ons moet doen in om terug te keer na God en in geloof te staan dat Jesus die
duiwel alreeds oorwin het op die kruis.
Gebed:
God ons Almagtige Vader, ons weet dat U vir ons ‘n toekoms
beplan het van vooruitsig, goedheid en guns, dat U ons hoof vet gesmeer het met
olie en ons met eer bekroon het, my gebed vandag is om dankie te sê vir U
genade en liefde, en om te vra dat U elke persoon sal genees van emosionele
probleme en hulle die weg te wys na Jesus, dat elke persoon tot inkeer sal kom
en ‘n verhouding met U sal hê. EK bid dat U vir elke persoon ‘n weg sal oopmaak
en hulle sal red uit hul versugtinge en aan hulle sal gee soos U wil, Vader ek
dank U dat ons na U kan kom met hierdie probleme en al hierdie mense aan U kan
opdra in gebed en kan weet dat ons op U kan vertrou, ek bid bekering vir elke
siel, wedergebore kinders van U Koningkryk en dat U in beheer sal wees van
almal se lewens en sake, In die Heilige Naam van U Seun Jesus Christus
Amen
God se vrede met U almal in Jesus Naam