Monday 26 March 2018

Lig in jou donkerste dag


Image result for light in the darkness

 
Psalm 139:11 & 12: “En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting, dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig.”

Daar is twee dinge wat almal van ons in gemeen het. Een, God het ons lief, en, twee, die duiwel haat ons. God wil net die goeie vir ons hê; die duiwel, net die slegte. God wil ons opbou en seën; die duiwel wil ons afbreek en vernietig. God bring lig in ons wêreld; die duiwel, duisternis.

Maar hierdie is nie ‘n toutrek kompetisie tussen God en Satan nie; nie eers naby nie! In Sy groot liefde, neem God tot die erge en bose dinge wat die duiwel doen, en draai dit tot ons voordeel. In Genesis 50:20, nadat Josef met sy familie herenig is, sê hy aan hulle: “Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou.” In Romeine 8:28 en Efesiërs 1:11 verseker Paulus ons dat God alle dinge tot ons voordeel laat saamwerk.

Rom 8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”

Efes 1:11 “in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,”

Met God aan ons kant kan ons nie verloor nie. Hy gee lig selfs in ons donkerste dag.

Dawid sing in Psalm 18:28 & 29: “Want U laat my lamp skyn; die HERE my God laat my duisternis opklaar. Want met U loop ek ‘n bende storm, en met my God spring ek oor ‘n muur.” Of in ander woorde “die Here sal vir my, in my duisternis,  ‘n openbaring van Sy liefde gee.”  Met dit in gedagte, kom ons kyk weer na die openingsteks hierbo: “En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting, dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig.”

Hoe wonderlik is dit nie dat God alle dinge neem, ook die slegte wat Satan beplan, en dit omdraai in ons guns nie?

Die profeet Miga het dít geweet. Hoor hoe hy in geloof spreek bo die vernietigende  beskuldigings teen hom – Miga 7:8 “Wees nie bly oor my nie, o my vyandin! Al het ek geval, ek staan weer op; al sit ek in duisternis, die HERE is ‘n lig vir my.” ‘n Liedjieskrywer het eens geskryf; “Liefde lig my op!” Sô sal ons, ook in ons donkerste dag, wanneer die liefde van God deurskyn, dieselfde sê.

God het jóu lief, altyd. Ook in jou donkerste dae. Hy werk altyd om dinge vir jou ten goede te laat meewerk. Sy doel hiermee – om jou meer soos JESUS te maak ... die Lig vir die wêreld!

Gebed:

“Abba Vader, dankie dat U altyd in beheer is. Dankie dat U alles ten goede vir my wil laat meewerk. Help my asseblief deur U Heilige Gees, om ten volle aan U oor te gee. Verander my asseblief tot die mate van die volle grootte van U seun, JESUS CHRISTUS. Amen.”

(cobus van heerden - cvh@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...