Monday 25 July 2016

Die sleutel tot ons gedagtes


Image result for person thinking



Ek het grootgeword met die siening dat ons gedagtes van een van DRIE plekke af kom, naamlik uit myself uit, van God af, of van satan af. Maar tog is dit nie wat ek in die volgende teksvers lees nie:

2 Kor. 3:5: “Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God,…”

Lees gerus mooi wat daar staan, woord vir woord. Daar staan dat ons NIKS AS UIT ONSSELF kan bedink nie. Dit beteken niks anders as dat my gedagtes van NET TWEE plekke af kom, en dit is van God af, of van die satan af. Al wat ek en jy het, is ‘n vrye wilskeuse om die volgende te doen:

2 Kor. 10:5: “…terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en ELKE GEDAGTE GEVANGE NEEM tot die gehoorsaamheid aan Christus,…”

Die oomblik wat ek en jy hierdie waarheid besef, dan sal ons onmiddellik weet wie is in my gedagtes met my besig, die Here of die duiwel? Maar die probleem is, ons het hierdie nooit geweet nie, want Jesus sê in Matt.22:29 dat ons dwaal omdat ons die Skrifte nie ken nie.

En al wat satan doen, is om gedagtes in jou kop te plaas in die EERSTE persoon, bv. “Ek is ‘n mislukking”, of “Ek is nie goed genoeg nie” ens., dan dink jy dit is jou eie gedagtes, en dan begin jy jouself daarvoor verkwalik of baie skuldig te voel... Maar ons eerste teksvers het duidelik gesê dat ons NIKS as uit onsself kan bedink nie. So daardie is NIE my eie gedagtes nie.

Hulle is ook nie van God af nie, want daardie eerste teksvers het ook gesê Hy is die een wat my “bekwaam” maak, so my “bekwame” gedagtes is uit God uit. ‘n “Bekwame” gedagte is bv. “Ek moet opstaan en gaan werk, want my kinders het kos en klere nodig”, of “Ek moet lief wees vir my man en kinders…” ens.

Dan kan dit net een ander persoon wees wat daardie negatiewe gedagtes vir my gegee het, en dit is die duiwel. En wat moet ek met hom doen? Wel eerstens moet ek daardie gedagte/s gevange neem tot gehoorsaamheid aan Christus, en tweedens moet ek:

Jak. 4:7: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.”

Hoe doen ek dit? Jesus het nooit die duiwel of enige demoon in Sy gedagtes weggestuur nie, Hy het hulle ALMAL met Sy MOND weggestuur. En dit is presies wat ek en jy ook moet doen. Ons kan nie met die duiwel in ons gedagtes baklei nie. So, wanneer ek so ‘n negatiewe gedagte oor myself kry, moet ek hardop sê: “Here Jesus, ek onderwerp nou my gedagtes aan U, want ek weet dit is nie U wat hierdie gedagtes vir my gegee het nie, en ek weet ook nou dat dit nie ek self is nie. Satan, nou weerstaan ek jou, en hierdie gedagte wat jy in my kop geplaas het, in Jesus Naam, en ek werp dit uit my kop uit!”

En jy hou aan om dit te doen, ELKE KEER wat so ‘n gedagte in jou kop wil posvat, en jy gaan sien hoe jy in oorwinning begin kom oor al daardie verkeerde gedagtes wat na jou toe kom.

(tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys


No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...