Monday 18 July 2016

My volk gaan ten gronde


Image result for volk gaan ten gronde


Jes42:18 – 23:  “Hoor, julle dowes, en kyk, julle blindes, om te kan sien.  Wie is blind buiten my kneg en doof soos my boodskapper wat Ek stuur? Wie is blind soos die vertroude vriend, en blind soos die kneg van die HERE?  Jy het wel baie dinge gesien, maar daar geen ag op gegee nie; die ore oop gehad, maar jy hoor nie. Dit het die HERE behaag ter wille van sy geregtigheid om die onderwysing groot en heerlik te maak. En tog is dit ‘n beroofde en geplunderde volk; hulle is almal gebonde in kerkers, verborge in gevangenisse; hulle het ‘n buit geword sonder dat iemand red, ‘n plundering sonder dat iemand sê: Gee terug! Wie onder julle luister na hierdie dinge? Wie merk op, hoor dit ook vir die toekoms?”

Die Here praat al sedert die begin van hierdie jaar met my oor die feit dat Sy kinders nie die volheid besef van wat Jesus (Yeshua) vir ons aan die kruis gedoen het nie, en ook nie besef wat die krag is wat tot ons beskikking is deur die Bloed van die Lam en die Naam van Jesus (Yeshua) nie.

Vader lê dit hierdie week op my hart om vir die mense, uit bogenoemde teks gedeelte, te gaan vertel dat dit tyd is om wakker te word en te besef wie ons is in HOM en wie Hy IN ons is deur Sy Gees! Wat Vader duidelik uitgelig het, is dat Hy soveel kennis vir ons vermeerder het in hierdie tyd waarin ons leef, maar dat Sy kinders só in Godsdiens vasgevang is, dat hulle konstant die kennis verwerp en bloot maar net tevrede is om as gemiddelde Christene onder die aanslae van die Satan te lewe!

Vers 21 van Jesaja 42 stel dit baie duidelik dat dit God behaag om vir ons die onderwysing groot te maak, maar dat nie almal bereid is om dit aan te neem nie. Onmiddelik by die bedink van hierdie deel, kom die Skrif uit Hosea 4: 6 na vore:

“My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.”

Die skrikwekkende deel hier is dat God bereid is om ons kinders te vergeet, omdat ons ons harte verhard!

Die Here het ook baie uitdruklik daarop gewys dat die meerderheid van Sy kinders heeltyd net in “defense mode” opereer, omdat hulle nie weet watter outoriteit hulle het om te kan aanval en Satan te kan teenstaan nie en vir hom te kan sê: “gee terug” nie. Voordat ek hierdie week uitgegaan het om hierdie boodskap te gaan bedien, gee die Here my 'n droom waarin Hy die boodskap bevestig en dit ook prakties voorstel.

Ek droom dat ons êrens in oop veld is by 'n kampeerplek saam met 'n klomp mense en terwyl ek en 'n vriend so aanstap, roep 'n ander man ons en vra dat ons hom moet help om die bus vol mense wat in die grondpad afkom, voor te keer. Terwyl ons nader stap, trek hy solank wit handskoene aan met die lemmetjie groen kleur in die binnekant, soos wat die verkeersmense altyd dra. Hy was ook in gewone klere aangetrek soos die res van ons, maar toe hy sy regterhand in die lig steek om vir die bus te wys hy moet stop, het die bestuurder onmiddelik reageer en gestop!

Toe ek wakker word en die droom bepeins, ervaar ek dat Vader verduidelik dat hierdie persoon 'n gewone mens was soos ek en my vriend, maar dat toe hy die tekens van die gesag (handskoene) aan sy hande sit en sy hand oplig, toe stop die bus....ongeag of hy 'n verkeersman was of nie.

Net só het ons as kinders van God, ook al die gesag van die Koning van die heelal agter ons en moet ons bloot ons gesag opneem en bereid wees om tot aksie oor te gaan!

2 Korinthiërs 10:4,5: “… want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp,  terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,”

Mag die Heilige Gees aan jou openbaar waar jy nog deur die godsdiensgees verhinder word om in die volheid van Christus te opereer!

 (ernest phillipson - ecp@oicb.co.za)

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...