Sunday 3 July 2016

Is jy ongelukkig in jou werk?


Image result for frustrated at work


Kolossense 3:23,34:  "En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang, want julle dien die Here Christus."

Hierdie is twee teksverse wat vir my soveel beteken. Juis omdat mense so gou sal sê: “Ek hou nie van my werk nie”, of: “My werk frustreer my” of: “Ek is nou rerig nie lus om hierdie taak te doen nie, want niemand gee my enige erkenning daarvoor nie!”

Maar as ons die dag besef dat ek ALLES wat ek doen, VIR DIE HERE moet doen en nie vir mense nie, dan  verander die hele prentjie.  Ek sê altyd as jy ‘n motorwerktuigkundige is, wees die BESTE werktuigkundige wat Jesus ooit kan hê, as jy ‘n onderwyser is, wees die BESTE onderwyser wat Jesus ooit kan hê, as jy ‘n sekretaresse is, wees die BESTE sekretaresse wat Jesus ooit kan hê, as jy ‘n straatveër is, wees die BESTE straatveër wat Jesus ooit kan hê, as jy ‘n huisvrou is, wees die BESTE huisvrou wat Jesus ooit kan hê.

Want jy sien, WAT JY OOKAL DOEN, doen dit VAN HARTE soos vir die Here en nie vir mense nie, juis omdat ons van Hom die erfenis van die ewigheid as vergelding sal ontvang en juis omdat ons HOM dien.

Ons werk dus glad nie vir Mnr Poggenpoel, of vir mevrou Cronjé nie, ons doen dit ALLES vir die Here Jesus Christus.

As jy dus in hierdie komende week moeg of moedeloos wil raak oor jou spesifieke omstandighede, onthou gerus en mediteer op hierdie twee teksverse en vra die Heilige Gees om jou te help om alles wat jy doen, te doen soos vir die Here en nie vir mense nie.

Geskryf deur Tiaan Gildenhuys

Indien u enige gebede of geestelike raad benodig kontak my gerus by belindapaar@gmail.com



No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...