Monday 12 March 2018

In daardie uur....


Image result for Jakobus 1:5

“En ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word om My ontwil tot ‘n getuienis vir hulle en vir die heidene. Maar wanneer hulle jul oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal spreek nie, want dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek.” (Mattheus 10:18-20)

Hierdie week wil ek jou bemoedig met die bogemelde teksverse. Want dalk lê hierdie komende week soos ‘n berg voor jou.

Dalk moet jy die week ‘n dissiplinêre verhoor by jou werk bywoon, en jy weet nie wat jy gaan, of moet sê nie. Dalk moet jy vir die eerste keer ‘n groep kliënte toespreek oor die produkte wat julle bemark, en jy is op jou senuwees oor wat om te sê.

Dalk moet jy vir die eerste keer ‘n groep kinders of studente toespreek oor hulle toekoms en jy is onseker watter punte jy alles moet aanraak. Dalk moet jy die week iemand in jou familie gaan sien om ‘n ongelukkige situasie te probeer beredder, en jy het net geen idee wat jy moet sê om dit reg te maak nie.

Dalk moet jy die week in ‘n hof gaan staan om te getuig in ‘n saak waar een of ander onreg teen jou begaan is, en jy is baie bang oor wat jy gaan sê en oor die uitkoms van die saak.

Lees weer die tekverse. Maak nie saak voor wie jy moet verskyn nie, as jy ‘n kind van God is, sal die Here deur Sy Heilige Gees vir jou IN DAARDIE UUR gee wat jy moet spreek. VRA Hom net vir Sy wysheid, en Hy sal dit vir jou gee.

“En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.” (Jakobus 1:5)

Gebed:

“Vader, ek kom vandag na U in Jesus Naam. Here U weet watter situasie ek hierdie week moet hanteer, en ek bid dat U deur U Heilige Gees vir my in daardie uur sal gee wat ek moet spreek, en dat U selfs in en deur my sal spreek. Ek bid en vra vir U wysheid in hierdie situasie Here, en dankie dat ek weet U gee dit vir my sonder verwyt. Dankie Here dat U my sal help. Amen.”

  (tiaan gildenhuys - tg@oicb.co.za)
Geplaas met toestemming van Tiaan Gildenhuys

No comments:

Post a Comment

Melaatsheid

My doel met hierdie week se skrywe, is om net aan jou die wonderlikheid van ons Bybel te bewys en dat daar geen twyfel moet bestaan dat ons ...