Tuesday 12 July 2016

Hebsug! Nooit tevrede nie!


Image result for christelike prentjies
"Gee! Gee! Gee!"
In Spreuke 27:20 is geskrywe: Die doderyk en die plek van vertering word nie versadig nie; so word die oë van ‘n mens nie versadig nie.

Een van die Engelse Bybels stel dit as volg: “Death and the grave are never satisfied, and neither are we.” Daar is ook iets in ons wat soos die dood  en die graf is, nie tevrede met dit wat ons het nie en wil altyd meer of beter hê. Wat ‘n ontnugterende gedagte!!

Die Bybel brei verder op hierdie tema uit in Spreuke 30:15-16: Die bloedsuier het twee dogters: Gee, gee! Drie is dit wat nie versadig word nie; vier sê nooit: Genoeg nie! — die doderyk en die toegesluite moederskoot, die aarde wat nie genoeg water kry en die vuur wat nooit sê: Genoeg nie!”

Begeerte of hebsug in ‘n mens se hart is soos een van hierdie dinge - dood, 'n toegesluite moederskoot, ‘n dorre aarde, ‘n verterende vuur, ‘n emmer vol bloedsuiers. Nooit tevrede nie! Wil altyd meer en meer hê en nooit in staat om te kan sê “GENOEG!” nie.

Dit word vertel van ‘n boer wat deur sy begeerte gedryf is om meer en meer grond te hê. Hy het gehoor van grond wat hy goedkoop kon bekom in ‘n sekere gebied. Hy verkoop toe al sy besittings en gronde, onderneem ‘n lang reis na die gebied waar die grond beskikbaar is, onderhandel met die eienaars en bereik ‘n ooreenkoms met hulle. Vir ‘n vasgestelde bedrag geld kon hy al die grond bekom wat hy in een dag om kon loop. 

Hy het die oggend vroeg begin en vêr geloop in ‘n rigting, links gedraai en in die ander rigting geloop. Hy het ook verskeie kere van sy koers afgedraai om goeie stukke grond in te sluit. Teen die tyd dat hy die laaste draai gemaak het, terug na sy beginpunt, het hy besef dat hy te vêr geloop het. Hy het begin hardloop om voor sononder terug by die beginpunt te kon wees. Vinniger en vinniger moes hy hardloop en het struikelend en vallend by die beginpunt aangekom, nét toe die son sak. Daar het hy inmekaar gesak en gesterf. Hy is daar in ‘n gat begrawe – op die groot stuk grond wat hy so begeer het!

Soveel keer, as ons iets só begeer dat ons amper nie daarsonder kan nie, en ons kry dit, besef ons dat dit nie eintlik was wat ek regtig wou hê nie – dit word dan ‘n binding in pleks van ‘n seën.

Bewaak jou hart daarteen om meer en meer te begeer – jy kan miskien net verteer word deur dit wat jy begeer.

Paulus skrywe in Fillipense 4:11 “Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is.” Kom ons kyk na ons Verlosser, Jesus Christus. Hy het nooit geklae oor Sy omstandighede, hoe Hy behandel is of Sy behoeftes nie. Dit is geskrywe in 1 Timótheüs 6:6 “Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins.” 

My liewe vriend en vriendin, kom ons vra die Heilige Gees om ons vergenoeg te maak met dit wat Jesus aan ons gee en om ons in staat te stel om heiligmaking na te jaag in ons lewens en behoeftes.

Cobus van Heerden

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...